Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is die ANC in wese ’n Afrikanistiese party?

Wyle oudpres. Nelson Mandela het in die Rivonia-verhoor gesê die ANC se ideologie is, en was nog altyd, ’n geloof in Afrika-nasionalisme. Hier volg ’n uittreksel uit Hermann Giliomee se jongste boek, Maverick Africans, the Shaping of the Afrikaners.

Nelson Mandela het sy posisie in die Rivonia-verhoor uitgespel: “Die ideologiese oortuiging van die ANC is, en was nog altyd, die geloof in Afrika-nasionalisme.” Foto: Getty Images

Die vraag is hoe Afrikane – of swart Suid-Afrikaners – hulself polities beskou. Op vergaderings soos die Dakar-beraad in Julie 1987 met ’n groep binne Suid-Afrika het die ANC-leierskap sterk klem op sy geloof in ’n liberaal-demokratiese bestel gelê.

Dit is in die eerste plek gegrond op die Vryheidsmanifes wat in 1955 aangeneem is, en die afstigting van sommige Afrikaniste wat die Pan Africanist Congress (PAC) in 1959 in die lewe geroep het. Die manifes se gebruik van die term “nasionaal” is dubbelsinnig.

Een van die sleutelfrases lui: “Alle nasionale groepe sal gelyke regte hê”, wat aldus sommige van die manifes se kritici die totstandkoming van vier nasies aan die hand doen – Afrikane, bruin mense, Indiërs en wit mense.

Ondersteuners van die manifes argumenteer dat die woord 'nasionaal' na alle Suid-Afrikaners verwys.

Nog ’n klousule lui: “Die nasionale rykdom van ons land, die erfenis van alle Suid-Afrikaners, moet aan ons mense herstel word.”

Ondersteuners van die manifes argumenteer dat die woord “nasionaal” na alle Suid-Afrikaners verwys, maar die woord “herstel” mag aan die hand doen dat dit in die eerste plek hier oor Afrikane gaan.

En dan is daar natuurlik die manifes se welluidende eerste frase: “Suid-Afrika behoort aan almal wat in die land woon, swart en wit, en . . . geen regering kan billikerwys aanspraak maak op gesag (nie) behalwe as dit op die wil van die mense gegrond is.” Dit doen weer ’n liberaal-demokratiese benadering tot selfbeskikking aan die hand.

‘Afrika vir die Afrikane’

Hermann Giliomee se jongste boek wat pas deur Tafelberg uitgegee is. Foto: Verskaf

Die manifes is so saamgestel dat individuele klousules nie te veel gewig moet dra nie. Dit reflekteer die drie hoofdenkrigtings wat die ANC gedurende die 1950’s gekenmerk het, naamlik charteriste, die werkerismegesindes en die Afrikaniste. Die charteriste wou ’n breedgebaseerde beweging op die been bring wat ras en klas transendeer om weerstand teen apartheid te bied.

Die werkeriste wou ’n politieke vakbondbeweging bou wat werkers se eise vir ekonomiese verbetering sou aanwend vir ’n politieke doel. Hulle sou aan die politieke stryd teen paswette, Bantoe-opvoeding en ander vorms van onderdrukking deelneem.

Die derde groep was die Afrikaniste. Dit is die eerste keer openlik deur die ANC se Program van Aksie van 1949 en toe weer deur die PAC erken.

Die PAC het gereken dat die Program van Aksie ’n etnies-oorheerste nasionalisme voorgestel het, wat die ANC daarna met sy alliansie met die meestal wit Congress of Democrats en die strategiese invloed van wit kommuniste binne die ANC verwater het. Volgens die PAC kon hierdie invloed in die manifes se erkenning van die regte en status van alle nasionale groepe gesien word.

Die Afrikaniste het gemeen die klem op “veelrassigheid” is gevaarlik en sou hulle ontneem van die doeltreffendste ideologiese metode om ’n massa-gevolg op te bou. Dit sou ook ’n voortsetting van swart afhanklikheid van wittes wees, waarop minderheidsoorheersing gegrond was. Die PAC was egter self vaag oor die mate waartoe wittes uitgesluit moes word.

Sobukwe het egter ook gesê dat wittes in daardie stadium nie trou kon sweer aan Afrika nie.

Robert Sobukwe het in sy presidentsrede in 1959 vir ’n regering deur Afrikane vir Afrikane gevra en gesê dat almal wat aan Afrika lojaal is, beskou moet word as Afrikane.

Hy het wit mense in ’n koerantartikel dringend gevra om hul uitkyk só te verander dat “ ‘Afrika vir die Afrikane’ ook op hulle van toepassing kon wees, al is hulle wit”. Sobukwe het egter ook gesê dat wittes in daardie stadium nie trou kon sweer aan Afrika nie, selfs al is hulle intellektueel tot die saak van Afrika-vryheid bekeer, want “hulle trek materiële voordeel uit die status quo” en “kan hulle dus nie ten volle met dié saak identifiseer nie”.

Die kritieke vraag is of die ANC-PAC-skeuring te doen het met ’n fundamentele meningsverskil oor doelstellings en ideologie – en of dit eintlik gaan oor dissipline, strategie en taktieke om nasionale doelstellings te bevorder.

‘Dryf die wit man die see in’

In sy presidentsrede in 1959 het die PAC-leier Robert Sobukwe gevra vir ’n regering deur Afrikane vir Afrikane. Hy het gesê elkeen wat lojaal aan Afrika is, kan gesien word as ’n Afrikaan. Foto: Wikipedia

Geen ernstige ontleder het nog ooit beweer dat die wegbreek van dr. Andries Treurnicht se Konserwatiewe Party in 1982 “bewys” het dat die NP minder toegewyd aan die heerskappy van die Afrikaner was of werklik van plan was om die mag met die bruin en Indiërbevolkings te deel nie.

Die ANC is egter verrassend gewillig om klousules in die Vryheidsmanifes en die wegbreek van die PAC te aanvaar as genoegsame bewyse dat hy nie in die eerste plek toegewyd aan Afrika-nasionalisme nie, maar eerder tot ’n inklusiewe Suid-Afrikaanse liberale demokrasie is.

Soos ander nasionalistiese bewegings was die ANC veral daartoe verbind om ’n primêre gemeenskap met plek vir alle klasse vir Afrikane te bou. Sy doel is nasionale selfbeskikking waarin die “self” ongetwyfeld die Afrikane, die meerderheid van die bevolking, is.

Mandela het sy posisie in die Rivonia-verhoor uitgespel: “Die ideologiese oortuiging van die ANC is, en was nog altyd, die geloof in Afrika-nasionalisme. Dit is nie die konsep van Afrika-nasionalisme wat verwoord word in die kreet ‘dryf die wit man die see in’ nie. Die Afrika-nasionalisme waarvoor die ANC staan, is die konsep van vryheid en vervulling vir Afrika-mense in hul eie land.”

Die ANC se skeuring met die PAC was hoofsaaklik weens ’n stryd op leierskapsvlak aan die Witwatersrand gedurende die 1950’s. Dit het soms gedreig om die beweging te vernietig. Aan bande gelê deur inperkings, die hoogverraad-verhoor en onervare of onbevoegde ampsdraers was die ANC in die Transvaal weerloos vir uitdagings. Op ’n manier wat herinner het aan die maneuvreerdery van Treurnicht se manne gedurende die twee of drie jaar voor die skeuring met die NP in 1982, het party Afrikaniste die ideologiese verskille uitgebuit in hul stryd om beheer oor die ANC in Transvaal te kry.

Eers toe dit misluk het, het hy weggebreek en verklaar, baie soos Treurnicht in die geval van Afrikanernasionalisme, dat hy ’n organisasie van sy eie wil vorm om as ’n “bewaarder van die tradisionele ANC-beleid” te funksioneer.

Wit steun vir die ANC

Prof. Hermann GiliomeeFoto: Foto24

Die PAC het dit nooit reggekry om ’n gevolg op te bou in die Transvaal of die Oos-Kaap nie, wat óf beteken het daar was geen Afrikaniste daar nie (dis onwaarskynlik) óf dat hy geen beduidende ideologiese verskille met die ANC gehad het nie.

Die ANC se werwing van wit steun in die 1950’s was ’n kwessie van strategie eerder as beginsel. Hy het besef simpatieke wittes is nodig om ander wittes op te voed oor die boosheid van die passtelsel en om afvaardigings na die regering en plaaslike owerhede te lei. Benewens die kommuniste was baie min wittes geïntegreerd in die organisasie en die aktiwiteite van die ANC.

Jack Simons, ’n akademikus wat ’n lang verbintenis met dié beweging het, sê terwyl die ANC sedert 1943 oop was vir lede van alle rasse, het hy geen sorgvuldig uitgedinkte poging aangewend tydens die periode toe die party wettig was om nie-Afrikane in die beweging te integreer nie.

Nadat die beweging in die vroeë 1960’s tot ballingskap gedryf is, is ’n wesenlike aantal Indiërs, bruin mense en wittes in die party opgeneem.

Maar tot 1985 is nie-Afrikane nie ingesluit by die nasionale uitvoerende komitee van die ANC nie. Voor die beweging se raadplegende konferensie daardie jaar het ’n ANC-leier standpunt ingeneem teen die insluiting van nie-Afrikane op grond daarvan dat die party se stryd eerstens teen wit oorheersing was, en dat Afrikane hulself onder hul eie leierskap moes bevry.

Simon skryf daar was duidelik ’n teenstrydigheid tussen die goedgekeurde beleid om militante uit alle nasionale groepe te werf en die voorgestelde uitsluiting van nie-Afrikane uit die leierskap.

Hy meen daar was selfs ’n “meer ernstige teenstrydigheid tussen die Afrikanistiese benadering en die bewerings van die party dat hy alle nasionale groepe in die stryd vir ’n enkele Suid-Afrikaanse nasie verteenwoordig”.

Die konferensie van 1985 het die kwessie besleg ten gunste van die deelname van alle Suid-Afrikaners in die werk van die ANC op alle vlakke.

*Prof. Giliomee is ’n internasionaal gerekende historikus. Die boek het pas by Tafelberg verskyn.

Meer oor:  Anc  |  Pac  |  Hermann Giliomee  |  Robert Sobukwe  |  Nelson Mandela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.