Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is die media in gevaarwaters?

Waarom het die publiek se vertroue in die media afgeneem? ’n Groep Afrikaanse medialeiers het hieroor en oor sake soos fopnuus, My fok, Marelize, en die invloed van die moord op Reeva Steenkamp op die nuuslandskap gepraat, berig Murray La Vita.

Deelnemers aan die eerste diskoers in Die Burger se Praat Saam Diskoers-reeks op die KKNK in Oudtshoorn was (van links) Kobus Louwrens, mede-stigter van Food for Mzansi, Carryn-Ann Nel, joernalis en dosent aan die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement, Ivor Price, gespreksleier, Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, en Pieter du Toit, adjunkredakteur van News24.Foto: Herschelle Benjamin

Een van die waterskeidings in die Suid-Afrikaanse joernalistiek die afgelope jare was die moord op Reeva Steenkamp deur Oscar Pistorius op Valentynsdag 2013, sê Pieter du Toit, adjunkredakteur van News24.

Hy was een van die deelnemers aan die eerste diskoers in Die Burger se Praat Saam Diskoers-reeks op die KKNK in Oudtshoorn.

“Dit was vir ons baie definitief ’n skeiding gewees van hoe ons nuus verpak het vóór 14 Februarie 2013 en ná 14 Februarie 2013. Dit was die eerste keer waar ons in die Afrikaanse media, en ek was destyds by Beeld gewees, ’n brekende storie dádelik en deurlopend op digitale platforms begin dek het. Dit was strydig met hoe ons dit altyd gedoen het by koerante.

“Dít was die eerste waterskeiding. Maar waar ons nou is, moet ons alles wat ons destyds geleer het weer óntleer en nuwe tegnieke en maniere om stories te vertel aanleer. Waar goed vyf jaar gelede rewolusionêr was, is dit amper nou oud.”

Die onderwerp van die diskoers was: Is die media in die gevaarwaters?

“Ons vra dit na aanleiding van allerhande studies wat wys dat die publiek vertroue in die media verloor het,” het Ivor Price, gespreksleier, gesê.

“Die Edelman-vertroue-indeks vir 2018 het getoon dat openbare vertroue in die media ’n bloedneus gekry het met tot 63% van mense wat glo dat nuusorganisasies eerder groot gehore wil trek as om eerlik verslag te doen.”

In die aanloop tot die Zondo-kommissie was daar prominente publikasies wat baie seergekry het wat die bevordering van eng politieke belange betref.
Willem Jordaan

Hy wou by Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, weet of hy so ’n vertrouensbreuk tussen nuusmediums en hul verbruikers sien.

“Ek dink dit is ’n baie moeilike tyd vir die media internasionaal, maar ook in Suid-Afrika. In die aanloop tot die Zondo-kommissie was daar prominente publikasies wat baie seergekry het wat die bevordering van eng politieke belange betref.

“Wat ’n ou moet bysê en wat ’n ou moed gee, is dat Sanef, die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, báie skerp gereageer het en ’n beroep gedoen het op mediahuise oor die land heen om weer te kyk na hul etiese prosedures en hul nuusprosedures wat daar is om daardie soort van bevordering van eng belange uit te hou. Daarby is die kode van die persombudsman ook versterk en hersien.

Willem Jordaan: “Ek wil ’n beroep doen op ons lesers om ons te ondersteun.’’ Foto: Natalie Gabriels

“Maar wat die situasie vir die media in Suid-Afrika veral moeilik maak, is die feit dat die tradisionele kommersiële model besig is om sterk te verander. Tradisionele adverteerders is besig om Facebook en Google toe te skuif, en ofskoon ’n koerant dalk nie in die eerste plek bestaan om geld te maak nie, móét ’n koerant geld maak om te kan bestaan.

“Daarom werk ons baie hard daaraan om ’n volhoubare toekoms vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans op ’n platform soos Netwerk24 te bou, en ek wil ’n beroep doen op ons lesers om ons in daardie projekte te ondersteun.”

Ons is nie almal so nie

Du Toit het die punt gemaak dat die media nie ’n homogene organisme is nie.

“Die uitgangspunte en redaksionele benadering en dikwels ook waardes, verskil van titel tot titel. So ek dink die leserspubliek moet ook versigtig wees om die media as een entiteit saam te groepeer en te sê die media is sus of die media is só.

“In die verlede was die media huiwerig om hulle kollegas uit te wys en daar is steeds ’n ongemaklikheid daaroor om kollegas uit te wys wat verkeerd met feite omgaan, maar dit is toenemend so dat daar standpunt ingeneem word.

“En wat is die uitwerking? Die invloed van iets soos die Sunday Times se beriggewing oor die sogenaamde Cato Manor-hit squads en die beriggewing oor die sogenaamde 'rogue unit' van Sars – die inligting wat hulle gebruik het was vals én geplant – dít teer-en-veer die hele media. En ek dink dit vind dan inslag by opmerkings deur die publiek dat mense sê die media is sus of die media is só.”

Fopnuus se skuld

Price het Carryn-Ann Nel, joernalis en dosent in die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement, gepols oor die verslag wat daarop dui dat mense minder vertroue in die media het.

“Fopnuus, wat die afgelope paar jare baie toegeneem het, is een van die redes waarom mense vertroue verloor het. Die verslag van Reuters sê 58% van mense is baie meer bewus van fopnuus. Mense se oë het oopgegaan vir hoe fopnuus elke dag om ons is.”

...dit (die internet) is soos ’n groot brander wat die tradisionele media getref het en ons is nog altyd besig om te rol en te rol en te probeer om ons voete weer te vind.
Kobus Louwrens

Price het aan Kobus Louwrens, mede-stigter van Food for Mzansi, gesê hy hoor die heeltyd mense sê fopnuus is nie die probleem nie, die internet, die digitale era, is die eintlike rede waarom mense vertroue in die media verloor het.

“Ek dink dit speel ’n rol; ons almal weet dit was ’n baie ontwrigtende ontwikkeling – dit is soos ’n groot brander wat die tradisionele media getref het en ons is nog altyd besig om te rol en te rol en te probeer om ons voete weer te vind. Maar die positiewe daarvan is dat dit besig is om nuwe geleenthede te skep in die media, want soos julle sê mense raak al hoe meer bewus van fopnuus en dit plaas ’n premie op bronne wat bewys het hulle is betroubaar.

“Daar is ook ’n model wat besig is om te ontwikkel waar mense betaal vir inhoud, maar ook waar inhoud betaal word deur byvoorbeeld borge, mense wat voel dit is nodig dat sekere inhoud gedeel word waar die tradisionele media dit nie kan doen nie.”

Marelize Horn en haar ma was die bron van “goeie nuus” waaroor lesers gaande was.Foto: Edrea du Toit

Goeie nuus, asseblief

Die media se rol het verander, maar die verbruikers se behoeftes het ook verander; daar is byvoorbeeld ’n toenemende behoefte aan goeie of bemoedigende nuus, het Price gesê.

Pieter du Toit het hieroor gesê: “Ja, te midde van staatskapings en ontbloting van grootskaalse korrupsie wíl mense positiewe nuus lees. Een van die mees geleesde stories op News24 die afgelope maand was die My fok, Marelize-storie. Mense was mál daaroor gewees.”

Nel het gesê mense hou van emosie in ’n storie.

“Die oomblik wat jy aan ’n emosie raak, hetsy dit iemand se lagspiere prikkel of as hulle huil as hulle ’n storie lees . . . Dis altyd goed om daardie balans te hê.”

Esmaré Weideman: “Ons is geseën met ongelooflik goeie joernaliste.”Foto: Adrian de Kock

Esmaré Weideman, voormalige uitvoerende hoof van Media24, het uit die gehoor ’n lansie gebreek vir die gehalte van joernaliste wat ons in Suid-Afrika het.

“Ons is geseën met ongelooflik goeie joernaliste en van hulle sit daar op die verhoog en van hulle kry heeltemal te veel kritiek vanuit die Afrikaanse gemeenskap uit.

“Terwyl ’n mens baie hartseer moet wees as die integriteit van die media deur sommiges skade berokken word, moet ons ook net baie dankbaar wees dat hiérdie mense onder moeilike omstandighede met min tyd en jong nuuskantore . . . nuus vinnig moet uitkry en besluite moet neem. En hulle blaas baie min hul eie beuel as dit kom byvoorbeeld by die rol wat die media gespeel het in die oopvlek van staatskaping.

“Ons as publiek moet ons koerante en ander nuusplatforms wat geld vra, ondersteun. R99 [maandelikse intekengeld vir Netwerk24] is géén geld vir die gehalte en verskeidenheid van publikasies en joernalistiek wat ons kry nie. Ons behoort eintlik báie meer te betaal daarvoor.”

Meer oor:  Pieter Du Toit  |  Ivor Price  |  Murray La Vita  |  Internet  |  Joernalistiek  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.