Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is dit koebaai versoening?
Foto: pixabay

Volgens Julius Malema is die tyd vir versoening verby. Dis nou die tyd vir geregtigheid.

’n Mens sou lekker met hom kon gesels oor “geregtigheid” en wat dit alles beteken – ook ten opsigte van die grondkwessie.

Maar dat versoening in Suid-Afrika iets van die verlede is, word algaande ’n soort selfvervullende profesie. Uitlatings deur mense wat praat voordat hulle dink – soos Malema, hoewel ’n mens vermoed hy praat presies soos hy dink – en haatspraak op sosiale media, ensovoorts, laat mense al hoe meer optree asof die reënboognasie van weleer ’n hersenskim was.

Na my mening is niemand méér verantwoordelik vir hierdie toestand as Jacob Zuma nie. Hy het daarin geslaag om die slegste vermoedens van doemprofete oor die Nuwe Suid-Afrika te bevestig.

Van “nasiebou” tussen diverse groepe in die land het hy min verstaan – ten spyte van sy braaisessie saam met onder andere Steve Hofmeyr.

Van “nasiebou” tussen diverse groepe in die land het hy min verstaan – ten spyte van sy braaisessie saam met onder andere Steve Hofmeyr. Daardie braai kon natuurlik ’n simboliese betekenis gehad het as hy dit met konkrete dade van uitreik opgevolg het.

As dit om versoening gaan, hét simboliese dade en simbole betekenis. Wyle oudpres Nelson Mandela was by uitstek die voorbeeld hiervan. Toe hy, téén die wense van die meeste van die ANC-leiers, gesorg het dat die springbok as rugby-embleem behoue bly. Of toe hy daardie onvergeetlike Saterdag op Ellispark met die nr. 6-Springboktrui die wêreldbeker aan Francois Pienaar oorhandig het.

Of toe hy die eerste staats- en regeringshoof geword het wat ’n algemene sinode van die NG Kerk toegespreek het en ’n staande toejuiging van die wit dominees en ouderlinge gekry het.

Of toe hy in ’n onderhoud met die Kerkbode selfs aangebied het om bemiddelaar te wees en die Afrikaanse kerke te help verenig!

En ja, simbole. Soos die Nasionale Lied (“Volkslied” is tog ’n misleidende term) wat in verskillende tale gesing word met reëls wat ons almal se verbintenis aan ons geliefde land bevestig – ten spyte van ons verdeelde verlede.

Nie almal hou daarvan nie, maar hulle haak in die verlede vas. Dalk het hulle nog nie op ’n Saterdagmiddag gekyk met hoeveel bewoë oorgawe die Springbokke – swart en wit – die lied van voor tot agter sing nie. Die foute en ellendes en sondes van die verlede tel dan nie meer nie, daar word gefokus op die gesamentlike taak wat voorlê.

Daar word deesdae min gepraat oor die feit dat die ses kleure van die vlag ook “uit die verlede” kom en ’n teken van versoening is.

(Dis ook ’n goeie vraag hoekom so min gemaak word van ’n swart en wit Springbok wat mekaar vurig omhels nadat die een ’n drie gedruk het. Vir my is dit ’n teken van “versoening” met baie meer betekenis as sosiale-media-haatlikhede en moedswillige misverstande.)

Soos ook die landsvlag, wat al jare lank wyd – en met trots – in ons land aanvaar word.

Daar word deesdae min gepraat oor die feit dat die ses kleure van die vlag ook “uit die verlede” kom en ’n teken van versoening is. Die groen, geel en swart is struggle-kleure, en die blou, rooi (oranje) en wit is van die ou vlag.

Ons moenie die paar versoeningssimbole wat ons nog het – die Na­sionale Lied, die landsvlag, die springbok – goedsmoeds by die deur wil uitgooi nie. Dit vertel ons waarvandaan ons kom, ja, en dit mag ons nie vergeet nie. Nie die goeie of die slegte dinge nie.

Dit vertel ons ook iets van waarheen ons op pad is – gesamentlik na ’n beter toekoms.

Dit praat van versoening, wat wel beteken dat ’n mens iets moet prysgee (veral jou selfsug en selfgesentreerdheid), maar ook dat ’n mens iets bykry (jou landgenote se insigte en belewenisse).

Malema het reg: In die proses moet ons doelbewus strewe na méér geregtigheid op alle vlakke in ons samelewing. Maar deur mekaar te beledig en te dreig en te probeer wegjaag, is ons nie besig om geregtigheid te bevorder nie.

Ons moet mekaar eerder respekteer en ’n plek in die son gun – en mekaar help om daardie plek in die son te kry en te behou.

Versoening en geregtigheid staan op die ou end nie teenoor mekaar nie. Reg gesien, is dit twee kante van dieselfde muntstuk.

Dr. Gaum was onder meer skriba van die algemene sinode van die NG Kerk, en is ’n voormalige redakteur van die Kerkbode.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.