Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is dit tyd dat die haka waai?

Kagiso Rabada se omstrede skorsing het weer die kollig op nieverbale kommunikasie in sport laat val. Pieter Labuschagne bekyk dié aspek van nader en wonder terselfdertyd oor die All Blacks se haka.

Intimiderend? Die All Blacks voer hul haka uit voor verlede jaar se Wêreldbeker-wedstryd teen Ierland. Foto: Getty Images

Rabada se oordadige feesviering nadat hy Joe Root van Engeland se paaltjie in die derde toets geneem het, was volgens baie mense nie so erg nie. Verbale en nieverbale kommunikasie het volgens sulke kritici ’n belangrike rol in sport te speel en dit het boonop nog altyd ’n belangrike rol gespeel.

Kom ons kyk byvoorbeeld na die 2019 Wêreldbeker-eindstryd in November tussen die Springbokke en Engeland.

Voordat Siya Kolisi, die Springbokkaptein, sy span op die veld gelei het, was die stryd reeds gedeeltelik gewen.

Die nieverbale tekens dat Engeland tóé al die stryd gedeeltelik gewonne gegee het, was duidelik merkbaar.

Dié stelling mag sekerlik vir baie kenners aan die absurde grens. Min waarnemers het egter die nieverbale tekens nog voordat die wedstryd afgeskop het, opgemerk.

Die belangrikheid van nieverbale en para-linguistiese kommunikasie in sport word immers dikwels onderskat.

Swys de Bruin, voormalige hulpafrigter van die Springbokke, het dit wel raakgesien. Hy het in ’n paneelbespreking ná die eindstryd verduidelik dat die Engelse span se nieverbale kommunikasie gewys het dat hy sielkundig nie volkome opgewasse was vir die stryd wat voorgelê het nie.

Foto van ’n leier

Die feesviering wat Kagiso Rabada in die moeilikheid laat beland het. Foto: Gallo Images

Wat is nieverbale, para-linguistiese kommunikasie in sport?

Die meeste mense is vertroud met die algemene uitdrukking lyftaal. Dit is wanneer iemand se houding, die wyse waarop hy of sy staan en loop wys of die persoon moeg, bly, opgewonde of hartseer is.

Fred Lunenburg het in 2010 daarop gewys dat behalwe lyftaal, veral gesigsuitdrukkings die vermoë het om vele ander vorms van inligting oor te dra – veral of iemand iets goedkeur, afkeur of ongeloof te kenne gee.

In enige multikulturele samelewing is daar ses universele uitdrukkings wat in die meeste kulture herken word: geluk, hartseer, woede, vrees, verrassing en afkeur.

Sy hempskraag is opgeslaan, iets wat in die 1930’s ’n teken van manlikheid was.

Paul Ekman het daarby die kontekstuele belangrikheid van historiese en politieke gebeure beklemtoon wat aanleiding tot die gesigsuitdrukkings as ’n vorm van nieverbale kommunikasie kan gee. Hy het daarop gewys dat emosies en gesigsuitdrukkings ’n reaksie is op gebeurtenisse wat sosiaal, werklik, onthou en geantisipeer word of selfs verbeel word.

Navorsing en empiriese inligting het daarop gedui dat gesigsuitdrukkings as nieverbale kommunikasie spontaan universeel is en ondanks kulturele verskille eenvormig kan wees.

Wat nieverbale en para-linguistiese kommunikasie betref, is dit eerstens belangrik om waar te neem hoe die persoon ruimtelik voorkom. In die geval van ’n foto vra ’n mens of die persoon byvoorbeeld met ’n oop en direkte houding na die kamera kyk. Staan die persoon in die foto regop met sy kakebeen effens gelig? Op watter wyse beset die persoon die beskikbare ruimte?

Die bekende foto van Philip Nel, kaptein van die Springbokspan van 1937 wat die enigste span uit Suid-Afrika was om ’n toetsreeks in Nieu-Seeland te wen, dien as ’n voorbeeld.

Foto van ’n leier. Philip Nel, kaptein van die Springbok-span van 1937 op sy plaas. Foto: Springbok-sage

Nel beset die ruimte hoewel hy aan die kant van die foto staan. Hy kyk na die kamera met ’n oop houding en sy liggaamshouding funksioneer sterk op ’n nieverbale vlak. Nel is op die foto geposisioneer in wat Lunenberg die sosiale sone noem, ongeveer 1,2 m van die kamera af. Sy skouers vertoon sterk en die opgerolde hempsmoue wys sy sterk voorarms en fisieke oorheersing binne die ruimte.

Nel het sy hoed as teken van respek verwyder, maar sy liggaam straal beheerste en dominerende krag uit.

Sy hempskraag is opgeslaan, iets wat in die 1930’s ’n teken van manlikheid was.

Hy staan in die voorgrond en oorheers die ruimte terwyl die grond sag en amper onopgemerk in die agtergrond wegval. Die plat heuwel raam die foto mooi en sag. Nel lei die span Afrikanerosse wat simbolies van politieke-kulturele krag is.

Die grond onder sy voete is klipperig en ongelyk, maar dit verhoed hom nie om met die rooi beeste vorentoe te beweeg nie. Hy is die leier – nes hy die leier van 1937 se toerspan in Nieu-Seeland was.

Wêreldbeker-eindstryd in Japan

Owen Farrell wens Siya Kolisi bra halfhartig geluk ná die Bokke se sege in die 2019 Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

Die Engelse span se nieverbale en para-linguistiese boodskap voor die eindstryd was nie een van vertroue en vasbeslotenheid nie.

Televisiebeeldmateriaal het die spelers gewys nadat hulle klaar opgewarm het en kort voordat hulle op die veld moes draf. Eddie Jones, hul afrigter, het deur die kleedkamer gestap en een vir een met sy spelers gekommunikeer en hulle vir oulaas sterkte toegewens.

Kyle Sinckler, die een stut, het gebukkend langs een van die vullisdromme gestaan. Jones het effens gedraai en verbygestap, want sy voorryman wat boonop een van sy ankers in die skrum moes wees, was besig om van sy middagete in die drom ontslae te raak.

Die nieverbale kommunikasie van een van die ystermanne aan sy mede-spanmaats kon nie positief gewees het nie. Dit wys die speler se ingesteldheid asook sy onvermoë om druk te hanteer.

Met die loot vooraf het die skeidsregter tussen Kolisi en die Engelse kaptein, Owen Farrell, gestaan.

Kolisi het regop gestaan en direk voor hom uitgekyk voordat hy vir ’n oomblik na die skeidsregter, sy teenstander en die kamera gekyk het. Sy skouers is teruggetrek met sy bors effens uitgestoot met sy lyf wat krag en selfvertroue uitstraal. Hy kommunikeer in kort, maar besliste sinne met die skeidsregter.

Farell, daarenteen, het ietwat geboë gestaan met sy skouers effens gebuig en hy het meestal afgekyk. Hy het onseker gelyk nadat hy die loot gewen het.

Dit is duidelik dat hy nie geweet het hoe die uitleg van die veld lyk nie en daarom nie kon besluit na watter kant hy sy span in die eerste helfte moes laat speel nie.

Dit is basiese inligting wat hy vooraf moes kry. Dié onsekerheid het sekerlik deurgesyfer na die res van die span.

Kyle Sinckler word behandel nadat hy sy bewussyn tydelik verloor het in die derde minuut van die 2019 Wêreldbeker-eindstryd teen die Springbokke. Foto: Getty Images

In die eerste minute van die eindstryd was daar ’n verdedigende losskrum net buite die Engelse kwartgebied waar die Bokke druk op hul teenstanders geplaas het. Sinckler wat in die kleedkamer naar was, het verbouereerd en gedisoriënteerd gelyk en sy skrumskakel moes hard met hom praat voordat hy sy korrekte plek langs die losskrum ingeneem het.

Dit is die soort van onsekerheid wat die Engelse span dwarsdeur die wedstryd uitgestraal het.

Sinckler het nie juis veel geluk gehad nie: Sy deelname aan die eindstryd het in die derde minuut tot ’n einde gekom toe sy spanmaat Maro Itoje hom per ongeluk met die elmboog teen die kop gestamp en hy vir ’n wyle sy bewussyn verloor het.

All Blacks en die haka

En die teenstanders kan maar net kyk . . . Engelse spelers slaan die haka gade voor hul kragmeting in die 2019 Wêreldbeker-halfeindstryd. Foto: Getty Images

Die All Blacks het ’n baie groot voordeel bo ander spanne omdat hulle weens historiese redes en tradisie toegelaat word om die haka voor wedstryde uit te voer.

Die idee dat hulle van die haka afstand moet doen om die speelveld tussen spanne gelyk te maak, sal sekerlik nie baie goed in Nieu-Seeland ontvang word nie.

Dit kan egter nie ontken word dat die All Blacks, wat nieverbale en para-linguisitiese kommunikasie betref, bo ander spanne bevoordeel word met die uitvoering van die haka nie. In ’n stadium het die All Blacks in een van die variasies van die haka selfs hul vingers oor hul keel getrek om te wys wat hulle met hul teenstanders gaan doen.

Eerstens vereis tradisie dat die teenstanders stil moet staan om die “uitdaging” van die haka te ontvang. Daar word van hulle verwag om stil langs mekaar te staan en dat hulle die “uitdaging” of selfs “dreigement” passief moet gade slaan.

In die huidige vorm van die haka staan die All Blacks in ’n wigvorm, wat die 'uitdaging' van die haka soos ’n pyl op die teenstanders rig.

Die teenstanders mag op geen wyse hul eie aggressie wys nie. Wat nieverbale kommunikasie betref, is dit geweldig negatief.

In die huidige vorm van die haka staan die All Blacks in ’n wigvorm, wat die “uitdaging” van die haka soos ’n pyl op die teenstanders rig. Die aanvoerder staan voor en al 23 spelers is in die formasie. Die haka gee die geleentheid aan die All Blacks om as ’n groep hul aggressie en doelgerigtheid op hul teenstanders te projekteer.

Dit is ’n baie groot voordeel wat nieverbale kommunikasie betref omdat aggressie en vasbeslotenheid gekoördineerd binne spanverband gekanaliseer word.

Die kort tydsverloop totdat die fluitjie blaas, is net genoeg tyd vir die All Blacks om die wedstryd met die regte ingesteldheid te begin.

Moet hulle dié voordeel bly geniet? Of moet die haka verdwyn?

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa en het ook onder meer die langafstand-atlete Zola Budd en Elana Meyer afgerig. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  All Blacks  |  Kagiso Rabada  |  Siya Kolisi  |  Owen Farrell  |  Haka
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.