Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is Magashule op pad om Nommer Een te word?

Wie gaan eerste terugstaan – die konstitusionaliste in die ANC of die groep wat gereed is om die pilare van die regsprekende gesag om te trek? Pieter Labuschagne vra wat sal gebeur as die president die belang van die staat bo dié van die party stel.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en leier van die sogenaamde konstitusionele anargiste binne dié party. Die vraag is of hy na die nommer-een-kantoor in die Uniegebou op pad is. Foto: Foto24

Die huidige plofbare trajek binne die plaaslike politiek is kommerwekkend – hoofsaaklik weens die hoë vlakke van onstabiliteit wat dit kan meebring. Die hoofoorsaak van die spanning is die onderstrominge wat uit die magstryd tussen die twee hoofgroepe binne die ANC spruit.

Die een groep is die radikale faksie, gelei deur die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, die skadu-kroonprins met ’n al hoe sterker magsprofiel en toenemende radikale steun. Hy het boonop die steun van oudpres. Jacob Zuma, met sy historiese magsbasis.

Die politieke gebeure wat binne die volgende weke gaan afspeel, kan dié situasie op die spits dryf.

Dit is selfs moontlik dat die radikale faksie binne die ANC pres. Cyril Ramaphosa opsy kan stoot, met die party wat dan op die randjie van ’n skeuring sal staan.

Wanneer hierdie laaste dominosteen sou tuimel – en die regsprekende gesag negeer word – val die laaste bastion teen die plunderende elite van die aasvoël-regering.

Sonder om onnodig alarmisties te wees, lyk dit asof die voortgesette medium- en langtermynstabiliteit in die land op die spreekwoordelike naaldpunt gebalanseer is. Die weerstelsels is reeds besig om in intensiteit op te bou ten einde die perfekte storm te skep.

Die gematigde ANC-groep, onder leiding van Ramaphosa, dien tans as die enigste buffer teen die pogings om die regsprekende gesag te ondermyn en die regstaat te kelder. Wanneer hierdie laaste dominosteen sou tuimel – en die regsprekende gesag negeer word – val die laaste bastion teen die plunderende elite van die aasvoël-regering.

In Suid-Afrika se kort demokratiese geskiedenis is dié eskalerende krisis tussen die twee hooffigure of groepe tans op sy heel plofbaarste.

Wie is die dramatis personae?

Die drie rolspelers of groeperinge wat die spilpunt in die opbouende drama vorm, is as volg:

Stry pres. Cyril Ramaphosa ’n verlore stryd om die gematigde konstitusionaliste in die ANC te laat seëvier? Foto: Presidensie

*Ramaphosa, die “leier” van die gematigde groep konstitusionaliste in die ANC, wat poog om die integriteit van die regstaat te beskerm. Die oogmerk is om die regsprosesse hul gang te laat gaan en die korruptes binne die gekaapte regering aan die pen te laat ry.

*Magashule, die kroonprins en die onverkose leier van die radikale faksie in die party. Hy was reeds as premier van die Vrystaat hoogs omstrede en berug as meesterlike manipuleerder. Hy gaan reeds lank gebuk onder prima facie-bewyse van korrupsie, maar manipuleer sy populistiese steun teen die regsprekende gesag vir eie persoonlike gewin.

*Jacob Zuma, die amptelike gesig van staatskaping, wat weier om voor die Zondo-kommissie van ondersoek te verskyn. Sy weiering om voor dié kommissie te verskyn kan hom moontlik twee jaar tronkstraf op die hals haal. Hy roem hom ook op populistiese steun om die konstitusionele staat te ondermyn.

Die probleem met die ANC

Die ANC se intrinsieke problematiek is dat dié voormalige vryheidsbeweging se ontstaan en ontwikkelingsgeskiedenis op ’n onkritiese, verhewe morele troontjie plaasgevind het. Die internasionale afkeur van apartheid het nooit ruimte gelaat vir buitelandse waarnemers om meer krities na die bevrydingsbeweging te kyk nie. Die morele wandade en menseregtevergrype wat ANC-ampsdraers gepleeg het, is doodeenvoudig met ’n morele lagie vernis toegesmeer.

Die ANC het ná 1994 die morele vergrype, korrupsie, patronaatskap en baantjies vir boeties bloot amptelik in staatsvorm voortgesit.

Die selektiewe oogklapbenadering het die intrinsieke morele vergrype en korrupsie binne die party gelegitimeer en geïnstitusionaliseer, soos die patroonaatskappe wat die party sistemies besmet het.

Die ANC het ná 1994 die morele vergrype, korrupsie, patronaatskap en baantjies vir boeties bloot amptelik in staatsvorm voortgesit.

Die algemene welvaart van die staat is nog altyd as minder belangrik as die kohesie van die ANC as party gesien. Die staat was bloot die instrument waardeur materiële bronne beheer en uitgebuit kon word.

Oudpres. Jacob Zuma, die amptelike gesig van staatskaping, wat weier om voor die Zondo-kommissie te verskyn. Foto: Foto24

Gedurende die Zuma-era, met sy grootskaalse korrupsie en die verlamming van konstitusionele meganismes om dit hok te slaan, het die rooi ligte reeds begin flikker. Dit is daarom ironies dat die regstaat tydens Zuma se ampstermyn sy spiere begin bult het.

Die sogenaamde staatskapingsverslag in Oktober 2016 deur die voormalige openbare beskermer adv. Thuli Madonsela het tot die instelling van die Zondo-kommissie gelei en die kapers op die agtervoet geplaas.

Tydens Ramaphosa se bewind het die Nasionale Vervolgingsgesag hierna begin om vervolgings teen vermeende korruptes soos Magashule in te stel. Die kripvreters het begin om die skerp kant van die reg te ervaar.

’n Streep in die sand

Die algemene grondbeginsel van die reg, en bousteen van die regstaat, is die dictum dat alle burgers gelyk voor die reg is. Die selektiewe vervolging en die uitsluiting van enkele individue ondermyn dié fondament van die reg en delegitimeer die regstelsel.

Zuma se weiering om voor die Zondo-kommissie as grondwetlike instelling te verskyn, is wesenlik ’n blatante minagting en uitdaging van die grondwetlike bestel en ook van die regstaat.

Medestaatskapers en kripvreters kan dan ook weier en dan sal niemand die reg verder ernstig opneem nie.

In ’n moderne demokrasie is die regsprekende gesag se suksesvolle toepassing op respek gegrond en nie op dwang nie. Dié basiese respek vir die onafhanklikheid van die regsprekende gesag vorm deel van die skeiding van die owerheidsgesag en is uiters belangrik vir die voortbestaan van ’n konstitusionele demokrasie.

Dit is tans van kritieke belang dat die reg sy gang moet gaan. Indien Zuma sou weier – en daarmee wegkom – sal dit die legitimiteit van die stelsel groot skade berokken. Medestaatskapers en kripvreters kan dan ook weier en dan sal niemand die reg verder ernstig opneem nie.

Pieter Labuschagne Foto: Sarel van der Walt

Die streep is dus in die sand getrek – en indien Zuma nie sy houding hieroor verander nie, sal die saak nie ’n goeie uiteinde hê nie. Die regsprekende gesag sal dus beslissend teen Zuma moet optree.

Zuma se situasie word natuurlik meer plofbaar indien die Magashule-scenario ook in berekening gebring word. Die twee scenario’s vorm gesamentlik ’n knyptang – met die konstitusionele staat en die regsprekende gesag wat in die middel vasgeknyp word.

Die opsystaan-beleid

Die korruptes se holruggeryde refrein wanneer sterk bewyse van korrupsie teen hulle gevind word, is dat “iemand onskuldig is totdat die hof die persoon skuldig bevind het”.

Die stelling geld egter net vir gewone burgers. Die morele premie wat op ampsdraers in ’n demokrasie geplaas word, behoort heelwat hoër te wees. In ’n funksionerende demokrasie behoort die standaard van etiese en morele gedrag gelig te word. Daar behoort geen sweempie van kommer oor wangedrag teen enige ampsdraer te bestaan nie.

Dit is juis die morele standaard wat die ANC gedurende sy 2017 Nasrec-resolusie met sy sogenaamde “opsystaan-beleid” gestel het. Die besluit was dat indien prima facie-bewyse teen ’n ANC-ampsdraer bestaan, moet hy of sy opsy staan totdat hy of sy onskuldig in die hof bevind word.

Die twee situasies bevat ’n dualiteit; naamlik dat in die algemeen van openbare ampsdraers verwag word om hul gedrag aan strenger morele standaarde as gewone landsburgers te meet. Die opsystaan-beleid dui ook aan dat die betrokke ampsdraer hom met die nodige respek vir dié standaarde uit sy amp sal onttrek.

’n ANC-ondersteuner hou buite die hof in Bloemfontein ’n slagspreuk omhoog om te wys watter faksie in dié party hy steun. Foto: Foto24

Ten spyte van geweldige druk weier Magashule om sy posisie te ontruim. Die ironie is dat hy juis die regsprekende gesag minag – en hom dan beroep op die einste regsprekende gesag ten einde sy party se eie reël te verontagsaam. Dit geskied natuurlik op voorwaarde dat die hof hom onskuldig bevind, anders sal die regsprekende gesag nie meer gerespekteer word nie.

Magashule maak natuurlik ook op sy populiste-ondersteuning met hul openlike kollektiewe minagting van die regsprekende gesag staat.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Die ANC-topbestuur volg in beide scenario’s met Zuma en Magashule die diplomatieke roete. Die strategie is om sagkens met die twee rolspelers te kommunikeer en hulle oor te haal om saam te werk.

Die harde werklikheid is dat indien Zuma en Magashule daarin sou slaag om hul verantwoordbaarheid vir hul wandade te ontduik – en nie aan die pen ry nie – dit ’n ontsettende terugslag vir konstitusionalisme in die land gaan wees.

Ramaphosa besef deeglik dat indien hy die belang van die staat bo dié van die party gaan stel om teen die anargiste op te tree, sal die ANC skeur.

Die streep is reeds tussen die twee faksies in die ANC getrek. Die gematigde konstitusionaliste met Ramaphosa as leier staan aan die een kant. Aan die ander kant van die streep is die konstitusionele anargiste, onder leiding van Magashule en Zuma. Soos Simson van ouds is hulle gereed om die pilare van die regsprekende gesag saam met hulle om te trek.

Ramaphosa besef deeglik dat indien hy die belang van die staat bo dié van die party gaan stel om teen die anargiste op te tree, sal die ANC skeur.

Dit is ’n geval van wie eerste gaan terugstaan: Indien dit Ramaphosa is, gaan dit ’n bittere terugslag vir die regstaat in die land wees. Dit beteken ook ’n magsverskuiwing na die radikales.

Dié terugstaan teenoor die korruptes sal ’n oorwinning vir die Magashule- en Zuma-faksie beteken. Dit is ’n scenario wat die land nie nodig het nie – want dit maak die pad oop vir Magashule na die nommer-een-kantoor in die Uniegebou.

*Labuschagne is emeritus professor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.