Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is meer partye beter vir demokrasie?

Vind Suid-Afrika se demokrasie baat by tientalle politieke partye? En mors jy jou stem as jy vir klein partye stem? Theuns Eloff gee antwoorde.

Leiers en afgevaardigdes van Suid-Afrika se politieke partye by die onlangse ondertekening van die gedragskode vir vanjaar se verkiesing. Foto: Felix Dlangamandla

Die Verkiesingskommissie (OVK) het onlangs aangekondig 48 partye gaan deelneem aan die nasionale verkiesing op 8 Mei. Dit is meer as die 29 van 2014 en kom neer op ’n toename van 65%.

Maar gaan dié groter deelname vir Suid-Afrika ’n beter demokrasie gee?

Die verstommende feit is dat daar volgens die OVK se webwerf 312 partye op nasionale vlak geregistreer is en 294 op provinsiale vlak.

Die getal partye wat op nasionale vlak gaan deelneem, het weens twee faktore tot 48 gekrimp.

Die eerste is die OVK se eie keuringsproses waardeur 118 partye deregistreer en 29 se aansoeke verwerp is. Nog ’n faktor is die feit dat van die partye (117) nie die registrasiegeld betaal het nie om aan die verkiesing deel te neem. Die koste is R200 000 om op nasionale vlak deel te neem en dan R45 000 per provinsie.

’n Party wat op nasionale vlak en in ál die provinsies wil deelneem, sal dus R605 000 moet opdok. Vir ’n kleiner party is dit nie maklik om dié soort geld bymekaar te kry nie.

Volgens die OVK gaan 48 partye vanjaar die algemene verkiesing betwis. Foto: Argief

In die komende verkiesing gaan kiesers ’n baie groter keuse van partye hê as ooit tevore in Suid-Afrika se demokratiese bestel. Soveel so dat dit moontlik sommige kiesers deurmekaar gaan maak. Die stembrief sal waarskynlik uit meer as drie bladsye bestaan. Baie kiesers sou nog nooit van die meeste partye gehoor het nie.

Watter gemiddelde kieser sou al van die African Security Congress, die Compatriots of South Africa, die International Revelation Congress of Woman Forward gehoor het?

Die kleiner partye kry ook nie die blootstellig in die media wat die groter partye kry nie. En dan moet daar nog twee stemme uitgebring moet word: een nasionaal en een provinsiaal.

Hoe kies ’n mens?

Die meeste kiesers sal hopelik weet vir wie hulle wil stem voordat hulle by die stemlokaal ingaan. Die minderheid sal op die laaste oomblik besluit, dalk gegrond op die naam van die party of ’n woord in die partynaam wat goed klink.

Mors jy jou stem?

Kiesers kan vanjaar weer hul sê by die stembus sê. Maar mors jy jou stem deur vir ’n klein party te stem. Foto: Argief

’n Argument wat dikwels van die groter partye gehoor word, is dat kiesers hul stemme “mors” deur vir ’n kleiner party te stem. Die antwoord hierop is ’n groot “nee” en ’n klein “ja”.

In die proporsionele kiesstelsel wat ons sedert 1994 het, tel elke stem omdat ’n party se verteenwoordiging in die nasionale parlement en provinsiale wetgewers bepaal word deur die aantal stemme wat die party gekry het. Elkeen van daardie stemme “tel” dus.

In die verkiesing van 2014 het die APC (African People’s Convention) met 30 676 stemme een setel gekry, en die party ná hulle (Al-Jama-Ah) met 25 976 stemme, geen setel nie. As 5 000 meer mense vir Al-Jama-Ah gestem het, het hulle een setel gehad en die APC was nie in die parlement nie.

Klein partye in ons huidige politieke bestel is besig om ’n belangrike rol in koalisiepolitiek te begin speel.

Dié stemme was inderdaad nie gemors nie.

’n Tweede deel van die “nee” handel daaroor dat selfs klein partye in ons huidige politieke bestel besig is om ’n belangrike rol in koalisiepolitiek te begin speel. Hulle is soms “koningmakers” in plaaslike regerings, en kan die senior vennoot in koalisies dikwels positief beïnvloed.

’n Stem vir ’n kleiner party is dus nie gemors nie.

Die “ja” op die vraag kan soos volg verklaar word. As ’n mens na die komende verkiesing kyk, is daar 35,9 miljoen Suid-Afrikaners wat stemgeregtig is. Van hulle het 26,7 miljoen as kiesers geregistreer en sal dus kan gaan stem.

Andile Mngxitama se BLF is een van die nuwe partye wie se naam op vanjaar se stembriefies sal verskyn. Foto: Felix Dlangamandla

In 2009 was die stempersentasie 77,3% en in 2014 laer op 73%. As ’n mens dus die dalende tendens volg en werk op ’n stempersentasie van 70% vir 2019, sal 18,7 miljoen kiesers gaan stem. Op grond van die OVK se formules sal ’n party dan sowat 45 000 stemme nodig hê om een setel in die parlement te kry.

As die stempersentasie net 60% is, daal die getal stemme na 40 000. Maar in die verkiesing van 2014, waar 29 partye meegeding het, het die meeste van die partye (16) nie genoeg stemme gekry vir ’n enkele setel nie.

’n Mens sou dus kon sê dat die stemme vir daardie kleiner partye inderdaad “gemors” is. Andersyds was die getal “gemorste” stemme só ’n klein deel van die groottotaal (178 060, en minder as 1%) dat dit nie regtig enige van die groter partye soos die ANC, DA of EFF sou kon baat nie.

Kies dus die kleiner party vir wie jy wil stem, baie versigtig.

Maar dit was wel ietwat meer as die getal stemme wat die sewende grootste party, die VF+ (met 165 715 stemme), getrek het.

Die punt wat kiesers wat wonder waar om te stem dus moet onthou, is dat as jy vir ’n kleiner party wil stem, dit belangrik is dat jy seker is daardie party gaan minstens 46 000 stemme landwyd kry – en dat jou stem dus help om ’n party in die parlement te sit.

En hier is die historiese rekord van ’n party belangrik. As ’n party in die laaste drie verkiesings nooit meer as 30 000 stemme landwyd kon trek nie, is dit twyfelagtig of só ’n party dit in 2019 gaan regkry.

Kies dus die kleiner party vir wie jy wil stem, baie versigtig.

Versterk baie partye die demokrasie?

Patricia de Lille se Good-party neem vanjaar vir die eerste keer aan die verkiesing deel. Foto: Deon Ferreira

Kan meer politieke partye in die verkiesing dus ons demokrasie verbeter?

Die rede vir soveel meer nuwe partye is hoofsaaklik ’n ontevredenheid met die huidige situasie in die land en die regerende party se rol daarin.

Hier en daar word nuwe partye gedryf deur persoonlikhede wat met hul vorige partye gebots en toe weggebreek het – Patricia de Lille se Good is ’n goeie voorbeeld hiervan. In ander gevalle is nuwe partye plaaslike groepe of groepe met ’n eendimensionele agenda, soos die omgewing of vroueregte. Wat ook al die dryfveer, moet meer partye verwelkom word en kan dit ons demokrasie verdiep.

Theuns Eloff

As die kleiner partye (uitgesluit die ANC, die DA en die EFF) saam byvoorbeeld beter kan doen as die 8,3% wat hulle in die verkiesing van 2014 gekry het, en byvoorbeeld 15% kan kry, sal dit die groter partye se stempersentasie verklein en hulle só op hul tone hou.

En uiteindelik is 48 politieke partye wat aan ’n nasionale verkiesing deelneem, eindeloos beter as sommige ontwikkelende lande met eenparty-demokrasieë waar ’n mens eintlik net vir of teen een presidentskandidaat kan stem.

Die verkiesing van 2019 is dus ’n verdere stap vorentoe om Suid-Afrika se relatief jong grondwetlike demokrasie te verbeter en te verdiep.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

Meer oor:  Ovk  |  Theuns Eloff  |  Verkiesing2019  |  Demokrasie  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.