Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is Mnangagwa Zimbabwe se Machiavelli?

Gee pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe net voor dat hy ’n demokraat is terwyl hy eintlik alles doen om die politieke mag in sy en Zanu-PF se hande te hou? vra Pieter Labuschagne.

Afrika se Machiavelli? Pres. Emmerson Mnangagwa se oorwinning in die Zimbabwiese verkiesing word deur die opposisie betwis. Foto: Getty Images

Niccolò Machiavelli (1469-1527), gebore in Florence, Italië, se naam het oor eeue sinoniem geword met die verkryging en monopolie van politieke mag.

Sy idees en praktiese raad is sinoniem met politieke strategieë van hoe leiers mag kan bekom en behou; meestal op onderduimse en immorele wyses.

Machiavelli het die kernwaardes van politieke beheer en mag in politiek in sy dictum uiteengesit: onaanvaarbare politieke gedrag kan geregverdig word deur die uiteindelike invloed of uitslag van dié optrede.

Dus, wanneer die invloed en die uitslag gewens of aanvaarbaar is, regverdig dit die aanvanklike aksie. Machiavelli was primêr daarop ingestel om die staat (of die party) se voortbestaan te verseker en te beskerm. Dit was dus vir hom veroorloof dat die prins (heerser/leier) vir die behoud en voortbestaan van die staat teenstrydig met geloof, vriendskap, en menslikheid mag optree.

Machiavelli se idees het gedurende ’n tydperk in die geskiedenis posgevat toe politieke filosowe die waardes en moraliteit van die perfekte staat en die eienskappe van die morele heerser oorbeklemtoon het.

Hy het die direkte teendeel beklemtoon, naamlik dat heersers mag ten koste van moraliteit kan beklemtoon. Leiers kan in werklikheid nie bekostig om Christelike en ander morele waardes aan te hang wanneer die voortbestaan van die politieke orde in die gedrang is nie.

Die uitdaging vir die meeste ontleders ná die uitslag van die Zimbabwiese verkiesing is om die gebeure in die land te kan verstaan, verduidelik en te verklaar.

Machiavelli se idees beteken nie dat heersers altyd sonder morele waardes moet optree nie – net wanneer die spesifieke situasie dié soort optrede vereis.

Machiavelli was ook deeglik bewus van die voordeel en die waarde van skyngedrag en skynoptredes vir leiers wat mag wil behou.

Hy het benadruk dat heersers, indien nodig, moet voorgee dat hulle ’n morele en religieuse ingesteldheid in gedagte het. Machiavelli het aanbeveel dat die prins (heerser) in dié gevalle moet voorkom as iemand vol genade, gelowig en menslik omdat dit is hoe hy deur mense en sy volgelinge beoordeel sal word.

Wat het die idees van Machiavelli met pres. Emmerson Mnangagwa en die Zimbabwiese verkiesing te doen?

Die uitdaging vir die meeste ontleders ná die uitslag van die Zimbabwiese verkiesing is om die gebeure in die land te kan verstaan, verduidelik en te verklaar.

Die uitdaging is om deur die fasade van die optrede en uitlatings van Mnangagwa die afgelope paar maande te kan “sien”.

Machiavelli se idees oor die behoud van mag kan ’n moontlike verduideliking vir die ontwikkeling van gebeure in Zimbabwe bied.

Machiavelli in Afrika

Ondersteuners van pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe vier sy oorwinning in die onlangse verkiesing. Foto: Getty Images

Die eerste kernvraag is hoe Mnangagwa en sy Zanu-PF-regime, wat die bevolking voorheen so wreedaardig onderdruk het, die metamorfose van onderdrukker na ’n demokraat ondergaan het?

Was dit werklik die hergeboorte van substantiewe demokrasie in Zimbabwe, demokratiese transformasie in die denke van die leiers en die hergeboorte van ’n regime wat demokrasie, etiese en morele waardes aanhang?

Of was en is dit bloot ’n Machiavelliaanse pseudo-demokrasie, gedrapeer in die kleed van demokratiese fasade, alleenlik gemotiveer deur die doel om die ineengestorte ekonomie met buitelandse hulp te herstel?

Machiavelli het juis die belangrikheid van oppervlakkige skyngedrag beklemtoon.

Hy het benadruk dat heersers die skyn moet skep van ’n morele en religieuse ingesteldheid en dit na buite voor te hou. Machiavelli het aanbeveel dat die prins (heerser) moet voorkom as genadig, gelowig en menslik, omdat dit is hoe hy deur ander mense beoordeel sou word. Dit laat hom dan die geleentheid om die dieperliggende doel te bereik.

Polisiemanne het ná die uitslae van die Zimbabwiese verkiesing ’n perskonferensie van die MDC-alliansie verhinder. Foto: Getty Images

Mnangagwa skep tans die beeld van die hergebore demokraat wat ’n vry en regverdige verkiesing gehou het.

Die vraag is of die aanname op die grondslag van rasionaliteit en historiese werklikheid berus en of daar ’n meer duistere skadukant vir dié transformasie is?

* Die feit is dat Mnangagwa die sentrale beheer in Zimbabwe ondemokraties deur middel van ’n militêre staatsgreep oorgeneem het. Vir die doeleindes van die argument is dit irrelevant of oudpres. Robert Mugabe korrup en wreedaardig was.

Mnangagwa het op ’n ondemokratiese wyse die beheer in die land deur middel van ’n militêre staatsgreep oorgeneem, bedek met ’n lagie van morele regverdigings.

* Die politieke regime toon sedert die oorname al die eienskappe van ’n militêre junta. Dit is duidelik dat die politieke mag in Zimbabwe in ’n troika van militêre leiers gesetel is. Die militêre troika bestaan uit Mnangagwa, genl. Constantine Chiwenga, die visepresident, en Perence Shiri, minister van landbou en landelike hervestiging. Daar is talle bewyse vir Chiwenga en Shiri se reputasie as wrede onderdrukkers en hul aansprake op die status van “kits-demokrate” berus op papierdun gronde.

* Dié drie prominente senior figure in die kabinet swaai die septer en is effektief in beheer van mag in Zimbabwe. Hul gewelddadige verlede regverdig nie die demokratiese legitimiteit wat hul voor en tydens die verkiesing vir hulself probeer opeis het nie. Die dodelike trio is die spreekwoordelike wolwe in skaapklere.

’n Tenk in Harare se strate nadat lede van opposisiepartye betoog het ná die bekendmaking van die uitslae in die onlangse verkiesing. Foto: Getty Images

* Daar word bereken dat 5 000 soldate tydens die verkiesing in landelike gebiede ontplooi is.

Mnangagwa was as minister van staatsveiligheid die persoon wat voorheen agter die skerms die toutjies getrek het om op ’n gewelddadige wyse van politieke teenstanders ontslae te raak.

Mnangagwa, wat Mugabe tot ’n groot mate gedurende die laaste paar gemanipuleer het, het daaraan geslaag om saam met Grace Mugabe van sy visepresident, Joice Mujuru, ontslae te raak. Haar man, Solomon Mujuru, het ’n paar jaar gelede onverklaarbaar in ’n huisbrand gesterf.

Mugabe het Joice Mujuru verlede jaar om verskoning gevra vir sy optrede.

Die Gukurahundi-veldtog het tot die dood van duisende burgerlikes in Matabeleland gelei.

Mnangagwa het daarna tot visepresident gevorder en saam met die topbestuur van die weermag ’n sterk magsbasis opgebou met die oogmerk om van Mugabe ontslae te raak.

Chiwenga, ’n eertydse luitenant-generaal in die weermag, het Pearson Tachiveyi Mungofa, MDC-kandidaat vir Hwedza, in 2000 gedreig dat hy summier doodgemaak sal word as hy in daardie jaar se verkiesing staan.

Shiri, die “Slagter van Matabeleland”, was die eertydse bevelvoerder van die berugte Vyfde Brigade wat in Noord-Korea opgelei is en in 1983 die uitwissing van duisende Matabeles persoonlik georkestreer het.

Die Gukurahundi-veldtog het tot die dood van duisende burgerlikes in Matabeleland gelei.

Shiri is beloon met ’n aanstelling as hoof van die lugmag en dien sedert verlede jaar se staatsgreep in die kabinet.

Wanneer trek wolf sy skaapklere uit?

Was pres. Emmerson Mnangagwa se kniebuiging in die rigting van demokrasie net ’n poging om beleggers te lok? Foto: Getty Images

Dié drie senior figure het binne maande ’n verstommende ommekeer van 360 ° gemaak van onderdrukkers na demokratiese bevryders.

Dit terwyl hulle agter die fasade van ’n Machiavelliaanse demokratiese verandering ’n bloedlose staatsgreep uitgeoefen het. Die rede vir die stap was duidelik; om buitelandse en beleggersvertroue in die land te herstel, gemotiveer deur persoonlike ekonomiese belange en nie morele en demokratiese waardes nie.

Die vraag is of die militêre troika nie weer die demokratiese skaapklere vir wolfsklere sal verruil as die “demokratiese” proses nie verloop soos beplan word nie.

Indien daar nog gedink word dat die pseudo-demokrate die demokratiese roete getrou sal volg, is dit nie nodig om verder te kyk as die optrede direk ná die verkiesing nie.

Dit is duidelik dat die weermag reeds klandestien ontplooi en in ’n staat van gereedheid was.

Hoe was dit moontlik dat die weermag so vinnig ontplooi kon word met gepantserde voertuie na die geringste teken van “onrus”?

Dit is duidelik dat die weermag reeds klandestien ontplooi en in ’n staat van gereedheid was – reg om weer sy ystervuis te gebruik om orde te herstel.

Net tyd sal leer, maar die nuwe daeraad waarna die mense van Zimbabwe uitgesien het moet nog aanbreek.

Die verkiesing was net 'n prosedure, die ware toets is tyd; die inwerkingstelling van ’n omvangryke vorm van demokrasie.

Zimbabwe verdien vrede, stabiliteit en ekonomiese vooruitgang vir al sy mense.

* Pieter Labuschagne is ’n emeritus-professor in politieke wetenskap aan Unisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.