Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is NG Kerk reg vir bekroonde boek?

Nico Smith was onverbiddelik in sy oortuiging dat die NG Kerk se vroeë verdediging van apartheid ’n skande was, skryf Frits Gaum.

Wyle Nico Smith se boek In Mamelodi het ek my God gevind is vanjaar die wenner van die Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies in Afrikaans. Dis ’n heruitgawe van ’n boek wat onder ’n ander titel reeds in 2010 verskyn het. Die beoordelaars skryf dat ’n heruitgawe nodig geword het omdat die kerk (bedoelende die NG Kerk) “dalk nog nie voorheen gereed was om die verhaal te hoor nie”.

Die implikasie is dat die kerk dalk nou gereed is om die verhaal te hoor.

Dit is goed om, tien jaar ná sy dood, weer op Smith se spoor te loop. Dit was in baie opsigte ’n stormagtige pad wat hom dikwels in botsing met die NG Kerk gebring het.

In ’n stadium was hy die oogappel van die kerk en is hy bo internasionaal bekende teoloë soos David Bosch en Jaap Durand as dosent in sendingwetenskap na Stellenbosch beroep.

“Die Here Jesus het my geleer om tot 70 maal sewe keer te vergewe”
Aartsbiskop Desmond Tutu

Hy het self later geskryf dat hy dié pos gekry het omdat die destydse kerkleiers gereken het hy is ’n veilige, pro-apartheids-keuse. Boonop was hy ’n lid van die Afrikaner-Broederbond (AB). Hy sou sekerlik nie die bal laat val nie.

Maar Smith het die apartheidsbal laat val en ’n heftige – selfs bittere – teenstander van die kerklike standpunt oor die staat se apartheidsbeleid geword. Dit het op die ou end daartoe gelei dat hy sy Stellenbosse professoraat laat vaar het en predikant van die NG Kerk in Afrika (die “swart” NG Kerk) se gemeente Mamelodi in Pretoria geword het.

Hy het gedoen wat hy gepreek het en die voordele van ’n gesiene pos aan ’n (toe nog) wit universiteit prysgegee om hom volledig met sy swart broers en susters se lot te vereenselwig – iets wat min ander kerklike en akademiese leunstoelkritici van apartheid bereid was om te doen.

Terwyl Beyers Naudé ook sy lidmaatskap van die NG Kerk opgesê het en lidmaat van die NG Kerk in Afrika geword het, maar veral vanweë sy latere inperking weinig invloed in die NG Kerk self uitgeoefen het, het Smith volhardend ’n klip in die skoen van die NG Kerk gebly. Deur talle geskrifte, veral ook koerantartikels en -briewe, het hy gedurig van hom laat hoor en was hy vir die leiers van die NG Kerk ’n groot irritasie.

Ek was in daardie tyd redakteur van die Kerkbode en dikwels in Smith se visier. Met die Rustenburgse kerkberaad van 1990 het hy ook ’n stok in die wiel gesteek van wat, het hy gereken, ’n alte maklike versoening tussen die NG Kerk en die ander lede van die NG Kerkfamilie kon word.

Ná Willie Jonker se bekende belydenis oor apartheid by daardie beraad, aartsbiskop Desmond Tutu se onmiddellike aanvaarding daarvan (“Die Here Jesus het my geleer om tot 70 maal sewe keer te vergewe”), en die amptelike afvaardiging van die NG Kerk se onderskrywing van Jonker se belydenis, het dit gelyk asof ’n versoening van ongekende omvang op hande was.

Maar Smith, raadgewer van die NG Kerk se bruin en swart susterkerke by die beraad, wou nie sommer bes gee nie en het sy kollegas geadviseer om goed na te dink voordat hulle die wit kerk se verskoning goedsmoeds aanvaar.

Nick Appolis, moderator van die destydse NG Sendingkerk (die “bruin” NG Kerk), het dan ook by die beraad vir die media gesê dat die NG Kerk se mense meesters is met die uitdink van mooiklinkende frases . . .

In sy ouderdom het Smith bedenkinge begin uitspreek oor die oorlewingskans van die gereformeerde teologie en gereformeerde kerke. Die manier waarop die invloed van kerke van gereformeerde aard en oorsprong besig is om uit te loop, kan alleen deur mense wat van gereformeerdheid ’n ideologie gemaak het, ontken word, het hy in 2006 geskryf.

Nico Smith het in 1994 afgetree, maar onverbiddelik gebly in sy oortuiging dat apartheid sonde is en die NG Kerk se vroeëre verdediging daarvan ’n skande.

Ek het, toe die nuwe eeu aangebreek het, ’n paar keer met hom geskakel en ons het verskeie goeie gesprekke oor die telefoon gehad. Ons het vir mekaar gesê dat ons albei deur die jare verander het, en dat dit ten goede is.

Anders as Johannes van Melle se Bart Nel is ’n mens gelukkig nie meer in alle opsigte die “ek is nog hy” van 30 of 40 jaar gelede nie.

Maar daar is ook wel oortuigings wat nie kan en mag verander sonder dat jy jouself in die proses totaal en al verloor nie.

Die Andrew Murray-prys se beoordelaars skryf tereg dat Nico Smith se verhaal soos hy dit in sy boek beskryf, uiters belangrik en relevant is. Dit is juis ook vir die kerk van 2020 wat met allerlei kwessies in verband met menswaardigheid worstel, ter sake. Smith se biografie is “aangrypend eerlik en bedrieglik eenvoudig”, skryf hulle.

Die beoordelaars was ds. Rethie van Niekerk, dr. Andries Cilliers en dr. Rudi Buys. Die prys beloop R25 000.

* Dr. Frits Gaum is die voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.