Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is ons demokrasie besig om te misluk?

Suid-Afrikaners gaan vanjaar vir die 13de keer sedert 1994 stembus toe. Beteken dit dat demokrasie in die land werklik posgevat het? vra Pieter Labuschagne.

’n Vrou stem in Alexandra in die munisipale verkiesing van 2016. Foto: Gallo Images

Die munisipale verkiesing in Suid-Afrika is oor slegs enkele maande – en die belangrikheid van dié verkiesing kan nie oorbeklemtoon word nie.

As die ANC ná al sy mislukkings en gereelde bewyse van korrupsie onder dié party se lede in die regering weer ’n meerderheid in die munisipale verkiesing verkry, sal die gevaarligte vir demokrasie in die land flikker.

Dit sal vanjaar die 13de keer sedert 1994 wees dat Suid-Afrikaanse kiesers na die stembus gaan. Daar is reeds ses keer in nasionale verkiesings (1994, 1999, 2004, 2009, 2014 en 2019) gestem en ook al ses keer in munisipale verkiesings (1995/'6, 2000, 2006, 2011 en 2016).

Dié gereelde frekwensie van verkiesings asook tussenverkiesings, skep die indruk van demokratiese konsolidasie in Suid-Afrika.

Die vraag is of die huidige demokrasie nie net bloot tot prosedure verskraal het nie?

Daar is egter dwingende vrae rondom die diepte van demokrasie in die land en of substantiewe demokrasie werklik posgevat het.

Die vraag is of die huidige demokrasie nie net bloot tot prosedure verskraal het nie.

Die onvermoë van die kieserskorps om die ANC voldoende vir sy korrupte gedrag en swak munisipale regering te straf is duidelik die teendeel van ’n substantiewe demokrasie en ’n morele vingerwysing na die kiesers.

Die onvermoë om die ANC vir swak regering te straf is juis tekenend van ’n demokrasie wat nie na behore funksioneer nie. Dit is veral die kenmerk van ’n de facto-eenpartystaat, waar daar straffeloos ondersteuning op grond van historiese legitimiteit en die voordele van maatskaplike toelaes gegee word.

Die boustene van demokrasie

Baie partye en baie verkiesings. Maar is die demokrasie in Suid-Afrika besig om te misluk? Foto: Gallo Images

In ’n moderne ten volle funksionerende demokrasie behoort daar veel meer diepte as net die hou van gereelde verkiesings te wees.

In teoretiese literatuur is die siening dat die demokrasie in ’n land 'n werklikheid geword het as meer as twee vrye en regverdige verkiesings plaasgevind het.

Die konsolidasie van demokrasie behoort egter baie strenger standaarde as bloot die hou van vrye en regverdige verkiesings te stel.

Die demokrasie behoort op verskillende boustene te rus wat die gehalte daarvan sal verhoog.

Die eerste bousteen van ’n ten volle funksionerende demokrasie is die direkte verband tussen oorsaak en gevolg. Dit veronderstel dat daar in ’n funksionerende demokrasie ’n verband tussen die prestasie van die regerende party en beloning en straf sal wees.

Dit beteken dat ’n regerende party met ondersteuning beloon moet word as hy op sosio-ekonomiese en maatskaplike vlak die lewenstandaard van sy burgery verhoog.

In die VSA wissel beheer in die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers op ’n gereelde grondslag tussen die Republikeinse Party en die Demokratiese Party. Daar was in die tydperk sedert 1990 drie Republikeinse presidente en drie Demokratiese presidente in die Wit Huis.

Die teenkant van dié munt is natuurlik amper belangriker.

Wanneer die regerende party misluk in pogings om die lewens van sy burgery te verbeter behoort hy gestraf te word.

In gevestigde demokrasieë is die elemente van straf en beloning geïntegreer en funksioneer dit baie sterker. As die regerende party misluk in die toepassing van sy beloofde beleid, word die opposisie eenvoudig ingestem om ’n beter werk te doen.

In die dekade van die 1990’s in Brittanje het die regering tussen die Konserwatiewe Party en die Arbeidersparty gewissel.

In die VSA wissel beheer in die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers op ’n gereelde grondslag tussen die Republikeinse Party en die Demokratiese Party. Daar was in die tydperk sedert 1990 drie Republikeinse presidente en drie Demokratiese presidente in die Wit Huis.

In Europa wissel die regerende partye gereeld en baie regerende party oorleef net deur koalisies met kleiner partye aan te gaan.

In dieselfde tydperk in Suid-Afrika het net een enkele party, die ANC, die politieke toneel oorheers.

Die ANC het die ses algemene verkiesings en die ses munisipale verkiesings betreklik maklik gewen. Opposisiepartye kon in geen van die 12 verkiesings die ANC se steun tot onder die drempel van 50% laat daal nie.

Hoewel die ANC se steun oor die laaste dekade geleidelik afgeneem het, bly hy in beheer. Die ANC kan selfs met die steun van een of twee kleiner partye in ’n samewerkingsooreenkoms vir minstens nog ’n dekade in beheer bly.

Die Edelman Trust Barometer het in 2014 getoon dat net 11% van die burgery die regering vertrou het. In dieselfde tydperk het News24 bevind dat 86% van die burgery bedenkinge oor die regering het.

Ondanks dié verdoemende syfers en die feit dat amper geen munisipaliteit buite die Wes-Kaap ’n skoon oudit gekry het nie, word die regerende party steeds gesteun.

Daar is net enkele munisipaliteite in die Vrystaat wat dienste kan lewer, maar die Vrystaters stem steeds oorweldigend vir die ANC in munisipale verkiesings!

Demokrasie en regeringstelsels

’n Betoging teen swak dienslewering in Naledi, Soweto, op stemdag in November verlede jaar. Foto: Gallo Images

Die funksionering van ’n demokrasie hou uiteraard verband met die implementering of institusionalisering van ’n regeringstelsel, wat hoofsaaklik in drie variante voorkom: parlementêre, presidensiële en semi-presidensiële stelsels.

Van dié drie stelsels bied die parlementêre stelsel die grootste moontlikheid van meerderheidsoorheersing omdat dit minder wigte en teenwigte het as byvoorbeeld die presidensiële stelsel.

In die parlementêre stelsel kan die minderheidsparty weinig in die parlement doen om die oorheersing van die meerderheidsparty hok te slaan.

In Brittanje waar die parlementêre stelsel sy oorsprong gehad het, funksioneer die stelsel egter goed. Die rede hiervoor is dat daar ’n direkte verband tussen die straf- en beloningsfunksie in Brittanje is. Wanneer dié funksie nie geld nie of nie behoorlik toegepas word nie, maak dit eenvoudig die pad oop vir meerderheidsoorheersing en die marginalisering van minderheidspartye.

Die verskynsel van eenpartystate in Suider-Afrika

Mense staan tou by ’n stempunt in Kaapstad tydens die munisipale verkiesing van 2016. Suid-Afrikaners gaan vanjaar die 13de keer sedert 1994 stembus toe. Foto: Gallo Images

Die lande aan die suidpunt van Afrika deel fundamentele staatkundige en regeringskenmerke.

Suid-Afrika, Mosambiek, Namibië en Zimbabwe is almal bevryde gebiede waar blanke minderheidspartye die meerderheid van die bevolking onderdruk het.

Dit is deur bevrydingsbewegings bevry.

In al dié lande het die bevrydingsbeweging die eerste algemene demokratiese verkiesing gewen en hulle was daarna in die afgelope drie dekades feitlik onaantasbaar in algemene verkiesings.

Gesien teen die agtergrond van die grootskaalse mislukking van die ANC op munisipale vlak, behoort die party se steun tot enkelsyfers te daal.

Hoewel Swapo in Namibië en Zanu-PF in Zimbabwe se meerderhede gedaal het, is hulle nog steeds in saal.

In Suid-Afrika het steun vir die ANC in die laaste twee verkiesings gedaal – tot 57% in die algemene verkiesing en tot 53% in die munisipale verkiesing, sy laagste vlak van ondersteuning sedert 1994.

Hoewel die daling daarop kan dui dat die ANC dalk vanjaar vir die eerste keer onder die drempel van 50% kan draai, kan hy in ’n koalisie met twee of drie kleiner partye steeds in die regeringsbanke sit.

Gesien teen die agtergrond van die grootskaalse mislukking van die ANC op munisipale vlak, behoort die party se steun tot enkelsyfers te daal. Tog was die ANC in die reeks onlangse tussenverkiesings die mees stabiele party.

Pieter Labuschagne

Die groot vraag is uiteraard waarom die ANC dit steeds te midde van grootskaalse agteruitgang in land regkry om soveel steun te kry.

Die antwoord is eenvoudig.

Die ANC het historiese legitimiteit onder kiesers wat hom steeds op grond van sy bevrydingsgeskiedenis beoordeel.

Die tweede belangrike faktor is dat dieselfde groep kiesers dink hul maatskaplike toelaes sal in gevaar wees as opposisiepartye oorneem.

Die oplossing sal die opkoms van ’n groter groep middelklas-kiesers wees. Maar met die verswakkende ekonomie weens die Covid-19-pandemie en die resessie is die groei van die middelklas beperk.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Zanu-Pf  |  Swapo  |  Pieter Labuschagne  |  Brittanje  |  Amerika  |  Namibië  |  Suid-Afrika  |  Demokrasie  |  Verkiesings  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.