Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Is ons net nog ’n useless nasie?’

Is mislukking in ons DNS en is ons maar net nog ’n mislukkende Afrika-land? wou Max du Preez weet in ’n gesprek tussen politieke ontleders in Stellenbosch. Murray La Vita doen verslag.

Tim du Plessis (links) gesels in die Kruiskerk in Stellenbosch met Alida Kok, Gareth van Onselen en Max du Preez.Foto: Jaco Marais

Du Preez het dié vrae gevra tydens ’n gesprek oor die stand van die Suid-Afrikaanse politiek en van pres. Cyril Ramaphosa se presidentskap.

Hy was ’n deelnemer aan die eerste gesprek van Die Burger/Netwerk24 se gespreksreeks op die Toyota US Woordfees.

Buiten Du Preez, die politieke ontleder en redakteur van Vrye Weekblad, het Alida Kok, ’n politieke ontleder, akademikus en rubriekskrywer van Netwerk24 en die Afrikaanse dagblaaie, en Gareth van Onselen, politieke ontleder en -raadgewer, aan die gesprek deelgeneem.

Die gespreksleier Tim Du Plessis, politieke ontleder en hoof van aktualiteit by kykNET, het gesê almal het verlede jaar voor die verkiesing gesê dít is die verkiesing waarin Ramaphosa ’n mandaat gaan kry; hy gaan sterk anderkant uitkom en hy gaan dinge begin doen wat almal weet gedoen moet word. Hy wou by Du Preez weet hoe lyk Ramaphosa vandag?

Ons is nou in ’n slegter posisie, op baie meetbare vlakke, as wat ons was die dag toe hy (Cyril Ramaphosa) oorgeneem het.
Max du Preez

“Die fout wat ons as ontleders gewoonlik voor ’n verkiesing maak, is om te sê hierdie is die toets, dis die litmusstoets vir Cyril. Maar ons politiek is so gebroke en verrot, dat sulke goed nie rêrig werk nie,” het Du Preez gesê.

“Ja, dit was in ’n sin ’n mandaat vir Cyril in die sin dat elke aanduiding was dat as hy nie die man op die plakkate was nie, sou die ANC baie swakker gevaar het; miskien selfs onder 50% van die stemme behaal het.

“Cyril het eintlik sowat twee jaar gelede al ’n nuwe daeraad belowe. Maar daar is nie ’n nuwe daeraad nie. Ons is nou in ’n slegter posisie, op baie meetbare vlakke, as wat ons was die dag toe hy oorgeneem het.

“Die vraag is dan: Is dit Cyril wat nie rigting het nie; wat nie staal het in sy ruggraat nie, of is dit die hele stelsel? Ek dink die fout wat ons almal gemaak het, was om die skade van staatskaping geweldig te onderskat. Ons het die vermoë van die Zuma-terugveg-patronaatskap-kommando om terug te veg en relevant te bly hééltemal, hééltemal onderskat.

“Ons het nié daarmee rekening gehou dat ál ons instellings – die staatsondernemings, maar ook die nasionale vervolgingsgesag en die inkomstediens en die Valke – hééltemal uitgehol is.

“Ons leer nou hoe stadig ’n mens hierdie goed terugbring. Ons kon nie tóé geweet het dat die openbare beskermer, Busisiwe Mkwebane, haar volledig by die Magashule-kamp gaan ingooi en gaan oorlog maak teen Pravin Gordhan nie.

“So, dit is ’n werklikheid waarmee Ramaphosa te doen het.”

Du Preez: “Cyril het eintlik sowat twee jaar gelede al ’n nuwe daeraad belowe.” Foto: Jaco Marais

In Ramaphosa se skoene

Du Preez het gesê hy het onlangs begin wonder om mense wat maak of hulle weet wat aangaan (hy inkluis), hulle regtig in Ramaphosa se skoene kan plaas.

“Kan ons kwantifiseer wat sy risiko’s is? Ek is oortuig daarvan as hy té hard gedruk het en hy het ’n rebellie ontketen, sou almal van ons wat hier sit nie dan gesê het: ‘Hei Cyril, jy het darem maar dom met die ANC-politiek gewerk; het jy nie geweet jy gaan uitgeskop word as jy dít doen nie?’

Dit is nie in ons aard om ’n mislukking te wees nie, dis wat aan ons gedoen is en wat ons toegelaat het om aan ons gedoen te word.

“So, ons weet nie hoe naby aan die wind seil hy nie. Wat ek wel kan sê, is ons het die super fixers gesien in die parlement wat aan die kern is van die heropbou, dit is Edward Kieswetter, Shamila Batohi, André de Ruyter en Reuel Khoza. Dit is regtig topklasmense.

“Ons sien die staatsondernemings se rade is almal afgedank . . . Die vrotkolle is meestal uitgewis. As ons net Eskom uit die hele vergelyking uithaal, Eskom met sy skuld van R451 miljard en sy onvermoë om vir ons krag te gee, dan sou ons almal met breër glimlagte hier gesit het.

“Die vraag is dan vir my: Is mislukking in ons DNS? Is Ons maar net ’n useless nasie? Soos mense sê: Nóg ’n mislukkende Afrikaland? En as jy vra: Wát sou gebeur het as Cyril Ramaphosa in 2009 president geword het, dan weet ons min of meer vir seker ons sou nié onteiening sonder vergoeding gehad het nie; die nasionalisering van die Reserwebank sou nie ter sprake gewees het nie; ons ekonomie sou gegroei het soos die streek s’n; ons sou nie met onder meer ’n bankrot Eskom gesit het nie.

“Dan moet die antwoord wees: Dit is nie in ons aard om ’n mislukking te wees nie, dis wat aan ons gedoen is en wat ons toegelaat het om aan ons gedoen te word.”

Kok: “Een ding wat Suid-Afrika werklik uitnemend maak, is wat die mense doen in die burgerlike samelewing.”Foto: Jaco Marais

Gebroke stelsel

Volgens Kok berus die grondwetlike bloudruk wat ons geërf het in die oorgang na demokrasie op ’n bloudruk waarin daar ’n verhouding tussen ’n sentrale regering en provinsiale en munisipale regerings is.

“Die balans tussen dit wat sentraal is en dit wat aan streke gebonde is, word nie gehandhaaf nie omdat die ANC as regerende party al die afgelope 25 jaar dominant is. En daardie dominante partystelsel wat ontwikkel het, het ’n swart gat geskep waarin staatskaping kon plaasvind en daardie situasie is só buite beheer. As jy byvoorbeeld net gaan kyk na vlakke van regeringskuld en skuld tussen verkillende vlakke van regering.

Een ding wat Suid-Afrika werklik uitnemend maak, is wat die mense doen in die burgerlike samelewing.
Alida Kok

“So die hele stelsel is so gebroke. Dit is ook gebroke omdat ons in Suid-Afrika nog nooit in die onlangse geskiedenis in die praktyk die ervaring gehad het van dit wat ons gekry het deur ons grondwetlike stelsel nie, daardie bloudruk.

“Ons is eintlik nou besig om die harde werk te doen om van grondvlak af boontoe hierdie stelsel te skep en te ontwikkel sodat hy lewendig is.”

Du Plessis wou weet of ons besig is om dit reg te kry.

“Ek dink die burgerlike samelewing is besig om dit reg te kry . . . Die sentrale regering kan nie alles regkry nie. Een ding wat Suid-Afrika werklik uitnemend maak, is wat die mense doen in die burgerlike samelewing.

Stand van die ANC

Is die werklike probleem dalk nie Ramaphosa se besluiteloosheid nie, maar die stand van die ANC, sy etos en mentaliteit, wou Du Plessis by Van Onselen weet.

Hy het ’n probleem met die mate waartoe ons die politiek in Suid-Afrika probeer verstaan aan die hand van groot politieke persoonlikhede, het Van Onselen gesê.

“Om die impak van die ANC op die land te verstaan moet jy die stand van die ANC verstaan. En jy moet ook ’n wyer blik op Ramaphosa gooi. Hy het nie net twee-en-’n-half jaar gelede uit die lug geval nie. Hy was intiem betrokke en het ’n sleutelrol gespeel in die mislukte staat van Jacob Zuma en die verwoesting van ons ekonomie en ons instellings.

Hy (Ramaphosa) het niks gedoen om enige van die staatsondernemings om te draai nie. Ook het hy korrupsie verdedig.
Gareth van Onselen

“Hy was hoof van die ANC se ontplooiingskomitee wat verantwoordelik was vir die ontplooiing van mense soos Brian Molefe (afgedankte Eskomhoof).

“Hy het niks gedoen om enige van die staatsondernemings om te draai nie. Ook het hy korrupsie verdedig. Dit is op rekord dat hy die dag nadat Thuli Madonsela haar verslag vrygestel het, gesê het daar was geen korrupsie by Nkandla nie.

“So, hier het jy ’n man wat gewillig was om deel te wees van ’n stelsel wat die land gebreek het, en wat gelieg het oor dinge soos korrupsie ten einde aan die bewind te kom. Die feit dat hy bereid was om al daardie dinge te doen is omdat hy onderdanig is aan die kollektief. ’n Mens moet ook in daardie terme na sy presidentskap kyk.

“Dinge soos die bevegting van korrupsie en die verbetering van dienslewering is baie belangrik en Ramaphosa is ver beter oor daardie kwessies as Zuma, maar dít is die minste wat ’n mens van ’n mens van ’n president verwag.”

Van Onselen: “Ramaphosa was intiem betrokke en het ’n sleutelrol gespeel in die mislukte staat van Jacob Zuma.”Foto: Jaco Marais

Ramaphosa het uiters netelige beleide geërf, byvoorbeeld grondonteiening sonder vergoeding en ’n nasionale gesondheidsorgstelsel.

“Daarvoor kan ’n mens hom dalk nie blameer nie, maar daar is talle ander probleme wat op die tafel beland het sedert hy president geword het, byvoorbeeld om openbare en private pensioene in te span om Eskom se skuld te verlig en die sprake daarvan om alle sport te nasionaliseer.

‘Hier gebeur nie niks nie’

Hoe lank kan ons nog so aangaan in Suid-Afrika? wou Du Plessis by Du Preez weet.

Du Preez het na Tito Mboweni se jongste begroting verwys en gesê hy het die Rubicon oorgesteek.

Moenie die ANC daarvoor bedank dat hy van Zuma ontslae geraak het nie. Bedank die mense van Suid-Afrika.
Pravin Gordhan

“En mense wat aanhou sê Cyril gaan net met die stroom . . . Gaan kýk na daardie begroting, daar is nie een element van ANC-ortodoksie in daardie begroting nie; dit is die mees radikale begroting sedert 1994; dit sê ekonomiese groei is die belangrikste; dit sê staatsuitgawes moet verminder; dit sê die staatsdiens se salarisrekening moet verklein; dit sê ons moet korrupsie beveg in die staatsondernemings. Dit is ’n neoliberale, sakevriendelike begroting.

“So, ons kan nie sê hier gebeur niks nie. En as jy kyk na die push back teen staatskaping deur die burgerlike samelewing – Gordhan het al self teenoor my gesê: ‘Moenie die ANC daarvoor bedank dat hy van Zuma ontslae geraak het nie. Bedank die mense van Suid-Afrika.’

“Ons het gesê: Hierdie verrotte spul van Zuma is nie wie ons is nie. Daar is talle ander lande, soos Venezuela en Zimbabwe, wat dit nié gedoen het nie.”

‘Ace in ’n oranje oorpak’

Du Preez meen Ramaphosa gebruik sy magte te min.

“Sy binnekring sê daar is ’n fyn balans binne die nasionale uitvoerende komitee van die ANC en hy wil nie daardie balans versteur nie.

Hy het ook gesê hy is redelik seker Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, gaan “teen Christmas ’n oranje oorpak dra”.

“So, ons het al dikwels vir mekaar in hierdie land gevra: ‘Kan ons so aangaan?’ Ek dink ons instellings is steeds sterk; ons burgerlike samelewing is steeds sterk, en ons howe is steeds sterk, ons media is steeds sterk.

“Ek kan nie sien dat hier iets verskrikliks verkeerd sal gaan nie. In my eie hart is ek bang vir wat die koronavirus aan ons gaan doen, veral ook wat die ekonomie betref, maar ek dink nie ons is inherent verrot genoeg vir ons om te sê: ‘Die land is in sy moer’ nie.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Cyril Ramaphosa  |  Max Du Preez  |  Alida Kok  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.