Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is onsekerheid besig om normaal te word?

Kan die vlakke van onsekerheid vergelyk word met dié in 1993 toe Suid-Afrika op die rand van 'n afgrond gehuiwer het? Onsekerheid het deel van ons alledaagse lewe geword, skryf Theo Venter.

Theo Venter

Sou ’n mens ’n peiling doen oor die positiewe en negatiewe nuus – en natuurlik fopnuus – sal dit blyk dat Suid-Afrika minstens sedert November 2017 ’n baie onstuimige en onsekere tydperk beleef.

Sommige waarnemers meen die vlakke van onsekerheid vergelyk met dié in 1993 net ná die sluipmoord op Chris Hani toe Suid-Afrika op die afgrond gehuiwer het.

’n Soortgelyke situasie het in die vroeë jare 90 in die militêre omgewing ontstaan toe die Amerikaners Irak – ná Saddam Hoesein se pogings om Koeweit te beset – die eerste keer ingeval het.

Die nuus het uiteraard nie net op Suid-Afrika betrekking nie, dit sluit ook gebeure in waaroor Suid-Afrikaners geen beheer het nie. ’n Mens dink hier byvoorbeeld aan pres. Donald Trump van die VSA se buitelandse beleid en dreigende handelsoorloë tussen van die grootste ekonomieë in die wêreld.

Bestaan daar ’n verklaring vir dié verwarrende omgewing, of die wasigheid van ’n klomp gelyktydige gebeure sonder ’n duidelike patroon?

Hierdie wolk van onsekerheid en gebrek aan stabiliteit skep ’n omgewing waarin as gevolg van ’n gebrek aan goeie en betroubare inligting van besluitneming weggeskram word.

’n Soortgelyke situasie het in die vroeë jare 90 in die militêre omgewing ontstaan toe die Amerikaners Irak – ná Saddam Hoesein se pogings om Koeweit te beset – die eerste keer ingeval het.

Ná die konflik het militêre bevelvoerders die situasie waarin hulle gedompel is, beskryf as oorlogvoering in ’n wolk van onsekerheid, met twyfelagtige strategieë, ontoereikende toerusting en gebrekkige politieke steun.

Hul grootste kwelvraag was dat die “vyand” ’n bewegende teiken was en elke dag anders gelyk het.

Hul konvensionele opvatting van wat oorlog was en nie was nie, is gedurig uitgedaag en dit was duidelik dat hulle ’n nuwe denkraamwerk moes ontwikkel om ’n dinamiese situasie met groot onsekerheid te kon hanteer.

Uit hierdie oefening het die afkorting “VUCA” ontstaan.

Onsekerheid oor grondhervorming en grondbesettings is besig om die spanning in Suid-Afrika te vererger. Foto: Edrea du Toit

Grondkwessie dra by tot onsekerheid

Die eerste deel van VUCA-afkorting beskryf die wisselvalligheid (volatility) van ’n onsekere situasie.

Dit beskryf die tempo, koers en omvang van verandering wat feitlik op ’n daaglikse grondslag plaasvind.

Die vertoning van die rand is op die oomblik ’n uitstekende voorbeeld van wisselvalligheid in terme van die geldeenheid se reaksie op binnelandse sowel as buitelandse gebeure.

Die gebrek aan betroubare inligting (watter 139 plase is dit dan?) en die onsekere uitkomste verlam besluitneming...

Die ineenstorting van die Turkse geldeenheid, wat geen verband met die Suid-Afrikaanse binnelandse situasie het nie, bepaal tans die sentiment van ander vergelykbare ekonomieë ook. Die uitweg uit wisselvalligheid lê veral in duidelike visie of rigting.

Die tweede letter in die VUCA-beeld is onsekerheid (uncertainty).

Dit is die afwesigheid van klarigheid of voorspelbaarheid en het te make met die groot aantal veranderlikes en die gebrek aan ’n liniêre verband tussen gebeure. Beleidsonsekerheid in Suid-Afrika is ’n goeie gevallestudie in dié verband.

Wisselende en botsende uitsprake oor grondhervorming asook opponerende en polariserende faksies binne die regerende ANC hieroor, dra tot die diepgang van onsekerheid by. Die gebrek aan betroubare inligting (watter 139 plase is dit dan?) en die onsekere uitkomste verlam besluitneming en lei tot ’n oormatige teruggryp na periodes en kennis in tye van groter sekerheid. Die roete uit onsekerheid lê in groter kundigheid en begrip.

Onrus oor swak dienslewering en gebrek aan grond lei tot onrus wat onsekerheid in Suid-Afrika vererger. Foto: Jaco Marais

Meer as een verklaring is deesdae normaal

Die derde deel van die VUCA-gedagte is kompleksiteit (complexity).

Dit het te doen met die oënskynlike gebrek aan beheer in ingewikkelde stelsels, veral maatskaplike stelsels.

Die invloed van meervoudige faktore op besluitneming en die dikwels nie-liniêre verband tussen dié faktore skep die beeld van ’n chaos. In sulke komplekse stelsels het ons dus meer met skakerings van grys as met wit-swart-situasies te doen.

Die konvensionele metodes om sin uit gebeure te maak werk dus eenvoudig nie meer nie. Om kompleksiteit beter te verstaan moet ons belê in duidelikheid en sistematies begin dink.

Die laaste komponent van die VUCA-gedagte is dubbelsinnigheid (ambiguity).

Dit beteken dat dit normaal word om meer as een verklaring vir ’n gebeurtenis te kan hê en daarom word konteks en sistematiese denke so noodsaaklik. Daar bestaan gewoon net nie meer eenvoudige en maklike verklarings vir gebeure in ’n VUCA-omgewing nie. Dubbelsinnigheid en ambivalensie skep twyfel en dit vertraag besluitneming, iets wat ’n normale situasie in ons plaaslike regerings en beleidsformulering geword het. Meervoudige perspektiewe word in hierdie situasie ’n noodsaaklike stukkie denkgereedskap.

In 2016 het die skrywers Rafael Ramirez en Angela Wilkinson die VUCA-gedagte aangepas en die TUNA-konsep geskep. Hulle het baie meer klem gelê op die noodsaak om sistematies te kan dink en probleme te herformuleer of te herkalibreer (reframing).

Hulle maak die baie interessante opmerking dat mense dikwels in komplekse en uitdagende situasies (Suid-Afrika 2018?) negatief of afwaarts herkalibreer (die Zimbabwe opsie); terwyl suksesvolle maatskappye in dieselfde omstandighede die veerkragtigheid het om opwaarts of positief te kan herkalibreer.

Volgens hulle bestee leiers en bestuurders heeltemal te min tyd om probleemsituasies en dilemmas (sogenaamde wicked problems) behoorlik te formuleer en in ons haas om oplossings te kry, los ons dikwels die verkeerde probleme op!

Hulle het wisselvalligheid met onstuimigheid (turbulence), en kompleksiteit met nuutheid of verwondering (novelty) vervang om van VUCA na TUNA te beweeg.

Pres. Donald Trump van die VSA vererger onsekerheid in die wêreld met sy optrede en het vrese vir ’n internasionale handelsoorlog laat ontstaan. Foto: Getty Images

Hoe maak ons sin van woelinge, onsekerheid?

In dié verband sê die skrywer Peter Drucker dat die groot bedreiging nie lê in onstuimigheid (turbulensie) nie, maar in ons hantering daarvan met logika en denkraamwerke van gister en eergister.

Hoe maak ’n mens dan sin uit die politieke, grondwetlike, maatskaplike, tegnologiese en ekonomiese woelinge en onsekerheid wat ons omgewing tans kenmerk?

Pres. Paul Kruger van die ZAR word, ten slotte, dikwels aangehaal as sou hy gesê het dat ons uit die verlede moet haal wat goed was en in die toekoms daarop moet voortbou.

Die eerste stap is om te aanvaar dat die VUCA-omgewing die nuwe normaal is en dat onsekerheid jou vriend, eerder as jou vyand, moet wees.

Die volgende stap is om jou intellektuele gereedskapskas met die volgende denkgereedskap uit te brei:

* Belê in innoverende denke eerder as konvensionele of geykte planne;

* Voer besluite uit met vaart en ratsheid, eerder as om op opvattings te broei;

* Stuur verby ideologieë en dogmas, soek na buigsame en pragmatiese oplossings en leer om gereeld jou denkraamwerke te herkalibreer. Wees veral op jou hoede vir samesweringsteorieë met hul maklike antwoorde;

* Kry duidelikheid oor die ankers in jou lewe;

* Soek na eenvoud eerder as om te versmoor in die groeiende kompleksiteit. Die mees standhoudende ontwerpe en planne was dié wat die eenvoud in die kompleksiteit raakgesien het;

* Moedig samewerking aan en bou jou netwerke uit, alleen gaan jy nêrens kom nie;

* Hou aan leer en doen jou navorsing. Lees. Om jou te isoleer met verouderde kennis is die verkeerde roete; en

* Belê in veerkragtigheid deur jou vermoë om jou denke te herkalibreer, dit help nie om terug te hunker na vergange se dae nie.

Pres. Paul Kruger van die ZAR word, ten slotte, dikwels aangehaal as sou hy gesê het dat ons uit die verlede moet haal wat goed was en in die toekoms daarop moet voortbou.

Maar 100 jaar later verklaar Gary Hamel en C.K. Prahalad (1996) meer dramaties dat dit in die snelveranderende wêreld waarin ons leef veel belangriker is om te bepaal waarheen ’n organisasie op pad is, as om te bepaal waar dit vandaan kom.

En, voeg hulle by, soos grense op ons ontwikkelingspad oorgesteek word, gaan geboortesertifikate nie veel werd wees nie.

* Venter is ’n politieke ontleder verbonde aa n die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Meer oor:  Theo Venter  |  Donald Trump  |  Chris Hani  |  Grondonteiening  |  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.