Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Is tannie nou te oud vir 'n affair met Cyril?'

Moet Cyril Ramaphosa aan Jacob Zuma amnestie gee en wat moet Zuma se laaste maaltyd in Luthuli-huis wees? Willemien Brümmer het tien vrae oor 2018 aan Evita Bezuidenhout gevra.

Evita Bezuidenhout het Cyril Ramaphosa uit sy maag laat lag op hul besoek aan ’n forelplaas naby Dullstroom in Mpumalanga.

Ná Cyril Ramaphosa se verkiesing as president van die ANC sit ons met ’n verdeelde magsentrum. Hoe behoort die ANC en die land hierdie probleem aan te pak?

Met ’n egskeiding is dit nooit gesond om die man en die vrou toe te laat om steeds saam in dieselfde huis te woon nie. Dis nou die probleem met die ANC. Twee presidente in een magslaer. Laat Cyril baas wees op die plaas en gee vir Jacob sy eenrigtingkaartjie na Dubai.

Moet Cyril aan Nommer Een amnestie gee sodat hy in vrede in Dubai kan gaan aftree?

Laat Msholozi aftree om gesondheidsredes – met vier vroue is die ou man uitgeput. Gee dit vir hom met volle amnestie. Ons kan nie ’n vervalle leier vir twee jaar in die hof bekostig nie. Dink net aan die verkeersknope! Gee hom Nkandla as ’n afskeidsgeskenk. Daardie rondawels lyk buitendien soos ’n aftreeoord buite Hermanus. En vernoem ’n lughawe na hom. Die JG Zuma Internasionale Lughawe op Upington.

Tannie en Cyril het mekaar goed leer ken in 1994, toe hy nog 41 jaar oud was en die sekretaris-generaal van die ANC. Cyril het selfs vir tannie gekook! Kook hy nog so lekker, en dink tannie steeds hy sal ’n goeie president vir Suid-Afrika wees?

Sy deernis met die Khoisan-vier die dag nadat hy ANC-leier geword het – en die bystand wat hy aan hulle gegee het deur hulle per vliegtuig terug te vlieg na PE om betyds vir Kersfees by hul families te wees, is ’n Madiba-oomblik; iets wat ons vir jare nie gehad het nie.

Is tannie nou al te oud vir ’n affair met Cyril?

Moet nou nie die duiwel agter die duin gaan haal nie!

Tannie Evita met 'n boodskap aan Suid-Afrikaners.

Wat sien tannie in tannie se kristalbal vir 2018? Sal dit ’n beter jaar as 2017 wees?

Wat ons sien is wat ons het. Dinge sal nie beter word nie; ons moet net sorg dat dinge nie versleg nie.

Dink tannie Cyril moet die wit boere se grond vat – of het Cyril geheime samesprekings gehou met tannie en die boeremiljardêrs om hulle te verseker hy los die Stellenbosse mafia uit?

Die regering besit meer as genoeg oop grond om vir almal ’n kans te gee. Daar is geen rede om Johann Rupert se huis of Christo Wiese se plaas sonder vergoeding te onteien nie.

Dit lyk asof comrade DD Mabuza dit gaan regkry om vir Cyril op te volg as president. Moet ons maar solank ons vliegtuigkaartjies Perth toe bespreek?

Vyf jaar is ’n eeu in die politiek en ook ’n minuut. Gee almal die tyd om te bewys ons is op die regte pad. Kyk net na Donald Trump en ek is dankbaar vir Julius Malema.

Watter dis sal tannie vir DD Mabuza en Ace Magashule voorberei in Luthuli-huis?

Ek begin altyd met bobotie. Dis my oudisiemaal. Dan moet ek uitvind wat hulle smaak is. Vegetaries? Vegan? Bulimies?

En wat sal Zuma se laaste maal in Luthuli-huis wees?

Beslis nie groente nie, want dis blykbaar altyd vol gif. Ek dink ’n ligte peuselhappie, want jy wil nie ver gaan op ’n vol maag nie. Dalk ’n kerrie wat die sjebien in Saxonwold altyd vir hom voorberei – for old time’s sake.

Sal tannie ooit uit die politiek tree? Of is versoening te belangrik?

Uittree? Vir wat? Ons moet onthou waar ons vandaan kom en vier waarnatoe ons gaan. Ek is hier om almal daaraan te herinner: Moenie panic nie, alles kan regkom. Onthou: ’n Boer maak ’n plan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.