Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is Trump ’n gevaarlike demagoog?

Pres. Donald Trump van Amerika gebruik retoriek wat sy volgelinge saamsnoer, maar almal anders vervreem, skryf Jennifer Mercieca.

Die middelpunt van die aandag. Pres. Donald Trump van Amerika reageer op applous van sy ondersteuners by die naweek se omstrede byeenkoms in Tulsa. Foto: AP

Alle leiers is demagoë. Jy besef dit dalk nie omdat jy die woord “demagoog” net met gevaarlik populistiese leiers verbind.

Maar in Grieks beteken die woord net “leier van die mense” (demos is “die mense” + agogos wat beteken “om te lei”).

Sommige demagoë is goed, ander is gevaarlik. Die fundamentele verskil tussen leiers wat goeie demagoë is en leiers wat gevaarlike demagoë is, lê in die antwoord op dié eenvoudige vraag: “Word hulle aanspreeklik gehou vir hul woorde en dade?”

’n Leier wat nie aanspreeklik gehou word nie, is uiteraard gevaarlik in enige politieke samelewing.

Donald Trump is ’n demagoog – hy is ’n heroïese demagoog vir sy volgelinge en hy is ’n gevaarlike demagoog vir alle ander mense.

Al die strategieë word gebruik om die nasie se agenda te bepaal, om die nasie se aandag af te trek en te bepaal hoe ons die werklikheid verstaan.

Ek ontleed al Trump se retoriek sedert 2015 en, hoe dit ook al vir sommige kritici mag lyk, is Trump geniaal wat retoriek betref. Ek beskryf waarom in my boek, Demagogue For President: The Rhetorical Genius of Donald Trump.

Hy is geniaal daarmee om retoriek net soos ’n gevaarlike demagoog te gebruik ten einde die land te verhinder om hom aanspreeklik te hou.

Trump het sy verkiesingsveldtog gevoer as ’n leier wat nie aanspreeklik gehou sal word nie. Hy het belowe dat hy vir sy volgelinge sal veg en nie verantwoordbaar sal wees aan gevestigde leiers in sy party, die media, mense wat feite nagaan, politieke korrektheid en gewone standaarde van ordentlikheid nie.

Trump het sedert 2015 herhaaldelik ses retoriese strategieë gebruik. Drie daarvan het hom bemind gemaak onder sy ondersteuners en drie het hom en sy ondersteuners van almal anders vervreem.

Die gevolg is dat sy ondersteuners verenig is teen almal anders en dat Trump die spilpunt word van alle politieke besprekings en debat.

Al die strategieë word gebruik om die nasie se agenda te bepaal, om die nasie se aandag af te trek en te bepaal hoe ons die werklikheid verstaan.

Trump se strategieë om homself bemind te maak

Ondersteuners van Trump in Tulsa wys hulle deel sy mening. Foto: AP

* Ad populum: Doen ’n beroep op die wysheid van die skare en gebruik gewildheid as ’n maatstaf van waarde.

Gevaarlike demagoë het geen mag sonder volgelinge nie en gebruik ad populum om hul steunbasis te versterk en sy volgelinge soos ’n knuppel teen teenstanders rond te swaai.

Trump loof gereeld sy mense as die slimste, die beste, die mees patriotiese en die hardwerkendste Amerikaners. Hulle is groot en goed en almal anders is nie.

Toe hy gesê het hy kan “in die middel van Fifth Avenue staan en iemand skiet sonder om kiesers te verloor”, het hy byvoorbeeld ’n ad populum-beroep op die lojaliteit van sy ondersteuners gedoen.

Trump se ad populum-beroep was veronderstel om sy “Never Trump”-kritici stil te maak en die aandag weg te lei van hul belangrikste punt van kritiek teen hom: dat hy ’n ware populis is eerder as werklik konserwatief.

Gewildheid (skares, meningspeilings, hoe goed mense dink hy is, stemme) is die enigste teken van waarde vir Trump. Konserwatisme self het geen waarde nie behalwe as dit gewild is.

Ondersteuners van Trump luister na sy toespraak die naweek in Tulsa. Foto: Reuters

* Paralipsis: Ek sê dit nie; ek sê net.

Gevaarlike demagoë gebruik paralipsis omdat hulle daardeur op ’n aanneemlike manier ontken dat hulle nie eintlik iets omstrede gesê het nie of dat hulle maar net ’n grap gemaak of sarkasties was.

Trump gebruik dié strategie om gerugte en innuendo te versprei en om ’n kykie “agter die skerms” of ’n “ware” beskouing te gee van wat hy glo regtig dink.

Dit is lonend vir Trump omdat dit hom in staat stel om twee dinge op ’n slag te sê sonder om daarvoor aanspreeklik gehou te word.

Hy het ook geweier om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy hertwiets en sê daar is ’n verskil tussen goed wat jy twiet en goed wat jy hertwiet.

Trump het byvoorbeeld herhaaldelik wit nasionalistiese uitsprake op sy Twitter-rekening versterk terwyl hy ontken het dat hy met hulle saamstem.

“Ek weet nie van hertwiet nie,” het Trump aan Jake Tapper gesê. “Jy hertwiet iemand en dan blyk dit dat hulle wit heerssugtiges is. Ek weet niks van hierdie groepe wat my ondersteun nie.”

Hy het ook geweier om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy hertwiets en sê daar is ’n verskil tussen goed wat jy twiet en goed wat jy hertwiet.

Sy hertwiets dien as ’n paralipsis: Dit laat hom toe om te sê en nie te sê nie en gee hom die uitkomkans van aanneemlike ontkenning.

* Amerikaanse uitnemendheid: Dit verwys na Amerika se unieke rol in die wêreld wat deur Trump vereenvoudig word as “Amerika wen”.

Gevaarlike demagoë gebruik Amerikaanse uitnemendheid om hul volgelinge se patriotisme en gevoel van nasionale trots vir hul eie gewin uit te buit.

Trump beeld homself uit as die vergoddeliking van Amerikaanse uitnemendheid en maak daarop aanspraak dat hy die heroïese figuur is wat Amerika weer groot kan maak deur korrupsie en sameswering te verslaan.

Sy veldtog het ’n heldhaftige narratief van opoffering en stryd uitgebeeld.

Trump sal wen vir Trump se mense – hy is hul held.

Trump meen byvoorbeeld dat hy op ’n unieke manier gekwalifiseerd is om die “moeras” van korrupsie te “dreineer”.

Sy veldtog het ’n heldhaftige narratief van opoffering en stryd uitgebeeld. Hy was “dié lid van die binnekring”, het hy gesê, maar toe hy besluit het om hom as president verkiesbaar te stel en Amerika weer groot te maak, is hy gesuiwer.

As “dié buitestander” sal Trump die “moeras dreineer” en ’n einde aan korrupsie maak. Hy het gesê dit sal maklik vir hom wees om dit te doen.

Trump se strategieë van vervreemding

Nie almal stem saam met Trump se boodskap nie: ’n verbrande pet in Tulsa. Foto: Reuters

* Ad hominem: Val die persoon eerder as die standpunt aan.

Gevaarlike demagoë gebruik die ad hominem-strategie om met legitieme teenstanders te spot of om hulle te delegitimiseer.

Trump val mense gereeld aan deur hulle kwetsende name te noem en beroep hom op skynheiligheid en beledigings om die nasie se aandag weg te lei van kritiek teen hom.

Hy gebruik hierdie strategieë om aanspreeklikheid te vermy deur die legitimiteit van sy teenstanders te ondermyn.

Hy het byvoorbeeld ’n verslaggewer met ’n fisieke gestremdheid gespot. Trump het dit gedoen om die aandag weg te lei van sy wanvoorstelling van gebeure op 9/11 deur te redeneer dat die verslaggewer se verstand net so aangetas soos sy liggaam is.

Dit het Trump in staat gestel om daarop aanspraak te maak dat sy weergawe van die geskiedenis die enigste waarheid is sonder om te bewys dat dit wel die geval is.

* Ad baculum: dreigemente van geweld of intimidasie.

Gevaarlike demagoë gebruik ad baculum om die onderwerp van debat te verander en mag om legitieme teenstanders stil te maak.

Trump maak sy teenstanders stil deur hulle te dreig met gemene twiets, gewelddadige skares en deur geweld wat in sy naam gepleeg word te vergewe of om te weier om dit te veroordeel.

Hy het byvoorbeeld dreigemente gebruik en mense se vrese misbruik toe hy herhaaldelik aan sy ondersteuners gesê het Hillary Clinton was vasbeslote om hul vuurwapens weg te neem en hulle weerloos teen verkragters en moordenaars te laat.

Toe hy die steun van die National Rifle Association aanvaar het, het hy gedreig: “As sy toegelaat word om haar regters aan te stel, sal as deel (van die proses), die

Tweede Amendement afskaf.” As dit gebeur, het Trump gedreig, sal vuurwapeneienaars se “enigste kans op oorlewing” daarmee heen wees.

Trump in aksie agter die podium in Tulsa. Hy gebruik sy woorde as wapens. Foto: AP

* Verdingliking: Jy behandel mense soos voorwerpe.

Gevaarlike demagoë gebruik verdingliking om teenstanders as nie heeltemal menslik nie voor te stel en daardeur word hul posisie om te kritiseer of kapsie te maak aangetas.

Verdingliking is tradisioneel deel van oorlogsretoriek of volksmoord.

Deur die menslikheid van die vlugtelinge te ontken, was dit makliker om hulle ’n heenkome te weier.

Trump ondermyn sy teenstanders deur hulle as voorwerpe – dinge, diere – eerder as mense te behandel. Voorwerpe kan nie dieselfde regte as mense hê nie, so dit maak dit maklik om Trump se vyande te verontagsaam of aan te val.

Trump het Moslem-vlugtelinge byvoorbeeld behandel as gevaarlike vyandige voorwerpe wat hulself as mense voordoen – as ’n “Trojaanse perd” wat “miskien ’n weermag van 200 000 man kan loslaat. Of 50 000 of 80 000 of 100 000.”

Die vlugtelinge was nie mense wat hulp nodig gehad het nie; hulle was ’n weermag wat hulself as mense voorgedoen het en wat gevaarlik was omdat hulle vasbeslote was om Amerika aan te val.

Deur die menslikheid van die vlugtelinge te ontken, was dit makliker om hulle ’n heenkome te weier – presies wat Trump wou doen met sy verbod op Moslem-immigrasie.

Woorde as wapens

Het Trump “die beste woorde” soos hy op ’n keer beweer het?

Kwalik. Sy woorde is wapens, goede bereken om ons publieke sfeer aan te val deur wantroue, polarisasie en frustrasie in die hand te werk en dit moeiliker te maak om politieke probleme op te los.

Trump was so suksesvol in die gebruik van gevaarlike demagogiese retoriek dat niemand hom ten tyde van die veldtog in 2016 of sedertdien aanspreeklik kon hou nie.

Hy gebruik retoriek om inskiklikheid teweeg te bring eerder as dit vir oorreding in te span – hy gebruik taal as mag, of soos hy graag sê, as ’n “teenhou” (counterpunch).

Trump se retoriese strategieë stem ooreen met die historiese manier waarop outokrate die demokrasie ondermyn het en dit is daarom dat sy retoriek so gevaarlik is.

* Jennifer Mercieca is medeprofessor in kommunikasiekunde aan die Texas A&M University. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.


Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Populisme  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.