Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dalk kort die ANC 'n goeie klap na onder 60%-status

Teen Donderdagaand vroeg was nog net 50% van die stemme getel en is die eerste voorspellings gedoen. Die finale prentjie ontbreek nog, maar sekere dinge is reeds duidelik, skryf Barnard Beukman.

Die uitstaande kenmerk van Verkiesing 2019 is in dié stadium die laagste stempersentasie sedert die ikoniese verkiesing in 1994.

Soos die geval was in die munisipale verkiesing in 2016 in Gauteng het slegte weer beslis ’n aandeel aan die wegblyery. Daar was ook geïsoleerde voorvalle van protesoptredes wat daartoe gelei het dat stempunte nooit oopgemaak is nie.

Tog is dit betekenisvol dat die ANC nie weer daartoe in staat was om die massas te mobiliseer om tot elke prys uit te gaan en te gaan stem nie – ook in die party se tradisionele plattelandse vestings.

ANC en Gauteng

Ongetwyfeld het ontnugtering en die keelvolfaktor ’n rol gespeel. Van die gesaghebbendste voorspellers van die uitslae soos die WNNR en News24 se Dawie Scholtz was teen Donderdag nog vas oortuig die ANC gaan onder die belangrike sielkundige en statusbelaaide 60%-kerf eindig. Die uitslae van groot swart stemdistrikte moes nog uitkom met die skryf hiervan. Maar as dit wel gebeur, kan daar met reg gevra word of ’n deel van die wegblyery en die stroop van die party se 60%-status die kiesers se straf vir die ANC is.

Staatskaping het ontkiem uit onder meer ’n arrogante gevoel van almagtige onaantasbaarheid – die bo-60%-sindroom. Die klap na onder 60%, indien dit wel realiseer, sal welverdiend wees en ’n goeie uitslag vir Suid-Afrika.

Só sal die ANC begin besef dat hy ook oor sy skouer moet loer en sal moet werk om aan die bewind te bly.

Só sal die ANC begin besef dat hy ook oor sy skouer moet loer en sal moet werk om aan die bewind te bly. Tog is 55% of meer volgens enige demokratiese maatstaf meer as wat pres. Cyril Ramaphosa nodig het om sy “nuwe begin” af te skop.

Dit het vroegaand volgens die WNNR gelyk asof Gautengers tot by die heel laaste getelde stem moes wag om te hoor of die ANC dit oor die 50%-kerf in die provinsie kon maak. Die instelling se vooruitskatting was selfs net 48%. Al sou dit genoeg wees om steeds ’n werkbare koalisie bymekaar te skraap en voort te regeer, sou dit nog ’n welkome bykomende strafpunt deur die kruisietrekkers wees. Lees: Life Esidimeni.

Tog was ander waarnemers se gevoel dat die Cyril-faktor hulle oor die 50% kan trek in Suid-Afrika se enjinkamerprovinsie.

DA waarskynlik verlig

Die slegste uitslag vir Suid-Afrika sou ’n DA wees wat heeltemal uitmekaar val.

Mmusi Maimane en kie sal uiters verlig wees oor vooruitskattings dat hulle bo 20% gaan eindig.

Enigiets van 21% tot 23% is tot nou aangedui. Dit lyk asof hulle onder swart kiesers kon vergoed vir dit wat hulle in wit kiesers aan die VF Plus afgestaan het. 

As hulle die wit stem kon behou, het hulle dalk nou die 30%-kerf aangeval. In die noordelike provinsies was daar egter geen duidelike kommunikasie met die Afrikaanse mark nie en is daar nie eens ’n Afrikaanse leiersfiguur of woordvoerder ontplooi nie.

En asof steeds in Jacob Zuma-modus, het hulle Ramaphosa meermale sinloos geteiken en te min oor hul eie planne gesê.

Tog is hul klaarblyklike oorlewing as “die ander groot party” van kritieke belang. Donderdagaand was hulle nog goed op pad om net-net hul meerderheid in die Wes-Kaap te behou, ’n welkome deel van die nodige politieke balans in die land.

Bereik EFF ’n plafon?

Die EFF se geprojekteerde plafon van sowat 10% is die beste nuus van die uitslae wat drupsgewys invloei.

Al toon die party sterk groei, is die 10%-plafon (of noem dit die onder-15%-plafon) ’n getuigskrif van die swart meerderheid se waardestelsel, al kry baie steeds swaar. Dit dui ook op 'n bereidheid om ’n meer sentristiese beleid van Ramaphosa ’n kans te gun.

Heelwat partye kan verkiesingslesse by die VF Plus gaan leer:

* Formuleer duidelike beleid en nie net vae manifes-spoeg-en-plak nie;

* skryf ’n deeglike ekonomiese beleid;

* gebruik die meeste tyd om jou eie beleid te verduidelik eerder as net om ander aan te val; en

* werk baie hard en wees innoverend.

Dit sal ’n fout wees om die swaai na die VF Plus as ’n blote swaai na regs af te maak.

Dit sal ’n fout wees om die swaai na die VF Plus as ’n blote swaai na regs af te maak. Mense soek duideliker belynde omgewings. Hoewel hul plakkate van “Slaan terug” gepraat het, was daar ook groot elemente van realisme oor die situasie in die land en hul rol daarin.

Pieter Groenewald en kie het hul kiesersmark se frustrasies reg gelees, gefokus en hul eie verwagtinge oortref. Met die skryf hiervan was hulle nog stewig in die wedloop om in die topvier te eindig.

Die DA se skielike toondoofheid vir die Afrikaanse en wit gemeenskap – soos dit veral in die noordelike provinsies, ten regte of ten onregte, ervaar is – het ook gehelp om die VF Plus se kraal aan te vul.

Die toekomstige landskap

Amper te goed om waar te wees?

’n ANC onder die 60%-kerf ingeboender? ’n DA steeds bo die 20%? ’n 10%-plafon vir die EFF? Die Wes-Kaap steeds in die DA se hande? En die onwaarskynlikste van alles: die ANC net-net onder 50% in Gauteng? En die heel onwaarskynlikste: ’n ANC-EFF- gesamentlike stemtotaal van minder as twee derdes – wat dus nie die Grondwet oor byvoorbeeld grond kan verander nie?

Wel, selfs sonder die laaste twee, is dit in vele opsigte ’n verligting en ’n goeie prentjie vir die nuwe politieke landskap. Kom ons kyk oor die volgende paar uur en dae.

So nou begin ons kyk of Ramaphosa en Maimane se leierskap uitgedaag gaan word (hopelik nie) en of daar interne rustigheid om hulle gaan kom.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Verkiesing 2019  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.