Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Islamitiese terreurgroep ‘bedreig ook SA’

’n Toenemende insypeling van militante insurgente in die noordelike dele van Mosambiek hou ook vir Suid-Afrika ’n bedreiging in, skryf Theo Neethling.

Die Mosambiekse weermag kan klaarblyklik nie ’n einde bring aan die geweldpleging deur ekstremistiese insurgente in die provinsie Cabo Delgado nie. Foto: EPA-EFE/Antonio Silva

Daar is nou selfs ’n moontlikheid dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die mees noordelike provinsie Cabo Delgado kan gaan help om ’n einde te bring aan die dodelike geweldpleging, ontvoerings en verwoesting van infrastruktuur.

Indien die Suid-Afrikaanse regering sou besluit om sy magte daarheen te stuur sal die hoofdoelwit wees om hom toe te spits op die bedrywighede van die gewelddadige bedrywighede van die ekstremistiese Islamitiese groep Ahlu Sunnah Wal Jammah. Dié groep staan in Mosambiek ook bekend as Al Sjabaab al het hy geen verbintenis met die gelyknamige Somaliese beweging nie.

Die groep is daarop ingestel om sy eie moskees en madrassas (Islamitiese skole) te vestig en sodoende die verspreiding van sy radikale dogma te bevorder.

Ahlu Sunnah Wal Jammah het as ’n godsdienstige sekte begin en verword tot ’n guerrillagroep. Sy doel was aanvanklik om Sjariawette (Moslemwette) in Cabo Delgado te vestig. Hy het die staat se skole, gesondheidstelsel en wette verwerp, wat tot baie spanning in die provinsie gelei het.

Sommige ontleders meen die beweging word meer deur gierigheid gemotiveer as deur dogma of griewe; dat hy besig is om miljoene dollar per week te maak uit misdadige optrede wat verband hou met mynbedrywighede, stropery, bosbou en smokkel.

Prof. Theo Neethling

‘Hoogs uitdagend’

Hoe dit ook al sy, baie van sy lede blyk jong mense te wees wat sosio-ekonomies gemarginaliseer is en nie ’n behoorlike opvoeding of formele werk het nie. Jong immigrante wat in ’n soortgelyk gemarginaliseerde posisie is, het hulle ook by die beweging aangesluit.

Daar word geskat dat die beweging se lede in tientalle klein selle georganiseer is al langs die kus van noordelike Mosambiek.

Dié verwikkelinge wek met reg allerweë kommer. Sou Suid-Afrika – en spesifiek sy weermag – besluit om betrokke te raak gaan hy hom beslis in ’n uiters gewelddadige en komplekse landskap bevind wat van hom gaan vereis om by teenterreuroperasies betrokke te raak.

Sulke operasies is altyd hoogs uitdagend.

Om terroriste- en insurgentemagte in Mosambiek te takel kan net so uitdagend wees as die uitgerekte operasies teen die militante Islamitiese sektes Boko Haram en Al Sjabaab, wat hoofsaaklik in Nigerië en Somalië bedrywig is en groot dele van dié lande destabiliseer met hul terreurveldtogte.

‘Stabiliteit bedreig’

Waarom behoort daar ernstige kommer te wees oor die situasie in Mosambiek?

Mosambiek grens aan Suid-Afrika, Tanzanië, Malawi, Zambië, Zimbabwe en eSwatini en is dus van Mosambiek afhanklik as ’n deurgangsroete na wêreldmarkte. Gebeure in Cabo Delgado kan dus stabiliteit in die streek bedreig.

Al is Mocímboa da Praia, wat as die hoofkwartier van die ekstremiste beskou word, sowat 2 500 km van Suid-Afrika af, hou die groep dus ook vir Suid-Afrika ’n bedreiging in. Mosambiek het immers sterk ekonomiese bande met Suid-Afrika wat die streek se ekonomiese drywer is. Streeksbestendigheid is beslis in Suid-Afrika se belang.

Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt is daar vier belangrike kwessies wat uitstaan, naamlik: Die gevaar dat Islamitiese ekstremisme so naby aan die land versprei; die strategiese belang van die gebied wat onder beleg is; die swak Mosambiekse veiligheidsmagte; en die bestryding van georganiseerde misdaad.

Gewelddadige ekstremisme

Dit is die eerste voorkoms van só ’n vorm van gewelddadige ekstremisme in suidelike Afrika. Dit is ook die eerste manifestasie van ’n jihadistiese insurgensie.

... luidens verslae is meer as 1 000 mense al dood en word sowat twee miljoen mense deur die krisis geraak.

Tot onlangs was terreurdade deur ekstremiste in Suider-Afrika beperk tot Tanzanië en Zanzibar. Die dodetal en ontworteling van Mosambiekse inwoners in Cabo Delgado is moeilik om te verifieer. Maar luidens verslae is meer as 1 000 mense al dood en word sowat twee miljoen mense deur die krisis geraak.

In onlangse jare is massiewe gasneerslae aan die kus geïdentifiseer wat van die wêreld se grootste rolspelers in die energiebedryf gelok het. Ontginning in die Cabo Delgado-gebied tel onder Afrika se drie grootste natuurlikegasprojekte.

Beleggings van miljarde dollar is reeds gedoen, maar ’n toename in geweld is besig om die toekoms van hierdie beleggings te bedreig.

Hierdie projekte kan ’n groot rol speel om armoede in die land te verlig. Armoede raak die meeste mense in landelike gebiede wat ’n lae vlak van formele onderrig het.

Ekonomiese bedrywighede in Mosambiek het oor die afgelope jare verbeter en het die potensiaal om in die nabye toekoms verder te versterk. Maar baie sal afhang van die reuseprojekte in Cabo Delgado, die herstrukturering van skuld, die Covid-19-pandemie, makro-ekonomiese stabiliteit en verbeterde politieke en ekonomiese bestuur.

Al Shabaab-vegters neem aan ’n militêre parade deel. Foto: Farah Abdi Warsameh/AP

Enorme beleggings

Suid-Afrika beleef al dekades lank ’n instroming van onwettige Mosambiekse burgers weens die gebrek aan ontwikkeling in Mosambiek. Ekonomiese, politieke en maatskaplike ontwikkeling in Mosambiek is dus van uiterste belang vir Suid-Afrika wat self met massiewe armoede en werkloosheid te kampe het.

Hoewel ontginning in Mosambiek in die see is, is ondersteuningsfasiliteite op land en baie kwesbaar vir aanvalle. Die buitelandse maatskappye met hul enorme beleggings voel bedreig, veral noudat finale beleggingsbesluite geneem moet word.

Suid-Afrika het ’n verdere belang in hierdie verwikkelinge. Sasol, die Suid-Afrikaanse energie-en-chemiese multinasionale korporasie, het sedert 2014 groot belê in gaseksplorasie-projekte.

Buitelandse maatskappye en hul bedrywighede het tot groot ontevredenheid gelei onder plaaslike mense. Hulle moes hulself hervestig om plek te maak vir die infrastruktuurontwikkeling. Daar is ook ontevredenheid oor die vergoeding wat hulle ontvang het en dat hulle in die binneland – weg van die visvanggebiede aan die kus – hervestig is.

‘Nie opgewasse nie’

Hierdie faktore vererger die sekerheidsuitdagings in dié baie delikate maatskaplike landskap en die insurgente buit plaaslike mense se griewe uit.

Die Mosambiekse weermag en polisie is nie opgewasse teen die insurgente nie. Hulle kon nie daarin slaag om die militante daarvan te weerhou om die strategiese noordelike dorp Mocímboa de Praia te verower en om ’n dorp naby Quissanga in te neem nie.

Cabo Delgado is ’n sleutelpunt vir die smokkel van dwelms, wilde diere, hout, edelstene en goud.

Die Dyck Advisory Group, ’n Suid-Afrikaanse sekerheidsgroep, het na bewering ook die Mosambiekse regering bygestaan.

’n Bykomende bron van kommer oor die dinamika in die provinsie Cabo Delgado hou verband met georganiseerde misdaad. Die gebied is ’n hoof deurgangsroete vir die smokkel van dwelms en ander smokkelware.

Die hoeveelheid heroïen wat in Afganistan geproduseer en van daar af gesmokkel word langs ’n netwerk van roetes via Oos- en Suider-Afrika, het in die afgelope jare aansienlik toegeneem.

Cabo Delgado is ’n sleutelpunt vir die smokkel van dwelms, wilde diere, hout, edelstene en goud. Die insurgente maak dit moeilik om wetstoepassing in die provinsie uit te voer.

‘Geen keuse’

Operasies wat daarop gemik is om die Islamitiese ekstremiste te stuit is geneig om vir jare lank voort te duur. Om terroristeaanvalle suksesvol in toom te hou verg noukeurige, langtermynbenaderings.

Ideaal gesproke moet dit bestaan uit ’n gemengde stel ingrepe wat insluit maatskaplike hervorming, ekonomiese ontwikkeling en wisselende vorme van militêre mag.

Suid-Afrika se politieke betrokkenheid is nou so te sê onafwendbaar aangesien die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap reeds onderneem het om Mosambiek te help in sy stryd teen insurgensie.

Dít maak dit hoogs waarskynlik dat Suid-Afrikaanse militêre magte op een of ander wyse betrokke sal raak.

• Prof. Theo Neethling is hoof van die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Die artikel het aanvanklik in The Conversation verskyn.

Meer oor:  Theo Neethling  |  Mosambiek  |  Terreurgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.