Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ivermektien: Geen finale besluit nog moontlik

Die omstredenheid rondom die gebruik van ivermektien teen Covid-19 duur voort, skryf Gordon Dent.

Toetse duur voort om te bepaal of ivermektien wel doeltreffend in die behandeling van Covid-19 is. Foto: Getty Images

Soos die soektog na ’n behandeling van Covid-19 voortduur, het die uitslae van ’n aantal studies gelei tot veranderings in die advies oor watter middels aan mense gegee moet word wat dié siekte opdoen.

Die Europese medisyne-agentskap en Amerika se nasionale instituut vir gesondheid het onlangs besluit dat een behandeling wat voorheen belowend gelyk het – dié met die antiparasitiese middel ivermektien – nie vir Covid-19-pasiënte aanbeveel word nie.

Ondanks sulke besluite, word die gebruik van ivermektien op sosiale media en in WhatsApp-groepe gesteun, en word beweer dat daar doelbewuste pogings is om dié middel te ondermyn.

Sommige het dit die “nuwe hidroksichlorokien” gedoop nadat ’n behandeling betekenisvolle steun aanlyn gekry het hoewel in proefnemings bevind is dat dit nie doeltreffend teen Covid-19 is nie.

So wat is ivermektien en waarom spreek nasionale agentskappe hulle daarteen uit?

Wat is ivermektien?

Visvin Reddy (links), president van die African Democratic Change Party, neem deel aan ’n betoging in Durban vir die wettiging van ivermektien. Foto: Getty Images

Ivermektien is die eerste keer in die 1970’s ontwikkel uit ’n bakterie in ’n grondmonster wat net in die woude langs ’n gholfbaan in Japan voorkom (geen ander bron is ooit opgespoor nie).

In die jare sedertdien het ivermektien gelei tot die transformasie van die menslike geneeskunde sowel as veeartsenykunde en is die ontdekkers daarvan, William C. Campbell en Satosji Omoera, met ’n Nobelprys vereer.

Ivermektien is geredelik beskikbaar en betreklik goedkoop.

Ivermektien word tans in tabletvorm aan mense voorgeskryf vir die behandeling van sekere aalwurm-infeksies wat siektes soos rivierblindheid veroorsaak. Dit kan ook as ’n room aangewend word om die algemene vel-infeksie papulopustular rosacea te beheer.

Maar ivermektien word veral algemeen gebruik om parasitiese veeartsenykundige siektes te behandel, veral vir maagderm-besmettings wat deur wurms veroorsaak word. Gevolglik is dit geredelik beskikbaar en betreklik goedkoop.

Omdat ivermektien egter meer vir diere as mense gebruik word, het die Amerikaanse voedsel-en-dwelm-administrasie dit nodig gevind om in April 2020 ’n waarskuwing uit te reik teen die gebruik van veeartsenykundige middels vir mense wat Covid-19 onder lede het.

Waarom kan dit dalk teen Covid gebruik word?

’n Kind in Bouake in die Ivoorkus word gemeet om die dosis ivermektien wat hy moet kry, vas te stel. Dit word vir die behandeling van rivierblindheid gebruik. Foto: Getty Images

Hoe het dit gebeur dat ’n middel wat hoofsaaklik gebruik word vir die behandeling van ingewandsbakterieë in koeie die belangstelling geprikkel het van dokters wat mense met Covid-19 behandel?

Vroeg in 2020 is navorsing openbaar gemaak (voordat dit deur ander wetenskaplikes beoordeel is) wat wys dat ivermektien die replikasie van die SARS-CoV-2 virus, wat Covid-19 veroorsaak, onder laboratoriumtoestande onderdruk.

Dit was een van baie studies die afgelope 50 jaar wat gewys het dat dié antiparasitiese middel ook antivirale gebruike het.

Dit lyk asof daar twee belangrike maniere is waarop die middel koronavirus-replikasie kan voorkom.

Eerstens kan dit die virus keer om ons selle se natuurlike antivirale reaksies te onderdruk.

Verskeie studies is al gedoen om die doeltreffendheid van die gebruik van ivermektien in die behandeling van Covid-19 te probeer bepaal.

In die tweede plek is dit moontlik dat die middel die “spyker”-proteïen op die oppervlak van die virus kan verhoed om aan die reseptore te bind wat toelaat dat dit ons selle binnedring.

Dít en die anti-inflammatoriese doeltreffendheid van ivermektien in die behandeling van rosacea, kan dui op die bruikbaarheid daarvan in die behandeling van ’n virale siekte wat betekenisvolle inflammasie veroorsaak.

Dié aanvanklike bevindings is gebruik as die grondslag van verskeie aanbevelings vir die gebruik van ivermektien in die behandeling van Covid-19, veral in Latyns-Amerika, wat later teruggetrek is.

Hoekom is dit omstrede?

Entstowwe is volgens talle wetenskaplikes die beste manier om Covid-19 te bekamp. Foto: Reuters

Sedertdien was daar verskeie studies oor die moontlikheid om ivermektien in die behandeling van Covid-19 te gebruik.

Laat in 2020 het ’n navorsingsgroep in Indië die uitslae van vier klein studies oor ivermektien as bykomende behandeling vir Covid-19-pasiënte saamgevat. Dié oorsig het gewys dat daar statisties ’n baie beter kans op oorlewing is onder pasiënte wat ivermektien saam met ander behandeling ontvang het.

Maar die opstellers het duidelik gesê dat die gehalte van die bewyse nie goed was nie en dat die bevindings met omsigtigheid benader moet word.

Soos dikwels gebeur met oorsigte vir verskeie klein studies, is aan die hand gedoen dat verdere proefnemings nodig is om te probeer vasstel of ivermektien wel klinies doeltreffend was.

Daar was gevolglik omstredenheid oor ’n artikel deur die Front Line COVID-19 Critical Care Alliance, ’n groep dokters en navorsers wat hulle vir die gebruik van ivermektien beywer.

Een groter ewekansige kliniese proefneming het gewys dat ivermektien geen invloed het op die duur van die simptome van volwassenes wat matige Covid-19 onder lede het nie.

Dié artikel was ’n samevatting van verskeie klein studies oor die gevolge wat ivermektien op Covid-19-pasiënte gehad het en is voorlopig in Januarie 2021 vir publikasie in die joernaal Frontiers in Pharmacology aanvaar, maar toe van die hand gewys en in Maart van die joernaal se webwerf verwyder.

Die joernaal se redakteur het gesê die artikel het nie genoegsame bewyse bevat nie en dat die skrywers op onbehoorlike wyse hul eie behandeling gegrond op ivermektien wou bevorder.

Die bevindings van een groter ewekansige kliniese proefneming is in Maart 2021 gepubliseer. Dit het gewys dat ivermektien geen invloed het op die duur van die simptome van volwassenes wat matige Covid-19 onder lede het nie.

Die skrywers het gesê dat die bevindings nie die gebruik van ivermektien in die behandeling van dié pasiënte gesteun het nie, maar het weer beklemtoon dat groter proefnemings nodig is om te probeer bepaal of die middel ander voordele het.

Hoekom word dit nie aanbeveel nie?

Dit is nog te vroeg om ’n finale gevolgtrekking oor die doeltreffendheid van ivermektien in die behandeling van Covid-19 te maak, skryf Gordon Dent. Foto: Gallo Images

Hoewel sommige studies verskyn het wat daarop dui dat dit blyk dat ivermektien voordele inhou, het baie ander nie tot dieselfde gevolgtrekking gekom nie.

Dit is saamgevat deur Amerika se nasionale instituut vir gesondheid en wys op die ernstige beperkings van die klein steekproewe en probleme met die manier waarop die studies ontwerp is.

Die nasionale instituut vir gesondheid en die Europese medisyne-agentskap het op grond van dié studies bevind dat daar tans onvoldoende bewyse is om die gebruik van ivermektien in die behandeling van Covid-19 te steun.

Ander studies is nog aan die gang. ’n Groot proefneming in verskeie sentra het in Februarie begin om die doeltreffendheid van ivermektien sowel as metformien (medikasie teen diabetes) en fluvoxamine (’n antidepressant) se doeltreffendheid in die bekamping van die progressie van Covid-19 te bepaal.

Dit sal daarom voortydig wees om tot ’n finale gevolgtrekking te kom dat ivermektien geen plek in die behandeling van Covid-19 het nie. Op grond van beskikbare bewyse kan die gebruik daarvan egter nie aanbeveel word nie.

Dent is ’n senior dosent in farmakologie by Keele Universiteit. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.