Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ivo Vegter is blind vir werkersklas se nood

Ja, die middelklas kry swaar, maar dis nie hulle wat deur Covid-19 ‘geslag’ word nie, skryf Jan de Lange.

Inwoners van Olievenhoutbosch, Centurion, ontvang kospakkies. Foto: ER Lombard

Pres. Cyril Ramaphosa is ’n toegewyde sosialis. En die ware doel van die Covid-19-staat van inperking is nie om die “kurwe platter te maak” van die virus se verspreidingskoers soos ons leiers vertel nie. Dis eintlik “om die middelklas te verwoes”.

Nee, dis nie die bittereinder-reste van die AWB, die Volkstaatbeweging of die Boervolkbeweging wat met hierdie swartgevaar-samesweringsteorieë van die middelklasse probeer smous nie.

Dis ’n salvo uit die ratelende rekenaar van Ivo Vegter, huursoldaat van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), wat tot dié gevolgtrekkings kom nadat hy sy eie ontledings van daaglikse nuusgebeure aangevul het met ’n paar goedgekose meningspeilings in die sakegemeenskap.

Is daar enige plek in die wêreld waar sakemense bly is oor die inperkings om Covid-19 te probeer hokslaan?

Nie sakemense nie, maar daar is ander wat bly is oor die inperkings. In New York, Londen, Milaan, Madrid en nou ook São Paulo en Rio de Janeiro staan die naasbestaandes van derduisende virus-slagoffers vandag by grafte. Hulle wens dat Ramaphosa hul leier was pleks van Donald Trump, Boris Johnson, Sergio Mattarella (Italië), Pedro Sánchez (Spanje) en Jair Bolsonaro (Brasilië).

Ja, wat ons president met die vroeë inperking gedoen het, weerklink oor die wêreld heen as leierskap van formaat in die moeilikste omstandighede. Ek glo Vegter weet daarvan, maar praat nie graag daaroor nie.

Klein produsente is van hul mark in informele sektor afgesny.

Dit beteken nie dat ons nie uitgesproke mag wees oor die moeilike vraag van wanneer en hoe ons die inperking moet ophef nie. Ons moet inderdaad geraas maak.

Maar goedkoop politiekery soos Vegter se stuk op hierdie blaaie verlede week verraai in hierdie krisis meer oor homself en die IRV as oor Ramaphosa en die ANC.

Vegter gebruik meer as die helfte van sy 2 500 woorde om te beskryf hoe “onwetenskaplik” die inperking is en haal rieme statistieke aan oor arbeidsbesnoeiings, likwidasies en kontantvloei van maatskappye wat sukkel omdat hul fabrieke en winkels moet toe bly weens die inperking.

“Dit moet so gou as moontlik opgehef word, maar dit sal nie gebeur nie omdat dit so reg in die draaiboek van die ANC speel.

“Wat ons nou aanskou, is die versigtige slagting van die middelklas,” skryf hy.

Hy is klaarblyklik salig onbewus daarvan dat diegene wat hul brood in die informele sektor verdien het, al twee maande lank sonder inkomste is. Dis mense wat voor die inperking hoogstens ’n week of twee se besteebare inkomste in hul sakke gehad het.

Daar word bereken dat sowat 15 miljoen mense vir hul bestaan van die informele sektor afhanklik is. Hulle is die land se werkende armes. ’n Ekonomiese taakspan van ons “sosialistiese” president het bereken dat 75% van hulle – meer as 11 miljoen mense – hul inkomste tydens die staat van inperking verloor het.

Ja, die middelklas kry swaar. Maar dis nie hulle wat geslag word nie. Dis die werkersklas – diegene oor wie die ANC teen die EFF meeding vir stemme.

Die land is soos ’n dubbelverdiepinghuis met ’n formele ekonomie op die boonste verdieping en ’n informele ekonomie op die grondverdieping, maar daar is geen trap of hyser tussen die twee verdiepings nie.

Enigiemand wat twyfel oor die felheid van dié stryd, moet op YouTube gaan kyk hoe die EFF se onderleier, Floyd Shivambu, en sy hoofsweep, Veronica Mente, Woensdag die eerste virtuele debat van die Nasionale Vergadering in chaos gedompel het met hul eise dat Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid, die rasseverdeling van die land se Covid-19-slagoffers bekend maak.

Die onkunde oor die werklike nood is die gevolg van die enorme ongelykheidsgaping in Suid-Afrika waarteen oudpres. Thabo Mbeki in 2003 gewaarsku het. Die land is soos ’n dubbelverdiepinghuis met ’n formele ekonomie op die boonste verdieping en ’n informele ekonomie op die grondverdieping, maar daar is geen trap of hyser tussen die twee verdiepings nie.

En in die nege jaar wat die ANC tussen 1994 en 2003 aan bewind was, het hy alles vir die boonste verdieping gedoen, maar niks vir die onderste verdieping nie, het Mbeki destyds in ’n onderhoud met die latere redakteur van Beeld, Peet Kruger, gesê.

Daar is trouens baie mense op die boonste verdieping wat salig onbewus is van die bestaan van die onderste verdieping. Soos Vegter en die ander huurlinge van die IRV.

Die Covid-krisis het ’n massiewe, gevaarlike gebrek in ons voedselketting blootgelê. Daar is vyf groot- en kleinhandelreuse in die land wat op die boonste verdieping die groot kosverskaffers vir verreweg die meeste van ons is.

Maar ondertoe, onsigbaar vir ons op die boonste verdieping, is daar etlike duisende klein kosprodusente en verspreiders wat aan die informele sektor lewer. En ons is geen uitsondering nie. Oor Afrika heen is dit hoe kos eintlik geproduseer word.

Maar met die inperking is die klein produsente, kleinakkerboere in townships en op stamgrond van hul markte in die informele sektor afgesny. Daardie voedselketting is gebreek. Produsente het ondergegaan en die kosmandjie van hul klante het só gekrimp dat hulle nou honger ly.

Die vyf grotes, wat nie deur die inperking geraak word nie omdat hulle tot noodsaaklike dienste verklaar is, is nou vir hierdie mense die enigste bron van kos. Vir hulle bepaal vraag en aanbod die prys van hul produkte en daarmee saam hul winsgrense. En die vraag was nog nooit so sterk soos nou nie. Dis ’n klassieke mislukking van die vrye mark.

Daar is talle nieregeringsorganisasies wat voor die inperkings reeds die probleem sien aankom het en wat die afgelope twee maande dag en nag werk om die nood te probeer verlig. Die IRV is ongelukkig nie een van hulle nie.

Dat Ramaphosa iets daaraan wil doen, maak hom in Vegter se oë ’n “ware sosialis”. Die IRV doen hom voor as die vaandeldraer van ware liberalisme, maar hy is eintlik maar ’n politieke dinkskrum vir ’n faksie in die DA-dampkring wat deur ander in die party die “stoksterte” (Vrymesselaars) genoem word.

Die liberalisme-vaandel het veral laag gedaal tydens die lykskouing oor die oordrewe, gewaande teëspoed wat die DA in verlede jaar se verkiesing opgedoen het.

En sedert Ramaphosa aan bewind gekom het, hou die IRV se mense hulle besig met die donkerste voorspellings oor alles wat die bose, kommunistiese en sosialistiese ANC vir ons in gedagte het.

Kort voor die koms van die koronavirus was “hulle” in die ANC op die punt om “ons” pensioene te vat en ons private hospitale met ’n slenter genaamd Nasionale Gesondheidsversekering te nasionaliseer sodat ons almal voortaan in vuil, verouderde staatshospitale ons operasies moet ondergaan.

En voor dit was “hulle” van plan om die boere van hul plase af te jaag à la Robert Mugabe sodat ons almal van die honger doodgaan.

Dis hoe die soektog na oplossings vir die grondvraagstuk, die gesondheidsvraagstuk en die fiskale afgrond aangebied word. Al drie is bitter moeilike en ingewikkelde kwessies wat ons voortbestaan as ’n stabiele demokrasie bedreig.

Nie dat die ANC geen aandeel in die probleme het nie. Die sondes van die Zuma-jare gaan vir altyd om sy nek hang, maar die party is verlede jaar in ’n landwye verkiesing herkies.

Ons moet eenvoudig vorder met hierdie vraagstukke.

Dit is net so belangrik dat opposisiepartye alles in hul vermoë doen om toe te sien dat die hervormings binne die raamwerk van die Grondwet gedoen word en korrupsie vasgevat word. Maar Vegter en die IRV dra bitter min daartoe by.

Ja, almal weet daar is kommuniste in die ANC. Daar is ook sosialiste, kapitaliste en Afrika-nasionaliste wat ook neig na fasciste en ja, daar is ook rassiste wat maar min ooghare vir wit mense het. Ek sal Ramaphosa liewer in die kategorie van kapitaliste plaas, maar ’n kapitalis met ’n gewete.

Net so is daar tekortkominge in die DA-geledere. En in die EFF is daar verbasend genoeg ’n paar mense met wie mens ’n myl of twee kan saamloop.

Ons is almal saam in hierdie ding. Ons sal saam daardeur moet kom, maar ons gaan dit nie regkry as ons met ideologiese oogklappe rondloop nie.

* Jan de Lange is Rapport se politieke beriggewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.