Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ivor Price bedank by SAUK: ‘Ek kan nie meer stilbly’

Sy gewete laat hom nie toe om langer stil te bly oor wat by die SAUK gebeur nie, skryf die Monitor-aanbieder Ivor Price in 'n tydlyn nadat hy by die openbare uitsaaier bedank het.

Ivor Price Dinsdagoggend nadat hy gehoor het nóg van sy SAUK-kollegas is afgedank. Foto: Murray Louw

2 Augustus 2013: Dit is die aand van my groot debuut as TV-nuusleser op die SAUK se 24 uur-nuuskanaal. ’n Maand later sou ek ook in die warm stoel op SABC2 inskuif – die einste stoel waarop Riaan Cruywagen vir 37 jaar gesit het, maar ook die stoel waarop Terrance April en Lynette Francis al jare sit. Dis nie iets waarvan ek kleintyd gedroom het nie. Dis die aand waarop my hele lewe ten goede verander het danksy ’n seldsame geleentheid wat die SAUK aan my gebied het.

15 Desember 2013: Ons is op Madiba se geboortedorp, Qunu, in die Oos-Kaap, vir sy begrafnis. Sy stoet behoort nou enige oomblik verby te kom. Langs die pad staan ’n Xhosa-seun met ’n landsvlag in die hand. “Kan ek ’n foto neem, oom?” vra hy in Afrikaans. “Oom is mos die oom van die nuus.” Ek is verstom oor die reikwydte van die SAUK, maar ook nederig bewus van sy verantwoordelikheid as ’n openbare uitsaaier.

1 Julie 2015: My eerste dag as mede-aanbieder van die nuusprogram Monitor op RSG. Senuagtig skuifel ek neffens Anita Visser agter die mikrofone in. Dit was nog altyd ’n droom om saam met haar te kon uitsaai. Sy’s my radiovlerke. Ons deel dieselfde werketiek en joernalistieke waardes. Saam verwelkom ons elke weeksoggend uiteenlopende nuusmakers en meningsvormers. Soms word die ateljee ’n bokskryt (hoe kan ons ooit die bekgeveg tussen Hlaudi Motsoeneng en Tim du Plessis vergeet?). Ons is nie altyd gewild nie, maar die Here weet ons is altyd regverdig.

13 Mei 2016: Dit is ’n groot aand vir RSG se nuusspan by die ATKV-Mediaveertjies. Ons wen in al die kategorieë waarvoor ons benoem is.

30 Mei 2016: Dit is nie meer altyd lekker om soggens werk toe te gaan nie. Dit voel al hoe meer of donker wolke begin saampak. Die Afrikaanse nuusomgewings was nog altyd veilig en vreesloos, maar ons kry al hoe meer die indruk dat ons dopgehou word. Dié oggend is die joernalis Tim du Plessis en prof. Franz Kruger, self ’n voormalige SAUK-man en nou joernalistiekdosent by ons in die ateljee. Hulle draai nie doekies om oor die SAUK se besluit om nie meer oor gewelddadige protes te berig nie. Later hoor ons Motsoeneng het al sy speelgoed op die vloer van sy kantoor uitgegooi. Hy’t die vorige dag in ’n selfoongesprek vir my gesê hy kan nie vanoggend deelneem nie, “but I’ll come to face my music”. Motsoeneng is vies omdat ek dít ook op die lug gesê het.

20 Junie 2016: Foeta Krige (uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum) kom sit ongemaklik op my lessenaar. Hy was pas in die SAUK se oorkoepelende oggend-nuusvergadering. “As ek nog nie gefire is nie, word ek vandag gefire,” sug hy. Hy lyk moedeloos. Blykbaar was daar ’n opdrag dat die SAUK se radio- en televisiedienste nie oor ’n Right2Know-betoging buite die SAUK-kantore mag berig nie. Hy het gesê hy stem nie daarmee saam nie, waarna (senior vervaardiger) Suna Venter en (sakeredakteur) Thandeka Gqubule ook kapsie gemaak het. “Om bloot te sê dat jy nie met iets saamstem nie, is nog lank nie ’n fireable offence nie,” sê ek. Min weet ek. . .

24 Junie 2016: Ek’s met verlof in Kaapstad en staan op die rotse langs die see by Lagoon Beach. My selfoon biep. Foeta en Suna is pas geskors hangende ’n tugondersoek. Niemand weet regtig hoekom nie.

27 Junie 2016: Die SAUK se waarnemende groephoof, Jimi Matthews, publiseer onverwags sy bedankingsbrief op sosiale media. Daarin skryf hy: “Wat by die SAUK gebeur, is verkeerd en ek kan nie langer daarvan deel wees nie.”

29 Junie 2016: Ons is ’n klein span en trek swaar sonder Foeta en Suna. Desondanks kry ons dit elke dag reg om gehalte-nuusprogramme op die lug te sit. Ons berig vreesloos en sonder guns oor die dag se nuus, waaronder woelinge by die SAUK. Ons skep moed uit letterlik duisende boodskappe van ondersteuning wat van oor die land heen instroom.

30 Junie 2016: ’n Mens kan ’n speld in die kantoor hoor val. Nóg drie SAUK-joernaliste – kollegas wat enkele treë van ons sit – is nou ook voor tugverhore gedaag. Busi Ntuli, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay se sonde is ’n brief waarin hulle kommer uitspreek oor die gevoel van vrees wat in die nuuskantoor heers. Die brief is aan die media gelek.

Op die lug berig ons vreesloos hieroor, maar al hoe meer SAUK-joernaliste sê reguit in die gange hulle wil nie aan SAUK-verwante stories raak nie, want hulle het te veel om te verloor.

30 Junie 2016: Dis die oggend van die betogings buite verskillende SAUK-kantore. In Auckland Park, Johannesburg is ons span gereed om ons by die ander joernaliste en burgerregte-organisasies aan te sluit en aan die protesoptog deel te neem.

Maar halfses die oggend – ’n halfuur voor ons die land moet groet – bars alle hel egter op kantoor los. Baie mense is nou vreesbevange dat hulle dalk hulle werk kan verloor.

Dieselfde oggend dien ek my bedanking by die SAUK in.

In alle regverdigheid, ek het al enkele dae vroeër ’n ander aanbod aanvaar, maar soos die noodlot dit wil hê, maak spanning by die SAUK my besluit net makliker.

Teen middagete is ek in trane – darem in my eie bed.

5 Julie 2016: Die ANC-woordvoerder, Jackson Mthembu, verras vriend en vyand deur die SAUK in die openbaar te roskam. Byt nog so bietjie vas, probeer iemand my oortuig om my bedanking terug te trek. Dinge gaan verander. Dinge móét verander.

Maar ek is nie oortuig nie. Motsoeneng se giftige tentakels is teen hierdie tyd oral in die openbare uitsaaier ingeslaan. Selfs al sou hy môre bedank of afgedank word, gaan dit lank neem voor goeie joernaliste oor die verlammende vrees sal kan kom. Dis ’n vrees wat ek goed verstaan, want mense het gesinne.

18 Julie 2016: Toe ek van ’n middagslapie wakker word, is daar 17 boodskappe op my selfoon. Foeta, Suna, Jacques en Krivani is per e-pos afgedank sonder ’n tugverhoor. Toe tref dit my: die SAUK het nou ’n plek geword waar mens jou werk kan verloor, omdat jy van ’n kollega verskil.

Op die eerste bladsy van my aanstellingsbrief maak die organisasie groot gewag van die waardes wat hy nastreef: Praat, luister en hoor; integriteit; uitmuntende prestasie en die koestering van diversiteit. In die laaste paar weke kon ek geen bewyse vind dat dit hoegenaamd by die openbare uitsaaier die geval is nie.

Ek kan nie langer stilbly nie.

19 Julie 2016: Busi Ntuli, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka het nou ook die trekpas gekry. Weer eens, sonder ’n tugverhoor en sommer per e-pos. Agt van die land se beste joernaliste is nou werkloos. Elkeen van hulle is absoluut onkreukbaar. Dit moet vir hulle en hul families uiters traumaties wees.

Ek is ewig dankbaar vir die geleenthede wat die SAUK aan my gebied het, maar ek kan nie hulpeloos toekyk hoe onreg ook in my naam geskied nie. Dis vir my jammer dat ek moet groet, want in die gemeenskap waar ek vandaan kom, is die SAUK se radio- en TV-dienste al wat regtig saakmaak.

Ek ween, want eintlik is die Afrikaanse SAUK-wêreld ’n plek van uitnemendheid. Ek sukkel ook om my ’n lewe sonder my radiovrou, Anita, te verbeel.

Ek haal my hoed af vir haar en die span wat ondanks die stormwaters die wa deur die drif trek. Iemand móét dit doen. Hulle het net een missie: Om dag ná dag die land se beste nuus- en aktualiteitsprogramme op die lug te kry.

My laaste SAUK-werkdag is op 5 Augustus 2016.

Meer oor:  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.