Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ja, onnies het óók regte

Suid-Afrika vier môre amptelik Onderwyserdag. Maar het onderwysers nog iets om te vier? vra Michael le Cordeur.

Foto ter illustrasie: istock

Ek het in verskeie skole gewerk – van die rykstes tot die armstes; van skole met ’n 100%- matriekslaagsyfer tot skole met 0% vir geletterdheid.

Ek was getuie van die 1976-opstande en het skoolgehou tydens die struggle in die 1980’s. Ek het onderwys studeer, nagevors en daaroor geskryf.

Ek het gedink ek het elke aspek van die onderwys beleef.

Maar ek was verkeerd. In die 37 jaar wat ek by onderwys betrokke is, het ek nog nooit soveel geweld soos nou in skole gesien nie.

Hier is net ’n paar van die onlangse voorvalle:

  • ’n Leerling steek ’n jong onderwyser van Zeerust, Gadimang Mokolobate (24), met ’n mes dood toe hy die leerling teregwys;
  • ’n 16-jarige leerling van Mpumalanga steek ’n 18-jarige skoolmaat dood toe hulle oor ’n selfoon baklei;
  • By ’n hoërskool op Stellenbosch kry ’n 16-jarige leerling ’n noodoperasie nadat medeleerders hom met messe in sy kop en long gesteek het;
  • Twee afsonderlike skietvoorvalle word by Stellenbosse hoërskole aangemeld; en
  • ’n Gr. 8-leerling van Eldorado Park, Pretoria, rig ’n vuurwapen op sy onderwyser.

En dis maar net die oortjies van die seekoei.

Net in die Wes-Kaap is 60 aanvalle op onderwysers in die eerste kwartaal van 2018 aangemeld. In die ooreenstemmende tydperk in 2016 was daar net 30 aanvalle.

Soortgelyke gevalle kom in álle skole voor – van die rykstes tot die armstes. Gaan soek “leerling met mes gesteek” op Google en sien hoeveel soortgelyke gevalle reeds voorgekom het.

Onderwys ’n hoërisikoberoep?

Vir die eerste keer moes ons vanjaar studente in hul proeftydperk na ander skole skuif omdat die si­tuasie in die skole te gevaarlik geword het.

Verskeie kenners is dit eens dat die onderwyssituasie in ons land buite bedwang is.

“Ek het nie woorde om my skok en ongeloof uit te spreek oor die agteruitgang van dissipline in ons skole nie,” skryf Archie Vergotine, ’n oudskoolhoof en -president van die Kaaplandse Professionele Onderwysunie, onlangs.

Patrick Mettler, voormalige skoolhoof van Upington, kan ook kwalik sy teleurstelling verberg.

“Skoolbeheerrade het juries geword en prinsipale magistrate. Jy moet deesdae nie net kan somme doen nie . . . jy moet ook weet wat art. 7 – saamgelees met subartikel 7(d)(i), (iv), (v) en (vi) – sê.

“Onderwysers is selde ingelig oor die Skolewet, en weinig is van hul regte bewus.”

Nog ’n oudskoolhoof en gewese vakbondleier, Danie van Wyk, is ook bekommerd.

“Het onderwys ’n hoërisikoberoep geword? Hoe motiveer ons jongmense om onderwys te kies?”

Begin anders kyk na dissipline

Ek stem saam met kenners dat daar nie kitsoplossings is nie. Maar om net jou skouers op te trek is allermins wat jy van die woordvoerder van die departement van basiese onderwys verwag.

Volgens Elijah Mhlanga het die departement nie oplossings nie, want jy weet nooit wat in ’n kind se kop aangaan nie!

Enige onderwyser wat sy sout werd is, weet die klaskamer is ’n dinamiese plek waar geen dag dieselfde as die vorige is nie. Jy moet voortdurend op jou voete kan dink en nuwe strategieë vind om dissipline te bestuur.

Dit het tyd geword dat ons anders na dissipline kyk. Ou strategieë werk nie meer nie.

Die dissipline-probleem is nie net ’n skole-aangeleentheid nie. Dit is ook ’n uitvloeisel van ’n samelewing wat so gewelddadig geraak het dat dit elke aspek van ons bestaan infiltreer en die onderwysstelsel verlam.

Talle mense vra dat lyfstraf teruggebring word. Lyfstraf word egter deur wetgewing verbied. Diegene wat hul daaraan skuldig maak, betaal duur: As die departement jou nie skors nie, sal die polisie jou in hegtenis neem of die leerlinge sal jou aanrand. Jy kan selfs met jou lewe boet.

Dit het tyd geword dat ons anders na dissipline kyk. Ou strategieë werk nie meer nie.

’n Afrika-gesegde lui: “It takes a village to raise a child.” Die huidige krisis vereis ’n multidissiplinêre benadering waar almal verantwoordelikheid vir ’n gedissiplineerde en opgevoede jeug moet aanvaar.

Godsdiensleiers, maatskaplike werkers, die polisie en die private sektor moet almal inspring om skoolhoofde en oorlaaide onderwysers by te staan.

Onderwysers word uitgebuit

Ek was nog altyd van mening dat oorvol klasse een van die vernaamste oorsake van swak dissipline is.

Geen onderwyser kan suksesvol toesig hou en meer as 30 kinders doeltreffend onderrig nie.

Tog word die leerling-onderwyser-ratio selde toegepas. Onderwysers word skaamteloos uitgebuit en klasse met meer as 50 leerlinge het die reël geword.

Is dit nie tyd dat onderwysvakbonde dit in die hof toets nie?

’n Studie deur dr. Lynette Jacobs van die UWK toon dat byna 84% van alle onderwysers onder omstandighede werk wat hul professionele status ondermyn.

Die uitvoerende hoof van Naptosa, Basil Manuel, sê geweld in skole sal bly toeneem omdat die owerhede nie genoeg doen om onderwysers te beskerm nie.

En wat sê die wet?

Deesdae daag die oortreder en sy ouers met regsgeleerdes by tugverhore op.

My raad aan onderwysers is om ’n goeie prokureur, wat vertroud is met die Skolewet, te kry om jou te verteenwoordig.

In die Skolewet word die stappe vir ’n tugverhoor só uiteengesit:

  • Die leerling word dadelik vir sewe dae geskors (dit sluit ook skorsing uit sport en kultuur in);
  • Ná sewe dae moet ’n tugverhoor gehou word waar die leerling ’n redelike kans gegun moet word om sy of haar saak te stel. Dit mag verteenwoordiging insluit;
  • Indien die leerling skuldig bevind word aan ernstige wangedrag (soos die aanranding van ’n onderwyser), mag die beheerliggaam hom/haar vir sewe dae skors;
  • Afhangend van die graad van oortreding kan die beheerliggaam by die onderwyshoof aanbeveel dat die leerling uit die skool gesit word;
  • Die onderwyshoof het 14 dae om die versoek van die beheerraad te oorweeg;
  • Die beheerliggaam mag besluit dat die leerling geskors bly totdat die onderwyshoof sy besluit geneem het, maar nie langer as 14 dae nie;
  • Indien die onderwyshoof besluit om die leerling uit die skool te skors moet hy ’n “geskikte” skool vir die leerling vind.

Maar watter skoolhoof gaan sy onderwysers blootstel aan ’n chroniese oortreder en messteker? vra kritici hiervan tereg.

Skoolhoofde is egter onder geen verpligting nie. Die belangrikste is om te weet dat jy as onderwyser óók regte het.

Stof langverlof weer af

Hoe verseker ons dat onderwysers wat steeds die ekstra myl loop hul passie vir onderwys behou en nie uit pure moedeloosheid die beroep verlaat nie?

Dalk moet “langverlof” terugkeer. Pleks van die huidige (uitgediende) prestasiemeting kry onderwysers ’n rustydperk van ses maande om hul batterye te herlaai.

Dit bou nuwe perspektief en voorkom dat onderwysers hulle uitbrand.

Dit bou nuwe perspektief en voorkom dat onderwysers hulle uitbrand. Ek onthou hoe ek lank gelede ná my verlof met hernude energie teruggekeer het.

Dit is dalk ook tyd om die voorligtingonderwysers terug te bring. Onderwysers met sielkundige opleiding was voorheen van onskatbare waarde vir berading.

En wie ook al die sportonderwysers weggejaag het, moet voor die Zondo-kommissie verskyn. Hulle kon leerlinge op ’n positiewe manier betrek.

Deesdae sit ons met onfikse leerlinge wat hul oortollige energie na dwelms en geweld kanaliseer.

Ons is almal in dieselfde bootjie. In die proses om die sinkende onderwysskip te red speel onderwysers ’n sleutelrol. Hulle verdien dus ál die steun wat hulle benodig.

Prof. Le Cordeur is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is ’n voormalige onderwyser en skoolhoof.

Meer oor:  Leerders  |  Dissipline  |  Onderwys  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.