Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Jakes, dit moet eenvoudiger wees’

Die akademikus prof. Jakes Gerwel was van 1994 tot 1999 kabinetsekretaris en hoof van pres. Nelson Mandela se kantoor, waar hy ’n hegte verhouding met hom opgebou het. Jan-Jan Joubert het in 2002 met Gerwel gesels.

Pres. Nelson Mandela sit hier tussen Cyril Ramaphosa en Jacob Zuma. Foto: Argief

“Ná Madiba sal ek nie weer vir enigeen kan werk nie,” vertel Jakes Gerwel in sy huis in Belhar, Kaapstad.

“Ek weet nie of ons maar net ’n besonderse verhouding het nie, maar die ding is, hy het jou nooit laat voel asof hy baas is in ’n heersende sin nie. Dis veral vanweë sy bevestiging van ’n ander se waardigheid.’’

Gerwel het in die komitee gedien wat Mandela se inhuldiging as president in 1994 gereël het.

Kort voor 10 Mei se seremonie by die Uniegebou is Gerwel na die ANC-hoofkantoor, Shell House, in Johannesburg, ontbied.

“Madiba het gevra of ek kabinetsekretaris en direkteur-generaal in sy kantoor wou word, en ek kon natuurlik nie nee sê nie.

As jy nie geweet het nie, sou jy reken dis nie drie partye nie, maar een.

“Maar dit was uit die bloute, hoor. Dit was glad nie op my radarskerm nie. Ek was destyds heeltyds besig as rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland.’’

Dit was inderdaad ’n groot uitdaging. ’n Nuwe party was aan bewind, en ’n nuwe regering van nasionale eenheid moes sy beslag kry. Daar was groot belangstelling in hoe die kabinet sou lyk – en werk.

Drie partye was in 1994 deel van die regering – die ANC, die NP en die IVP. Hulle was nie net ideologies vyande nie, hul ondersteuners het ook fisiek met mekaar slaags geraak. Die partyleiers van die NP en IVP het in oorleg met Mandela hul kabinetslede aangewys.

Anders as wat ’n mens sou verwag, was daar volgens Gerwel egter nie groepvorming in die kabinet nie.

“As jy nie geweet het nie, sou jy reken dis nie drie partye nie, maar een. Kader Asmal en Dawie de Villiers sou maklik stry met Pik Botha en Mac Maharaj. Oor kwessies soos die doodstraf en aborsie het ’n mens geweet mense sou verskil, maar almal was in die algemeen verbind tot konsensus.’’

11 Mei 1999: Pres. Nelson Mandela en prof. Jakes Gerwel poseer saam vir die fotograaf nadat Gerwel die Orde van Goeie Hoop van Mandela ontvang het. Foto: AP

Mbeki en De Klerk

In die kabinet was Mandela nooit die voorsitter nie. Adj.pres. Thabo Mbeki was die sameroeper en het orde gehandhaaf. Mandela se gehoor was sleg, dit was nie sy styl om as formele voorsitter op te tree nie en hy was moreel eerder as tegnies ingestel.

“Mbeki het dus in die kabinet die tegniese werk gedoen, maar Mandela was die morele leier in ’n rol as vredemaker en iemand wat mense kan verenig,’’ onthou Gerwel.

“Dit was ’n kwessie van gee en neem. Al drie partye moes bereid wees tot opoffering en samewerking. Dit was baie bemoedigend hoe die drie partye saamgewerk het ná al die jare van ’n verdeelde Suid-Afrika.’’

Dit was nietemin ’n tyd van groot spanning tussen politieke partye en nêrens meer so as in KwaZulu-Natal nie, waar die IVP en die ANC in openlike konflik met mekaar was.

Volgens Gerwel was die IVP-leier, dr. Mangosuthu Buthelezi, egter nie ’n moeilike kabinetslid nie.

“Hy was ’n vriendelike en samewerkende kollega. Ons het trouens gepraat van die Woensdag-Buthelezi en die Saterdag-Buthelezi omdat hy Woensdae in die kabinet so gemaklik was en Saterdae op die IVP se openbare vergaderings so aggressief,’’ onthou Gerwel met ’n glimlag.

Hy sou nie baie praat op vergaderings nie – hy luister eerder, soos ’n tradisionele leier.

Daar was nietemin heelwat struikelblokke. “Apartheid is nie oorwin deurdat die mag gegryp is nie. Dit was ’n gedeeltelike oordrag van mag.’’

Mandela het sterk daaraan geglo om opposisieleiers ingelig te hou oor belangrike landsake.

“Hy het werklik uit sy pad gegaan om dit te doen en dit het baie gehelp om onderlinge vertroue te vestig,’’ onthou Gerwel.

“Binne die kabinet het die tradisie van die ANC ’n groot rol gespeel om dinge te laat vlot.

“Die ANC was altyd ’n broad church. In die kabinet was daar oor elke kwessie duisend standpunte. Niemand het ooit gesê ’n bespreking gaan te ver nie.

“ ’n Ander kenmerk van daardie kabinet was voortdurende hoflikheid, ook van FW de Klerk en Buthelezi. Ek kon deurgaans goeie verhoudings handhaaf. Ek kon veral maklik op persoonlike vlak met De Klerk praat.’’

Jan-Jan Joubert

‘Hy maak dinge eenvoudig’

Gerwel sal altyd Mandela se merkwaardige geheue onthou. Dit het vir hom van nature gekom om mense te onthou, wat ook die geneentheid van joernaliste versterk het. “Hy kon in die handel en wandel maklik met mense praat.”

Vir Gerwel het dit egter ook aanpassings geverg om met Mandela saam te werk.

“Groot mense het die vermoë om eenvoudig te dink en deur ’n ding te kom. Madiba was baie reguit. Ek het my hele lewe in universiteite deurgebring. Teoretisering kom vir my natuurlik.

“Ek is agterdogtig oor eenvoudige antwoorde, maar ek moes soveel keer aanhoor: ‘Jakes, it must be simpler than that’.”

Mandela het vereenvoudig, selfs wanneer hy nuanses lees. “Hy sou nie baie praat op vergaderings nie – hy luister eerder, soos ’n tradisionele leier. Dit was ’n geval van luister, vang op, gevolgtrekking.

“Madiba kon deursny tot die kern en dinge eenvoudig maak. Hy kon dus ’n beslissende besluit neem – binne vyf minute, as dit nodig was.’’

  • Jan-Jan Joubert het sy loopbaan as verslaggewer in 1997 begin en het van 2001 as politieke verslaggewer en politieke redakteur gewerk vir Beeld, Die Burger en Rapport. Joubert is tans ‘n vryskut-joernalis. politieke ontleder en skrywer.
Meer oor:  Nelson Mandela  |  Jan-Jan Joubert  |  Mandela100
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.