Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Jannie Geldenhuys: ‘Nag, my generaal’

Genl. Jannie Geldenhuys (83), ’n voormalige hoof van die eertydse Suid-Afrikaanse weermag (SAW), is aan alzheimersiekte dood. Sarel van der Walt dink terug aan sy dae as dienspligtige onder Geldenhuys se bevel in die eertydse Suidwes-Afrika.

Genl. Jannie Geldenhuys tydens ’n onderhoud in 2009.Foto: Leon Botha

Dit was byna 39 jaar gelede, in Desember 1979, op die kusdorp Swakopmund.

Ek het pas as ’n 19-jarige diensplig-korporaal van die Infanterieskool in Oudtshoorn in Suidwes aangekom.

In Windhoek het ek bevel gekry ek en ’n troep moet ons die volgende dag op Swakopmund by die generaal aansluit.

Op Swakopmund het ons in die kombuisie van die gebou waar die generaal se kantoor in Swakopmund was, gestaan en vis en skyfies eet toe genl.maj. Jannie Geldenhuys skielik ingestap kom. Toe ek hom sien, het gevoel of ek my in ’n ander bloedgroep (spreekwoordelik, natuurlik) inskrik. Op Oudtshoorn het ons nie met generaals skouer geskuur nie.

Nie “generaal Geldenhuys” nie. Net “Jannie Geldenhuys”.

Daar was ons bang vir die onderkorporaals . . . Daardie middag op Swakop was die eerste keer wat ek in ’n generaal se geselskap was. Geldenhuys het my gesien en nader geloop. Daar was ’n glimlag op sy gesig. Hy het sy hand uitgesteek.

“Ek ken jou nie? My naam is Jannie Geldenhuys. Welkom hier by ons.”

Nie “generaal Geldenhuys” nie. Net “Jannie Geldenhuys”.

Ek kan nog goed onthou ek het na sy rangkentekens met die swaardjies en die kasteel op sy skouers gestaar.

Dit was van lap, verbleik en het soos ons destyds in die army gesê het al “houding” gehad.

Onderhandelinge oor Suidwes

Geldenhuys was toe die bevelvoerende generaal van die Kommandement Suidwes-Afrika wat enkele maande later die SWA Gebiedsmag sou word.

Sy kantoor en dié van die administrateur-generaal van Suidwes-Afrika (toe nog dr. Gerrit Viljoen) het Desembermaande Swakopmund toe verskuif omdat so baie Suidwesters hier vakansie gehou het.

My opdrag was om Geldenhuys te bewaak wanneer hy in die openbaar verskyn het. Wanneer hy op kantoor was, moes ek en die troep om die beurt tussen sy en Viljoen se kantore sit. Ons moes seker maak geen “ongewenste elemente” gaan daar in nie. Dit was midde in die Bosoorlog.

In daardie tyd was die Verenigde Nasies (VN) se resolusie 435 oor Suidwes-Afrika net anderhalf jaar oud. Geldenhuys was uiteraard as kommandementsbevelvoerder in Suidwes ten nouste betrokke by die onderhandelinge.

Op ’n keer het die VN vir lt. genl. Dewan Prem Chand van Indië Windhoek toe gestuur.

Geldenhuys se opdrag was ek moes help toesien dat Chand veilig is.

“Wees beleefd met hom, maar moet nie te veel gesels nie, want ek sien jy praat maklik,” onthou ek nog Geldenhuys se woorde.

Soldaat en diplomaat. Genl. Jannie Geldenhuys (links), toe nog ’n generaal-majoor in 1980, saam met lt.genl. Dewan Prem Chand van die Verenigde Nasies tydens onderhandelinge oor die onafhanklikheid van die eertydse Suidwes-Afrika, nou Namibië.Foto: Bushwar, deur Stefan Sonderling

Die generaal wat omgee

Met daardie vergadering met die VN-afvaardiging het Geldenhuys, soos sy gebruik was, in ’n stadium uit die vergadersaal gestap om te hoor of ons wat buite wag gestaan het “darem al iets gehad het om te eet of te drink”.

’n Ander keer was Martti Attisaari as VN-kommissaris vir Namibië in Windhoek. Hy het een aand by die Geldenhuyse se huis in Klein Windhoek gaan eet.

Ek het buite by die hek in ’n motor gewag. Die militêre polisie en die polisie was ook daar.

So 21:00 die aand het Geldenhuys uit die huis gekom en na my weermagmotor geloop.

“Kom binne, kom kry iets om te eet,” het hy gesê.

Binne in die huis wou ek my vergaap aan al die vreemde diplomate wat daar was. Dalk is die saadjie daardie aand geplant vir my belangstelling in die internasionale politiek.

Max du Preez was daardie jare Beeld en sy susterskoerante se verteenwoordiger in Windhoek.

Ek het hom baie keer by mediakonferensies by Bastion, die weermaghoofkwartier in Windhoek, gesien.

Ek het nou nog ’n uitknipsel van ‘n berig wat hy oor Geldenhuys vir Beeld geskryf het toe dié as hoof van die leër aangestel is. Die opskrif was: “Geldenhuys is soldaat én diplomaat.”

Jannie Geldenhuys was by uitstek 'n storiemens. Foto: Leon Botha

Die ‘rofie-generaal’

Op ’n keer kom een van die troepe wat die einste Bastion bewaak het na my en sê: “Huh, corporal, I hear they say Swapo wants to take over this place? Is it true, huh?”

Ek was stomgeslaan dat hy na byna ’n jaar in die army uiteindelik agtergekom het wat hy hier doen.

“When you see the general again, ask him,” was my dom antwoord.

“Generaal lyk nou soos ’n rofie-generaal,” het een van die troepe vir Geldenhuys gesê.

Twee dae later stap ek by die troepe se wagkamer in. Daar sit Geldenhuys toe met ’n firebucket (army-taal vir ’n koffiebeker) in die hand en hy verduidelik aan die troep waaroor die stryd in Suidwes gaan.

Kort hierna het Geldenhuys hoof van die leër en luitenant-generaal geword en is Pretoria toe verplaas. ’n Paar weke later was hy terug in Windhoek op sy eerste amptelike besoek.

Sy nuwe rangkenteken was van plastiek. “Generaal lyk nou soos ’n rofie-generaal,” het een van die troepe vir Geldenhuys gesê.

Die generaal het gebloos en verleë geglimlag.

Gesprekke oor ’n bier

In 2009 het Geldenhuys ’n boek (Ons was daar) geskryf en ek is na sy huis in Pretoria om vir Beeld ’n onderhoud met hom te doen.

“Ons ken mekaar mos?” het hy gesê toe hy my en die fotograaf, Leon Botha, ingenooi het.

“Ja, generaal, van Windhoek af.”

Dis Jannie Geldenhuys hier. Het jy tyd vir ’n bier?

’n Paar dae later lui die foon op kantoor. Die redaksiesekretaresse sê: “Hier is ’n Jannie wat met jou wil praat.”

Sy sit die oproep deur: “Dis Jannie Geldenhuys hier. Het jy tyd vir ’n bier?”

Dit was die eerste van vele kuiersessies. Omtrent elke keer het dit uitgeloop op ’n bespreking van die veelbeproke Slag van Cuito Cuanovale in Angola in 1987.

Dié veldslag het Geldenhuys, wat ten tyde daarvan hoof van die SAW was, na aan die hart gelê. Geldenhuys het met die gesprekke elke keer sy troepe met passie verdedig en volgehou hulle het het as oorwinnaars uit die stryd getree.

Hy was ’n storiemens

Jannie Geldenhuys was ook by uitstek ’n storiemens.

Hy het interessante staaltjies vertel oor die onderhandelinge met die Angolese en die Kubane wat gelei het tot die onttrekking van die Suid-Afrikaanse en Kubaanse magte aan Angola.

Op ’n keer was ons Ventersdorp toe vir ’n storie oor die legendariese spoorsnyer en wildbewaarder Peter Stark wat die Duitse baron dr. Klaus von der Ropp in 1975 uit die kloue van die Namibwoestyn gered het toe die baron verdwaal het. Von der Ropp was ook teenwoordig. Geldenhuys het Stark, ’n eertydse veldwagter, destyds as spoorsnyer in die weermag aangestel.

’n Ander keer het Geldenhuys voorgestel ons gaan praat met die oudstoeier Manie Maritz, seun van die legendariese Boere-generaal met dieselfde naam. Geldenhuys wou hê ons moes met Maritz op sy plaas naby Brits gaan praat oor die beweerde rugbywedstryd wat Maritz se pa glo tydens die Boereoorlog tussen die Boere en die Engelse gereël het.

Ons het net twee minute daaroor gepraat, want daar was planne vir so ’n wedstryd, maar dit is nooit gespeel nie. Die res van die ontmoeting met die oudstoeier en ’n groep van sy vriende was soos Geldenhuys gesê het niks anders nie as ’n “regse hinderlaag”.

Op pad terug Pretoria toe het Geldenhuys om verskoning gevra. Ek het hom geterg: “Generaal, die regses soek ’n nuwe leier. Hulle soek ’n generaal om hulle te lei.”

Hy het na my gestaar en gesê: “Se gat, man – verkeerde adres!”

Geldenhuys het ’n glimlag op sy gesig gekry, my aan die arm gevat en gesê: “Nóú weet ek wie is jy!”

’n Paar jaar gelede het ek Geldenhuys die laaste keer gesien. Dit was by ’n boekbekenstelling van oudkollega dr. Leopold Scholtz (vir wie Geldenhuys groot respek gehad het as militêre historikus), genl.maj. Roland de Vries (“die Rommel van die SAW”) en dr. Louis Bothma se boeke.

Geldenhuys, wat toe al tekens van alzheimersiekte getoon het, het my gegroet, maar duidelik nie herken nie. Ons het saam met ’n groepie mense gestaan en gesels toe iemand ’n grap vertel. Ek het gelag.

Geldenhuys het ’n glimlag op sy gesig gekry, my aan die arm gevat en gesê: “Nóú weet ek wie is jy!”

Dit was baie spesiaal.

Dit was die generaal wat my vroeër aan ander mense voorgestel het “as ’n ou pel van Windhoek”. Ou pelle? Hy, die generaal, en ek, die korporaal!

Jannie Geldenhuys, of Baas Jan soos ons destyds in die army na hom verwys het, was nie net ’n generaal nie. Hy was ’n mensch wat altyd my generaal sal wees.

Nag, generaal.

* Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.