Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Jerusalema’: Hoop vir ’n beter lewe

Die gewildheid van die liedjie ‘Jerusalema’ het Michael le Cordeur laat dink aan die hunkering na ’n beter lewe en die hoop wat vir baie vervaag het.

Kyk ons kan dit ook doen. Die Springbok-sewesspan doen die ‘Jerusalema’-dans. Foto: Gallo Images

Van skoolterreine in die Wes-kaap tot kantoorgeboue in Limpopo, van die informele nedersettings van Durban tot die strate van Kimberley, van die klaskamers van Angola tot die strande van Miami en die sokkervelde van Portugal: “Jerusalema”-koors het die wêreld soos ’n virus getref.

Teen verlede week is die liedjie reeds meer as 120 miljoen keer van YouTube afgelaai of geluister. Die mega-sokkerster Cristiano Ronaldo, met meer as 230 miljoen volgelinge wêreldwyd, het die liedjie en dans onlangs op sy webblad gedeel tydens ’n familiesaamtrek. Meer as 44 miljoen van Ronaldo se volgelinge het reeds die liedjie óf geluister óf afgelaai op hul fone.

Internasionale roem

Die gospel-geïnspireerde liedjie is reeds in November 2019 bekend gestel. Nadat dit positief ontvang is op aanlyn platforms, het ’n musiekvideo op 21 Desember gevolg.

Danksy die Nigeries gebore Burna Boy se hermengde weergawe in Junie het die liedjie die sprong na die VSA se treffersparade gemaak.

Die dans wat in “Jerusalema” uitgebeeld word, is ’n gewilde dansstyl van die Zezuru Shona-bevolking van Zimbabwe.

In Julie was jong Angolese die eerste wat “Jerusalema” gedans het, waarna dit soos ’n veldbrand oor die internet versprei het.

'Jerusalema' het oornag internasionale roem verwerf danksy die #Jerusalema-uitdaging.

Die res is geskiedenis.

Dit het die wêreld se verbeelding aangegryp. “Jerusalema” het oornag internasionale roem verwerf danksy die #Jerusalema-uitdaging: Individue, groepe, werkers, skole en selfs politici het mekaar uitgedaag om “Jerusalema” te dans en dit op sosiale netwerke te versprei.

Die bekendste voorbeeld hier was toe die joviale minister van finansies, Tito Mboweni, die dans saam met sy twee seuns uitgevoer en op sosiale netwerke gelaai het. Die liedjie was twee weke lank bo-aan Brittanje se trefferlys asook tien ander lande waaronder Suid-Afrika, Frankryk, Switserland, Roemenië, Portugal en Italië. Dit is reeds nege weke op die Amerikaanse treffersparade waar dit tans die sesde posisie beklee.

Misken in hul eie land

Hulle het die wêreld aan die dans: Master KG (Kgaogelo Moagi) en Nomcebo Zikode. Foto: Twitter

So wie is die kunstenaars agter die suksesvolste liedjie tot nog toe uit Suid-Afrika?

“Jerusalema” is geskryf deur die Suid-Afrikaanse platejoggie (DJ) Master KG (Kgaogelo Moagi van Limpopo).

Die stem is dié van Nomcebo Zikode, oorspronklik van Hammarsdale in KwaZulu-Natal, waar sy die eerste keer aandag getrek het toe sy in 2003 as negejarige ’n talentkompetisie van Ukhozi FM gewen het.

Tans woon en werk dié 26-jarige sangeres in Johannesburg.

Maar ’n profeet word selde in sy eie land geëer: dis hartseer dat die liedjie wat wêreldwyd as vertoonvenster van die positiewe in ons land erken word, deur die South African Music Awards (Samas) geïgnoreer is.

En jy vra jou af: Hoe is dit moontlik dat twee jong kunstenaars wat die verbeelding van die wêreld aangegryp het, en deur die minister van kuns en kultuur as musiek-ambassadeurs aangestel is, in hul eie land misken is?

Stad van vrede

Jerusalem is die heilige stad van die Jode, Christene en Moslems. Foto: Galo Images

Jerusalem is die heilige stad van die Jode, Christene en Moslems en die hoofstad van die antieke koninkryk van Judea en die moderne staat van Israel.

Die naam beteken letterlik “stad van vrede” en word ook dikwels “Sion” genoem na aanleiding van die berg Sion waarop die stad gebou is.

Dit is al in verskeie liedere besing waaronder die gesang “Jerusalem”, nie-amptelike Engelse volkslied deur C.H. Parry en William Blake.

Hier waar ek op my stoep sit, weerklink die liedjie oor die woonbuurt: iemand speel dit op maksimum volume. Die polsende ritme smokkel met jou voete.

Maar dis die lirieke wat my boei. Die Engelse woorde is aanlyn beskikbaar en die Afrikaanse vertaling is myne.

Soos Totius van ouds beklemtoon die liedjieskrywer “die wêreld is ons woning nie”. Alhoewel slawerny reeds twee eeue gelede afgeskaf is, leef mense wêreldwyd steeds as gevangenes; vasgevang in sinnelose oorloë, natuurrampe, hongersnood en siektes.

Die lirieke van “Jerusalema” is ’n aanduiding van die versugting na ’n beter lewe, ’n nuwe toekoms. In ’n tyd waarin Suid-Afrikaners se moraal op ’n laagtepunt was weens die pyn wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, het hierdie eg Suid-Afrikaanse produksie die temalied geword deur miljoene Suid-Afrikaners op te beur.

Hoop op ’n beter lewe

Nog ’n liedjie wat baie mense se hunkering aanroer, is “Rivers of Babylon” deur die groep Boney M wat in 1978 platinumstatus bereik het.

Dit is ’n Rastafari-lied geskryf deur Trevor McNaughton en Brent Dowe van die Jamaikaanse reggaegroep The Melodians.

Die lirieke is ’n aangepaste weergawe van Psalm 137. Ek haal slegs ’n paar verse aan met die Engelse liedjie naasaan:

Dié liedjie verwys na die inwoners van Jamaika wat vier eeue gelede as slawe uit Afrika weggevoer is. In Jamaika sou hulle in ballingskap lewe tot die afskaffing van slawerny in 1834 waarna hulle hul vryheid gekry het.

Die skrywers gebruik die metafoor van die volk van Israel wat in ballingskap geleef en dikwels langs die riviere van Babel gesit en ween het terwyl hulle na Sion, hul Stad van Vrede, verlang het.

Wanneer hul onderdrukkers hulle aangespoor het om ’n Sionslied te sing, sou hulle antwoord: “Hoe kan ons die lied van die Here in ’n vreemde land sing?”

Die idee van vryheidsliedere is dus so oud soos die Bybel.

Die hoop het vir baie vervaag

Inwoners van die Jerusalema- informele nedersetting aan die Oos-Rand by ’n onlangse diensleweringsbetoging. Foto: Gallo Images

Wanneer ek uitkyk oor die tuin, sien ek ’n vinkpaartjie wat by die aanvang van die lente besig is om nes te bou. Die vooruitsig om twee kindervoëltjies groot te maak, vul die vinke met blydskap.

En tog wek hul vrolike gesang by my ’n gevoel van déjà vu. As ek met my kinders en studente praat, kom ek tot die skokbesef dat die jeug toenemend nie meer Suid-Afrika sien as die plek waar hulle hul kinders wil grootmaak nie. Jy hoef net te kyk na die toenemende getal jongmense wat na lande oorsee uitwyk. Van hulle erken ruiterlik hul heil is nie hier nie.

Vandaar die versugting: “Neem my saam. Moet my nie hier los nie. Red my.”

Michael le Cordeur

Miljoene Suid-Afrikaners het met die koms van demokrasie in 1994 hul hoop op ’n beter lewe gevestig. Maar die nimmereindigende geweld teen vroue, kinders en plaasboere, die voortdurende styging in werkloosheid en die gepaardgaande armoede, en die grootskaalse korrupsie tydens die pandemie, hou Suid-Afrikaners steeds gevange. Vir baie Suid-Afrikaners het die hoop op ’n beter lewe vervaag.

Landsburgers hunker na ’n Jerusalem, ’n plek waar hulle in veiligheid kan leef en hul kinders en kleinkinders kan grootmaak.

Die regering het die verantwoordelikheid om gepas op dié noodkreet te reageer ten einde die vryheid wat deur die Grondwet gewaarborg word, aan sy burgers te bied.

Tans boesem die kabinet nie veel vertroue in nie, die president se eerlike pogings ten spyt.

Daarom is dit elke Suid-Afrikaner wat lief is vir sy land, en ons erfenis koester, se plig om die regering tot verantwoording te roep.

Ná alles is Suid-Afrika steeds ons tuiste, en hier wil ons bly.

* Prof. Le Cordeur is verbonde aan die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.