Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Joe wys wát VSA wil hê, en hy kry dit ook

Wat het pres. Joe Biden se pas afgelope besoek aan Europa opgelewer, vra Leopold Scholtz.

Poetin en Biden. Foto: Getty Images

As daar één begrip is wat in groot letters oor pres. Joe Biden se pas afgelope besoek aan Europa geskryf staan, is dit “strategiese stabiliteit”.

Dít was die oorkoepelende oogmerk – om die steeds groeiende onstabiliteit wat die laaste dekade of so gekenmerk het, minstens tot stilstand te bring en met meer voorspelbaarheid te vervang.

Biden het begin met ’n spitsberaad van die wêreld se sewe grootste demokratiese ekonomieë (bekend as die G7), in Cornwall, Brittanje. Daarna het hy ’n beraad van Navo in Brussel bygewoon, met die leiding van die Europese Unie (EU) in dieselfde stad beraadslaag, en ten slotte vir ’n uiters belangrike ontmoeting met pres. Wladimir Poetin na Genève gevlieg.

Dat Europa, die tuiste van die liberale demokrasie en Amerikaanse bondgenote, die bestemming van Biden se heel eerste buitelandse besoek was, sê nogal iets. Dit sê dat hy sy land se bondgenote – op politieke, ideologiese, ekonomiese en militêre vlak – hoog ag; dit sê dat hy ’n buiging in die rigting van die internasionale liberale demokrasie maak. Sy voorganger, oudpres. Donald Trump, se eerste besoek was aan die totalitêre diktatuur Saoedi-Arabië. Wat ook iets gesê het.

Maar gepaard met die keuse vir Europa, het Biden se taktiek met die besoek ook iets oor hóm en sy raadgewers verraai.

Gelukkig vir albei het Poetin sy eweknie nie in eie munt terugbetaal nie.

Dit getuig van slim taktiek.

Die besoek sou afgesluit word met die moeilikste ontmoeting, ’n paar uur in die geselskap van een van die mees gewetenlose, maar terselfdertyd slinkse politici ter wêreld – Wladimir Poetin. Poetin staan nie net bekend as iemand wat soos ’n stoomroller oor swakker teenstanders heen rol nie; hy is ook ’n taktikus par excellence.

Dus het Biden gesorg dat hy éérs met die G7, Navo en die EU praat en hulle agter hom kry.

Met dié steun was die boodskap wat hy daarna aan Poetin oorgedra het, uit magspolitieke oogpunt aansienlik geloofwaardiger as andersins.

In sy soeke na strategiese stabiliteit het Biden ingesien dat ’n konfrontasie met Poetin ter wille van konfrontasie hom slegs nadele sou oplewer. Afgesien van wat jy van hom dink, Poetin is immers leier van een van die belangrikste moondhede op die aardbol.

Dit beteken dat jy Poetin nie kan ignoreer nie. Jy kan hom wel duidelik inlig oor wat vir jou en jou bondgenote belangrik is, en waar die grense lê wat hy liefs nie moet oorskry nie.

Met ander woorde – het Biden ongetwyfeld vir Poetin gewaarsku – hou jou hande van jou buurstate af, moenie dat die menseregteaktivis Aleksei Nawalni in die tronk doodgaan nie, en moet nóóit weer, al is dit onregstreeks, by die Amerikaanse verkiesings inmeng nie.

Vier jaar gelede, in 2018, was dit anders toe Donald Trump met Poetin gepraat het. Toe het Trump te kenne gegee hy glo Poetin se ontkenning dat dié by die verkiesing van 2016 ingemeng het, bo sy eie veiligheidsdienste se gevolgtrekking dat dit wél die geval was.

Voor die Genève-ontmoeting het die gevaarligte weliswaar geflikker. Dit was toe ’n verslaggewer in ’n onderhoud aan Biden gevra het: “Dink u Poetin is ’n moordenaar (killer)?”

Inderdaad het Navo op sy spitsberaad dié week vir China as die grootste bedreiging, groter as Rusland, beskryf.

Biden, wat soms kan praat voordat hy dink, se antwoord was: “Ja.” Dit was onverstandig, want daarmee het hy ’n poten­siële bom onder die beraad met Poetin geplaas.

Gelukkig vir albei het Poetin sy Amerikaanse eweknie nie in eie munt terugbetaal nie. Uit die aparte mediakonferensies wat die twee ná hul gesprek gehou het, was dit duidelik dat albei ingesien het ’n breekspul sou in niemand se belang wees nie.

Biden het aan die media gesê hy en Poetin het hul verskille geïdentifiseer, maar geen stemme is verhef nie. Rusland streef geen nuwe “Koue Oorlog” na nie. Op sy beurt het Poetin gesê Biden is “ ’n ervare staatsman” en “ons twee praat dieselfde taal”.

Overgeset synde: Die verskille bly, maar geen van die twee wil dat dit saaklike betrekkinge beduiwel nie. Daarom ook is ooreengekom dat die ambassadeurs wat vroeër uit protes wedersyds teruggeroep is, weer hul poste inneem, en dat ’n dialoog oor die beperking van kernwapens hervat word.

Poetin het ook rede om tevrede te voel. Sy groot oogmerk was, soos altyd, dat Rusland as groot en invloedryke moondheid gerespekteer word. Die feit dat Biden hoegenaamd met hom gepraat het, het daardie status bevestig.

Maar die betrekkinge tussen Amerika en Moskou is nie die hoofelement van die wêreldpolitiek nie. Daardie posisie word beklee deur die toenemende wedywering tussen China en Amerika (saam met Navo, Europa en ander Amerikaanse bondgenote in Oos-Asië).

Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van Navo, se woorde aan Der Spiegel wys waar sake staan: Die opkoms van China “is die grootste veiligheidsuitdaging van ons tyd”.

“China deel nie ons waardes nie. Die regering beheer sy eie bevolking op ’n manier wat die wêreld nog nie gesien het nie. Tegelykertyd ruk China op nader aan ons en probeer om in Europa kritieke infrastruktuur soos hawens, vliegvelde en elektrisiteitsvoorsiening te beheer.”

En in Welt am Sonntag haal Matthias Nass ’n naamlose kenner aan wat hy as “een van die slimste koppe oor buitelandse beleid” bestempel: “Die sentrale posisie van die Chinese uitdaging vir Amerika beteken dat die Transatlantiese verhouding steeds meer ’n funksie van die Duitse en Europese rol in die China-strategie van die Amerikaanse regering word.”

Inderdaad het Navo op sy spitsberaad dié week vir China as die grootste bedreiging, groter as Rusland, beskryf. Luidens die slotverklaring “bied China se uitgesproke ambisies en aggressiewe gedrag sistemiese uitdagings vir die op reëls-gefundeerde internasionale orde en vir gebiede wat relevant is vir ons bondgenootskap se veiligheid”. Daar is ook verwys na China “se gereelde gebrek aan deursigtigheid en gebruik van waninligting”.

Stoltenberg het sake effens probeer versag deur te sê: “Ons gaan geen nuwe Koue Oorlog binne nie en China is nie ons teenstander of vyand nie.”

Daarmee was China uiteraard nie tevrede nie. In ’n verklaring het die Chinese ambassade by die EU gesê sy beleid is “verdedigend”: “Ons najaag van verdedigings- en militêre modernisering is geregverdig, redelik, oop en deursigtig.”

Die kritiese slotverklarings van sowel die G7 as Navo oor China versluier egter ’n belangrike saak. Dit is dat die Westerse bondgenote nie almal ewe sterk oor China voel nie.

Biden en sy regering is ewe krities oor China as Trump-hulle, al kies hulle hul woorde versigtiger. Hulle beskou China as die belangrikste uitdaging vir die afsienbare toekoms, en dit geld ideologies, ekonomies, polities en militêr. Veral Europa is in die lig van sy noue ekonomiese bande met China versigtiger. ’n Te kritiese houding kan winsgewende handel en beleggings beduiwel, iets waarvan Amerika minder afhanklik is.

Nietemin: Biden se eerste buitelandse besoek het die rigting aangedui waarin hy internasionaal wil beweeg.

Hy het strategiese stabiliteit nagestreef, en strategiese stabiliteit is wat hy in groot mate gekry het.

* Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

Meer oor:  Joe Biden  |  Wladimir Poetin  |  Rusland  |  Vsa  |  Navo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.