Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Joernaliste kan presedent oor vlag betreur

Deugsaamheidsvertoon word beskryf as die optrede of praktyk om in die openbaar menings of sentimente uit te spreek waarmee ’n persoon se goeie karakter of die morele korrektheid van sy ingesteldheid oor ’n spesifieke saak weergegee word.

Dit is ’n baie irriterende ding. Dit lyk asof elke joernalis en sy agterryer hulself probeer oortref om te verduidelik wat ’n verligte uitspraak die verbod op die ou landsvlag is en hoe dié verbod maatskaplike samehorigheid sal meebring.

Ek betwyfel dit.

Eerstens word spraakvryheid van alle kante af bedreig en ’n uitspraak wat die staat toelaat om iemand op te sluit omdat hy ’n simbool vertoon, beloof niks goeds vir die toekoms nie. Joernaliste kla terselfdertyd oor intimidasie van politici wat hulle probeer verhoed om dinge te sê waarvan die politici nie hou nie.

Eers wanneer dit te laat is sal joernaliste die presedent wat oor die vlag geskep is betreur en besef dat dit altyd beter is om idees wat jy kwetsend vind eerder te duld as om die staat toe te laat om dinge te verbied.

In die tweede plek twyfel ek of ’n verbod op die vertoon van die vlag maatskaplike samehorigheid in die hand sal werk omdat daar in die eerste plek feitlik niemand was wat die vlag in die openbaar vertoon het nie. Ek het dit jare lank nie gesien nie.

Ek is seker dat as ’n meningspeiling hieroor gedoen sou word baie min Suid-Afrikaners die vlag as ’n kwessie in hul lewe sou beskou.

Sommige aktiviste wil hê die ontkenning van apartheid moet ’n misdaad wees. Maar hulle wil ook die vertoon van apartheidsimbole tot misdaad verklaar.

Derdens dink ek nie dat mense werklik veel sou omgee selfs indien een of twee regsgesindes vandag die vlag sou rondswaai nie; hulle sou hulle eerder jammer kry.

Ek het in elk geval ’n voëltjie hoor fluit dat die seldsame vertonings van die vlag by openbare betogings die werk van die Staatsveiligheidsagentskap is.

Vierdens was dié vlag die apartheidsvlag, maar dit was ook die vlag waaronder Suid-Afrikaanse weermaglede, swart en wit, oorlog toe gegaan het teen Nazi-Duitsland om die bedreiging van fascisme af te weer. Toe Job Maseko ’n Duitse voorradeskip in die hawe van Tobruk opgeblaas het – waarvoor ’n Victoria Cross hom ontsê is omdat hy swart was – het hy dit as vegter onder hierdie vlag gedoen.

In die vyfde plek wou oudpres. Nelson Mandela, wie se stigting ’n hoofrol gespeel het om die vlag verbied te kry, nooit self hê dat die vlag verbied moes word nie. Hy het eerder die bekendstelling van ’n nuwe vlag ondersteun waaromheen Suid-Afrikaners van alle rasse kon saamtrek. Beskik sy stigting dalk nou oor wysheid wat hy nie gehad het nie?

In die sesde plek bring die vlagverbod allerlei teenstrydighede na vore. Indien dit reg is om die vlae van lande of stelsels wat hul mense onderdruk te verbied, moet ons howe tog sekerlik ook die kommunistiese vlag verbied – waaronder ’n geskatte honderd miljoen mense vermoor is. Maar dit bly ’n vlag waaraan huidige lede van die kabinet hulde verskuldig is.

Ons sou verder kon gaan en ’n verbod plaas op die vlae van Iran, Saoedi-Arabië, Jemen, Pakistan en Noord-Korea – en spoedig sal daar niks meer oor wees nie.

Uiteindelik sal ons die terrein van die absurde betree.

Sommige aktiviste wil hê die ontkenning van apartheid moet ’n misdaad wees. Maar hulle wil ook die vertoon van apartheidsimbole tot misdaad verklaar.

Wanneer alle simbole en uitbeeldings van apartheid uit die openbare oog verwyder is, sal ons ’n punt bereik waar min mense sal weet wie en wat ons land tussen 1948 en 1994 in so ’n gemors gedompel het.

  • Frans Cronje is hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge.


Meer oor:  Frans Cronje  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.