Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Johann Kirsten en Nick Vink: Die groot geveg oor grond

Om aan grondpryse te torring, gaan die waarde van grond vir almal verwoes, sowel die rykes as die armes, skryf Johann Kirsten en Nick Vink.

Prof. Johann Kirsten, landbou-ekonoom aan die Universiteit van Pretoria.
Prof. Nick Vink

Die ANC en die EFF se aandrang dat grond sonder vergoeding onteien moet word, is ’n debat met meer vrae as antwoorde.

’n Mens kan onmiddellik aan ’n hele klomp dink: Hoekom onteiening? Is dit omdat die grond gesteel is? As grondhervorming te stadig is, wie se skuld is dit? Is die feite oor die stadige vordering korrek?

Met dié vrae in gedagte kan ’n mens aan ’n hele paar redes dink waarom die onteiening van grond sonder vergoeding ’n slegte idee is.

Eerstens is dit belangrik om te erken dat grondhervorming sedert 1994 – deur sowel die staat as die werkinge van die ope mark – baie suksesvoller was as wat baie mense besef.

Terselfdertyd is dit waar dat sowat 5 000 plase wat reeds vir grondhervorming gekoop is nog nie aan begunstigdes toegeken is nie, terwyl duisende hektaar grond wat reeds herverdeel is nou onproduktief is weens swak regeringsondersteuning en bestuur.

Hierin lê dus reeds praktiese bewyse dat verdere onteiening sonder vergoeding min gaan doen om armoede te verlig en werk te skep.

Daar is egter ook talle ekonomiese argumente waarom dit ’n slegte idee is:

  • Die omset in landbougrond in Suid-Afrika word geraam op tussen 5% en 7% per jaar. As oordragte tussen families (wat sowat die helfte hiervan uitmaak) buite rekening gelaat word, beteken dit dat tussen 57,5% en 80% van alle landbougrond in die land sedert 1994 van eienaar verwissel het – sonder enige hulp van die staat.

Die vraag is dus: Waarom moet hulle hul plase verloor, terwyl (wit) mense wat nie in landbougrond belê het nie, nie ’n deel van hul bates hoef af te staan nie?

  • Selfs die mees radikale deelnemers aan die debat erken dat grondeienaars vergoed moet word vir hul verbeterings en verdere beleggings op die grond. Dit is net die grond self wat sonder vergoeding afgeneem word.
Die eienaar (al is dit ook wie) sal nie daarteen kan leen nie.

’n Boer se kapitaal is basies op drie maniere belê: in die grond self; beleggings in vaste verbeterings soos geboue, damme, kontoerwalle, heinings, paaie, wynkelders en besproeiingstelsels; en bedryfskapitaal in die vorm van masjinerie en die oes op die land. Dit is net laasgenoemde wat hy maklik met hom kan saamneem.

Die “rou” grond is ’n baie klein deel van ’n boer se belegging: slegs sowat 10% in die geval van ’n vrugteplaas en op die meeste 60% in die geval van ’n groot veeplaas.

Die ontwrigting aan landbou (deur onteiening) kom dus teen ’n reuse-prys aan die fiskus in vergelyking met die wins wat herverdeelde grond betref.

  • Landbou dra slegs 2,5% by tot die bruto binnelandse produk (BBP), maar wanneer die inset- en uitsetindustrieë (soos kunsmis, saadvoorsiening, plant- en dieregesondheidsdienste, voedselverwerking, vervoer en handel) ingesluit word, styg landbou se bydrae tot 7% van die BBP.

’n Reuse-program van onteiening sonder vergoeding sal lei tot ’n lang periode waar daar geen nuwe investering in landbou is nie en dus sonder enige groei in die sektor, omdat dié boere wat (nog) nie onteien is nie waarskynlik nie nuwe beleggings in hul boerdery sal maak nie.

Nuwe eienaars sal ook nie die middele hê om te investeer nie. Die ekonomie sal dus moet groei en werk skep sonder die bydrae van dié sektor.

  • Omdat arm mense ’n groter deel van hul inkomste aan kos bestee as die rykes sal ’n stagnante of krimpende landbousektor die armes harder tref weens die styging in voedselpryse – die gevolg van ’n gebrek aan investering.

Natuurlik is dit moontlik om kos in te voer, maar daar is perke. Internasionale handel in bederfbare goedere is nie moontlik nie, en Suid-Afrika sal waardevolle buitelandse valuta moet gebruik om kos in te voer wat voorheen plaaslik verbou is.

  • Suid-Afrikaanse boere verdien elke jaar tusen R5 miljard en R20 miljard netto aan buitelandse valuta (dit is nadat die invoerkoste van voedselsoorte soos rys, wat nie plaaslik verbou kan word nie, afgetrek is). Hierdie is buitelandse valuta wat op sy beurt gebruik word om ander belangrike produkte, soos masjinerie en verbruiksartikels, in te voer.
  • Die landbou- en verwante industrieë is meer arbeidsintensief as die meeste ander in die land. Gemiddeld neem die primêre landboubedryf 4,5 werkers in diens vir elke R1 miljoen se kapitaal wat geïnvesteer word – vergeleke met 2,94 vir die ekonomie in geheel. Voedselverwerking is die mees arbeidsintensiewe komponent van die Suid-Afrikaanse vervaardigingsbedryf. Daar kan aangevoer word dat radikale grondhervorming kan lei tot groter indiensneming in die toekoms, maar groei in indiensneming kan net plaasvind danksy ’n groei in investering.
  • Een van die grootste risiko’s is die effek wat dit op die algemene pryse in die ekonomie sal hê. Die prys van alles wat ons koop, is die gevolg van ontelbare onbekende faktore tussen ekonomiese rolspelers. Daar is dus gedurige bewegende prysveranderinge.
  • Grond is slegs een vorm van eiendom waarin handel gedryf word, en dit is nie prakties om dit te differensieer van ander vorme van eiendom nie. Eiendomsregte is inherent aan die investering van kapitaal oor die hele ekonomie. As een vorm van eiendomsreg bedreig word, skep jy die verwagting dat ander vorme van eiendomsreg in die toekoms onder bedreiging kan wees.

    ’n Moderne ekonomie berus op die kredietstrukture van die verskillende rolspelers en hul risikoprofiele. Winste word gelewer na gelang van die risiko betrokke.

    Die gevolge van die onteiening van grond sonder vergoeding kan dus oorspoel na die hele ekonomie en is nie net beperk tot landbou nie.

    As die prys van een kommoditeit (grond) verander as gevolg van regeringsoptrede moet ander pryse ook aanpas om ’n nuwe balans te vind.

    Ander bates wat nou aan grond verband hou (soos huispryse) sal dramaties daal, terwyl die pryse van dié bates wat nie deur grondpryse geraak word nie, sal moet styg.

    Buitelandse bates sal styg in waarde omdat daar groter aanvraag daarvoor is, wat weer ’n invloed op die waarde van die rand sal hê. Die waarde van binnelandse bateklasse wat blootstelling aan die grondsektor het – soos banke – sal vernietig word, wat beteken dat minder krediet beskikbaar sal wees. Gegewe die skaal van die intervensie behoort die gevolge rampspoedig te wees.

    • Die onderliggende waarde van grond ondersteun die hele landbou- en voedselbedryf, asook die finansiële sektor. As die risiko om grond as bate te hê styg, sal al hoe meer grondeienaars – veral van marginale landbougrond – daarvan ontslae probeer raak. Namate die afwaartse spiraal momentum kry, sal grond al hoe minder waarde hê. Dit sal dit al hoe moeiliker maak vir die eienaar (al is dit ook wie) om geld daarteen te leen. ’n Gebrek aan landboukrediet sal uiteindelik effektief die hele stelsel tot stilstand bring en tot groter produksieverliese lei.

    Die onteiening van grond sonder om daarvoor te betaal, verminder die waarde van grond effektief tot niks. Balansstate van banke wat grond as sekuriteit hou, sal dus herbalanseer moet word. Dit sal lei tot die gedwonge verkoop van ander bates wat op sy beurt die waarde van daardie bates sal verlaag (weens die ooraanbod daarvan in die mark) wat op sy beurt tot nog meer likwidasies sal lei.

    En so duur die siklus voort wat uiteindelik tot ’n massiewe vernietiging van welvaart lei.

    Die ekonomiese literatuur is vol voorbeelde van hoe sulke negatiewe terugvoer-siklusse kan ontwikkel – van die ineenstorting van die Japannese eiendomsmark in die vroeë 1990’s tot die finansiële krisis van 2008.

    Daar is geen twyfel dat patrone van grondeienaarskap in Suid-Afrika aangepak moet word nie, maar om dit met die kru inmenging in eiendomspryse te doen, sal grond as bate vir almal van ons – ook die armes – vernietig.

    • Prof. Johann Kirsten is direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) se Buro vir Ekonomiese Ondersoek, en prof. Nick Vink is hoof van die departement van landbou-ekonomie, ook aan die US.
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.