Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Joker’: Die nar as simbool van ons tyd

Die nar het ’n simbool van ons tyd geword, meen Ari Mattes in dié ontleding van die karakter van The Joker in Batman-rolprente.

Heath Ledger as The Joker. Foto: Warner Brothers Entertainment

Die grapmaker, poetsbakker, hofnar en harlekyn – dié rolle het almal ’n ryk kulturele geskiedenis wat so ver terug strek soos die antieke Grieke se Hermes – seun van Zeus en Hera, maar ook ’n slinkse poetsbakker.

Een van die moderne tye se bekendste hanswors-figure is The Joker, wat sy debuut in die eerste Batman-strokiesprentboek in 1940 gemaak het.

As Batman se aartsnemesis, is die Joker ’n teenvoeter vir die narsistiese, angstige, melodramatiese uitbarstings van die heldefiguur. Die manier waarop The Joker die samelewing straf is gewoonlik komies, hy is ’n terggees en ’n rebel – die teenoorgestelde van Batman se stroewe, selfvoldane hoofseun-beeld.

The Joker is snaaks, koel en verfrissend slim. Hy is nou ook weer terug op die silwerskerm in die rolprent Joker, wat die prys vir die beste rolprent by die Venesiese rolprentfees gewen het en het Vrydag in Suid-Afrika begin draai.

Die hanswors as kulturele provokateur

Joaquin Phoenix as Arthur Fleck, ’n mislukte komediant. Foto: AP/Warner Brothers Entertainment

In ’n pak kaarte is die speelman of “joker”-kaart meestal nutteloos. Die kaarte word met die meeste kaartspelle verwyder, tog is ’n pak kaarte onvoltooid sonder die “jokers”.

Die “joker” is ’n noodsaaklik dog nutteloos, die uitsondering wat die pak voltooi.

Dis ’n kaart wat se waarde plooibaar is, dit bied ’n geleentheid vir spontaneïteit binne ’n streng hiërargie.

Vanuit ’n kulturele oogpunt hervestig die “joker” die samelewing se ranglys juis deur dit te hekel. Hy maak van ernstige plekke en kwessies ’n sirkus of ’n karnaval en ontbloot so die komiese en absurde in sy kenmerkende anargistiese terggees.

Vandag se politieke arenas is deurspek van die grensfigure wat dit kon regkry om hulself buite die magstrukture te plaas wat hulle eintlik moet naboots.

Die provokateurs se woorde en dade – wat die grense van goeie smaak en etiket uitdaag – moet altyd met ’n knippie sout geneem word. Mag kan op talle maniere geskep word – ook deur dit te kritiseer.

’n Nare nar

Todd Phillips se fliek kyk na die oorsprong van The Joker, hoe Arthur Fleck (Joaquin Phoenix), ’n mislukte nar en komediant The Joker word, soos sy psigiese gesondheid agteruit gaan. Foto: AP/Warner Brothers Entertainment

The Joker word die beste in die Batman-franchise uitgebeeld wanneer hy tussen komediese wispelturigheid en psigopatiese sadisme wiggel-waggel. Dit is ook daardie goue sonkol waar die beste komedie geskep word.

Een van die beste vertolkings van The Joker was dié van Jack Nicholson in Tim Burton se Batman (1989).

Nicholson se Joker bou op die akteur Cesar Romero se maltrap-interpretasie van die booswig in die 1960’s-televisiereeks, maar voeg ’n bose sy tot die karakter. Die kombinasie van kleurvolle eksentrisiteit en dodelike wreedheid maak van hom ’n ontstellende karakter.

“Ek maak kuns, totdat iemand sterf,” sê Nicholson se Joker aan die joernalis Vicki Vale, terwyl hy en sy trawante verskeie kunswerke vandaliseer, op die maat van Prince se musiek. “Sien jy, ek is die wêreld se eerste, funksionele moorddadige kunstenaar.”

Ten spyte daarvan dat hy die booswig was, kon Nicholson se Joker dit regkry dat die kyker van hom hou. Dit is die dubbelsinnigheid van die Joker wat hom so aangrypend maak.

Waarom die erns?

’n Aanhanger van The Joker by verlede week se New Yorkse Comic Con. Foto: Reuters

Heath Ledger se Joker van The Dark Knight, waarvoor hy ná sy dood ’n Oscar vir die beste manlike byspeler ontvang het, was ’n meesterlike volronde vertolking van die karakter. Ledger is onheilspellend, met ’n witwoedende intensiteit wat soos hittegolwe van hom weerkaats.

Anders as Nicholson se maltrapbenadering, het Ledger sy Joker se karakter met ’n psigiese realisme benader, wat hom, myns insiens, ’n minder interessante karakter maak as meer dubbelsinnige interpretasies van die karakter. Die ongemaklike mengsel van komiese sjarme, wat met wrede sadisme afgewissel word, – maak van The Joker ’n immergroen karakter. Die kyker weet nooit watter weergawe kop gaan uitsteek nie.

Ledger, wat die karakter vanuit ’n meer realistiese oogpunt benader, maak van hom ’n skurk, sonder enige sin vir humor.

2019: ’n Karakter wat kop verloor

Pres. Donald Trump van die Verenigde State van Amerika.Foto: Reuters

Die nuuste weergawe van The Joker word vertolk deur die akteur Joaquin Phoenix. Todd Phillips se fliek kyk na die oorsprong van The Joker, hoe Arthur Fleck, ’n mislukte nar en komediant, The Joker word soos sy psigiese gesondheid agteruit gaan.

Resensente is vol lof vir die fliek se uitbeelding van die huidige politieke klimaat.

Time Out noem dit ’n “nagmerrie-blik van laat-era kapitalisme” en IndieWire meen die fliek handel oor hoe die kapitalistiese stelsel wat die ekonomiese ratte geolie hou, ons ook van ons menslikheid ontneem.

Wanneer jy daarna kyk in die konteks van die incel (involuntary celibacy)-beweging – waar mans in ’n gedeelde slagofferskap troos by mekaar vind – is die narratief van hoe ’n gewelddadige volksheld gestalte kry omdat sy drome van roem en bekendheid nie bewaarheid word nie, aangrypend.

Massa-skietvoorvalle in Amerika is nou ’n algemene verskynsel en mense is bekommerd dat dié gewelddadige fliek mense tot geweld kan opsweep.

Dieselfde Indiewire-resensie het die fliek gekritiseer as ’n “giftige oorlogskreet vir incels wat hulself bejammer”.

Opkoms van die narre

Die Britse eerste minister, Boris Johnson. Foto: Reuters

Ook in die politiek blyk dit asof die narfiguur die nuwe normaal is, veral in magsposisies. In April vanjaar is die komediant Wolodimir Zelenski tot Oekraïne se president verkies. Die Britse media het hul eerste minister, Boris Johnson, Bojo gedoop, en dit is nie ’n verkorting van sy naam nie.

Een van die redes waarom pres. Donald Trump van die VSA so gewild is, is omdat hy homself as ’n buitestaander tot die tradisionele elite geposisioneer het. Maar as ’n ryk, invloedryke New Yorkse sakeman is hy die gestalte van mag.

Dis ’n bietjie moeiliker om die kloutjie by die oor te bring wanneer ons sin probeer maak van die groter betekenis van die verskynsel.

Dit maak sin dat, in ’n era wanneer iets se vermaaklikheidsfunksie sy waarde bepaal, maltrap realiteitsterre, uitlokkende komediante en Blink Stefaans-sakemense mag en aansien in die publieke sfeer sal geniet.

Politici het nou die rol van die hofnar oorgeneem en hulle vermaak ons deur ander politici te spot en verneder.

Miskien dui dit op ’n sinisme onder kiesers, wanneer dit by professionele politici kom. Of miskien is dit net die uiting van ons behoefte om die hele tyd deur ’n klomp narre vermaak en afgelei te word.

* Mattes is ’n lektor in mediastudies by die Notre Dame-universiteit in Australië. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

the conversation
Meer oor:  Boris Johnson  |  Jack Nicholson  |  Donald Trump  |  Joaquin Phoenix  |  The Joker  |  Heath Ledger  |  Batman  |  Oekraïne  |  New York  |  Narre
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.