Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Jonathan Jansen: ’n Gemengde nalatenskap?
Prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat het in Mei sy bedanking aangekondig. Foto: Nasief Manie

Daar is gemengde gevoelens oor die nalatenskap van prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), wat in Mei sy bedanking aangekondig het.

Netwerk24 het ondersoek na Jansen se termyne as rektor ingestel en kommentaar van verskeie mense oor die omstrede rektor ingewin.

Versoener en reguitprater

“Die mate waarin hy daarin geslaag het om ’n erg verdeelde universiteit ná die Reitz-voorval saam te snoer, was vir my prysenswaardig,” sê prof. Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US).

“Vergifnis en versoening was ’n belangrike deel hiervan, maar hy het allermins geregtigheid afgeskeep – soos blyk uit die klem wat hy deurgaans op transformasie en regstelling geplaas het.”

Dr. Choice Makhetha, voormalige viserektor vir eksterne betrekkinge aan die UV, sê Jansen was die regte persoon om in 2009 as rektor oor te vat.

“Die UV was toe op ’n baie slegte plek en dit het ’n hoogs begaafde akademiese leier nodig gehad om dit uit troebel waters te kry.”

Sowat sewe jaar het al verloop sedert die Reitz-voorval in 2009 toe vier studente van die Reitz-koshuis ’n video geneem het waarin vyf UV-skoonmakers “akteurs” was.

Dié video het nasionaal en internasionaal opslae gemaak en die werkers se rolle is as vernederend en rassisties bestempel.

In ’n versoeningsgebaar het Jansen met sy intreerede in 2009 aangekondig dat die UV sy klagte teen die studente terugtrek en hy het hulle na die universiteit teruggenooi om hul studie te kom voltooi.

Hy het ook gesê die UV sal skadevergoeding aan die betrokke werkers betaal.

Lacea Loader, direkteur van kommunikasie en handelsnaambestuur van die UV, sê dit was “ ’n interne skikking” en wil nie die besonderhede daaroor in die media bespreek nie.

Die raad van die universiteit sê Jansen het die UV deur moeilike en komplekse tye gelei – van die Reitz-voorval tot en met die onlangse studenteprotesaksie.

“Verskeie opnames het aangedui dat daar positiewe groei in die verhouding tussen studente is, ten spyte van die probleme wat nou en dan opduik as gevolg van ’n openbare voorval,” het Loader by navraag in ’n verklaring gesê.

Sy verwys hier spesifiek na die Shimlapark-voorval op 22 Februarie toe betogers ’n Varsitybeker-wedstryd ontwrig het en deur toeskouers aangerand is.

Die UV se Bloemfontein-kampus het hierna deurgeloop onder geweld deur studente.

Loader sê ook: “In die algemeen was verhoudings tussen personeel nog altyd positief en ook toenemend tussen studente. Baie min klagtes is die laaste jare byvoorbeeld oor rasseverhoudings in koshuise ontvang.”

Volgens De Villiers is Jansen dikwels gekritiseer.

“Maar dit is te wagte as jy ’n reguitprater soos prof. Jansen is. Hy deins nie terug vir moeilike kwessies nie en so word noodsaaklike gesprek gelok.”

’n Senior dosent aan die UV wat baie kritiek oor Jansen uitgespreek het, sê wel ’n positiewe aspek van dié rektor is dat hy nie geskroom het om sy stem teen die regering dik te maak nie, veral wanneer dit by onderwyskwessies gekom het.

Interne kritiek

Dié dosent, wat uit vrees vir viktimisasie anoniem wil bly, sê ook dat Jansen teenstand en “interne kritiek” nie goed hanteer het nie.

Personeel se moreel is volgens die dosent laag en hulle vertrou nie die rektor of die universiteitsbestuur nie.

Die dosent sê Jansen het maklik opgetree teen personeel wanneer klagtes van studente ontvang is en hy was selfs aggressief teenoor hulle.

Hy het voete gesleep om teen gewelddadige, ongedissiplineerde studente op te tree.

Met verwysing na die onlangse gewelddadige betogings op die Bloemfontein-kampus sê die dosent die betrokke studente moes summier geskors geword het hangende ’n deeglike ondersoek, maar dit het nie gebeur nie.

Lindokuhle Ntuli, voorsitter van die UV-studenteraad wat as een van die groot opswepers van die geweld beskou word, sê Jansen kon meer gedoen het om Kovsies te transformeer. Volgens Ntuli was die Kovsie-rektor ook arrogant teenoor studente.

“Hy moes ná die betogings en die Shimlapark-voorval eerlik gewees het. Hy het sedertdien nog nie een keer met die studente gepraat nie.”

Marike van As, AfriForum Jeug se Kovsies-woordvoerder, sê Jansen het vermoed betogers gaan die betrokke wedstryd tussen die Shimlas en Madibaz probeer ontwrig.

“En hy het niks gedoen om dit te verhoed nie.”

Jansen se bedanking was volgens haar ’n hoogtepunt vir dié studenteorganisasie.

“Ons verwelkom sy bedanking en hoop dat die persoon wat in sy plek aangestel word, die UV sal herstel tot ’n veilige kampus waar studente mekaar respekteer, ’n gesonde studentelewe gun en waarin hulle hul akademiese loopbaan met sukses kan voltooi,” sê Van As.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê Jansen was ’n groot verleentheid wanneer hy by skole met leerlinge gaan praat het.

“In so ’n mate dat sekere skole besluit het om hom nooit weer by die skool toe te laat nie nadat hy kru en onvanpaste taal voor die leerlinge vanaf die verhoog gebruik het.”

Deacon sê Jansen het wel skitterende werk in sy eerste paar jaar as rektor gedoen en hy stem saam met Makhetha dat hy aanvanklik die regte persoon vir die werk was.

“Maar iets het verander en die laaste paar jaar het die eerste paar jaar se goeie werk oorskadu en in baie gevalle ongedaan gemaak. Die ‘min luister’ en ‘vinnig praat’ het hom toe ingehaal. Dit is jammer.”

Gewer van hoop

Makhetha sê Jansen het verseker hardwerkende studente word nie deur hul sosio-ekonomiese omstandighede beperk nie.

Loader sê eerstegenerasie-studente is deur die UV se Skolevennootskap-projek, wat in Mei 2011 as ’n inisiatief van Jansen begin is, geïdentifiseer.

Dié leerlinge se familielede was nie op universiteit nie, maar die leerlinge het die potensiaal gehad om universiteitstoelating te kry.

“Hulle is bygestaan met bykomende klasse op Saterdae en gedurende vakansies. Die leerlinge is ook gehelp om aansoek te doen by tersiêre instellings en met beursaansoeke.

“Van hierdie studente studeer tans aktuariële wetenskap, medies en verskeie ander rigtings. Altesame 21 is tans tweedejaar- en 76 eerstejaarstudente aan die UV. Byna almal van hulle sou glad nie op universiteit beland het nie,” sê Loader.

Die Skolevennootskap-projek wat onderwysers en leerlinge ophef, het 69 skole in die Vrystaat en die Oos-Kaap met 32 mentors en ’n jaarlikse begroting van meer as R15 miljoen.

“Al hierdie geld word deur borge van buite die UV voorsien. Prof. Jansen het ’n deurslaggewende rol gespeel om hierdie geld te werf.”

Die projek maak volgens haar ’n groot verkil.

“Die matriekslaagsyfer en die aantal universiteitstoelatings by die projekskole het dramaties verbeter.”

Volgens Loader word na raming meer as 12 000 leerlinge deur die projek geraak.

“ ’n Groot aantal van die onderwysers, departementshoofde en skoolhoofde wat deel van dié projek was, het in die laaste paar jaar bevorderingsposte gekry, insluitende kringbestuurders en vakadviseurs.”

Jansen het ook die No Student Hungry-beursprogram in 2011 begin en sedertdien is meer as 650 studente op al drie kampusse van die UV gehelp.

Deur dié program word studente van “beskeie voedseltoelaes” voorsien en kry hulle ’n gebalanseerde maaltyd per dag, volgens die universiteit se webtuiste.

Sodoende kan studente op hul studie fokus sonder om bekommerd te wees oor waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom.

Ondernemings, personeel, studente en individue het sedert die projek se ontstaan al meer as R3,6 miljoen vir dié program geskenk, sê Loader.

“Uitverkoop”

Volgens Jansen se kritici het hy nie sy belofte om Afrikaans aan die UV te beskerm, nagekom nie.

Jansen het in sy intreerede gesê: “Ek is diep tot die bevordering van Afrikaans en Sesotho aan die Universiteit van die Vrystaat verbind. Baie van julle het my gevra om weg te doen met Afrikaans in die naam van pragmatisme.”

Hy het dit toe in sy toespraak duidelik gestel dit sou nie gebeur terwyl hy rektor is nie.

Maar in Maart vanjaar is aangekondig dat die UV se raad ’n nuwe taalbeleid met Engels as primêre taal van onderrig en administrasie met “ ’n oorweldigende meerderheid” goedgekeur het.

Die nuwe taalbeleid word van Januarie 2017 volgens ’n implementeringsplan in gebruik geneem.

Deacon sê Jansen het “hoog en laag belowe” dat Afrikaans beskerm en behou sal word.

“Maar ná ’n paar jaar het dit duidelik geword dat hy onder druk geswig het en Afrikaans as taal, maar ook sy sprekers, uitverkoop het.”

Op ’n vraag oor Jansen se belofte om Afrikaans te bevorder en te beskerm, sê Loader: “Die parallelmedium-klasse in sekere professionele vakgebiede soos byvoorbeeld opvoedkunde waar die opleiding van onderwysers in Afrikaans ’n prioriteit bly, gaan voort. Uitgebreide studieklasse in Afrikaans, Sesotho en isiZulu word regdeur die universiteit beplan. Hoewel Engels die primêre onderrig- en administratiewe taal sal wees, sal nuwe finansiering belê word in die volgehoue ontwikkeling van inheemse tale.”

Akademie en transformasie

“Die universiteitsbestuur- en raad het waardering vir prof. Jansen se deursettingsvermoë om die akademiese prestasie en transformasie van die UV te bevorder,” sê Loader.

Op ’n vraag oor hoe Kovsies se personeel, insluitende die bestuur en akademici, sedert Jansen se aanstelling getransformeer het (wat ras en geslag betref), sê sy: “Die demografiese profiel van die UV het wel ’n mate van groei die laaste paar jaar getoon, veral ten opsigte van nie-akademiese personeel. Hoewel slegs 22% van die permanente akademiese personeel by die UV swart is, word verdere pogings aangewend om gelyke indiensneming in alle fakulteite en departemente te verbeter.”

Die rektor het reeds in sy intreerede gesê die universiteit is wat die samestelling van sy akademici betref, steeds grootliks wit en manlik, veral in die professorkorps. “Dit sal vinnig verander,” het hy toe gesê.

Wat akademie betref, het Jansen luidens die UV-verklaring meegewerk aan die verbetering van die studenteslaagsyfer en die getal studente wat graad gekry het – van 71,80% in 2009 tot 81,28% in 2014.

Die persentasie akademiese personeel met doktorale kwalifikasies het sedert 2010 met 13,5% gegroei.

“Sowat R200 miljoen rand is die laaste paar jaar belê om nuwe navorsingsgeriewe op die Bloemfontein- en Qwaqwa-kampus te bou om sodoende te voldoen aan die groeiende navorsingsportefeulje van die UV,” sê Loader.

Navorsingsuitsette het ook toegeneem.

“Die aantal artikels wat in geakkrediteerde vakjoernale gepubliseer is, het byvoorbeeld met 39% gestyg van 2010 tot 2015 en die aantal postdoktorale navorsers het van 2010 tot 2016 met 505% gestyg,” sê Loader.

“Die UV het een van die voorste universiteite in Suid-Afrika geword, soos gemeet aan sy akademiese slaagsyfers en navorsingsprestasie, sy internasionale aantrekkingskrag vir finansiering deur stigtings en sy verowering van toekennings vir belangrike prestasies in institusionele transformasie. Die UV het vir 19 jaar geen A-gegradeerde wetenskaplikes gehad nie – daar is nou twee en meer word verwag.”

Loader sê die visekanselier se Prestige-program vir Jong Navorsers (PSP) ondersteun “die versnelde kundigheid van junior UV-talent in die eerste vyf jaar ná bereiking van ’n PhD-graad”.

“Hierdie prestige-navorsers neem deel aan ’n intensiewe ondersteuningsprogram wat internasionale plasing en intensiewe mentorskap insluit.

“Sedert die PSP-program in 2010 ingestel is, het dit twee Fulbright-beurshouers, twee NNS Y1-gegradeerde navorsers, een NNS Blue Skies-navorsingsprojek en 11 NNS-befondste Thuthuka-projekte opgelewer.”

Die senior dosent met wie Netwerk24 gesels het, sê Loader gee nie die volle prentjie nie, maar is selektief oor watter statistieke sy rakende die navorsingsuitsette beskikbaar stel.

Die UV het verlede jaar die 18de plek op die ranglys Times Higher Education Top 30 African Universities beklee.

Prof. Lucius Botes, dekaan van geesteswetenskappe aan die UV, het in ’n meningstuk gesê dit is ’n “hoogs aangeskrewe ranglys” wat “die getal navorsingspublikasies en -sitasies van navorsing as kriteria gebruik”.

Die UV is onder die Universiteit van Kaapstad, Wits, Maties, die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Universiteit van Wes-Kaapland, Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van Pretoria, Unisa en Rhodes op dié ranglys.

Jansen het in sy intreerede in 2009 gesê die UV “gaan baie vinnig beweeg” om ’n nasionale en internasionale sentrum vir akademiese uitnemendheid te word.

Boonop sê die dosent dat akademici aan die UV ’n geruime tyd gelede ’n direktief ontvang het wat sê indien ’n slaagsyfer van minder as 50% in hul vakgebied behaal word, sal ’n ondersoek gedoen en moontlike stappe teen die betrokkenes gedoen word. Die dosent meen so ’n direktief ondermyn akademiese uitnemendheid, want sommige akademici kan studente se punte opskuif sodat hulle nie ondersoek word nie.

Geldsake

Die dosent sê daar is ernstige vrae oor die finansiële welstand en volhoubaarheid van die UV wat weens die taalbesluit net verdere skade gaan ly.

Loader sê die UV doen verslag aan die raad oor die universiteit se geldsake en nie die media nie.

“Wat wel gesê kan word, is dat die UV steeds daarin slaag om sy finansiële stabiliteit te behou. Die UV se slaagsyfers wat voortdurend verbeter, deels as gevolg van die hoër akademiese toelatingsvereistes, dra by tot sowel ons reputasie as ons finansies, net soos die strome inkomste uit die dramatiese groei in derdestroom-inkomste [afgesien van subsidie en studentegeld] van stigtings, korporasies en trusts.

“Om hierdie rede bly die finansies van die UV stabiel vergeleke met die meeste universiteite, en stel dit ons in staat om steeds ’n deel van ons inkomste te herbelê sodat die universiteit se beleggings kan groei.”

Loader sê die UV se derdestroom-inkomste (inkomste uit byvoorbeeld navorsingskontrakte, konsultasies en skenkings) het van 2010 tot 2015 met 19% gestyg.

* Jansen se termyn eindig op 31 Augustus en hy beklee van September af ’n genootskapspos aan die Sentrum vir Gevorderde Studie en Gedragswetenskappe aan die Universiteit van Stanford in Amerika.

Hy het sy bedanking op 16 Mei aangekondig.

Meer oor:  Jonathan Jansen  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.