Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Jong Tories belangrik in leierskapresies

Jong lede van die Konserwatiewe Party maak seker hulle praat harder en duideliker vir ’n nuwe geslag. Dit is verbasend dat meer Britse premierskandidate nie na hulle vry nie, skryf Mark Shanahan.

Boris JohnsonFoto: Reuters

Dit is ’n leierskapswedloop wat die Konserwatiewe Party nie wou gehad het nie. ’n Stryd wat opwindend moes wees, het uiteindelik ’n muis gebaar vir ’n party, ’n kieserskorps en ’n land wat uitgeput is deur die loutere verveling van die Brexit-nagmerrie.

Theresa May se potensiële opvolgers het nie eens gewag vir die amptelike afsitterspistool Maandag nie, voordat hulle in die paradekampie op en af begin pronk het.

Boris Johnson het eerste aangekom. Dit blyk sy voorbereiding was grootliks om die lirieke uit die musiekblyspel Hamilton te volg van “praat minder, glimlag meer” – iets wat nie maklik is vir dié seun van Bullingdon nie. Ondanks ’n swierige video waarmee hy sy veldtog van stapel gestuur het, was Johnson stadig uit die wegspringblokke weens ’n dreigende hofverskyning wat toe nie gerealiseer het nie.

Ander het die leemte gevul: Dominic Raab wat meer as vaagweg na ’n vrouehater geklink het en Esther McVey wat die populistiese kaart uitgepluk het, maar die bal laat val het met raad aan ouers oor hoe om kinders van selfdegeslag-verhoudings te leer.

Stem van die jonges

Steve BakerFoto: Reuters

Benewens die loodsing van die kandidate se veldtogte (en die onttrekkings van mense soos James Cleverly en Kit Malthouse) is al wat ons tot dusver gehoor het die reaksie van Toryshire. Die ouers en grootouers van die hartland – diegene wat nie reeds voor die lokaas van die Brexit Party geswig het nie – het hul sê in die nasie se media gesê en hul weddenskappe geplaas.

Maar die jong Konserwatiewes se stemme is nog nie gehoor nie. Tot onlangs nog ’n groep wat aan die uitsterf is, het partylede jonger as 25 jaar in onlangse jare hul stemme al hoe meer laat hoor.

By my universiteit is hulle beslis ’n sterk, vurige en aktiewe groep. Ek het by die huidige groepie – sowel as hul nasionale netwerk van studentevriende, medekiesers en onlangse gegradueerdes – gaan hoor hoe hulle die wind sien waai terwyl die 11 kandidate om hul stemme meeding.

’n Politieke raadgewer het aan my gesê: “Daar is ’n aaklige gevoel onder parlementslede en hul personeel. Dit is heeltemal depressief, daar is ’n algehele dooiepunt en dit is moeilik om te sien hoe ons dit gaan oplos. Almal het saamgestem dat May moet gaan, maar nie omdat hulle dink enigiemand anders kan beter vaar nie. Dit is jammer Liz Truss neem nie aan die wedloop deel nie. Sy en Penny Mordaunt is baie gewild onder my jonger vriende. Rory Stewart word ook baie bespreek.”

Onbetaamlike Boris

Dominic RaabFoto: Reuters

Die adviseur het een groot verskil tussen die ouer en jonger partylede opgemerk. Hy sê terwyl die ou partylede mal is oor Johnson, “amper al die jong Tories ’n weersin in hom het, of ten minste besef hy is 'n slegte tyding of ’n risiko vir die party.”

Dit blyk asof Raab, ’n voormalige Brexit-minister, se kwaadpraters vanaf die jonger binnekring kom en Michael Gove is ook nie ’n gunsteling nie. Dié wat met my oor hom gesels het, het hom as “vreemd” beskou.

Iemand wat hoog geag word in die Westminster Tory-kringe is die kanniedood Brexitier en voormalige leier van die Britse laerhuis Andrea Leadsom – veral vir haar bydrae as leier van die laerhuis wat die boeliekultuur in die Britse parlement getakel het.

Steve Baker word as minder opportunisties as Johnson beskou.

Een jong Konserwatiewe voorsitter van die Middellande het sy kollegas se siening opgesom en sy begeerte uitgespreek dat kanniedood Brexitier Steve Baker die amp moet beklee.

“Hy is nie ’n konsensus politikus nie, hy is ’n politikus van oortuigings. Hy het ook vaste beginsels, hy het teen die onttrekkingsooreenkoms in al drie voorleggings van die wetsontwerp gestem."

Dit onderskei Baker van talle van sy teenstanders, omdat hy as minder opportunisties as Johnson beskou word en minder doelmatig as Raab. Maar met enkele ure voor die spertyd, lyk dit nie asof hy in die amp belang stel nie.

Jonges maak hul stem dik

Andrea LeadsomFoto: Reuters

Dit blyk dat die idee van ’n “skoon Brexit” gedy in die jong Tory-hartland wat ten gunste daarvan is, selfs al het dit min aantrekkingskrag rondom Westminster, waar diegene soos Jeremy Hunt, Matthew Hancock en Sajid Javid – wat skepties is oor ’n situasie waar Brittanje die EU verlaat sonder ’n ooreenkoms – almal steun geniet.

In die universiteitsdorpe klink die boodskap so ’n bietjie verskillend. Sommige studente sien Steward as ’n lewensvatbare kompromiekandidaat en meer in voeling met die “denkende Tory”. Hy word gesien as deel van die volgende generasie van leiers, met die regte eienskappe van charisma en intelligensie wat die party én die land vorentoe kan neem.

Hy is ook meer wêrelds as Baker, wie se steun eerder by die kroegkamer politici van die Konserwatiewe hartland lê.

Boris is ’n kansvatter, dit gaan alles oor hom, nie oor die party of die land nie.

Johnson en Raab het hul ondersteuners, (Gove het slegs een stem gekry van die dosyne van Young Tories waarmee ek op sosiale media gesels het – en dit was nog voordat hy erken het hy het in die verlede kokaïne misbruik) maar die voorlopers skep nie enige opwinding onder die jong Konserwatiewe partylede nie, wat binnekort hul nuwe leier en amper sekerlik Brittanje se nuutste eerste minister gaan wees.

“Boris is ’n kansvatter,” meen een student. “Hy is so ’n bietjie soos Trump, dit gaan alles oor hom, nie oor die party of die land nie. En ons weet reeds dat Gove sy vriende in die rug sal steek.”

In 2018 het die Britse Parlement aangedui dat die Konserwatiewe Party se partylidmaatskap op 124 000 staan, en 83% van hul lede is 45 jaar of ouer.

Die basissyfer is nou nog höer, maar baie van daardie ouer kiesers kan oorloop na die Brexit Party.

Jong Tory-lede het hergroepeer deur inisiatiewe soos Blue Beyond en hulle maak seker hulle praat harder en duideliker vir ’n nuwe geslag. Dit is verbasend dat daar nie meer kandidate na hulle vry nie.

* Mark Shanahan is ’n professor en hoof van die Universiteit van Reading se departement van politiek en openbare betrekkinge. Die artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

The Conversation
Meer oor:  Konserwatiewe Party  |  Boris Johnson  |  Michael Gove  |  Steve Baker  |  Andrea Leadsom  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.