Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Jonges moet met oplossings kom

Die land se jong mense moet leer om die politieke bal te speel, eerder as om deur die bal gespeel te word, skryf Tian Alberts.

’n Nuwe daeraad? Die jeug hoef nie net op pres. Cyril Ramaphosa te wag nie. Foto: Waldo Swiegers

’n Blinde vertroue dat pres. Cyril Ramaphosa se “nuwe dagbreek” uiteindelik sal aanbreek en ’n delegering van persoonlike vryheid aan partypolitieke verwikkelinge in die algemeen, is kenmerkend van ’n algemene reaktiewe ingesteldheid onder Suid-Afrikaners.

Om reaktief te wees, is om regstreeks afhanklik te wees van stimuli in die eksterne omgewing; om deur die bal gespeel te word eerder as om die bal te speel.

Die delegering van persoonlike verantwoordelikheid aan eksterne faktore soos die regering, die welwillendheid van die president – of op universiteitskampusse die verwesenliking van “transformasie” – is ’n doodsteek vir die tipe proaktiwiteit wat ’n voorvereiste vir bemagtiging en verbetering in Suid-Afrika is.

Ekonomiese bemagtiging van groter gemeenskappe – veral armes – het in ontwikkelende lande wat onlangs toenemend vryemarkbeginsels begin aangryp het, ’n uitvloeisel geword van persoonlike selfbemagtiging deur proaktiewe rolspelers.

Die Suid-Afrikaanse jeug kan gerus ’n les by hierdie lande gaan leer.

Kapitalistiese ingrypings – proaktiewe optrede – in lande soos China het tussen 1990 en 2010 bykans een miljard mense in die wêreld vanuit uiterste armoede bevry. Met verhoogde produktiwiteit in die landbou- en infrastruktuursektor – grootliks in die nadraai van proaktiewe tegnologiese deurbrake deur private spelers met private beleggings (die regering speel wel ook ’n belangrike rol om die private sektor aantreklik te maak vir buitelandse beleggers) – mik Ethiopië met sy huidige ekonomiese groei van 9% om teen 2025 ’n middelinkomsteland te word. Daarenteen is Suid-Afrika in ’n worsteling met ’n verlammende kombinasie van verbysterende werkloosheid en min tot geen ekonomiese groei vasgevang.

Wanneer die ontwikkeling en groei deur middel van die private sektor in ander ontwikkelende Afrikalande in oënskou geneem word, is Suid-Afrika se relatiewe agteruitgang ten spyte van die mees geïndustrialiseerde ekonomie op die kontinent treffend. Die reusetaak is gesetel in ’n nuwe generasie rolspelers om die vervalle Suid-Afrikaanse ekonomie te omskep in een wat opnuut kan industrialiseer en vatbaar is vir volgehoue private belegging, maar ook kan voorsien in die behoeftes van arm, werklose landsburgers wat in ondraaglike omstandighede leef.

Alhoewel die ANC se ongebreidelde nastrewing van die Nasionaal-Demokratiese Revolusie – kommunistiese Moskou se blywende nalatenskap aan die suidpunt van Afrika – nie juis die taak van die nuwe generasie rolspelers vergemaklik nie, is omtrent 70% van Suid-Afrika se ekonomie in die besit van die private sektor.

Laasgenoemde toedrag van sake is bemoedigend en verteenwoordig ’n skuiwergat vir ernstige, proaktiewe rolspelers om die hand van die staat in ’n strewe na selfbemagtiging te vermy. Die strewe na selfbemagtiging word gebore in omgewings wat die verkenning van ontluikende tegnologiese en nywerheidstendense ten sterkste prioritiseer, die opdoening van tegniese kennis vergemaklik en die gereedskap voorsien om geleenthede in die private sektor te skep of te benut. Hierdie beskrywing vergestalt instellings vir hoër onderwys wat reeds bestaan, maar die strewe na selfbemagtiging behels egter veel meer as wat hierdie instellings vandag aan hul studente bied.

Selfbemagtiging is gewortel in ’n sterk eksterne lokus van kontrole wat negatiewe eksterne omstandighede as oorkombare hindernisse onderworpe aan die wilskrag van die individu posisioneer. Ook in ’n benadering wat nie die verwesenliking van produktiewe oplossingsgedrewe samewerking met enige en alle gewillige rolspelers by die altaar van ideologiese voorbehoude offer nie.

In hierdie opsig vergemaklik instellings vir hoër onderwys beswaarlik selfbemagtiging. Trouens, die internalisering van verontregting word hier bevorder, en produktiewe samewerking en die soeke na oplossings is onderworpe aan verdelende identiteitspolitiek. Dit is nie verbasend nie, aangesien instellings vir hoër onderwys as staatsinstellings sekerlik nie vrygestel is van die afwenteling en inprenting van die ANC se ideologie op staatsbeheerde entiteite nie.

Die feit is dat terwyl jong mense in ontluikende markekonomieë in Afrika hulself voorberei op die geleenthede wat tegnologiese en nywerheidsontwikkeling toenemend bied ten einde hulself regstreeks te bemagtig en onregstreeks ekonomiese groei te veroorsaak, en selfs kennis maak met die moontlikhede van die vierde nywerheidsomwenteling, die grootste deel van die Suid-Afrikaanse jeug uitgelewer is aan onderwys en opleiding wat 80% van gr. 4’s in gebreke laat om te kan lees en skryf.

Gematrikuleerdes word ook allermins in staat gestel om hulself te bemagtig in ’n wêreld wat besig is om die produktiwiteit en mobiliteit van mense en masjiene met tegnologiese ontwikkeling tot ongekende hoogtes te voer.

Teen die agtergrond van hierdie ondenkbare werklikheid wat die jeug die hoof moet bied, word die openbare diskoers, waarin die ANC se invloed nie geringgeskat kan word nie, eerder oorheers deur aktivisme vir maatskaplike geregtigheid wat in kritiese rasseteorie gewortel is, ’n hunkering na maatskaplike herverdeling, en ’n renons in ongelykheid.

Ons gaan die gesprek moet verander. Terwyl veldtogte en venynige debatte oor transformasie en maatskaplike aktivisme legitieme kwessies en probleme opper, sal die dominante fokus moet verskuif vanaf maatskaplike aktivisme na persoonlike proaktivisme. Proaktiviste vermy afhanklikheid van die regering en verafsku steun op die manipulering van uitkomste om kunsmatige sukses te behaal. Hulle gryp eerder geleenthede aan vir selfverbetering en styg uit bo die oënskynlike ontoereikendheid van hulpbronne, en speel op hierdie manier die bal eerder as om deur die bal uitgeslaan te word.

Proaktiviste stap nie net self as oorwinnaars weg nie, maar bring deur middel van hul ingrypings oorwinning ook binne die bereik van die mees agtergestelde, weerlose figure in die samelewing.

Om met ’n werksgeleentheid ’n menswaardige bestaan binne die bereik van die werklose inwoner van ’n informele woongebied sonder spoeltoilette en waterdigte wonings te bring, is ’n oorwinning.

Hierdie tipe oorwinnings is aan die orde van die dag in Ethiopië, Rwanda en Kenia, waar erge politieke onrus soms nie eens die doelgerigte pogings om beter bedrywe te vestig, private beleggings te verkry en inskakeling by die tegnologies gedrewe wêreld te verseker, kan kelder nie.

Die Suid-Afrikaanse jeug kan gerus ’n les by hierdie lande gaan leer.

Bowenal het universiteite ’n spesiale en besonderse plig om proaktiewe rolspelers op te lewer wat persoonlike verantwoordelikheid om hulself en ander te bemagtig, in die bestek van hul eie wil sentraliseer.

Alhoewel teoreties verdedigbaar in sommige gevalle, is die beklemtoning van verontregting as ’n sentrale en bepalende tema van die lewe ten minste vanuit ’n pragmatiese oogpunt die mees ontmagtigende handeling wat akademici moontlik ten opsigte van hul jong studente kan verrig; dit bemagtig hulle slegs om hul verontregting of veronderstelde verontregting te kan verwoord, en beroof hulle van die ingesteldheid en geesdrif om proaktiewe rolspelers in die strewe na hul eie bemagtiging te wees.

Op die ou end sal dit proaktiewe, self-bemagtigende jong rolspelers met ’n realistiese, oplossingsgedrewe uitkyk wees wat onbedoeld Suid-Afrika uit sy ellende red. Vir die jeug is die eerste stap in die strewe na proaktiewe selfbemagtiging om die aard van ons gesprekke te verander. Ons sal blitsvinnig futiele en onproduktiewe gesprekke wat binne teoretiese raamwerke geskied moet verruil vir realistiese, oplossingsgedrewe gesprekke wat ten doel het om met regte oplossings vir regte probleme vorendag te kom.

Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Politiek  |  Toekoms  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.