Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Jou privaatheid is ‘die slagveld van die toekoms’

Die “hart” van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) tree op 1 Julie in werking. Elizabeth de Stadler het aan Murray La Vita verduidelik hoe Suid-Afrikaners daarby gaan baat.

Popia beloof beskerming vir verbruikers teen onder meer oproepsentrums wat hulle lastig val en data-diefstalle by sakeondernemings. Foto: Reuters

Jy het nou iewers om te gaan kla as jy meen ’n maatskappy het iets gedoen met jou inligting, waaroor jy nie beheer gehad het nie, sê De Stadler, ’n kenner van verbruikersreg en medeskrywer van onder meer Guide to the Protection of Personal Information Act.

Popia belowe om verbruikers nie alleen teen onder meer lastige oproepsentrums en data-diefstalle by ondernemings te beskerm nie, maar ook teen hul eie regering.

“As jy nou die Covid-19-databank as ’n voorbeeld wil neem: Die Inligtingsreguleerder (IR), waarvan adv. Pansy Tlakula, die voorsitter is, het riglyne opgestel vir die regering om te sê: ‘Julle mag hierdie inligting nét vir hierdie doel gebruik. Julle kan nie nou gaan staan en die inligting kommersialiseer en dit byvoorbeeld verkoop aan farmaseutiese maatskappye sodat hulle hul Covid-19-kuur aan julle kan bemark nie.’

“Hulle mag dit nét gebruik vir wat in die Wet op Rampbestuur staan. Ses weke nadat die ramp nou tot ’n einde kom – indien dit ooit gebeur – moet hulle die data anoniem maak. En hulle mag dit ook nie hou nie. Dít is tipies die soort regte wat Popia aan mense gee.”

‘Nuwe regte’

Elizabeth de StadlerFoto: Verskaf

Popia is baie soos die Europese Unie se algemene databeskermingsreguleerder, wat twee jaar gelede in werking getree het en dieselfde soort regte aan mense gee.

“So die tipe ouens wat nou in die moeilikheid kom, is die Facebooks en die Googles en die banke.

“Ons weet ook mense kla vreeslik oor direkte bemarking, byvoorbeeld. So, Popia gaan dit baie moeiliker maak vir mense om jou inligting te koop en vir die doeleindes van spam te verkoop.

“Jy het ook allerhande nuwe regte met betrekking tot inligting – om te weet watter inligting het hulle van jou en wat hulle daarmee doen en met wie hulle dit deel.

En dít maak Suid-Afrikaners besonder kwesbaar; ál ons inligting is basies op die Dark Web.

“En dan, die ding wat dit maar eintlik bekamp, is hierdie vreeslike data-lekkasies. Daar was ’n paar grotes in Suid-Afrika die afgelope drie jaar. Liberty Holdings het verlede jaar een gehad en dan so drie jaar gelede was daar ’n eiendomsagent wat besluit het om ’n lys te maak van alle mense wat in Suid-Afrika woon, met ID-nommers en adresse en watter eiendomme hulle besit.

“Hy het dit toe net so op die internet gesit. Dít was ’n groot een. En dít maak Suid-Afrikaners besonder kwesbaar; ál ons inligting is basies op die Dark Web. En dít is ook waarom Suid-Afrika ’n baie gesogte bestemming vir mense is wat identiteitsdiefstal pleeg.

“Dis hoekom ek so lag wanneer mense byvoorbeeld ID-nommers gebruik as ’n wagwoord vir byvoorbeeld ’n bankstaat, want daardie inligting kan jy maklik bekom.

“Ster-Kinekor het ook al ’n data-lekkasie gehad en daai Payfine waar jy jou verkeerskaartjies betaal.”

‘Hart van die wet’

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vandeesweek die inwerkingstelling van dié dele van Popia aangekondig wat De Stadler as die “hart van die wet” beskryf.

Die wet word sedert April 2014 inkrementeel in werking gestel en is daarop gerig om die beskerming van persoonlike inligting te bevorder en om ’n balans te handhaaf tussen die reg tot privaatheid en ander regte soos die reg tot toegang tot inligting.

“Ander dele van die wet kan eers later in werking gestel word want hul werking vereis dat die Inligtingsreguleerder operasioneel heeltemal gereed is om sy magte, funksies en pligte ingevolge die wet op te neem,” het die presidensie Maandag in ’n verklaring gesê.

Artikels 2 tot 38; artikels 55 tot 109; artikel 111; en artikel 114 (1), (2) en (3) word op 1 Julie in werking gestel. Artikels 110 en 114(4) tree op 30 Junie 2021 in werking.

Sterk magte

Adv. Pansy TlakulaFoto: Argief

Tlakula het vroeër in ’n onderhoud gesê Popia sal sterk toepassingsmagte aan die Inligtingsreguleerder gee. Dit sluit in die oplê van boetes van meer as R10 miljoen en die vermoë om strafregtelik te vervolg, berig BusinessTech.

Volgens haar sal die wet beskerming teen byvoorbeeld onwelkome telebemarkers bied. Sy het egter gewaarsku inligting wat aanlyn of op sosiale media gedeel word, sal in die openbare domein bly.

Sy het bygevoeg dat Popia sal verseker dat maatskappye voldoende veiligheidsmaatreëls toepas wanneer hulle met mense se persoonlike inligting omgaan.

Toepasbaarheid

Ek pols De Stadler oor die toepasbaarheid van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.

“Ons is so 30 jaar agter die res van die wêreld, so jy kan sien hoe dit in ander lande toegepas word. Jy kan byvoorbeeld kyk: In die laaste vyf maande het ons meer boetes gehad vir dataprivaatheidsverwante kwessies as in die hele voorafgaande tyd.

“So, hierdie wette word toenemend baie streng toegepas. Ons praat altyd van privaatheid as die slagveld van die toekoms, want dit het rêrig ’n groot invloed op die wêreld.

Privaatheid gaan deesdae nie net oor wat 'hulle' van jou weet nie, maar ook hoe 'hulle' jou gedrag kan manipuleer deur wat 'hulle' weet.

“As jy nou gaan kyk na Cambridge Analytica . . . Wetgewing soos Popia is geskep om daardie tipe van scenario’s te reguleer. Cambridge Analytica het omtrent 5 000 datapunte van baie mense versamel. Die ANC het ook Cambridge Analytica in die 1994-verkiesing gebruik.”

Cambridge Analytica is deur die miljardêr en alternatief-regse fanatikus Steve Bannon gestig.

Theunis Engelbrecht skryf in Februarie in ’n resensie in Rapport oor Mindf*ck: Inside Cambridge Analytica’s Plot to Break the World deur Christopher Wylie, as volg:

“Ook hy [Bannon] het besef watter goudmyn sosialemedia-data is en hoe algoritmes en sagtewareprogramme ontwikkel kan word om veral Facebook-gebruikers te teiken en hul persoonlike inligting en data te steel. Daardeur kon hy die mag ontwikkel om ’n onsigbare wapen te skep wat kiesers se siening van die werklikheid kon verander.”

‘Propagandiste te huur’

Steve BannonFoto: EPA

De Stadler: “Wat baie interessant is van daardie maatskappy is dat hulle begin het as ’n militêre maatskappy. Jy kon hulle huur om propaganda te versprei. Daar is basies twee maniere om ’n regering tot ’n val te bring, die een is deur wapens en die ander een is propaganda.

“So, hulle was letterlik hierdie propagandiste wat te huur was. Hulle het gewerk vir sowel die Obama- as die Trump-regering en het 5 000-datapunte versamel oor elke liewe kieser in Amerika en toe het hulle Facebook-feeds gemanipuleer om te beïnvloed vir wie hulle sou stem.”

Privaatheid gaan deesdae nie net oor wat “hulle” van jou weet nie, maar ook hoe “hulle” jou gedrag kan manipuleer deur wat “hulle” weet.

“Dit is ’n baie interessante veld in die lig van die verskriklike spoed waarteen tegnologie veral nou ontwikkel. So, dit is maar die wetgewer se manier om so half te probeer bybly daarmee.”

Die kruispad

Dit is ’n veld wat sit op die kruispad tussen tegnologie en etiek.

“Wanneer jy daaroor begin lees, voel alles baie futuristies, maar eintlik gebeur alles al baie lank. Dink byvoorbeeld aan banke – almal van ons het ’n bank – die meeste banke weet 18 maande voordat jy nié jou verband kan betaal nie, reeds dat jy dit nie sal kan doen nie.

Jy kan daardie data vir goeie óf vir slegte doeleindes gebruik.

“Hulle myn en analiseer data en kan ábsoluut voorspel wanneer jy in die verknorsing gaan kom. Hulle weet dit heel dikwels baie lank voordat jý dit weet.

"Jy kan daardie data vir goeie óf vir slegte doeleindes gebruik. Jy kan dit proaktief gebruik om vir iemand wat jy sien in die moeilikheid gaan beland, advies te gee om hulle uit die moeilikheid te hou. En dan kry jy nou maatskappye wat daardie inligting gebruik om op die regte tyd vir jou baie duur krediet aan te bied.”

‘Inligting is nie joune nie’

Sy verwys na die Black Sash-saak.

“Dit was seker so twee jaar gelede. Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ’n diensverskaffer gebruik om maatskaplike toelaes te betaal en toe het daardie diensverskaffer die inligting van al hierdie baie kwesbare mense gaan staan en verkoop aan versekeraars en mikroleners en loan sharks.

“Dit het gaan draai in die konstitusionele hof wat bevind het jy mág nie mense se inligting verkoop nie want dit is nie joune nie. Daardie saak is een van die eerstes waaraan die Inligtingsreguleerder deelgeneem het, as amicus curiae [vriend van die hof].”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.