Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Juk van ’n voorganger

Dit lyk asof pres. Cyril Ramaphosa en John Steenhuisen sukkel met die juk en intriges van voorgangers, skryf Barnard Beukman.

foto

Dit lyk asof die dae verby is dat ’n uitgetrede (of uitgeskopte) politieke leier of voormalige regeringshoof hou by ’n voorheen ongeskrewe reël: Wat jy ook al doen, moenie politieke uitsprake maak nie.

Dit nie net om politieke skadebeheer toe te pas nie, maar meermale ook om die individu se waardigheid te beskerm. Waar die reël deur die jare verbreek is, het albei betrokkenes gewoonlik skade gely. Maar die rustelose ego’s van oudgediendes laat dit lankal nie meer toe nie. Amper soos ’n oud-Springbokrugbyspeler wat by geleentheid vertel het hoe die gedruis van volgepakte paviljoene ’n soort verslawing raak.

Eers was dit die gebruik om by liefdadigheid of ’n stigting vir wêreldvrede of klimaatsverandering betrokke te raak, dalk geld uit toesprake te verdien en hoogstens ’n biografie te laat skryf.

Oudpres. Barack Obama van Amerika het so ’n ongeskrewe reël verbreek deur met vergaderings en al aan die afgelope verkiesingsveldtog daar te gaan deelneem. (Hy móés waarskynlik, om Joe Biden oor die wenpaal gestoot te kry.)

Tony Blair is by verskeie bemiddelingsaksies en internasionale organisasies betrokke, maar sy mede- voormalige Britse premier David Cameron word nou ondersoek. Dit omdat hy as adviseur van Greenhill Capital via direkte SMS-boodskappe by ministers stemming gemaak het vir reddingshulp vir die groep.

Yitzhak Rabin van Israel, Michail Gorbatsjof van Rusland en FW de Klerk van Suid-Afrika het hulself grootliks besig gehou met, benewens hul eie stigtings, ook die sogenaamde internasionale “speech circuit” waar hulle teen goeie beloning toesprake hou. (Die oomblik toe De Klerk hom weer direk oor omstrede Suid-Afrikaanse politiek uitgelaat het, het dinge skeefgeloop.)

Steenhuisen en Ramaphosa

Met die dat elke mens deesdae sy eie blog, boek en rubriek kan skryf, het vele oudgediendes ook nie op hulle laat wag nie. En in ’n skuif waaroor daar histories min suksesverhale is, het Helen Zille na die politiek teruggekeer.

Van die oomblik dat Thabo Mbeki president geword het was hy geïrriteerd met die grootse teenwoordigheid van sy voorganger, Nelson Mandela.

Volgens ’n destydse betrokkene het hy selfs by internasionale byeenkomste weggebly as hy hoor Mandela is ook genooi. Natuurlik is dit veel moeiliker as jou voorganger ’n internasionale ikoon is.

Toe Mandela in sy skemerjare agter die skerms ingesleep is in die magstryd tussen Mbeki en Jacob Zuma, is hy (selfs wreed) eenkant toe geskuif.

Dit lyk juis of John Steenhuisen, nuwe DA-leier, en pres. Cyril Ramaphosa, al langer in die amp as ANC-president, albei sukkel met die juk en intriges van voorgangers. Asof hul leierskap steeds gehul is in die oudgediendes se skaduwee.

Dit is inderdaad maar net een van hul probleme. Hulle is ook in die greep van ’n spul ongepoetste beroepspolitici wat net hul eie bas, pos en volgende plek op ’n lys in gedagte het. In die ANC is dit op ’n selfs hoër oktaan met misdaadverdagtes – of in die woorde van Busi­siwe Mavuso, uitvoerende direkteur van Business Leadership SA, “diewe” – wat vir hul eie misdadige belange skerm.

Skaars is die finale rondes van die Ace Magashule-binnegeveg in die ANC binnegegaan of ’n straatgeveg breek in die DA uit wat – gestroop van die opgestelde kwessies – gaan oor wie mag Kaapse burgemeesterskandidaat word en wie nie.

Albei se partystrukture is so “gedemokratiseer” dat dit lyk of dit hul suurstof beperk. Uiteraard wil geen party meer ’n outydse diktator as leier hê wat kan maak en breek soos hy wil nie. Maar die beperkende strukture rondom die twee leiers maak net sin as die karakter, rol en motiewe van die ampsdraers suiwer is om die leiers te versterk, eerder as om hulle weens selfsugtige motiewe te kniehalter.

In die ANC moet die arme Rama­phosa omtrent elke besluit deur sy nasionale uitvoerende komitee (NUK), nasionale werkkomitee (NWK) en die verlammende sogenaamde topses neem.

Sy Ramaforie-fase, ingelui deur sy “werkskepping deur buitelandse beleggings, vermindering en regruk van staatsondernemings, ’n verkleinde kabinet en staatsdiens, die heraktivering van die nasionale groeiplan en dat die Reserwebank nie genasionaliseer gaan word nie”, het sy teenstanders vir twee jaar momentum vir volgehoue dwarsboming gegee.

Zille, die ‘sekretaris-generaal’

In die DA moet Steenhuisen gaan rapporteer aan ’n federale raad met ’n sterk politiek verkose voorsitter. Die amp “kan vergelyk word met die sekretaris-generaal van die ANC”, het die huidige bekleër, Helen Zille, gesê toe sy haar politieke terugkeer daarin gemaak het. En dit dus vergelyk met die Sowjet-styl-amp in die ANC wat met ’n groter magskonsentrasie as die leier sit.

Mmusi Maimane, vorige DA-leier, het die struktuur reeds as verlammend ervaar om veranderinge aan te bring, al is dit onder die vaandel om die leier “verantwoordbaar te hou”. En toe besluit is sy tyd is verby, is benewens Zille nog ’n voormalige leier, Tony Leon, betrokke gekry om hom uit sy amp te kry.

Tot nou het Leon nie naastenby sy party in dieselfde omstredenheid as Zille gedompel nie. En kon sy rol tot nou selfs met die meer konstruktiewe modus van die ANC se Kgalema Motlanthe of die VF Plus se Pieter Mulder vergelyk word.

Maar so tussen die geldmakery deur met toesprake, rubrieke, boeke en konsultasies, het Leon ook laat val hy moet nog self eers sien of Steen­huisen die mas gaan opkom. Sy onlangse uitlating oor Maimane, as ’n “eksperiment wat skeefgeloop het”, het nie noodwendig die rassebagasie wat Maimane daaraan wil hang nie.

Die vraag is of allerlei lopende kommentaar en skermutselings die party en sy nuwe leier enigsins bevoordeel? Staan die DA sterker ná daardie relletjie? Of is dit die adrenalien wat bruis van die “ek”-projekte wat tel?

Toe Steenhuisen onlangs met goeie tydsberekening, vanweë die drama in die ANC, en heel vaardig besluit om ’n bietjie die politieke pot te roer, het die beroepspolitici met blou T-hemde angsaanvalle gekry. Hoe durf hy waag om aan te dui die DA sal met die realiste in die ANC se Ramaphosa-kamp saamwerk indien nodig? “Waar laat dit my plek op ’n volgende kandidatelys?” was die interne reaksie.

Die ANC is al so oorontleed dat min verder nodig is. Maar Rama­phosa se gevangenskap was duidelik sigbaar toe dit op ’n uitgelapte opname blyk hy moet sit en vertel hoeveel respek hy vir die opperstaatskaper Jacob Zuma as “oudste” van die ANC het. Dit terwyl die Zuma-kamp hom om elke hoek en draai ondermyn en beledig.

Ramaphosa pluk die wrange vrugte daarvan dat hy toegelaat het dat Zuma sedert sy ontseteling steeds NUK-vergaderings bywoon.

Gebrek aan fokus

Ramaphosa en Steenhuisen het ook ander probleme – ’n duidelike gebrek aan politieke fokus.

Ramaphosa sukkel om te oortuig dat hy hou by sy reddingsplan vir die land wat hy spreekwoordelik op die nasionale poorte vasgespyker het met sy bewindsaanvaarding.

Effektiewe regering stort rondom hom in duie en selfs midde-in sy kruistog teen korrupsie steel sy eie kamerade lustig rondom hom voort.

Steenhuisen sit die soms histeriese aanvalle van Maimane op Ramaphosa voort asof dit die grootste bedreiging vir die land is. En sit soos die EFF steeds met leë hande oor die CR17-veldtog.

Dit terwyl Ramaphosa vir die meeste DA-aanhangers ’n positiewe faktor is en groter kwessies aandag verg. En daar nog verwarring is oor op wie die DA nou eintlik as ondersteuners fokus.

As Ramaphosa en Steenhuisen die twee gaan wees wat die politieke doolhof gaan herskik, sal hulle dapper skuiwe moet maak. Grootse staatsmanne en politieke leiers het op ’n dag self ’n besluit geneem en historiese momente so geskep.

Maar voor sulke uitdagende ideale nagestreef kan word, lyk dit of die twee eers groot skuiwe sal moet maak om vir hulself die beweegruimte te skep vir die leierskap wat nodig is.

As hulle deur die juk van voorgangers en beroepspolitici kan breek, sal hulle verbaas wees oor die skare Suid-Afrikaners wat gereed staan om te help.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.