Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Julle mag nie stories oor EFF doen nie’

’n Verbod op enige nuusdekking vir die EFF voor die verkiesing van 2014 was ’n skending van die SAUK se redaksionele beleid, skryf Foeta Krige in dié vertaalde uittreksel uit The SABC 8.

Aan die begin van 2016 was die kaping van die SAUK se nuuskantoor byna voltooi.

Ná jare se geknoei en gekonkel was die pionne in plek en die munisipale verkiesing van Augustus was om die draai.

Die enigste struikelblok in [Hlaudi] Motsoeneng se pad was die redaksionele beleid van 2004 wat die uitvoerende hoof, en nie die bedryfshoof nie, die verantwoordelikheid as hoofredakteur gegee het.

Ek was op 26 Februarie in Kaapstad vir die minister van finansies se begrotingsrede toe ek ’n WhatsApp-boodskap van Suna Venter, my senior regisseur, kry.

Sy was by die oggendkonferensie in Auckland Park waar die verskillende streke en spesialiteitsafdelings die voorgestelde nuusstories van die dag bespreek het.

Thandeka Gqubule, die ekonomiese redakteur, het dit ook bygewoon. Sy het aan die mense wat die vergadering bygewoon het, gesê dat sy opdragte van bo gekry het om nie enige vox pops oor die begroting te gebruik nie.

Suna het gesê die gemoedere het nogal hoog geloop en daar is baie gegil.

Die besluit het my herinner aan die dag toe ek opdrag gegee is om nie enige stories van die EFF op my programme te gebruik nie.

Daar was selfs voorstelle dat die konferensie gekanselleer word, het sy geskryf, en in hoofletters bygevoeg dat Thandeka woedend was.

Ek het geantwoord: “Hoekom is hulle bang vir vox pops? Daar was tog goeie reax op die budget?”

Sy het geantwoord met een woord of altans een naam: “#jimmylogic”. Jimi Matthews was destyds waarnemende groep- uitvoerende hoof.

Ek het ’n paar minute later gevra vir die vir jongste nuus: “Wat is toe besluit? Vox pops of nie?”

Ons is nie toegelaat om vox pops te gebruik nie, is ek in kennis gestel.

Die voorval het my verwar en verontrus. Vox pop is ’n gevestigde stuk gereedskap in die joernalistiek wat dikwels gebruik word om die informele menings van gewone mense te peil. As sodanig gee dit jou ’n flitsbeeld van die openbare mening.

Vox pop is ’n manier waarop die storie weggeneem kan word van die suits en talking heads en om die insette van die mense op die straat te kry. Die besluit om dit nie te gebruik nie het my herinner aan die dag toe ek opdrag gegee is om nie enige stories van die EFF op my programme te gebruik nie.

EFF mag géén dekking kry nie

Foeta Krige het opdrag gekry om nie stories oor die EFF te doen nie. Foto: Felix Dlangamandla

Dit was vroeg in Februarie 2014, drie maande voor die algemene verkiesing en sewe maande ná die stigting van die EFF onder die leierskap van Julius Malema, die uitgesproke en geskorste leier van die ANC-jeugliga.

Sebolelo Ditlhakanyane, destyds die waarnemende hoof van radionuus, het vroeg die dag na my kantoor toe gekom.

Sy het gesê sy was nou net in ’n vergadering waar besluit is dat die SAUK nie enige verdere dekking aan die EFF gaan gee nie. Ek was oorbluf.

Ek het gesê dat dit nie moontlik sal wees om ’n politieke party te ignoreer nie.

Dit was nie net ’n skending van ons redaksionele beleid nie, maar ook van die regulasies van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okasa), ’n hoofstuk 9-instelling en die amptelike reguleerder van kommunikasie en uitsaaiwese in Suid-Afrika.

Ek het aan Ditlhakanyane gesê dat dit nie moontlik sal wees om ’n politieke party te ignoreer nie en dat ons juis ’n onderhoud aangelê het vir ons volgende aktualiteitsprogram.

Sy was openlik senuagtig, maar het terselfdertyd daarop aangedring dat ons die opdragte van bestuur moet uitvoer. Ek het haar in kennis gestel dat ons sal voortgaan met ons beplande uitsending van die onderhoud sowel as die dekking van EFF-geleenthede.

My telefoon het tien minute later gelui. Dit was van die kantoor van Jimi Matthews, hoof van TV-nuus en waarnemende groep- uitvoerende hoof van Nuus, wat my na ’n vergadering ontbied het.

Jimi Matthews, voormalige hoof van TV-nuus by die SAUK, het ná sy bedanking erken dat daar ’n nuusverbod op die EFF was. Foto: Argief

In Ditlhakanyane se teenwoordigheid, het Matthews my aangespreek oor my weiering om by die res van die SAUK aan te pas. Hy het my en my span daarvan beskuldig dat ons glo ons is ’n eiland.

“Daar sal geen bespreking wees nie,” het hy aan my gesê. “Sebolelo is jou lynhoof. As sy jou ’n opdrag gee, sal jy dit uitvoer!”

Ek het probeer terugkap deur te verduidelik dat wat aan die gebeur was herinner het aan die sensuur van apartheid.

“Jy moet nie met my oor apartheid praat nie,” het hy ontplof. “Julle mense, wat het julle gedoen om dinge te verander? Jy sal opdragte van Sebolelo uitvoer!”

Ek het uit my stoel opgestaan en besef dat enige verdere bespreking futiel sal wees.

Die SAUK het ’n verklaring uitgereik waarin hy ontken het daar was ’n verbod op die uitsaai van EFF-bedrywighede.

“As sy my ’n opdrag gee, sal ek luister, dit evalueer en dienooreenkomstig optree. Ek weet jy is baie besig, so ek gaan jou nou verlaat,” het ek gesê voor ek uit sy kantoor gestap het.

Kort ná ons ontmoeting het die SAUK ’n verklaring uitgereik waarin hy ontken het daar was ’n verbod op die uitsaai van EFF-bedrywighede. Drie maande later het Malema en sy EFF aan hul eerste algemene verkiesing deelgeneem en 6,3% van die steun gewen.

Matthews het die kwessie nooit weer met my bespreek nie.

Ná sy bedanking in 2016 het hy wel bevestig dat opdragte inderdaad uitgereik is om nie enige lugtyd aan die EFF te gee nie.

Dit is daarom nie moeilik om te verstaan waarom ek twee jaar later ongemaklik was oor die besluit om nie vox pops te gebruik nie, weer net ’n paar maande voor ’n verkiesing.

Opdragte van die 27ste vloer

Hlaudi Motsoeneng het as bedryfshoof van die SAUK beheer oor die nuuskantoor geneem. Foto: Argief

Boonop het dit nou gelyk asof die opdragte gekom het van die 27ste vloer waar die kantore van die bedryfshoof was, iemand wat glo niks met redaksionele inhoud te doen het nie.

Die stukke van die legkaart het drie maande later, aan die begin van Mei 2016, in plek geval toe dit bekend geword het dat ’n nuwe, hersiene redaksionele beleid vir die openbare uitsaaier in die geheim goedgekeur is.

Die nuwe beleid het Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof, die SAUK se nuwe hoofredakteur gemaak en hom beheer gegee oor alle nuus en inhoud.

As deel van die nuusbestuurspan, was ek oor die jare betrokke by verskeie ontmoetings met Graham Welch, die SAUK se hoofbestuurder van redaksionele beleid en bestuur, om veranderinge aan die redaksionele beleid van 2004 te bespreek.

Die gewysigde redaksionele beleid is in die geheim goedgekeur.

In beginsel was daar geen probleem met die bestaande beleid nie, maar ons het geweet die veranderende media-landskap en die verskyning van sosiale media en digitale platforms het veranderinge genoodsaak.

Welch het ons verseker dat ons meer ontmoetings sal hê voordat die wysigings en veranderings gefinaliseer sal word.

Dit het nooit gebeur nie. Faith Muthambi, minister van kommunikasie, het in Mei 2016 in antwoord op ’n vraag van die DA in die parlement gesê dat die beleid al in Februarie afgeteken is.

Wat sy nie openbaar gemaak het nie, was dat die gewysigde beleid wat in die geheim goedgekeur is dit verpligtend gemaak het om na bo te verwys en die rol en pligte van die uitsaaier se hoofredakteur van die uitvoerende hoof na die bedryfshoof verplaas het.

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter en Jacques Steenkamp het buite die konstitusionele hof kapsie gemaak oor sensuur by die SAUK. Foto: Argief

Ingevolge die ou beleid van “upward referral”, was die onus op individuele joernaliste en uiteindelik die uitvoerende regisseurs om goeie oordeel aan die dag te lê wat etiese en redaksionele oordele en besluite betref. Dit was slegs wanneer daar twyfel was dat ’n lynbestuurder hoër op in die hiërargie geraadpleeg moes word.

Volgens die nuwe beleid, was dit verpligtend om na bo te verwys en het Motsoeneng, as die selfaangestelde hoofredakteur, nou die finale sê gehad.

Ek het op die SAUK se intranet, ons interne kommunikasie-webtuiste, geloer. Die ou redaksionele beleid van 2004 is steeds gelys. Geen woord oor die nuwe beleid is aan die redaksionele personeellede oorgedra nie en dit is nie in enige media-inligtingsessie genoem nie.

Motsoeneng was in algehele beheer van die SAUK en sy nuuskantoor.

Nie eens Welch, die persoon in beheer van die hersieningsproses, het van die veranderinge en goedkeuring geweet nie. Hy het my later vertel dat Motsoeneng die span wat die hersiening moes doen in Februarie 2015 ontbind het, waarna hy nie meer geweet het wat met die proses aangaan nie.

Die nuwe beleid het gelei tot die verwagte protes van opposisiepartye en nieregeringsorganisasies, maar dit het nie veel beteken nie.

Motsoeneng was in algehele beheer van die SAUK en sy nuuskantoor.

* The SABC 8 word deur Penguin Books uitgegee en kos R280.

Meer oor:  Sauk  |  Eff  |  Thandeka Gqubule  |  Jimi Matthews  |  Foeta Krige  |  Sensuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.