Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Jý gaan nie jou huis of plaas verloor nie’

Die grondhervormingsproses van die laaste paar dekades was “absoluut chaoties” en die verkeerde mense vind baat daarby, sê ’n swart boer en raadgewer van pres. Cyril Ramaphosa. Murray La Vita doen verslag.

Deelnemers aan Die Burger se Praat Saam Diskoers-reeks tydens die derde diskoers op die KKNK in Oudtshoorn is (van links) Piet le Roux, bestuurshoof van Sakeliga, prof. Bradley Slade, gespreksleier en akademikus verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se regsfakulteit, Thato Moagi, boer en lid van pres. Cyril Ramaphosa se adviespaneel oor grondhervorming, en Jody Hendricks, RSG-omroeper, .Foto: Murray La Vita

Indien jy iemand is wat grond besit wat produktief is en ekonomiese waarde het, behoort jy jou nie te bekommer oor wat die verandering aan die Grondwet vir jou gaan inhou nie.

Só sê Thato Moagi, ’n boer en ’n lid van pres. Cyril Ramaphosa se adviespaneel oor grondhervorming.

Sy was ’n deelnemer aan Die Burger se Praat Saam Diskoers-reeks op die KKNK in Oudtshoorn.

Die onderwerp van die diskoers was die eiendomsregdebat wat weer aan die opvlam is noudat grondonteiening sonder vergoeding voorlê.

Prof. Bradley Slade, gespreksleier en akademikus verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se regsfakulteit, het gesê die onteiening van eiendom en grond sonder vergoeding laat intense emosies by mense ontstaan en daar is baie teenkanting teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet om spesifiek voorsiening te maak vir die onteiening van grond sonder vergoeding.

Sy eerste vraag aan die paneel was: Watter werklike gevaar hou so ’n wysiging in vir die beskerming van grond en eiendom?

Thato Moagi: “Ons moet grond begin sien as ’n ekonomiese instrument wat maatskaplike transformasie teweeg kan bring.”Foto: Murray La Vita

Moagi het gesê sy fokus op die maatskaplike aspekte van grondhervorming.

“Wat beteken die verandering aan die Grondwet vir gewone Suid-Afrikaners? Die Grondwet maak reeds voorsiening vir die onteiening van grond; die vraagstuk is vergoeding en spesifiek geen vergoeding nie. Geen vergoeding is veral van toepassing op grond wat al lank nie gebruik word nie.”

Maar mense met produktiewe grond en eiendom hoef volgens haar nie te vrees nie. Sy het daarop gewys die regering koop tans wel plase en het ’n begroting om dit te doen.

“Maar wanneer ons sien wat met daardie plase gebeur, besef mens daar is geen ondersteunende meganisme nie. So ek dink ons as samelewing behoort onsself af te vra: Hoe kan ons die proses steun? Ons moet grond begin sien as ’n ekonomiese instrument wat maatskaplike transformasie teweeg kan bring.

“Ons probeer ’n maatskaplike kwessie verander deur ’n paar woorde in die Grondwet te verander en ek dink dit is ’n baie eng benadering.”

Piet le Roux: “Die dieper probleem is dat dit die hele konstitusionele orde in gedrang bring.” Foto: Murray La Vita

Skade aan beleggings

Piet le Roux, bestuurshoof van Sakeliga, meen die wysiging aan die Grondwet hou hoofsaaklik negatiewe gevolge in.

“Die eerste gevolge van hierdie beleid is dinge soos die skade aan buitelandse beleggings in Suid-Afrika en binnelands mense wat óf beleggings weerhou óf geld uit die land uit vat.

Die idee dat ’n maatskaplike orde kan bestaan sonder baie diep respek vir eiendom, impliseer dat mag nie behoorlik gestuit kan word nie.
Piet le Roux

“Die dieper probleem is dat dit die hele konstitusionele orde in gedrang bring. ’n Teks van ’n grondwet moet altyd voldoen aan een of ander dieper reg . . . En wat ons hier het, is dat een van die pilare van ’n konstitusionele orde aangetas word, naamlik dat daar eiendomsreg moet wees ten einde burgers in staat te stel om hulleself te handhaaf, tot hulle reg te kom. Sonder eiendomsreg kan dit nie gebeur nie, en dit werk teen die verspreiding van mag.

“Die idee dat ’n maatskaplike orde kan bestaan sonder baie diep respek vir eiendom, impliseer dat mag nie behoorlik gestuit kan word nie. Dit impliseer instansies van die gemeenskap, van kerke tot skole tot die ekonomie, nie hulleself kan handhaaf teen die arbitrêre uitoefening van mag deur die regering nie.

“Sou hierdie wysiging van die grondwetlike teks deurgaan, dink ek dit sal teen die beginsels van konstitusionalisme self wees, en stuur ons eintlik af op ’n vertrouenskrisis ten opsigte van die konstitusie self.”

Gebrek aan konsensus

In al die gesprekke oor grondbesit waaraan hy al deelgeneem het, was daar een ding wat kop bo water uitgestaan het, het Jody Hendricks, RSG-omroeper, gesê.

“Dit is die gebrek aan konsensus oor die verlede. Al die belangegroepe kry nie konsensus oor wat in die verlede gebeur het nie en dit is hoekom ons met soveel uitdagings rondom die grondkwessie sit. As ons die gesprek vorentoe wil vat, sal dit goed wees om konsensus oor die verlede te kry.

“Wat sê jy vir die Khoi-belangegroepe wat vra: ‘Maar wie het die grond voor 1652 besit?’ Wat sê jy vir ’n boer wat in 1985 ’n plaas gekoop het en sê: ‘Maar ek het 30 jaar lank aan die plaas afbetaal en dís hoe ek dit bekom het.’ Wat sê jy vir mense wat ’n bietjie radikaal is en sê: ‘Die 1913 Land Act het teen swart mense gediskrimineer deurdat hulle nie in sekere areas kon grond besit nie.’ Wat sê jy vir ’n antie wat in Hanoverpark bly wat in die sestigerjare van haar ouers se grond in Constantia afgesit is?

“Dít is hoekom dit so ’n komplekse gesprek is, en waar ons vandag in 2019 sit, het dit tot ’n mate ’n politieke speelbal geword.”

Moagi het die kwessie van wie die mense is aan wie grond gegee word, aangeroer.

“Die laaste paar jaar was dit dikwels mense met politieke konneksies of selfs politici en groot sakemense. Dan is daar plase wat by (wit) private eienaars gekoop is wat dit dan weer by die nuwe swart eienaars huur.

“So, die grondhervormingsproses van die afgelope dekades was absoluut chaoties en die mense wat daarby moet baat vind, vind nié daarby baat nie.

Nie almal het kommersiële behoeftes nie; nie almal wil ’n stuk grond van 550 ha hê waarop hulle met wild kan boer nie.
Thato Moagi

“Mense migreer van landelike gebiede af op soek na werk in stedelike gebiede. Dít is wat tot plakkerskampe en misdaad in die stede en maatskaplike behoeftigheid aanleiding gee.

“Ons moet verstaan dit het vir mense weinig ekonomiese waarde om grond te besit. Mense wil nie noodwendig titelaktes hê nie; baie mense wil net toegang hê tot ’n stukkie grond waar hulle hul gesin kan huisves of dalk groete aanplant. Nie almal het kommersiële behoeftes nie; nie almal wil ’n stuk grond van 550 ha hê waarop hulle met wild kan boer nie. Mense het verskillende behoeftes.”

Hendricks het hierby aangesluit deur te sê hy dink nie ons moet ons so blind staar teen grondbesít as sulks nie.

“Maar ons moet vir alle Suid-Afrikaners toegang gee tot grond; die geleentheid om dit te gebruik. Dít sal ook help om die probleem op te los.”

Bradley Slade: “Die onteiening van eiendom en grond sonder vergoeding laat intense emosies by mense ontstaan.”Foto: Murray La Vita

‘Kyk na staatsgrond’

Slade het gevra hoe gaan ons die hele volk kan akkommodeer met toegang tot huise en toegang tot stedelike gebiede waar die werk en die ekonomiese geleenthede is.

Volgens Hendricks moet ons kyk na kwessies soos die regering se grondbesit en hoe dit bestuur word.

Dan moet ons vra: Het ons régtig ’n gholfklub nodig of moet ons vir die mense grond gee?

“Gegee al die kompleksiteite en die emosie rondom die gronddebat is die feit dat ’n regering soveel grond besit en dit nie aan die mense géé nie, deel van die probleem.

“Dan moet ons vra: Het ons régtig ’n gholfklub nodig of moet ons vir die mense grond gee? Ek weet nie waar dit gaan eindig as ons vir elke persoon in Suid-Afrika grond gaan belowe nie. Dit is nie volhoubaar nie.

“Dit is waarom die proses en hoe dit bestuur gaan word so belangrik is. Kan ons die mense en organisasies wat ons in beheer van daardie proses sit, vertrou?

“Ja, jy gaan natuurlik drukgroepe hê en belangegroepe wat by die gesprek betrokke raak. Maar jy moet ook onthou dat die groot meerderheid van Suid-Afrikaners nie grond het nie; so, waar laat ons dáái belangegroep?

“Ék het nie die antwoorde nie, maar ek dink as ons die gesprek aan die gang kan kry en vorentoe kan vat en moontlik met volhoubare oplossings kan kom, sal dit ’n stap in die regte rigting wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.