Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
JZ se ‘geskenk’ aan SA

Suid-Afrika is tegnies in ’n resessie, die rand bly wisselvallig en gewone Suid-Afrikaners is in sak en as oor “die einde van Ramaforie”. Luister jy egter na Justice Malala, klink dit tóg of daar hoop is, skryf Johanna van Eeden.

Johanna van Eeden

Die ANC het Cyril Ramaphosa nodiger as wat Cyril Rama­phosa die ANC nodig het. Hiermee som Justice Malala, skrywer en politieke ontleder, die spanning in die regerende party op.

Dit klink eenvoudig, maar politiek is nie eenvoudig nie en die tydstip waarop Ramaphosa leierskap van die party oorgeneem het, is waarskynlik een van die kompleksste in Suid-Afrika se geskiedenis.

Want die roeping wat swaar op Ramaphosa druk, is om die ANC te verenig in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing – om te red wat te redde is van ’n eens trotse bevrydingsbeweging nadat dit onder Jacob Zuma se presidentskap in morele bankrotskap gedompel is.

Malala was verlede Donderdag die spreker op ’n sake-ontbyt wat PSG in Johannesburg aangebied het. In sy aanbieding het hy ’n blik gegee op die kragte wat in die ANC teen en ten gunste van Ramaphosa werk. Dit is geen geheim dat die Zuma-faksie, wat in Desember ’n bitter nederlaag by Nasrec gely het, steeds groot invloed in die ANC het nie.

Die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding is aan dié faksie te dankie, sê Malala. Dit was volgens hom nie op Nasrec op die tafel nie, maar in die laaste ure van die konferensie, nadat Rama­phosa die leierskapstryd beklink het, is grondonteiening sonder vergoeding skielik uit die geledere van KwaZulu-Natal op die agenda geplaas. Daarmee is die simboliese gifbeker vir Ramaphosa aangegee.

Daar is talle mense in die ANC wat gekant is teen grondonteiening sonder vergoeding en wat meen dit is onnodig om art. 25 van die Grondwet te wysig. Die pynlike waarheid is dat die ANC oor dekades versuim het om bestaande wetgewing toe te pas om grondhervorming behoorlik te takel.

Eskom se direksie is vervang en Ramaphosa het die grootste kabinetskommeling in 26 jaar aangekondig.

Cyril-stempel tóg afgedruk

Maar, wys Malala uit, daar was ’n ánder aanloop tot die grondkwe­s­sie. Op 24 Februarie 2016 het Zuma hom baie duidelik in sy staatsrede daaroor uitgespreek “omdat hy iets nodig gehad het om die aandag af te trek van die toenemende druk op hom weens Nkandla”.

Met Ramaphosa se oorwinning by Nasrec is dit weer gerieflik afgestof – dié keer om Ramaphosa se aandag en energie van sy eie planne af te lei.

Te midde van die binnewoelinge het Ramaphosa tog daarin geslaag om sy stempel af te druk met ’n stelselmatige proses van skoonmaak en herstel. Eskom se direksie is vervang en Ramaphosa het die grootste kabinetskommeling in 26 jaar aangekondig. Onder die tien kabinetslede wat verwyder is, het verskeie direk aan die Guptas verslag gedoen.

“Die ongelooflikste van alles is wat by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gebeur het,” sê Malala. Tien jaar gelede was mense so trots op dié agentskap, wat beskou is as een van die beste ter wêreld. In die laaste tien jaar is dié uitnemendheid weggekalwe.

Malala sê terwyl talle kleinsakelui vir maande moes wag op BTW-terugbetalings, is R70 miljoen so te sê oornag aan die Guptas terugbetaal.

Dit was die uitwerking van die Zuma-era: die ontstaan van ’n korrupte politieke elite ten koste van wetsgehoorsame burgers.

Malala verwys as ’n voorbeeld na Noordwes, wat onder die voormalige premier Supra Mahumapelo leeggemelk is. Nie ’n énkele munisipaliteit in dié provinsie het oor ’n tydperk van vyf jaar ’n skoon ouditverslag gekry nie. “Inwoners wat water wou hê, moes boorgate sink en diegene wat krag wou hê, het opwekkers gekoop.”

Mahumapelo is intussen verwyder en die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping begin die sluier lig oor die omvang van staatskaping.

Ramaphosa werk op sy eie tyd en daar is nog instellings wat deur die nuwe besem bygekom moet word.

Hoekom dan soveel onsekerheid?

Goeie dinge het dus reeds onder Ramaphosa se leierskap gebeur, maar hoekom is daar in dié tyd soveel onsekerheid by mense?

Malala onderskei tussen institusionele onsekerheid en wesentlike onsekerheid. Institusionele onsekerheid gaan oor duidelikheid oor die reëls van die spel en het direk betrekking op die legitimiteit van staatsinstellings.

Wesentlike onsekerheid hou verband met die uitkoms van die spel en handel oor die persepsies van die regerende politieke elite in ’n demokratiese bestel oor of mag behou gaan word of nie.

Eersgenoemde is die omgewing wat ontset moet word van staatskaping. Laasgenoemde is die wisselvallige politieke omgewing waarin Ramaphosa hom bevind – as individu wat wéét daar is mense wat wil hê hy moet misluk en as partyleier wat onder druk is om die ANC se aansien te herstel.

Presies hoe Zuma in opdrag van die Guptas daarin geslaag het om institusionele onsekerheid te skep en uit te buit, word duidelik uit die verskillende tentakels van die staatskapingsnetwerk. Die Valke, onder leiding van Berning Ntlemeza, wou niemand ondersoek nie. Die nasionale vervolgingsgesag, gelei deur ’n gedweë Shaun Abrahams, wou niemand vervolg nie. En te midde hiervan is die SAID, onder Tom Moyane, omgeskep in ’n stroper wat sy weg deur die staatskoffers gevreet het.

Ramaphosa het Ntlemeza vervang deur adv. Godfrey Lebeya, wat ’n doktorsgraad in strafreg het en spesialiseer in georganiseerde misdaad. “Hier is iemand wat weet hoe om geld van Dubai tot in Johannesburg na te spoor,” sê Malala.

Ramaphosa werk op sy eie tyd en daar is nog instellings wat deur die nuwe besem bygekom moet word, sê Malala. Soos die kantoor van die openbare beskermer . . .

Hy meen Ramaphosa “vaar nie te sleg nie”, maar dat die publiek beslissende leierskap wil sien – die vinnige en doeltreffende afhandeling van die grondkwessie, die verbetering van rasseverhoudings en ingryping in die ekonomie om staatskuld onder beheer te kry en werkloosheid te bekamp.

Intussen sit hy met die EFF op sy voorstoep – die enigste party wat heeltyd konsekwent was in die gronddebat.

Kommer oor populisme

Wat hom wel bekommer, is dat dit lyk of interne druk Ramaphosa noop om populistiese uitsprake te maak. Dit is onnodig, want Rama­phosa het genoeg steun búite die ANC dat hy nie populisties hoef te wees nie. ’n Groter bron van kommer, sê Malala, is die vraag óf Ramaphosa ’n plan het, want dit is nie altyd duidelik nie. En selfs al hét hy ’n plan, word sy energie getap deur interne aanslae uit veral die Zuma-kamp in KwaZulu-Natal.

Malala sê hy vermoed Ramaphosa het gedink hy sou gouer die angel kon trek uit die JZ/NDZ-faksie, maar dat die grondkwessie hom onkant betrap het.

Intussen sit hy met die EFF op sy voorstoep – die enigste party wat heeltyd konsekwent was in die gronddebat. Neem jy egter die grondkwessie weg by die EFF, bly daar nie veel van die party oor nie, sê Malala . . . behalwe dat Julius Malema weet hy het die mag om die skaal te swaai in gesprekke van koalisiepolitiek.

Malala sê die DA loop op sy beurt die gevaar om in volgende jaar se verkiesing steun te verloor omdat hy die afgelope jaar opgeslurp is deur binnegevegte. In dié konteks, meen hy, gaan die ANC volgende jaar weer die verkiesing wen.

Wat het ’n mens dan om oor positief te voel? Eerstens “die grootste geskenk wat Nelson Mandela vir ons gegee het”. Nie die reënboognasie nie, maar die feit dat één termyn as president vir hom genoeg was en hy nie soos Robert Mugabe vir dekades aan mag bly klou het nie.

Tweedens, Zuma se nalatenskap. “Zuma het vir ons gewys ons gaan nie gered word deur politici nie. Ons moet onsself red deur sterk burgerlike instellings.”

En derdens die wete dat daar goeie mense in Suid-Afrika is. Mense soos Mcebisi Jonas, wat nee gesê het vir R600 miljoen se omkoopgeld.

Johanna van Eeden is ’n vryskutjoernalis.

Meer oor:  Nasrec  |  Johanna Van Eeden  |  Jacob Zuma  |  Sa  |  Aktueel  |  Zuma-Era  |  Ekonomie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.