Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kabinet: Is Ramaphosa-faksie nou stewig in beheer?

Die Zuma-faksie se gety is blykbaar besig om te draai, skryf Steven Friedman. Maar is daar ’n ander bedreiging vir pres. Cyril Ramaphosa van binne die ANC?

Pres. Cyril Ramaphosa en adj.pres. David Mabuza wens mekaar geluk by die presidensiële gastehuis. Foto: Felix Dlangamandla

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n kabinet gekies wat wys hy en sy bondgenote dink hulle is nou ferm in beheer van die regerende party en dié se agenda. Wat nog nie duidelik is nie, is of hulle reg is.

Ramaphosa se keuse vir die kabinet was besonder belangrik want die regering in Suid-Afrika het voor ’n kruispad te staan gekom.

Die regerende ANC is die afgelope tyd verniel deur faksiegevegte tussen die president se bondgenote en ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma.

Ramaphosa se groep het beloof om die misbruik van staatsgeld en vertroue te stop waarvan die Zuma-faksie beskuldig word. Maar hul geloofwaardigheid word geskaad deur die bewering dat hulle nie sterk genoeg is om terug te slaan teen die Zuma-faksie se invloed oor die ANC nie. Hul kritici wys op die volgehoue teenwoordigheid in die nasionale regering van ministers in die Zuma-faksie wat aangekla word van wanpraktyke.

’n Sleutelaanwyser van of die regering die openbare vertroue kan terugwen is dus wie Ramaphosa in sy kabinet aanstel.

...regerende partyleiers wat nie vir hul opponente in die party poste gee nie, word maklik daarvan beskuldig dat hulle probeer om die regering te suiwer...

Voor die aankondiging het dit gelyk asof hy en sy meelopers ’n onmoontlike taak het. Hulle moes gestand doen aan hul belofte om die kabinet te verklein. Maar hulle moes weet dat, in enige regerende party, beteken minder werk meer wrokkigheid: Een rede hoekom Zuma die ANC president geword het ten koste van sy voorganger Thabo Mbeki is dat Mbeki byna nooit ministers vervang het nie en dus het ANC politici geglo hul werkvooruitsigte is skraal totdat hy in die pad gesteek word.

Tweedens moes die Ramaphosa-groepering aan die openbare verwagtinge voldoen om Zuma-ministers te verwyder. Maar regerende partyleiers wat nie vir hul opponente in die party poste gee nie, word maklik daarvan beskuldig dat hulle probeer om die regering te suiwer en hulle mag teëstand kry van diegene buite hul faksie.

Patricia de Lille word beëdig as minister van openbare werke deur hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Felix Dlangamandla

Slegs vyf Zuma-ministers

Gegewe hierdie struikelblokke stuur die kabinet se aanstellings ’n duidelike boodskap: Ramaphosa glo dat, aangesien hulle die ANC se stempersentasie verbeter het in vergelyking met die 2016- munisipale verkiesing – die eerste keer in 15 jaar dat hulle beter gedoen het in enige verkiesing as in ’n vorige een – hulle stewig in beheer is.

So net een uit sewe ministers is deel van die Zuma-groep en nie een van hulle is in poste wat in die regering beskou word as senior poste nie.

Slegs vyf van die 28 ministers word verbind met die Zuma-faksie: Een van hulle, Nkosazana Dlamini-Zuma, vereenselwig haar waarskynlik nou nie meer met dié faksie nie. Sy was dié faksie se keuse vir president, maar sy was selfs toe nie oorentoesiasties oor hul manier van politiek speel nie, en blyk nou selfs minder opgewonde daaroor te wees.

So net een uit sewe ministers is deel van die Zuma-groep en nie een van hulle is in poste wat in die regering beskou word as senior poste nie. Die kabinet is verklein hoewel (soos wat Ramaphosa erken het toe hy die aanstellings aankondig) nie so veel soos wat hy sou wou nie. Hy was so min bekommerd oor teëstand binne die ANC dat hy ’n politikus uit opposisiegeledere, die voormalige burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, as sy minister van openbare werke aangestel het.

Ramaphosa en sy faksie het nie weerstand binne die ANC geïgnoreer nie. Die kabinet is vyf dae nadat hy ingehuldig is aangekondig, ’n ongewoon lang vertraging: Die aankondiging is op die dag twee keer uitgestel. Dit het daarop gedui dat daar intense onderhandelings binne die ANC was.

Die Ramaphosa-groep het een belangrike stryd verloor. Hulle het gehoop om die aantal adjunkministers drasties te besnoei. Dit lyk egter asof hulle die knie gebuig het voor verskeie drukgroepe, onder meer die Zuma-faksie. Daar is 34 adjunkte, drie minder as onder Zuma. Minstens 12 van hulle is in die Zuma-faksie.

Maar hul strategie was blykbaar om in te gee net indien hulle geglo het dit sou hulle nie keer om die kabinet aan te stel wat hulle nodig het om hul agenda te bevorder nie. So net soos toe Ramaphosa sy eerste kabinet saamgestel het, het hulle Zuma-faksielede aangestel in poste wat nie sentraal staan tot hul planne nie – óf as adjunkministers wat nie lede is van die kabinet nie en wat geen sê het oor sy besluite nie.

Foto:

Die Mabuza-bedreiging

Die kabinet stuur die boodskap vir die Zuma-faksie dat die Ramaphosa-groep glo hulle (die Zumaniete) is aan die taan en dat hulle nie sterk genoeg is om die gety te laat draai nie. Hulle is waarskynlik reg.

Eerstens was die verkiesing ’n groot nederlaag vir die Zuma-faksie. Drie partye wat gevorm is deur, of wat politici ingesluit het met bande met dié faksie, het nie hond haaraf gemaak in die Mei-verkiesing nie. Terwyl partye wat gevorm is deur ondersteuners van faksies wat ANC-veldslae verloor het, meer as 8% van die stemme op hul verenig het in 2009 en 6% in 2014, het die drie partye – Die African Transformation Movement, die African Content Movement en Black First, Land First – net 0,6% van die stemme gekry.

In Noordwes het die verwydering van ’n Zuma-faksie premier en sy vervanging deur ’n lid van die Ramaphosa-faksie die ANC se stemme versterk, wat geval het onder 50% gedurende tussenverkiesings, tot meer as 60%. Indien hulle weer die ANC sou probeer lei, sou die party waarskynlik sy meerderheid verloor, en die meeste aktiewe ANC-lede moet dit weet.

Tweedens het Ramaphosa se regering die kapasiteit van die nasionale vervolgingsgesag versterk om misdade te vervolg wat gepleeg is deur politici wat daarvan beskuldig word dat hulle hul openbare amp misbruik. Daar is tekens dat sleutel-Zuma-faksie politici in die spervuur is. Dit sal hul politieke rol kortwiek en verdere skade doen aan hul geloofwaardigheid.

Mabuza is nou polities geïsoleer: Die Zuma-faksie voel hy het hulle verraai terwyl die Ramaphosa-faksie hom nog nooit vertrou het nie.

Maar daar is ’n potensiële bedreiging vir Ramaphosa van binne die ANC. Die adjunkpresident, David Mabuza, was ’n sleutelfiguur in die Zuma-faksie. Hy het afstand gedoen daarvan om eenheid tussen die faksies aan te moedig en hy was grootliks verantwoordelik vir Ramaphosa se oorwinning want hy het sy provinsiale afgevaardigdes toegelaat om te stem soos hulle wou in plaas daarvan om die stemblok vir Dlamini-Zuma te gee wat hy belowe het.

Mabuza is nou polities geïsoleer: Die Zuma-faksie voel hy het hulle verraai terwyl die Ramaphosa-faksie hom nog nooit vertrou het nie. Maar buig of bars, hy blyk vasberade te wees om homself te bly herskep. In die weke voor die kabinet se aanwysing was daar gerugte dat hy nie heraangestel sou word nie. Hy het daarop gereageer deur sy beëdiging as lid van die parlement uit te stel en voor die ANC se integriteitskomitee te verskyn om te antwoord op bewerings van korrupsie wat in The New York Times gepubliseer is. Sy doel was waarskynlik om hierdie bewerings te diskrediteer en hom dus voor te stel as ’n voorstander van “skoon” regering en ’n geloofwaardige volgende president.

Pres. Cyril Ramaphosa se kabinetskeuse was besonder belangrik want die regering in Suid-Afrika het voor ’n vurk in die pad te staan gekom.Foto: Felix Dlangamandla

Bedreiging het verskuif

Sy plan het op kort termyn gewerk – hy is terug as adjunkpresident. Dit kan egter dit vir hom moeiliker maak om steun te bou. Die geskiedenis van die ANC wys vir ons dat kandidate wat uit die regering verwyder word baie tyd het om steun te werf. Party het dit gebruik om verkies te word tot nasionale of provinsiale ampte. Mabuza sal nou minder tyd hê om agter die skerms ’n veldtog te voer terwyl hy sy regeringspligte moet uitvoer.

Dit lyk asof daar vir hom te veel hekkies is om te oorkom om die volgende president te word – vir hom en sy bondgenoot Paul Mashatile, die ANC se tesourier. Maar hy is steeds ’n meer waarskynlike aanspraakmaker as die Zuma-faksie. Indien hy wel aspirasies het om die ANC te lei, sal die bedreiging vir die Ramaphosa-groep verskuif van die Zuma-faksie tot by Mabuza.

*Hierdie stuk het aanvanklik op The Conversation verskyn. 

*Steven Friedman is 'n professor in politieke studies aan die Universiteit van Johannesburg. 

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  David Mabuza  |  The Conversation  |  Faksies  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.