Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kamala Harris volg in ander swart vroue se spore

Voor Kamala Harris het talle ander swart vroue om die visepresidentskap van die VSA meegeding, skryf Sharon Austin.

Kamala Harris is nie die eerste swart vrou wat meegeding het om die Amerikaanse visepresidentskap nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die verkose visepresident van Amerika is die Amerikaanse dogter van Jamaikaanse en Indiese immigrante.

Met Joe Biden se geprojekteerde oorwinning oor pres. Donald Trump, breek senator Harris deur ’n grens van 300 jaar deur die land se eerste vroulike visepresident, eerste swart visepresident, en eerste swart, vroulike visepresident te word. Harris is ook van Indiese afkoms, wat die 2020-verkiesing ’n belangrike eerste vir gemeenskappe van kleur maak.

Joe Biden, self ’n voormalige visepresident, verstaan die betekenis van dié rol. Foto: Mark Makela/Getty Images

Harris was nie die eerste swart vroulike visepresidentskandidaat in die Amerikaanse geskiedenis nie. Charlotta Bass, ’n Afro-Amerikaanse joernalis en politieke aktivis van Kalifornië, het in 1948 onder die vaandel van die Progressiewe Party om dié pos meegeding.

Voordat sy Biden se verkiesingsmaat geword het, was Harris sy teenstander in die Demokratiese presidensiële voorverkiesing. Sy is een van talle swart Amerikaanse vroue wat al, ondanks groot uitdagings, na die hoogste amp in die land gemik het.

Hande wat eens katoen gepluk het

Afro-Amerikaners moes baie oorkom om politieke mag in Amerika te kry, onder meer slawerny, Jim Crow [’n neerhalende term vir swart mense; iets soortgelyk aan die k-woord] en die feit dat hulle geen stemreg gehad het nie.

Veral swart vroue het voor een hindernis ná die ander te staan gekom. Vroue het eers in 1920 stemreg gekry en selfs toe kon swart mense – onder wie vroue – in groot dele van die suide steeds nie stem nie. In die 1960’s het swart vroue gehelp om die burgerregte-beweging op die been te bring, maar is hulle uit leiersposte gehou.

Swart vroue kyk in Miami na Kamala Harris se eerste toespraak as die 49ste verkose Amerikaanse visepresident. Foto: Johnny Louis/Getty Images

Ek ondersoek kwessies soos hierdie in die regering-en-minderheidspolitiek-klasse wat ek as professor in politieke wetenskap aanbied. Maar ek sê ook vir my studente dat swart vroue ’n geskiedenis het van politieke ambisie en prestasie. Soos eerw. Jesse Jackson sr. in 1984 gesê het oor die vordering wat swart kiesers die afgelope eeu gemaak het: “Hande wat eens katoen gepluk het, sal nou ’n president kies.”

Swart vroueburgemeesters lei vandag verskeie van Amerika se grootste stede, insluitend Atlanta, Chicago en San Francisco. Swart vroue is polisiehoofde, goewerneurskandidate, en in groeiende getalle lede van die Amerikaanse kongres.

En nou sien swart vroue iemand uit hul eie geledere wat eens nie eens vir ’n president kon stem nie, wat nog te sê president wórd, een stap weg van die Oval Office.

Ongeskik vir die pos?

Kamala Harris is ’n Demokraat wat as Kalifornië se prokureur-generaal en later as een van die staat se senators gedien het. Maar histories het die meeste swart vroue-presidentskandidate as onafhanklikes aan die wedloop deelgeneem.

Charlene Mitchell, Amerika se eerste swart vroulike presidentskandidaat. Foto: Catesby Holmes, CC BY

In 1968 het die 38-jarige Charlene Mitchell van Ohio die eerste swart vrou geword om as president te staan – as kommunis. Soos baie ander Afro-Amerikane wat in die 1930’s gebore is, het Mitchell haar by die Kommunistiese Party aangesluit weens dié party se klem op ras- en gendergelykheid. Swart vrouekommuniste het vir mans en vroue van alle rasse geveg teen Jim Crow, die lynch van mense en onregverdige arbeidspraktyke.

Mitchell se presidensiële veldtog, wat op burgerregte en armoede gefokus het, was waarskynlik van meet af aan tot mislukking gedoem. In 1968 het talle state nie kommuniste op die stembrief toegelaat nie. Daarby het media-instellings van die Boston Globe tot die Chicago Tribune Mitchell se “ongeskiktheid” as kandidaat aan die groot klok gehang omdat sy sowel swart as ’n vrou was. Mitchell het net 1 075 stemme gekry.

Ander onafhanklike swart vroue-presidentskandidate sluit in die gemeenskapsaktivis Margaret Wright wat in 1976 onder die vaandel van die People’s Party deelgeneem het, en Isabell Masters, ’n onderwyser wat haar eie party – Looking Back – gestig het en in 1984, 1992 en 2004 deelgeneem het.

Net een swart vrou het ooit meegeding om Republikeinse benoeming – Angel Joy Charvis, ’n godsdienstige konserwatiewe van Florida ...

In 1988 het die sielkundige Lenora Fulani die eerste vrou en die eerste Afro-Amerikaner geword om in al 50 state op die stembrief te verskyn. Sy het as onafhanklike kandidaat aan die presidentsverkiesing deelgeneem en het meer stemme behaal as enige vrou voor haar in só ’n Amerikaanse verkiesing. Die onderwyser Monica Moorehead het in 1996, 2000 en 2016 onder die vaandel van die Workers World Party aan die presidentsverkiesing deelgeneem.

In 2008, die jaar toe Barack Obama tot president verkies is, was Cynthia McKinney, ’n voormalige Amerikaanse verteenwoordiger van Georgia, ’n benoemde van die Groen Party. En in 2012 het Peta Lindsay onder die vaandel van die Party for Socialism and Liberation teen Obama gestaan.

Net een swart vrou het ooit meegeding om Republikeinse benoeming – Angel Joy Charvis, ’n godsdienstige konserwatiewe van Florida, wat haar kandidaatskap in 1999 wou gebruik om ’n “nuwe soort Republikein te lok”.

‘Kwaai seksisme’

Daardie swart vroue-presidentskandidate was nie juis bekend nie. Maar as die eerste swart vrouelid van die Amerikaanse kongres het Shirley Chisholm jare se ondervinding as openbare amptenaar gehad en ’n nasionale reputasie toe sy in 1972 die eerste swart Amerikaner en die eerste vrou geword het wat om die Demokratiese Party se benoeming vir as presidentskandidaat meegeding het. Die slagspreuk van haar veldtog was “Unbought and Unbossed”.

Shirley Chisholm kondig haar kandidaatskap vir die presidentskap aan. Foto: Don Hogan Charles/New York Times Co. via Getty Images

Chisholm, wat grootliks met haar kredietkaart vir haar veldtog betaal het, het haar op burgerregte en armoede toegespits. Sy het die slagoffer van kwaai seksisme geword. Een artikel in die New York Times van Junie 1972 het haar voorkoms beskryf as “Nie pragtig nie. Haar gesig is benerig en hoekig, haar neus is wyd en plat, haar oë is klein, amper kraalagtig, en haar nek en ledemate is rietskraal. Haar uitstaantande verklaar waarskynlik waarom sy merkbaar lispel.”

’n Muurskildery deur die kunstenaar Danielle Mastrion in die Shirley Chisholm-staatspark, wat in 2019 in Brooklyn, New York geopen het. Foto: Catesby Holmes, CC BY

Chisholm het min steun van swart en vrouekiesers gekry en nie een voorverkiesing gewen nie. Die swart vroue wat in haar voetspore gevolg het van die kongres tot by die Demokratiese Party se presidensiële voorverkiesing, insluitend senator Carol Moseley Braun van Illinois en Harris self, het nie veel meer sukses behaal nie. Harris was onder die eerste kandidate van die Demokratiese Party om in Desember in die voorverkiesing te val.

Uitdagings vir swart vroue

Hoekom het dié kandidature en dié van ander swart vroue wat na hoë poste gemik het misluk? In my navorsing het ek bevind Amerika se swart vroue-presidentskandidate het in die meeste gevalle nie die stembrief gehaal nie. Dié wat wel het, het gesukkel om finansiering te kry.

Omdat hul kandidature nie deur die media ernstig opgeneem is nie, was dit vir hulle moeilik om hul boodskap by mense uit te kry. Histories het swart vroue-presidentskandidate nie enige noemenswaardige steun van enige segment van die Amerikaanse kiesers, insluitend swart Amerikaners en vroue, gekry nie.

Mense – selfs diegene wat dalk daardeur bemoedig was dat iemand wat soos hulle lyk na die Withuis mik – het gedink hulle kan nie wen nie.

As tweemalige visepresident wat ’n belangrike regeringsrol onder pres. Obama gespeel het, weet Biden wat die pos behels. In Harris het hy ’n vrou wat hom nie net gehelp het om die verkiesing te wen nie, maar wat ook gereed is om te regeer.

November 2020 is ’n waterskeidingsjaar vir Afro-Amerikaners, Asiatiese Amerikaners, en vir vroue wat vir so lank van so baie aspekte van die politiek uitgesluit is.

• Austin is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Florida. Dié artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.