Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kampus-onrus: Waarheen nou met ras?

Dit lyk asof die wittebrood in Suid-Afrika verby is. Eerder as versoening, is die strydkreet van die oomblik regverdigheid. Veral op kampusse het die kwessie van ras en rassisme opnuut ’n brandpunt geword, skryf Desmond Painter.

In ’65 tension was running high at my high school

There was a lot of fights be­tween the black and white

There was nothing you could do

Two cars at a light on a Saturday night, in the back seat there was a gun

Words were passed in a shotgun blast

Troubled times had come to my hometown

Só sing Bruce Springsteen in 1984 oor die wêreld van sy jeug, maar vir baie van ons wat in die RSA gebore is, nie in die VSA nie, en in die 1980’s grootgeword het, kon

Taal van die verdrukker? ’n Chaos het onlangs by die Universiteit van Pretoria uitgebreek nadat ’n openbare vergadering oor dié universiteit se taalbeleid gekanselleer is. Lede van die EFF Students Command, die ANC, die Pan Africanist Student Movement en TUKS UPrising het daarna deur die universiteit gestorm en ’n klas ontwrig. Foto: Theana Breugem

“My Hometown” net sowel oor óns wêreld gehandel het. ’n Wêreld waarin ras nie net ’n muur was wat tussen landgenote opgerig is nie, maar ’n beginsel van daaglikse verontmensliking en van verset. ’n Wêreld van aparte woonbuurte en geriewe, van Terre’Blanche en Tutu, van Bles Bridges en Brenda Fassie. ’n Wêreld onverbiddelik in wit en swart geteken.

En toe, in die vroeë 1990’s, stort hierdie rasgedefinieerde wêreld in duie. Apartheid word beëindig, Nelson Mandela dra ’n Springboktrui, Anton Goosen en Lucky Dube sing saam aan ’n nommer-1-treffer, en in Egoli word sonder vrees oor die kleurgrens heen gevry.

Die metafoor vir ons post-apartheid-saambestaan was die reënboog; ons morele en politieke uitdaging, versoening.

Twintig jaar later lyk dit egter asof die wittebrood verby is – of, afhangend van wie jy vra, asof nog heeltemal te veel brood in wit hande is. Eerder as versoening, is die strydkreet van die oomblik geregtigheid; en dit is in hierdie konteks, en veral op ons kampusse, dat die kwessie van ras en rassisme opnuut ’n brandpunt geword het.

Dit is ’n merkwaardige ontwikkeling. Tien jaar, nee, selfs vyf jaar gelede nog het studente gereeld gekla omdat ek in my sosialesielkunde-modules aan die “verouderde” onderwerp rassisme aandag gegee het.

Deesdae is sulke klagtes haas ondenkbaar. Studente word daagliks gedwing – nie deur dosente en leerplanne nie, maar deur hul alledaagse interaksie – tot nadenke oor hul witheid, hul swartheid, hul bevoorregting, hul historiese pyn.

Kritiese teorieë oor ras en rassisme het deel van die openbare diskoers geword. ’n Swart student het onlangs in ’n gesprek met my oor haar betrokkenheid by Open Stellenbosch die revolusionêre teoretikus Frantz Fanon aangehaal, onbewus daarvan dat sy dit doen.

Beleef ons dus tans ’n soort terugkeer van ras en rassisme in Suid-Afrika? Vir baie blyk dit die geval te wees, selfs al word op ingrypend verskillende maniere uitdrukking aan hierdie gewaarwording gegee. Ons sou, argumentshalwe, drie posisies in die ontvouende debat kon identifiseer.

Die eerste is ’n konserwatiewe posisie. Vir iemand soos Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, en sy geesgenote is rassisme inderdaad opnuut ’n probleem, en vandag meer as in enige ander tyd sedert 1994 – maar dit is nou ’n omgekeerde rassisme wat geld. Swart het baasskap verklaar oor wit, en dit is veral Afrikaners wat aan die agterste speen moet suig.

Volgens hierdie posisie is die ANC-regering skuldig aan rassisme teen wit mense, en dit kry gestalte in transformasie, regstellende aksie, sportkwotas en ander rasgebaseerde intervensies. In die volksmond: “Omgekeerde apartheid!”

“It’s just,” sê sy, “that Stellenbosch is so white, everything is white, even the historical buildings are all white!”

Verder is die regering, volgens hierdie siening, ook skuldig daaraan dat hy die begrip “rassisme” opportunisties aanwend om sy kritici die mond te snoer. In die volksmond: “Ja-nee, nou blameer hulle weer apartheid!”

Mulder en sy geesgenote ontken en verskoon nie wit rassisme nie, maar hulle beskou dit as betreurenswaardige aksies van sommige individue, nie as ’n strukturele dimensie van die post-apartheid-samelewing nie.

Inteendeel, wit mense bevind hulle toenemend in posisies van politieke en maatskaplike weerloosheid. Daar word na sowel plaasmoorde as wit armoede deur die lens van omgekeerde rassisme gekyk.

Die tweede posisie in die debat – gewild by rubriekskrywers, radioaanbieders en selfverklaarde “progressiewe” Afrikaners – is liberaal. Hiervolgens bevind Suid-Afrika sigself inderdaad in ’n era ná ras en rassisme, maar dit is nietemin ’n brose, kosbare vrede wat deur die stille meerderheid, alledaagse Suid-Afrikaners wat in groot mate kleurblind en nierassisties deur die lewe gaan, beskerm moet word – teen ongetransformeerde wit rassiste en populistiese swart demagoë.

Hierdie posisie verskil van die eerste in die mate dat wittes en Afrikaners nie as slagoffers gesien word nie en dat maatreëls soos regstellende aksie en kwotas in beginsel ondersteun word – mits dit regverdig toegepas word en relatiewe “meriete” nie te ernstig ondermyn word nie.

Dryf hulle in die see! ’n Tuks-student hou ’n plakkaat omhoog voordat geweld tussen pro-Engelse en pro-Afrikaanse studente op die hoofkampus van die UP uitgebreek het. Die universiteit is gesluit ná ’n beroep deur die EFF dat Afrikaans as onderrigtaal geskrap moet word. Dit het tot tweespalt op die kampus gelei en tot geweld tussen onder meer die EFF en AfriForum. Foto: Deaan Vivier

Trouens, vanuit hierdie posisie word Mulder en ander “konserwatiewe” Afrikaners se politiek met agterdog bejeën; ’n teruggryp na etniese afstigting, op sigself ’n soort gesaniteerde rassisme eerder as ’n vooruitskouende, inklusiewe kosmopolitisme.

Daar is ’n sterk moralistiese ywer te bespeur by verteenwoordigers van hierdie benadering. Hulle bestee heelwat tyd om ope briewe oor hul wit bevoorregting aan mekaar te skryf, om hulle op Facebook en Twitter te distansieer van lomp rassiste soos Penny Sparrow en Dan Roodt, en om hulle in die algemeen te bewys as goeie, getransformeerde wittes.

In die volksmond: “Ons is nie almal so nie!”

Daar is ook ’n derde, toenemend radikale posisie in die debat.

Hiervolgens is die post-apartheid-konsensus ’n leuen; Suid-Afrika is nog nie naasteby nie­ras­sig nie. Inteendeel, die konserwatiewe aanspraak op wit slagofferskap en die liberale strategie om rassisme na buite te projekteer, op regse takhare en populistiese belhamels, kamoefleer bloot die mate waarin wit oorheersing en bevoorregting nog gehandhaaf word en die maniere waarop dit in stand gehou word.

Volgens hierdie posisie is iemand soos Sparrow nie bloot ’n immorele pretbederwer wat ’n fundamenteel nierassige ruimte besoedel het nie, maar ’n simptoom wat ’n meer algemene kondisie blootlê.

Die naam van hierdie kondisie is “witheid”. In die volksmond: “White privilege must fall!

Maar wat beteken hierdie aanklag teen witheid?

’n Nagraadse student, ’n jong swart vrou, sit onlangs in my kantoor en sê dat sy nog nooit so swart gevoel het soos in Stellenbosch nie. Nee, sê sy, dit is nie dat daar aktief teen haar gediskrimineer word nie; alhoewel sy stories kan vertel van klein vernederings, onbedoelde beledigings, wantroue en lomp interaksies.

Ons vir jou: Lede van die groep Open Stellenbosch hou verlede jaar die ou Suid-Afrikaanse vlag omhoog by die verwydering van ’n plaket ter ere van dr. H.F. Verwoerd uit die voorportaal van die rekeningkunde-en-statistiek-gebou aan die Universiteit Stellenbosch (US). Prof. Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, het toe gesê die US wil nou saam met sy studente “die pad van inklusiwiteit” loop. Foto: Denvor de Wee

It’s just,” sê sy, “that Stellenbosch is so white, everything is white, even the historical buildings are all white!

Om in Stellenbosch swart te wees, gaan sy voort, is om altyd gereed te moet wees om jou teenwoordigheid te moet verduidelik.

“Ja, ek is ’n student hier, ek studeer in hierdie gebou.”

“Nee, ek kan jou nie help nie; ek werk nie in hierdie winkel nie.”

Om in Stellenbosch swart te wees is om ’n onsigbare kaart te internaliseer; die dorp en sy kuierplekke is steeds opgedeel in wit en swart sones. In party plekke voel jy gewoon nie gemaklik nie, in ander beslis onveilig.

Om in Stellenbosch swart te wees, en dit is in mindere of meerdere mate waar vir alle histories wit Suid-Afrikaanse ruimtes, is om altyd bewus te wees van jou liggaamlikheid. Om, heel letterlik, tot jou liggaam gereduseer te word. Jy is eerstens ’n swart liggaam, daarna ’n mens. Selfs wanneer jy praat, word die mate waarin jy “wit” klink, “good English” gebruik, ’n teken van jou intelligensie. En omgekeerd.

Hierdie ervaring van swart wees in ruimtes wat witheid veronderstel en onsigbaar maak, selfs terwyl daardie einste witheid tot norm verhef is, is nie tot my student beperk nie. Dit is ook nie tot Stellenbosch beperk nie. Dit is die ervaring van duisende swart studente aan universiteite oor die hele land; ’n beliggaamde gewaarwording dat, ondanks individuele welwillendheid, ondanks beginsels van inklusiwiteit, die swart liggaam steeds anders, steeds minder, geag word as die wit liggaam. Dat die swart liggaam byna patologies na witheid moet aspireer om te oorleef.

Die bron van jong swart woede, volgens my student, is nie eerstens die karikatuuragtige vooroordele van individuele wit rassiste nie. Die woede word juis gegenereer daardeur dat gemiddelde, dikwels goedbedoelende wit mense steeds onbewus is daarvan dat hul lewenstyl, liggaamlikheid en praktyke as ’n maatstaf vir menslikheid dien.

My student verwerp die ­selfdinende moralisme van wit liberalisme met minagting. “I don’t need white apologies or ­liberal outrage!”

Want selfs hierdie liberale posisie spreek van wit bevoorregting: die vermoë om jouself ánderkant die morsige storie van ras en rassisme te posisioneer. Om skotvry van die geskiedenis af te kom.

Wit bevoorregting is dus nie bloot die finansiële voorsprong wat wittes onder kolonialisme en apartheid opgebou het nie. Dit is ’n vorm van sosiale en kulturele kapitaal. Dit behels die instandhouding van koloniale identiteite en verhoudinge op die vlak van dikwels ongeskrewe, subtiele institusionele praktyke en interpersoonlike prosesse. Dit behels die onmerkwaardigheid daarvan om in ’n restaurant, in ’n raadsaal of op ’n strand wit te wees.

Wat kan ons leer uit my student se ervaring?

Wit en swart rassisme is nie ekwivalent nie. In die Suid-Afrikaanse konteks is rassisme ’n stelsel wat wit mense nie bloot histories bevoordeel het nie, maar ons almal verstar het in ’n ideologie wat witheid tot ’n norm verhef het.

Rassisme is ’n onafgehandelde verhaal van wit meerderwaardigheid en swart geringskatting, nie bloot die verhaal van konflik tussen gelyke groepe en wedersydse vooroordele nie. Die psigies-politieke gevolge hiervan gaan nog lank met ons wees, en “kleurblindheid” is onvoldoende om dit te korrigeer.

Eerder as om ons tot op die drumpel van ’n rasseoorlog te bring, het ’n nuwe generasie studente-aktiviste ons ’n guns bewys om ras en rassisme weer ’n gespreksonderwerp te maak.

Hulle is reg: Witheid, in die ideo­logiese sin van ’n hiërargisering van menslikheid, moet val. Ons uitdaging is egter om te sorg dat ras nie opnuut ’n beginsel van politieke mobilisering word nie.

Die antwoord op witheid is nie swartheid nie, maar ’n hernude poging om inhoud te gee aan ’n nierassige samelewing.

Desmond Painter is ’n medeprofessor in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Universiteite  |  Ras  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.