Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan die ANC homself regruk?

Die ANC se pogings om ’n nuwe baadjie aan te trek was die afgelope weke meestal twee treë vorentoe en een en ’n halwe tree terug. Theuns Eloff vra wat dié party moet doen om homself moreel te herstel.

Is pres. Cyril Ramaphosa daartoe in staat om sy party op die pad van herstel te lei? Foto: Foto24

Die toekoms van Suid-Afrika is steeds nou verbonde aan hoe dit binne die regerende ANC gaan. Dit is nie dat opposisiepartye onbelangrik is nie, maar tans trek die ANC steeds die meeste stemme – om watter redes ook al. Hy is dus nasionaal, in agt provinsies en in die meeste plaaslike owerhede, in politieke beheer.

As organisasie gaan die ANC egter steeds en toenemend gebuk onder talle probleme: Bitter (en soms dodelike) faksiegevegte, ’n endemiese kultuur van korrupsie en toe-eiening en ’n gebrek aan moraliteit.

Kan die ANC as organisasie homself regruk en “herstel”? Sommige binne die ANC meen (of hoop) dit kan gebeur; ander hou dapper gesigte voor, maar twyfel heimlik daaraan. Buitestanders is oortuig daarvan dat dit nie (meer) moontlik is nie.

Volgens woordeboeke is self-herstel (in Engels self-correction) ’n proses waardeur ’n individu of organisasie foute spontaan of vanself sonder hulp of ingryping van buite herstel. In die geval van organisasies is leierskap ’n positiewe en etiese kultuur en is goeie stelsels noodsaaklik om self-herstel te laat gebeur.

En kan die ANC van einde 2017 tot in die middel van 2020 as “herstel” beskou word?

As die ANC se gedrag en optrede die afgelope paar jaar hieraan getoets word, is daar botsende tekens. ’n Mens sou kon redeneer dat die val van Zuma en die nederlaag van sy kroonprinses, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ’n voorbeeld van self-herstel was. En dit is gedeeltelik waar. Die opvolgvraag is hoekom ingeligtes in die ANC die staatskaping van die Zuptas nie vroeër raakgesien en hoekom daar nie vroeër daadwerklik opgetree is nie? Daarby moet die mate van self-herstel bevraagteken word. Hoekom is soveel Zuptas steeds in die kabinet van pres. Cyril Ramaphosa opgeneem – al is ’n paar darem al intussen die pad gewys? En kan die ANC van einde 2017 tot in die middel van 2020 as “herstel” beskou word?

Die antwoord is natuurlik “nee”.

Hoekom is integriteitskomitee tjoepstil?

Dit word bevestig deur gebeure van die afgelope paar weke – hier positief, daar negatief – wat meestal twee treë vorentoe en een en ’n halwe tree terug is.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, sê alle ANC-leiers doen sake met die staat, en daar is niks mee verkeerd nie. Foto: Foto24

• ’n Ruk gelede het Ramaphosa die stigting van ’n multilaterale en dissiplinêre liggaam aangekondig, wat op ’n geïntegreerde manier korrupsie kan ondersoek en vervolg. ’n Goeie plan, maar nog niks verder is tot op hede bekend nie.

• Die grootskaalse Covid-19-plundery (veral rondom persoonlike beskermende toerusting) was die strooihalm wat die korrupsie-kameel se rug uiteindelik gebreek het.

• Die sekretaris-generaal van die ANC en een van die topses, Ace Magashule, sê alle ANC-leiers doen sake met die staat, en daar is niks mee verkeerd nie.

• Op die laaste NUK-vergadering van die ANC keur dié liggaam Ramaphosa se brief oor korrupsie aan lede van die organisasie goed, verwerp oudpres. Jacob Zuma se aanval op Ramaphosa en steun die voorstel dat ANC-lede wat van korrupsie aangekla word, “opsy” moet staan; en besluit dat dié wat in die openbaar onder verdenking kom, voor die organisasie se integriteitskomitee moet verskyn.

• Dae hierna gaan ’n ANC-afvaardiging op staatskoste na Zimbabwe om namens die party met Zanu-PF te praat. Ramaphosa vra ’n verslag en Magashule sê daar was geen misbruik van staatshulpbronne nie. Kort daarna maak die topses bekend dat die ANC om verskoning vra vir hierdie optrede en dat hulle die geld sal terugbetaal. Die feit dat baie ANC-lede en -leiers nie fout vind met die feit dat ’n politieke party met ’n militêre vliegtuig na Zimbabwe vlieg nie (nogal terwyl die landsgrense gesluit is), is uiters kommerwekkend – om die minste te sê.

Andile Lungisa, raadslid van die Nelson Mandelabaai munisipaliteit, weier om te bedank, al dien hy tans tronkstraf uit weens aanranding met die doel om ernstig te beseer Foto: Loanna Hoffman

• ’n Paar weke gelede gaan Andile Lungisa (lid van die ANC in Nelson Mandelabaai) uiteindelik tronk toe vir die aanranding op ’n mede-raadslid van die DA met ’n waterkraffie. Hy weier aanvanklik om te bedank, maar die ANC in die Oos-Kaap skors hom. Hy word egter soos ’n held deur ANC-lede na die tronk se deure begelei. Al is hy in die tronk vir aanranding, en nie korrupsie nie, weerspieël hul optrede hul gebrek aan waardes.

• In die weke ná die NUK se besluit oor korrupsie gebeur bloedweinig. Trouens, daar is selfs in sekere provinsies weerstand teen die implementering daarvan. In Noordwes gee die tussentydse provinsiale komitee vyf munisipale ampsdraers die opdrag om te bedank, maar die ANC-vroueliga sê hulle hoef nie te bedank nie. In Limpopo is Florence Radzilani en Danny Msiza (berug weens die VBS-skandaal) terug in hul poste, ten spyte van die NUK se besluit. Bongani Bongo (voormalige adjunkminister) en Zandile Gumede (voormalige burgemeester van Durban en lid van die KwaZulu-Natal wetgewer) is ook steeds in hul poste.

• Die integriteitskomitee van die ANC, wat volgens die NUK-besluit meer en sterker magte sou kry, is intussen tjoepstil en dit is nie duidelik of iemand voor hulle verskyn het nie. Indien wel, is die gebrek aan inligting en deursigtigheid in elk geval ’n probleem.

Wat keer die ANC?

Dit is duidelik dat self-herstel baie stadig vorder – indien dit enigsins gebeur.

Wat staan in die pad van die ANC se self-herstel?

Wat verhinder die ANC as organisasie om homself te herstel?

Die voormalige burgemeester van Durban, Zandile Gumede, vroeër vanjaar in die hof vir kommersiële misdade in Durban, waar sy en haar mede-beskuldiges op bedrog en korrupsie ter waarde van meer as R400 miljoen tereg staan. Foto: Gallo Images

Die eerste faktor is ’n verdeelde leierskap, met die president en die sekretaris-generaal van die party wat duidelik aan verskillende kante is. Die swak mandaat vir Ramaphosa op die ANC-konferensie by Nasrec speel hierin ook ’n rol.

Maar die openbare inligting oor Magashule in verband met die Estina-saak en veral die asbes-tender in die Vrystaat, asook sy uitsprake oor staatstenders (veral van sy seuns), maak dit onmoontlik vir hom om die proses van self-herstel te ondersteun – en vir enigiemand met ’n greintjie integriteit om hom te vertrou.

Die gedagte van ’n sterker morele verpligting by openbare ampsdraers kom nie eens ter sprake nie.

Die tweede faktor is die endemiese korrupsie en ’n kultuur van toe-eiening in die ANC. Deur Ramaphosa as “beskuldige-nommer-een” te beskryf, is die skaal van die korrupsie en die getal lede wat betrokke is, net te groot. As ’n organisasie homself wil herstel moet die goeie meerderheid die slegte minderheid kan isoleer en uitwerk. Dit is nie meer in die ANC moontlik nie.

Daarbenewens is daar ’n gebrek aan aanspreeklikheid, integriteit en ’n etiese kultuur. Die politieke kommentator Stephen Grootes wys daarop dat die regsreël van “onskuldig totdat skuldig bewys” gebruik (of eerder misbruik) word om nie “opsy te staan” nie. Die gedagte van ’n sterker morele verpligting by openbare ampsdraers kom nie eens ter sprake nie. Dit word “onskuldig totdat die laaste moontlikheid van appèl uitgeput is”.

’n Vierde faktor – in hierdie verband veral van toepassing op die NUK se besluit oor korrupsie – is die gebrek aan dissipline en die vermoë tot implementering in die ANC. Die houding is dat sodra ’n besluit oor ’n kwessie geneem is, daardie kwessie mos afgehandel is. Hierdie bykans totale onvermoë om besluite te implementeer, is aan drie oorsake te wyte: Die gebrek aan politieke wil om sekere besluite te implementeer (omdat ek en my faksie nie daarmee saamstem nie); burokratiese rompslomp (dit is te moeilik en omslagtig om te implementeer) en die onbevoegdheid (op administratiewe en bestuursvlak) om te implementeer.

Wat kan gedoen word?

Die feit dat die ANC homself nie kan herstel nie, beteken nie dat niks gedoen kan word nie. Intern is die rol van goeie en sterk leierskap van die president, die topses (of -vyf?) en alle ander vlakke van die organisasie noodsaaklik. Ramaphosa het die korrupsie-geveg begin en moet dit enduit en meedoënloos dryf. Hy sal sy bondgenote in hierdie stryd moet opskerp om sigbaar dieselfde te doen.

Sal oudpres. Jacob Zuma en sy korrupte kaders ooit aan die pen ry? Foto: Foto24

Die veterane-liga het ’n beduidende rol gespeel in die proses om van Zuma ontslae te raak, en sal steeds die waghondrol moet bly speel. Die integriteitskomitee van die ANC sal gou meer tande moet kry, veral op nasionale vlak. En dit moet wyd bekend gemaak word dat byvoorbeeld ’n integriteitskomitee-aanbeveling aan die topses of die NUK nie maklik verwerp kan word nie.

Maar die ANC se morele herstel sal nie net op grond van interne optrede slaag nie. Ekstern is die uitvoer van leefstyl-oudits een van die belangrikste meganismes om korrupsie uit te wys en te vervolg.

Natuurlik moet die besluit om dit te doen eers intern goedgekeur word. Die konsep van leefstyl-oudits is nie nuut nie. Pravin Gordhan het in Julie 2019 al opdrag gegee dat lede van staatsbeheerde ondernemings se rade aan leefstyl-oudits onderworpe sal wees. Daar was sedertdien nog geen terugvoering hieroor in die openbare domein nie.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het vroeër vanjaar deur middel van ’n oop tenderproses leefstyl-oudits van sy kabinet deur ’n onafhanklike forensiese maatskappy laat doen. Foto: Foto24

Gauteng se premier, David Makhura, het dieselfde aan sy kabinet beloof in 2018, maar dit is nog nie gedoen nie. Daarteenoor het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, (te midde van die Covid-19-pandemie) vroeër vanjaar deur middel van ’n oop tenderproses leefstyl-oudits van sy kabinet deur ’n onafhanklike forensiese maatskappy laat doen. Nadat onder meer die bates en bankstate van die hele kabinet (Winde ingesluit) noukeurig nagegaan is, is geen gevalle van oortreding gevind nie.

Is ANC beste party om land te regeer?

Die vraag is hoekom die ANC dit nie ook op nasionale kabinetsvlak en provinsiale vlak doen nie. En dit is nog belangriker op plaaslike owerheidsvlak, waar korrupsie en wanadministrasie hoogty vier. Indien die tesourie sou besluit om geld spesifiek beskikbaar te stel om forensiese ouditeurs aan te stel (en self daaroor toesig te hou), sal die geld goed bestee wees.

Die tweede eksterne meganisme tot herstel moet die bevindings en aanbevelings van die Zondo-kommissie wees, opgevolg deur die Nasionale Vervolgingsgesag, die Spesiale Ondersoekeenheid en die (nog nie gestigte) spesiale koördineringsliggaam vir vervolgings.

Theuns Eloff Foto: Edrea du Toit

Die sperdatum vir die finale verslag van die Zondo-kommissie kom nader. Tematiese verslae oor spesifieke organisasies (soos Eskom) vroeër as die sperdatum kan help om die proses te bespoedig. Maar wanneer ook al dit gepubliseer word, sal die vervolgingsliggame gereed moet staan om almal wat voor die kommissie verskyn het, maar veral ANC-lede en -ampsdraers, verder te ondersoek en te vervolg. Die ANC kan nie sonder hierdie eksterne ingrype en skoonmaak herstel nie.

Ware en spontane self-herstel vir die ANC is nie meer moontlik nie, maar ’n kombinasie van leierskap en sterk besluite oor die magte van die integriteitskomitee aan die een kant, en eksterne lewenstyl-oudits en die vreeslose opvolg van Zondo-aanbevelings aan die ander kant, kan die ANC help om te herstel.

Selfs al herstel die ANC en wen iets van sy integriteit terug, beteken dit nie dat die beleide van die ANC aanvaarbaar sal wees nie.

’n Goeie strategie is dat Ramaphosa op twee fronte werk: Binne die ANC om korrupsie uit te roei en van korruptes ontslae te raak; en binne die staat om ’n beter, skoner en meer doeltreffende regering daar te stel. Dit is twee kante van dieselfde muntstuk.

Ten slotte: Dit sal oor die algemeen goed wees vir die land as die ANC moreel sou herstel. Maar selfs al gebeur dit, moet onthou word dat dit die ANC nie noodwendig die beste party maak om Suid-Afrika en sy stede en dorpe te bestuur nie.

Die organisasie se ideologiese sienings oor sake soos die ekonomie, sosio-ekonomiese beleid, (ware) nierassigheid, die plek van minderhede en taal- en kultuurregte, en rasgebaseerde transformasie laat veel te wense oor. Selfs al herstel die ANC en wen iets van sy integriteit terug, beteken dit nie dat die beleide van die ANC aanvaarbaar sal wees nie. Dit moet by die stembus bepaal word. Maar ten minste sal Suid-Afrika skoner regering en minder korrupsie hê.

* Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings in hierdie rubriek is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Integriteitskomitee  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.