Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan die koste van inperking werklik bereken word?

Het inperkingsmaatreëls tydens die Covid-19-pandemie gewerk of nie? Dis ’n vraag wat nie ’n eenvoudige antwoord het nie, skryf James D. Long, Mark A. Smit en Victor Menaldo.

Die boodskap oor inperkings op dié Britse betoger se plakkaat is baie duidelik. Foto: Reuters

Soos meer mense wêreldwyd teen Covid-19 ingeënt word en inperkingsmaatreëls verslap word, wonder baie mense of die geveg teen die pandemie oordoen is en of dit te swak was.

Sommige meen dat die inperkings nie ver genoeg gegaan het nie; ander hou vol dat die pogings om ’n kuur te vind erger as die siekte was.

Een rede vir dié teenstellende beskouings is dat die antwoord van feite sowel as waardes afhang.

Daar sal nooit breë eenstemmigheid wees oor of inperkings, die mees omstrede koronavirus-beleid, die moeite werd was nie.

Relevante feite sluit in kenmerke van die virus soos infeksiekoerse en sterftes. Regerings se beleid is dikwels gerig deur wetenskaplike bevindings oor hoe om die verspreiding van die virus en die gevolglike siektes en sterftes te bekamp.

Relevante waarde sluit in gesondheid en lewensduur, maar ook voorspoed, geleentheid, gelykheid en vryheid. Dié waardes word verskillend deur verskillende mense beoordeel.

Ons navorsing oor hoe regverdige en redelike besprekings burgers help om politieke beskuite te neem, dui daarop dat daar nooit breë eenstemmigheid sal wees oor of inperkings, die mees omstrede koronavirus-beleid, die moeite werd was nie.

Koste teenoor voordele

Inperking het tot verlate stede gelei. Dié foto is in Colombo, Sri Lanka, geneem. Foto: AP

In ’n perfekte wêreld sal beleidmakers se besluite op bewyse gegrond word. Maar die wetenskap en data wat vir een groep saakmaak, sal ’n ander groep nie oortuig nie.

Moet die regering openbare gesondheid prioritiseer ten koste van die ekonomie? Moet individue hul vryheid opoffer vir die gemeenskaplike welstand?

In beginsel kon die VSA al die samelewing se bronne bewillig het om die koronavirus te beveg, maar dit sou beteken het ander siektes en persoonlike prioriteite wat die lewe die moeite werd maak, soos om jou ouma op 4 Julie ’n drukkie te gee, geïgnoreer moet word.

Kostedoeltreffende ontledings is een manier om verskillende kompromieë van nader te bekyk eerder as om dit te verswyg.

Maar selfs al kon ons koste sonder probleme met voordele vergelyk, sal dit onmoontlik wees om tot ’n definitiewe gevolgtrekking te kom oor die invloed van inperkings.

Sulke ontledings steun op goed gevestigde metodes om te bepaal hoeveel die samelewing bereid is om te betaal om een lewe te red.

Gegrond op dié skattings, kan die getal sterftes wat verhoed is deur beleidsrigtings wat die koronavirus moes bekamp, in geldwaarde omgeskakel word vir die “voordele-kant” van jou berekeninge.

Dié “koste” sluit in direkte regeringsuitgawes nou en in die toekoms in saam met lone en belastings wat verlore gegaan het vir individue en ondernemings.

Met voordele sowel as koste in geldwaarde aangedui, is dit straks moontlik om ’n beleid se netto sosiale invloed te bepaal: dit is ’n eenvoudige wiskundige probleem.

Dit is moeilik om inperkings te evalueer

Maar selfs al kon ons koste sonder probleme met voordele vergelyk, sal dit onmoontlik wees om tot ’n definitiewe gevolgtrekking te kom oor die invloed van inperkings.

Gemeenskappe wat langer en strenger inperkings gehad het, was gewoonlik dié wat meer kwesbaar was vir die verspreiding van die virus of wie se toegang tot gesondheidsdienste beperk was.

Meer digbevolkte plekke met meer mense van verskillende generasies in ’n huishouding het streng inperkings ingestel, maar was ook meer geneig tot hoë vlakke van besmetting en sterftes.

Selfs al is dit moontlik om die getal sterftes te bepaal wat deur ’n inperking verhoed is, is dit moeilik om ander koste en voordele wat verband hou met koronavirus-beleide te bereken.

Dit skep die idee dat inperkings nie gewerk het nie omdat baie mense steeds in sulke plekke dood is – net minder as wat die geval sou wees sonder inperkings.

Gelukkig is een van die belangrikste oogmerke van die sosiale wetenskappe om oorsaak en gevolg te bepaal deur data uit die regte wêreld te gebruik.

Bevolkingsdigtheid, welvaart, ouderdomsverspreiding en die vermoë van sy gesondheidsdienste is statistiek wat navorsers kan gebruik om data só aan te pas dat dit die invloed van faktore wat sowel ’n staat se sterftesyfer as sy geneigdheid om inperkings in te stel kan neutraliseer.

Maar eerlike navorsers sal steeds moet erken dat hulle slegs dié soort onsekerheid kan verminder en dit nie uit die weg kan ruim nie.

Hoe meet jy die koste en voordele?

Kalifornië se oudste restaurant, die Tadich Grill in San Francisco, het met ’n rooi banier aangekondig dat sy deure weer ná ’n staat van inperking oopgemaak het. Foto: AP

Selfs al is dit moontlik om die getal sterftes te bepaal wat deur ’n inperking verhoed is, is dit moeilik om ander koste en voordele wat verband hou met koronavirus-beleide te bereken.

Deur mense tot hul huise te beperk, kon jy dalk die verspreiding van die virus ook beperk het. Maar ander probleme kon ontstaan het of vererger word deur mense te dwing om by die huis te bly: gesinsgeweld, verslawing en geestesgesondheidsprobleme en die skadelike gevolge van ander mediese toestande wat nie dadelik behandel kon word nie.

Die gebrek aan persoonlike onderrig kan kinders benadeel omdat dit hul vermoë om te leer kan aantas en ook tot ander probleme soos angs, depressie en slaapversteurings kan lei.

Ander potensiële koste kan eers in die toekoms bereken word – soos dat mense eendag minder kan verdien weens die invloed van probleme rondom ontwrigte onderrig.

Hoewel die uiteindelike ekonomiese invloed van inperkings negatief kan wees, kan dit steeds regverdig word as mense dink ’n dollar vandag is meer werd as ’n dollar môre.

Die dra van maskers en sosiale isolasie kon dalk egter onbedoelde voordele gehad het soos die tydelike bekamping van seisoenale griep wat in Amerika elke jaar sowat 40 000 lewens eis.

En daar kon ook tegnologiese innovasies – soos verbeterde videokonferensies – op inperking gevolg het.

Hoewel die uiteindelike ekonomiese invloed van inperkings negatief kan wees, kan dit steeds regverdig word as mense dink ’n dollar vandag is meer werd as ’n dollar môre.

Maar beleidsmakers, om nie eens van burgers te praat nie, kan nie eenvoudig saamstem oor hoeveel waarde die samelewing aan vandag se dollar moet hê in vergelyking met môre s’n nie. Dit lei inderdaad tot die grootste meningsverskille oor die uitgestelde invloed van sulke beleide.

Nederigheid is nodig

Britte is baie ontevrede omdat daar aanduidings is dat inperkingsmaatreëls nie heeltemal verslap gaan word nie. Foto: Reuters

Omdat die voordele en koste van beleide met tyd ontvou op maniere wat tot verskillende wenners en verloorders lei, is dit net te moeilik om te bepaal watter voordele die belangrikste is en watter koste die moeite werd is.

’n Ouer persoon wil dalk hê die regering moet bejaardes se gesondheid ’n prioriteit maak, terwyl ouers met jong kinders dalk eerder die klem sal lê op die heropening van skole. Jong volwassenes kan weer bekommerd wees oor werkgeleenthede wat verlore gaan terwyl hulle wag dat inperkings moet verbygaan.

Dit is waarom daar uiteindelik nooit ’n antwoord sal wees op die vraag of inperkings die “moeite werd” was nie.

Daar kan duidelikheid wees oor die koste en voordele, maar geen finale beraming nie. En waardes kom ook ter sprake: die getal lewens wat gespaar is kan nooit heeltemal gelykgestel word met die getal kinders wie se ontwikkeling onder inperking gely het nie.

Data kan net sommige van die antwoorde aan ’n samelewing gee; oor die res moet ons self besluit.

• James D. Long is medeprofessor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Washington, Mark A. Smith is ’n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Washington en Victor Menaldo is ook ’n professor in politieke wetenskap aan dieselfde universiteit. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Amerika  |  Inperkings  |  Gesondheid  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.