Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan nóg 'n munisipaliteit se eie mense die toon aanwys?

Die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, se beslissing, ná die dringende aansoek verlede week deur die inwoners van Koster, Swartruggens en Derby dat hulle hul water- en riooldienste self mag bestuur, is verreikend. Pieter Labuschagne verduidelik hoekom.

Pieter Labuschagne Foto: Sarel van der Walt

Die hof het die aansoek toegestaan indien die Kgetlengrivier-munisipaliteit nie binne tien dae die inploffing van sy munisipale dienste kan regruk nie.

Die koste van die regrukpoging sal deur die plaaslike én distriksmunisipaliteit, asook die provinsiale regering gedra moet word. Die hof het ook gewaarsku dat die bevel permanent gemaak kan word indien die respondent nie geldige redes tot die teendeel kan verskaf nie.

Dit is ... nie altyd nodig vir besorgde inwoners wat munisipale bestuur wil oorneem om die howe te nader nie.

Hierdie beslissing van die hooggeregshof hou verreikende implikasies vir ander munisipaliteite landwyd die land in. In die Vrystaat, met enkele uitsonderings, is die meeste munisipaliteite nie in staat om basiese water en rioleringsdienste te bestuur nie.

Dit is egter belangrik om in ag te neem dat dit nie altyd nodig is vir besorgde inwoners wat munisipale bestuur wil oorneem om die howe te nader nie. Indien die munisipale bestuur die besorgde inwoners deur ’n hofbevel wil verhinder om mislukte dienste oor te neem, kan inwoners hulle op die gemeenregtelike verweer van ’n noodtoestand beroep.

’n Droom het verdrink

Daar was groot verwagtinge vir die derde vlak van regering (munisipaliteite) toe die nuwe Grondwet in 1994 in werking getree het. Die hoop en verwagting was dat die regering plaaslike gemeenskappe op voetsoolvlak sou ophef deur basiese dienste te verbeter. Die realiteit is egter dat ná amper 30 jaar van munisipale bestuur dié droom in rioolvuil, slaggate in paaie, stukkende straatligte en swak dienslewering verdrink het.

Só lyk ’n spruit in Koster waar inwoners die hof gevra het om hul eie water en riolering te bestuur.

Die agteruitgang in munisipale bestuur het inwoners van wanfunksionele munisipaliteite in sommige gevalle gedwing om self in te spring om te red wat nog te redde is.

Daar is vele kontekstuele dokumente wat die verhouding tussen plaaslike inwoners en die plaaslike regering uiteensit, wat wissel vanaf die grondwet, tersaaklike wetgewing tot die gemene reg.

Artikel 152 (1) (d) van die Grondwet bepaal onder meer dat ’n verantwoordbare vlak van regering gevestig moet word om benewens ander uiteengesette doelwitte ’n veilige en gesonde omgewing te skep. Behalwe die Grondwet is daar verskeie wette wat die verhouding tussen die inwoners en plaaslike regering reguleer. Die oogmerk van die wetgewing is die vestiging van effektiewe bestuur, om doeltreffende dienslewering te verseker.

In wese kan die verhouding tussen plaaslike regering en die inwoners só opgesom word: Die munisipaliteite onderneem en is verplig om dienste op ’n volhoubare wyse aan die gemeenskap te voorsien, ten einde ’n veilige en gesonde omgewing te skep.

Dié verpligting skep ’n wederkerige kontraktuele verhouding tussen die munisipale bestuur en die plaaslike inwoners. Die inwoners onderneem om hul munisipale belasting en diensgeld aan die plaaslike regering te betaal, in ruil vir doeltreffende dienste.

Dié wederkerige verhouding skep ’n kontraktuele verhouding, met direkte implikasies indien dit verbreek sou word. Die munisipaliteit kan sy dienste onttrek indien die inwoners nie betaal nie, terwyl die inwoners weer op grond van die kontraktuele verhouding hul geld kan weerhou indien hulle nie die dienste ontvang nie. In ekstreme gevalle kan die inwoners selfs diensleweringsbetogings hou.

Noodtoestand en noodweer

Die kernvraag is egter of die inwoners – soos dié van Koster, Swartruggens en Derby – die dienste kan oorneem deur self die rioolwerke te herstel, waterpompe weer te laat werk en slaggate reg te maak?

Is dit nodig om die hof te nader of kan daar ook op ander gronde van regverdiging gesteun word?

In die gemene reg bestaan daar twee gronde vir die regverdiging vir “onregmatige” optredes, naamlik noodtoestand en noodweer. Noodweer is op die regs-teoretiese beginsel gebou dat een of meer mense se optrede geregverdig kan word indien hulle gekonfronteer word met ’n oorweldigende menslike bedreiging, wat onder meer tot besering of skade aan ’n onskuldige party sou kon lei, en om ’n bedreiging af te weer. Die aksie van die “beskuldige” word in dié geval verskoon of geregverdig, wat in ander gevalle ’n oortreding van die wet sou gewees het.

Die verskil tussen noodweer en noodtoestand is dat noodweer hoofsaaklik met ’n onregmatige menslike aanval te doen het. ’n Noodtoestand kan ook die sameloop van omstandighede, soos gebeure in die natuur, wees.

Wit en swart inwoners van Koster ruk na die Kgetlengrivier-munisipaliteit se kantore op om ‘n memorandum met griewe te oorhandig. Foto: Susan Cilliers

Indien weerlig ’n huis aan die brand laat slaan is dit geregverdige optrede in die geval van ’n noodtoestand om die ruit te breek, sodat X kan ontsnap. Op dié wyse kan X skade of besering vryspring.

Wanneer die inwoners van Koster, Swartruggens en Derby byvoorbeeld munisipale terrein, geboue of fasiliteite betree om masjinerie en die infrastruktuur te herstel, is die handeling in wese inmenging in die regte en die eiendom van die Kgetlengrivier-munisipaliteit.

Die optrede van die inwoners om die gesondheidskrisis af te weer regverdig daarom hul beroep op grond van ’n noodtoestand.

Op grond van die omskrywing van ’n noodtoestand kan egter geredeneer word dat die inwoners hul belang en reg op volhoubare en doeltreffende dienste beskerm om sodoende te verhoed dat daar ’n gesondheidsgevaar ontstaan. Die optrede word geregverdig omdat inwoners wil verseker dat hulle ’n gesonde en veilige omgewing het. Die probleem van water en sanitasie kan maklik tot cholera en die verspreiding van die E.coli-virus lei, wat die lewens van inwoners kan bedreig.

Die optrede van die inwoners om die gesondheidskrisis af te weer regverdig daarom hul beroep op grond van ’n noodtoestand.

Só beroep jy jou op noodtoestand

Die vereiste waaraan die aksies van die inwoners moet voldoen sodat hulle hul op die verweer van noodtoestand kan beroep is as volg:

* ’n Wettige belang moet bedreig word om die optrede tydens die noodtoestand te regverdig. (In dié geval is die optrede van die inwoners van Koster, Swartruggens en Derby nodig om die veiligheid en die gesondheid van die inwoners te verseker.)

*Die noodtoestand moet dreigend wees en nog nie afgehandel nie. (In Koster, Swartruggens en Derby was die situasie aan die versleg en indien daar nie onmiddellike optrede was nie, kon dit net verder versleg.)

*Die noodtoestand moes nie as gevolg van die optrede van die inwoners self gewees het nie. (Die inploffing van munisipale dienste in die Kgetlengrivier-munisipaliteit was duidelik weens die versuim van die munisipale bestuurder en ander amptenare.)

*Die optrede tydens die noodtoestand moet die enigste beskikbare aksie wees nadat alle moontlike opsies uitgesluit is. (Dit is duidelik dat die inwoners geen ander keuse het nie – daar is geen ander manier om die probleem op te los nie.)

*Die aksies moet redelik wees en in verhouding met die gevaar wat afgeweer moet word. (Die optrede is duidelik in verhouding met die gevaar, want dit strek nie verder as die herstel van masjinerie en die doeltreffende funksionering van die dienste nie.)

’n Watermeter in Swartruggens in Noordwes wat glo jare gelede gelees is. Foto: Johan van der Westhuizen

Die howe sal ’n objektiewe toets moet toepas ten einde die regmatigheid van die inwoners se optrede te bepaal. Die hof moet bepaal of die inwoners hulle in ’n posisie bevind het wat vereis dat hulle dringend tussenbeide moes tree.

In die geval van die inwoners van Koster, Swartruggens en Derby was dit duidelik die geval. Dit beteken dus dat daar teen enige ander munisipaliteit in die land opgetree kan word op sterkte van die bevel van die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Die inwoners geniet ook die gemeenregtelike beskerming van die gemene reg en meer spesifiek die verweer van noodtoestand.

*Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.