Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan klimaatsverdrag slaag sonder Amerika?

Die Trump-administrasie het die VN formeel in kennis gestel dat hy hom wil onttrek aan die Parys-verdrag vir klimaatsverandering. Henrik Selen beantwoord vier vrae oor hoe dit vooruitsigte sal beïnvloed om die ergste uitwerking van aardverwarming te vermy.

Die administrasie van pres. Donald Trumpse besluit om Amerika van die Parys-verdrag te onttrek sal politieke én praktiese implikasies hê, maar dit is in dié stadium nog onduidelik hoe ernstig dit sal wees. Foto: Foto24

1. Hoe moet ’n land maak as hy hom wil onttrek aan die verdrag?

Pres. Donald Trump het in die somer van 2017 aangekondig dat hy Amerika van die Parys-verdrag wil onttrek, soos wat hy beloof het tydens sy presidensiële veldtog die vorige jaar. Die verdrag is gesluit in 2015 en kon sedert 4 November 2016 wetlik internasionaal afgedwing word.

Artikel 28 van die verdrag stipuleer dat ’n lid slegs ’n formele onttrekkingsproses kan begin drie jaar nadat die verdrag van krag geword het.

Die Trump-administrasie het hierdie stap gedoen toe hy die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies op 4 November vanjaar in kennis gestel het dat hy van plan is om hom te onttrek.

Trump se kennisgewing van uittrede sal ’n jaar later van krag word, op Woensdag 4 November 2020 – een dag ná die volgende presidensiële verkiesing.

Die premier van Nieu-Seeland, Jacinda Ardern, het op 7 November vanjaar ’n parlementêre stem verwelkom waartydens die nasie hom verbind het om sy koolstof-vrylating tot nul te verlaag teen 2015 in lyn met die Parys-verdrag.

Amerika se besluit om hom van die klimaatsverdrag te onttrek kan ernstige gevolge hê vir aardverwarming. Dié land is tans die wêreld se tweede grootste kweekhuisgas-oortreder en hy is verantwoordelik vir sowat 15% van die jaarlikse wêreldwye koolstofvoetspoor. Foto: iStock

2. Wat beteken die VSA se onttrekking vir klimaatsverandering?

Die Trump-administrasie se besluit sal politieke én praktiese implikasies hê, maar dit is in dié stadium nog onduidelik hoe ernstig dit sal wees.

Die Parys-verdrag is ten dele aangeneem danksy sterk politieke ondersteuning van die Obama-administrasie, en Amerika se onttrekking skep nou ’n politieke vakuum. Ander met ’n groot koolstofvoetspoor, soos China en die Europese Unie, het dit duidelik gemaak dat hulle die verdrag sal steun, maar Amerika se afwesigheid sal die politieke dinamiek verander.

Amerika se onttrekking maak dit belangrik vir die oorblywende lande om hulle polities sterk daartoe te verbind om die verdrag te implementeer. Tydens die VN-Klimaatsaksieberaad in New York in September vanjaar het die sekretaris-generaal van die VN, António Guterres, ’n beroep op lande gedoen om meer te doen om hul koolstofvoetspoor te verlaag.

“Die klimaatskrisis is ’n wedloop wat ons aan die verloor is, maar dis ’n wedloop wat ons kan wen,” het Guterres gesê.

Amerika is tans die wêreld se tweede grootste kweekhuisgas-oortreder en hy is verantwoordelik vir sowat 15% van die jaarlikse wêreldwye koolstofvoetspoor.

Baie lande se vrywillige beloftes as deel van die Parys-verdrag is beskeie, en wetenskaplikes beraam dat dit as ’n geheel heeltemal ontoereikend is om temperatuur-mikpunte te bereik wat gefokus is op gemiddelde wêreldwye temperatuurstygings van 2 grade Celsius en 1,5 grade Celsius.

Amerika is tans die wêreld se tweede grootste kweekhuisgas-oortreder en hy is verantwoordelik vir sowat 15% van die jaarlikse wêreldwye koolstofvoetspoor. En behalwe daarvoor dat hy hom aan die Parys-verdrag onttrek, maak die Trump-administrasie dit moeiliker vir deelstate soos Kalifornië om hul mandaat uit te voer en die gebruik van fossielbrandstof en kweekhuisgas-vrystellings te beperk.

As die wêreld se tweede grootste koolstofdioksied-uitstraler speel die VSA ’n sentrale rol in wêreldwye pogings om klimaatsverandering hok te slaan.

Maar die toekomstige trajek van die VSA se kweekhuisgas-vrystellings word nie bepaal deur of dié land aan die Parys-verdrag behoort nie. Sleutelfaktore is besluite van die staat en die deelstate oor beleid, ekonomiese tendense in die energiemarkte en die plek van tegnologiese ontwikkeling. Hernubare energiebronne word vinnig goedkoper, wat dit ekonomies aanlokliker maak.

Selfs nadat hy hom aan die Parys-verdrag onttrek het, mag die VSA dalk sy onderneming nakom om kweekhuisgas-vrystellings met 26% tot 28% onder die vlak wat dit in 2005 was, te verminder teen 2025.

Maar dis slegs ’n fraksie van wat nodig sal wees oor die volgende paar dekades om ’n werklike bydrae te maak tot wêreldwye doelwitte. Anders gestel: As ons regtig iets wil doen aan klimaatsverandering sal al die lande met die grootste koolstofvoetspoor hul moue moet oprol – ook die VSA – om die oorgang te versnel na ’n laer-koolstof ekonomie.

Ouers in Oslo, Noorweë, dra hul kinders soos wat duisende deur die middestad marsjeer ter ondersteuning van aksies om wêreldwye klimaatsverandering hok te slaan. Foto: iStock

3. Hoeveel ander lande het nie by die Parys-verdrag aangesluit nie?

Tans is 186 lande – insluitende die VSA en die Europese Unie – lede van die Parys-verdrag. Wanneer die VSA hom onttrek sal hy aansluit by ’n kort maar eklektiese lys nasies wat die verdrag onderteken het, maar nie bekragtig het nie – onder meer Angola, Eritrea, Iran, Irak, Kirgistan, Libanon, Libië, Suid-Soedan, Turkye en Jemen.

4. Kan die VSA weer by die Parys-verdrag aansluit?

Ja. Die pakt spel prosedures uit om jou te onttrek aan die verdrag en om daarby aan te sluit nadat dit van krag geword het. Artikel 21 verklaar dat ’n land wat nie toegetree het tot die verdrag nie kan aansluit deur formeel kennis te gee, en dat dit 30 dae later in werking sal tree. Hierdie prosedure geld lande wat vantevore deel was van die verdrag en toe onttrek het – of wat vir die eerste keer aansluit.

Selfs indien die VSA weer toetree tot die Parys-verdrag in die toekoms, sal ander lande onthou dat hy eensydig uit ’n verdrag getree het wat wêreldwye steun gehad het...

Indien Donald Trump nie die 2020-verkiesing wen nie, sal die nuwe kandidaat op 20 Januarie 2021 die amp aanvaar en kan hy op daardie dag kennis gee dat die VSA weer wil toetree tot die Parys-verdrag. Indien dit gebeur kan die VSA weer terug wees teen Februarie 2021, minder as vier maande nadat Trump se onttrekking in werking getree het.

Tog, toe die VSA by die Parys-verdrag aangesluit het aan die einde van 2015 het die Obama-administrasie bepaal dat hierdie besluit van die president afhang, en dis geklassifiseer as ’n uitvoerende ooreenkoms wat nie afhanklik is van goedkeuring deur die senaat of veranderinge aan die VSA se binnelandse wetgewing nie. Indien ’n toekomstige terugkeer afhanklik is van bekragtiging deur die senaat, is dit hoogs onwaarskynlik dat dit die nodige 67 stemme sal kry weens sterk teenkanting, meestal van die Republikeinse senators.

Selfs indien die VSA weer toetree tot die Parys-verdrag in die toekoms, sal ander lande onthou dat hy eensydig uit ’n verdrag getree het wat wêreldwye steun gehad het en hulle mag wel dink dat hy dit weer kan doen in die toekoms. Amerika se reputasie as ’n betroubare internasionale vennoot het reeds aansienlike skade gely wat ’n lang tyd gaan neem om te herstel.

*Henrik Selen is medeprofessor aan die Frederick S Pardee Skool vir Globale Studies aan die Universiteit van Boston. Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.