Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan musiek Afrikaans in Nederland bevorder?

Dit is asof Afrikaans net nie vastrapplek kan kry in Nederland nie. Kan musiek help om dié taal te bevorder in ’n land waar sy wortels lê? vra Jana Marx.

’n Groot ophef word in Nederland van Gert Vlok Nel gemaak. Foto: Conrad Bornman

Amsterdam wemel van toeriste in kort broekies gewapen met langlenskameras. Dis somervakansie. Die gesprekke op straat is ’n kakofonie van Engels, Frans, Portugees, Duits en natuurlik, Nederlands.

Ek woon nou al ’n maand in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, danksy Naspers se kulturele uitruilprogram.

Ek sien Nederlandse en Engelse weergawes van Afrikaanse boeke in boekwinkels. ’n Plaaslike kunstenaar sing een van Kurt Darren se bekende sokkietreffers – in Nederlands.

Dis asof Afrikaans net nie tot sy reg kom in ’n land wat daarvoor bekend is dat alles en almal hier welkom is nie.

Die skare kon nie genoeg kry van die Nederlandse weergawe van Kurt se “Staan op!” nie.

Musiek is die mees direkte, toeganklike manier om ’n nuwe taal aan te leer.

Sê nou dit was in Afrikaans? Is Afrikaanse musiek dalk die sleutel om Afrikaans as taal in die Lae Lande te laat groei?

Die sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit, wat al minstens 17 konsertreise na Nederland onderneem het, onthou ’n konsert in Den Haag in 1988.

“Ná die tyd kom daar ’n joernalis na my toe en sê vir my: ‘Ek het hierdie week nog teen Suid-Afrika in die strate betoog, maar vanaand het ek ’n ander kant van die land gesien.’ ”

“Musiek is die mees direkte, toeganklike manier om ’n nuwe taal aan te leer,” sê Laurika Rauch, wat in September weer na Amsterdam toer.

Die proses is egter nie sonder sy groeipyne nie.

Afrikaanse kunstenaars se wortels in Nederland

Jannie du Toit is 'n bekende gesig in Nederland. Foto: Argief

Invloede uit die jare sestig en sewentig in Nederland het die grondslag vir die loopbane van verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars en liedjieskrywers gelê.

Du Toit vertel van “luisterliedere” – ’n woord wat in die jare sestig in Nederland ontstaan het. Hierdie liedere is “kleinkunst” genoem. Hy beskryf dit as ’n Nederlandse ekwivalent van Engelse folk-liedere, soos dié wat Bob Dylan en sy tydgenote aangehang het.

“Die teks was meestal belangriker as die musiek, en dit het dikwels ’n maatskaplik-kritiese inhoud gehad,” sê Du Toit.

Wat hy in die Lae Lande gesien en gehoor het, en kennismaking met die land se grootste name soos Herman van Veen en Jules de Korte het die grondslag van sy musiek gevorm.

“Ons (SA kunstenaars) was onder daardie (Nederlandse) invloed en het ons liedjies só geskryf, maar ons was heeltemal van mekaar afgesonder. Dit was eers in 1978 toe die Musiek en Liriek-program op televisie begin het dat dit as ’n soort ‘beweging’ beskou is,” meen Du Toit.

Nederlanders frons as jy oor Jan van Riebeeck vra, maar almal ken Nelson Mandela.

Du Toit en Christa Steyn se “De Kleine Man” van 1994 was die eerste volledige Nederlandse kleinkunsprogram deur Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Du Toit verwys na sy outobiografie, Onderweg. “Ek twyfel nie daaroor nie dat wat ons die afgelope 30 jaar in Nederlands gehoor het, bygedra het om Afrikaanse liedjieskrywers te help om woorde en musiek nader aan ’n volmaakte huwelik te bring.”

Die Lae Lande het egter nie ál die Afrikaanse kunstenaars beïnvloed nie.

Volgens Du Toit is sommige kunstenaars, soos Koos du Plessis en Lucas Maree, eerder deur die Engelse folk-beweging beïnvloed.

Sodoende het daar ’n wisselwerking tussen die lande se musiek ontstaan.

Stef Bos, ’n Nederlandse kunstenaar wat vandeesweek weer na Suid-Afrika toer, is waarskynlik die beste voorbeeld van dié wisselwerking.

Uitdagings vir Afrikaans in Nederland vandag

Nederlanders frons as jy oor Jan van Riebeeck vra, maar almal ken Nelson Mandela. Sy gesig pryk op baniere langs Gay Pride-plakkate en plakkate wat vra om vrede in Tibet.

Hulle is baie bewus van apartheid, en soos Francois Smith, skrywer en taallektor aan die Universiteit van die Vrystaat, tereg opgemerk het, “weet Nederlandse ‘kenners’ dikwels baie beter as Suid-Afrikaners self wat met ons fout is”.

Talle uitgewekenes het erken dat hulle soms selfs afsydig behandel word omdat hulle Afrikaans praat.

Du Toit vermoed dit spruit uit ’n skuldgevoel “wat diepgewortel is, want dis immers mense uit Nederland wat in Suid-Afrika aangekom en drooggemaak het”.

Die kulturele boikot was tot so ’n mate suksesvol dat die twee tale vreemd vir mekaar geword het.

Buiten die skuldgevoel, meen Smith ’n “kulturele minderwaardigheid wat Nederlanders besonder lief maak vir Engels”, kan ook ’n rol speel.

“Die kulturele boikot was tot so ’n mate suksesvol dat die twee tale vreemd vir mekaar geword het.”

Maar met inisiatiewe soos Ingrid Glorie se “Week van de Afrikaanse Roman” word daar al heelwat meer gedoen op boekevlak, reken Smith.

Waarom kry Afrikaanse musiek nie vastrapplek?

Glorie en Isabelle Vermeij van die Zuid-Afrikahuis organiseer ’n Afrikaanse kunstefees wat in September die vierde keer plaasvind.

Rauch, Gert Vlok Nel, Sandra Prinsloo, Zelda la Grange, Antjie Krog en Die Wasgoedlyn kom dan gesig wys.

Laurika Rauch glo daar is ruimte vir Afrikaanse musiek in Nederland. Foto: Argief

Die doel hiervan is juis om Afrikaans in die Lae Lande te bevorder. Dis ook waarom Glorie in 2015 met behulp van Van Veen ’n Afrikaanse album in Nederland uitgereik het.

“Ons wil hê die mense in Suid-Afrika moet kan sien hoe hul kunstenaars in Nederland waardeer word. Hulle moet sê: ‘Kyk wat doen Afrikaans in die wêreld, nie net in ons klein kringetjie nie,’ ” sê sy.

“Nederlandse teaterdirekteure sien nie kans vir name wat (hier) onbekend is nie. Iemand soos Jannie du Toit het oor jare belê in ’n netwerk. Maar dis baie harde werk,” aldus Glorie.

Suid-Afrikaanse kultuurorganisasies moet iemand in Nederland aanstel vir die doel om Afrikaanse musiek te bevorder.

Die tekort aan geld en bemarking bly ongetwyfeld die grootste probleem.

“Suid-Afrikaanse kunstenaars is fantasties. As Nederlanders hul konserte bywoon, vra hulle altyd agterna: ‘Waarom het ons nie lankal hiervan geweet nie?’ ”

Haar groot pleidooi is dat Suid-Afrikaanse kultuurorganisasies iemand in Nederland aanstel vir die doel om Afrikaanse musiek te bevorder.

“Daar is Suid-Afrikaanse kunstenaars wat suksesvol is in Nederland, soos Jack Parow. Maar daar is ook kunstenaars vir wie Nederland meer sin maak as enige ander Europese land, maar dan is hul onkoste vreeslik hoog en daar kom luister net tien mense.”

Watter Suid-Afrikaanse kunstenaars kry aftrek in Nederland?

Glorie, Du Toit en Jan Publiek in Nederland is dit eens: Gert Vlok Nel is die naam op almal se lippe wanneer daar oor Afrikaanse musiek gepraat word. Dit kom ná ’n dokumentêre program sowat tien jaar gelede.

“ ’n Groot ophef word hier van Gert Vlok Nel gemaak,” vertel Glorie.

Kommersiële musiek in Nederland geniet ook deesdae baie meer aandag.

Volgens Du Toit het onder andere Pieter Dirk Uys, Johannes Kerkorrel, Chris Chameleon, Herman van der Berg en Riku Lätti reeds vroeg-vroeg al groot sukses in Nederland behaal.

Die promotors vra gewoonlik vir my om vir die gehore te verduidelik wie ek is en waaroor ek gaan sing. Die bekendheidsfaktor is dus nie so sterk soos in Suid-Afrika nie.

“Amanda Strydom het ’n klompie jare baie goed in Nederland gedoen, maar haar eintlik ook maar vasgeloop omdat sy nie kommersieel is nie,” meen hy.

Volgens Glorie is Rauch veral gewild onder uitgewekenes in Engeland, België en Nederland.

Rauch meen daar is “ongetwyfeld ruimte vir Afrikaanse musiek in Nederland”, maar bekendheid is soms ’n speek in die wiel.

“Die promotors vra gewoonlik vir my om vir die gehore te verduidelik wie ek is en waaroor ek gaan sing. Die bekendheidsfaktor is dus nie so sterk soos in Suid-Afrika nie.”

Francois van Coke is mal oor Amsterdam. Foto: Argief

Francois van Coke van Fokofpolisiekar is so mal oor die Lae Lande dat hy Amsterdam as die “enigste ander plek in die wêreld” sien waar hy graag sal wil woon.

“Ons het nou al so ’n bietjie van ’n ondersteuningsnetwerk opgebou deur die jare. Nederlandse gehore ken ons nie so goed soos die mense by die huis nie. Hulle kyk en luister gewoonlik meer ondersoekend as die ondersteuners by die huis.”

Met die regte liedjiekeuses kan Afrikaanse musiek in Nederland groei, sê Van Coke.

“ ‘Cooler as ekke’ van Jack Parow was ’n massiewe hit. Dit is maar net iets wat op ’n natuurlike wyse in Nederland gewerk het,” reken hy.

Dis vir Van Coke en sy groep lekker om in hul moedertaal te kan sing.

“Ons het musiek in Afrikaans begin maak omdat ons besef het hoe pynlik eerlik ons in ons moedertaal met onsself en ander kan wees. Bittercomix, Valiant Swart, Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel maak my trots daarop om Afrikaans te praat.”

Meer oor:  Laurika Rauch  |  Nederland  |  Afrikaans  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.