Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan raadgewers Cyril help?

Pres. Cyril Ramaphosa is besig om ’n raadgewende eenheid in die presidensie saam te stel, wat hy hoop beleidsontwikkeling en koördinering sal verbeter. Dit is ’n belangrike inisiatief wat hom kan help om die reuse-uitdagings waarvoor sy nuwe regering te staan kom die hoof te bied, glo Alan Hirsch.

Die Uniegeboue in Pretoria, wat die amptelike setel van die Suid-Afrikaanse regering is. Foto: iStock

Daar bestaan geen twyfel nie: Die regering se vermoë om beleid gouer deur te voer moet geprioritiseer word.

Suid-Afrikaanse kabinetsministeries is dikwels individualisties en staatsdepartemente funksioneer as silo’s. Die departemente is gewoonlik ook nie vaartbelyn nie en dan praat ons nie eens van die swak koördinering van beleidsvorming- en programme in die nasionale regering en tussen die onderskeie regeringsfere nie.

Die president het ’n klein bietjie mag om dissipline neer te lê. Die mag hang egter af van hoe goed sy span hom oor ’n sekere onderwerp ingelig en touwys gemaak het.

Die hoof van die eenheid wat hy tans besig is om saam te stel – die beleidsontledings-en-navorsingsafdeling – sal Busani Ngcaweni, ’n ervare mandaryn van die presidensie, wees. Ngcaweni was stafhoof toe Ramaphosa adjunkpresident was. Hy het die senior en uiters sensitiewe pos die afgelope tien jaar beklee en onder vier adjunkpresidente gewerk.

Daar is geen twyfel dat Ngcaweni ’n toegewyde en bekwame intellektueel en ’n vaardige politieke bestuurder is nie.

Die afgelope dekade het hy ook agt boeke geskryf en laat publiseer. Die boeke bevat essays deur hom en ander skrywers oor ernstige Suid-Afrikaanse kwessies soos MIV/vigs.

Voordat Ngcaweni stafhoof geword het, was hy ook ’n beleidsnavorser in die presidensie in die Thabo Mbeki-era. Daar is geen twyfel dat Ngcaweni ’n toegewyde en bekwame intellektueel en ’n vaardige politieke bestuurder is nie. Maar wat is die eenheid se doelwitte? Kan vergelykings getref word tussen die een wat nou van stapel gestuur word en die een wat in Mbeki en Kgalema Motlanthe se presidensiële termyne aktief was?

Prioriteite en pligte

Die eenheid se sleutelprioriteite gaan die land se ekonomie, infrastruktuurbeplanning en -ontwikkeling, landbou-ontwikkeling en regeringsdienslewering wees. Dit gaan ook leiding gee oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering, wat beoog om alle Suid-Afrikaners toegang tot mediese versekering te gee.

Ngcaweni is aangehaal toe hy gesê het dat die eenheid se mandaat die volgende is:

* om beleidsanalises en koördinering tussen die regeringsdepartemente deur te voer en saam met die forum van die direkteurs-generaal en die kabinet te werk;

* presidensiële raadsvergaderings en werkgroepe te koördineer; en om

* die presidensie se span van raadgewers deurlopend van navorsing te voorsien om hul besluitnemingsprosesse te ondersteun en die strategiese programme soos die NGV-wetsontwerp te koördineer.

Daar word verwag dat die eenheid se rol mettertyd ook sal uitbrei soos wat sy kapasiteit groei.

Mbeki se dream team

Dit laat ’n mens dink aan die rol wat die beleidsontledings-en-navorsingseenheid onder Mbeki se presidentskap gespeel het. Ek het tussen 2002 en 2009 in die eenheid gedien as hoofekonoom en later onderhoof.

Daar is wel verskille. Die voormalige eenheid het bykomende verantwoordelikhede gehad.

Dit het ingesluit om raadgewende memoranda vir die president voor te berei vir sy kabinetsvergaderings, om ’n vyfjaarstrategie met die begin van elke regeringstermyn voor te lê en dan die vordering en werking daarvan te monitor. Dit het ook verslae oor ontwikkelingsaanwysers, die uitkomste van regeringsbeleide en politieke scenario's gepubliseer.

Oudpres. Jacob Zuma het die eenheid in 2009 ontbind.

Die eenheid het nou saam met die kabinetskantoor gewerk wat die prosesse in die kabinet moes oorsien. Die topamptenare van die eenheid moes in kabinetsittings en op kabinetsvergaderings teenwoordig wees.

Oudpres. Jacob Zuma het die eenheid in 2009 ontbind. Daar was twee redes hiervoor: Eerstens was dit ’n Mbeki-instelling en tweedens wou hy ontslae raak van Joel Netshitenzhe, die eenheid se invloedryke hoof en een van die ANC se beste kommunikeerders toe die party in ballingskap was.

Die eenheid se verskillende verantwoordelikhede is na ander dele van die regering gedemoveer. Die departement van beplanning, monitering en evaluaering moes byvoorbeeld met van die navorsingstake help.

’n Uitdaging lê voor

Sal die nuwe eenheid daarin slaag om beleidsimplementering en -koördinering binne die Suid-Afrikaanse regering te verbeter?

Daar is verskeie redes waarom die voormalige eenhede betreklik suksesvol onder Mbeki en Motlanthe was. 

Eerstens was een van die ANC se invloedrykste en prominentste aktivistiese intellektuele aan die hoof. Netshitenzhe het vertrouensverhoudinge met reuse soos Oliver Tambo en Mbeki geniet. Hy was ’n leier in die ANC se NUK.

Tweedens het Netshitenzhe en Frank Chikane, die direkteur-generaal in die Mbeki-presidensie en sekretaris van die kabinet, bekwame en gerespekteerde aktiviste as navorsers uitgesoek wat op hul eie die agting van direkteurs-generaal en selfs ministers afgedwing het.

Die vertroue wat hy geniet het, was ’n groot aanwins vir die eenheid. Dit het die eenheid sodoende toegang tot ministers, direkteurs-generaal en politieke hoofde binne die presidensie gegee.

Tweedens het Netshitenzhe en Frank Chikane, die direkteur-generaal in die Mbeki-presidensie en sekretaris van die kabinet, bekwame en gerespekteerde aktiviste as navorsers uitgesoek wat op hul eie die agting van direkteurs-generaal en selfs ministers afgedwing het.

Twee voorbeelde wat uitstaan, is prof. Vusi Gumede, wat later senior professor aan die Universiteit van Suid-Afrika geword het, en dr. Brendan Vickers, nou hoof van internasionale handelsbeleid in die Statebond se Londense kantoor.

Netshitenzhe se reputasie het hom in staat gestel om die talentvolste mense te werf. Ngcaweni sal dieselfde moet doen.

Nog ’n oorweging is dat die departement van beplanning, monitering en evaluaering steeds as ’n groot beleidsnavorsingseenheid in die presidensie bestaan. Sal die nuwe eenheid in staat wees om homself in dié departement se skadu te laat geld?

Een toets vir die eenheid sal wees hoe hy mediumtermyn- strategiese raamwerke opstel. Dit sal dien as ’n gids vir die nuwe regering se programme en die spertyd daarvan is binne die volgende paar weke.

Belangrike werk

Daar is geen twyfel nie: Die eenheid het belangrike werk om te doen. Almal het ook hoë verwagtinge van Ramaphosa en sy nuwe regering.

Dit moet korrupsie met wortel en tak uitroei, terwyl dit ’n samehangende plan moet saamstel oor hoe dit ekonomiese groei en werkskepping gaan bevorder. Dit moet ook die nasionale en provinsiale regerings en hul onderskeie agentskappe regruk.

Ons sal moet sien of die eenheid een van Ramaphosa se sleutelinstrumente gaan wees om dié doelwitte te bereik . . .

Ramaphosa en Ngcaweni sal nog grondpad moet loop.

* Hirsch is ’n professor en direkteur van die Nelson Mandela skool van openbare bestuur by die Universiteit van Kaapstad. Hy was in 2002 en 2012 ’n senior regeringsbeampte in die Suid-Afrikaanse presidensie. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidensie  |  The Conversation
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.