Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan staat Cyril se planne uitvoer?

Planne vir koskoepons en ’n uitbreiding van maatskaplike toelae sal hopelik die plofbare situasie in Suid-Afrika ontlont. Die vraag is egter of die staat dit doeltreffend van stapel kan stuur, skryf Christi van der Westhuizen.

Soldate wat in Diepsloot buite Johannesburg ontplooi is om toe te sien dat inperkingsregulasies nagekom word. Foto: Felix Dlangamandla

Die Covid-19-pandemie slaan Suid-Afrikaners veral hard weens armoede en sosiaal-ekonomiese ongelykheid wat steeds ná dekades voortwoed.

Wat dit meer skreiend maak, is dat die aftakeling van die staat die afgelope dekade, met gepaardgaande korrupsie, selfs die meer sinvolle noodingrypings in só ’n mate ondermyn dat groter getalle mense in hongersnood gedompel word.

Nog meer onrusbarend is die verdere ontplooiing van wat volgens berigte omtrent die volle beskikbare soldatemag van die weermag is: sowat 73 000 weermaglede, bykomend tot die bestaande ontplooiing van amper 2 300.

In plaas van ’n algehele inperking, kan die ander ekstreem wees om geen beheer oor menslike beweging uit te oefen nie.

Eerstens moet ’n mens sê dat geen presedent vir hierdie situasie bestaan vir die verre meerderheid mense wat vandag lewend is nie. Daarom dat verantwoordelike politieke leiers soos pres. Cyril Ramaphosa slegs hul bes kan probeer doen, maar uiteindelik moet ons aanvaar dat niemand werklik weet nie.

In plaas van ’n algehele inperking, kan die ander ekstreem wees om geen beheer oor menslike beweging uit te oefen nie. ’n Land wat as ’n eksperiment dien in dié verband, Swede, het ’n aansienlik hoër sterftepersentasie as sy Skandinawiese bure, maar beduidend minder as Brittanje en lande in die suide van Europa. Dus, óf geen inperking ’n beter benadering sou wees, is steeds onduidelik.

En, soos heelparty kundiges redeneer, moet die respons verskil van land tot land, na gelang van die interne omstandighede, wat alles insluit van die nasionale armoede-profiel tot die gehalte van gesondheidsorg.

’n Vrou loer deur die venster van haar huis in Diepsloot na soldate wat pamflette uitdeel wat mense teen die gevaar van Covid-19 waarsku. Foto: Felix Dlangamandla

Suid-Afrika sit met ’n stel werklikhede wat veral uitmergelend ingewikkeld is.

Rasioneel weet ’n mens die syfers dui daarop dat sowat die helfte van Suid-Afrikaners onder die broodlyn lewe, en dat meer as ’n kwart van kinders in die land weens wanvoeding aan vertraagde groei ly.

Maar die pandemie konfronteer ons met tonele wat steeds skokkend is omdat hulle visueel blootlê dat miljoene Suid-Afrikaners elke dag op die rand van hongersnood lewe.

Selfoonvideo’s op sosiale media wys wanhopige mense wat op vragmotors toesak om kos te plunder. Die verslae van skoolkinders wat honger rondloop, op soek na kos, omdat arm skole se voedingskemas stopgesit is, onderstreep dié punt.

Soos ’n gemeenskapsleier dit uitdruk: Die regering het met die inperking ’n doodsvonnis oor die weerloosste mense in Suid-Afrika uitgespreek omdat daar nie behoorlike alternatiewe op die tafel geplaas is, of toegelaat word nie.

Mense leef reeds om en verby die staat

Kospakkies vir behoeftige mense word in Johannesburg sorteer. Foto: Felix Dlangamandla

Hierdie probleem spruit uit ’n verskeidenheid faktore, wat begin met die ANC-regering se oormatige beklemtoning van staatsagente soos amptenare en raadslede se rol, aan die een kant, en die voorrang wat die regering aan Groot Kapitaal gee, aan die ander kant.

Dit is asof die regerende party nie besef in watter mate Suid-Afrikaners reeds om en verby die staat lewe om te oorleef nie.

Middelklas Suid-Afrikaners doen dit deur hul sekuriteit, mediese versorging, onderwys en ander dienste in die private sektor te bekom. Arm mense is baie meer oorgelewer aan die staat, veral vir gesondheidsorg, onderwys en ook maatskaplike hulp.

Maar vir werk en kos is die informele sektor letterlik broodnodig vir arm mense se oorlewing.

En dan is daar gewoon die wydverspreide probleem van onbekwaamheid en die gebrek aan kapasiteit.

Die staatsingrypings om die inperking se impak te versag, weerspieël nie hierdie werklikheid nie. Informele straathandelaars van bekostigbare voedsel is in die ellende gedompel weens ’n gebrek aan inkomste.

Net so is hul klante wat hul inkomste op allerlei maniere informeel verdien (insluitende deur te bedel) in ’n penarie, want hulle kan nie inkomste genereer nie en het ook nie toegang tot goedkoop kos nie.

Die sluiting van skole se voedingskemas, die onduidelikheid oor of spazawinkels oop kan maak of nie, die gebrek aan hulp aan informele handelaars en die bevoordeling van formele of geregistreerde besighede is van die faktore wat bygedra het tot die voedselkrisis wat arm mense getref het.

En dan is daar gewoon die wydverspreide probleem van onbekwaamheid en die gebrek aan kapasiteit wat daartoe gelei het dat die departement van maatskaplike ontwikkeling die verspreiding van kospakkette verknoei het. Intussen verdien groothandelaars aansienlike dividende weens hul skielike status as hoofverskaffers van kos sonder enige kompetisie, en is daar bewyse dat pryse om winsbejag gemanipuleer word.

Tekens is nie bemoedigend

Die boodskap op dié inwoners van Greenlands in die Kaap se plakkate is baie duidelik. Foto: Jaco Marais

Dit maak glad nie sin om wegneemetes steeds te verbied nie. Dié bedryf het voor die inperking 150 000 mense in diens gehad, en pas reeds higiëne-beheer toe – soos ook restaurante. Restaurante moet toegelaat word om wegneemetes te verskaf in plaas van hul gewone tafeldiens.

Dieselfde kontroles as met kruideniersware kan met wegneemetes toegepas word. Afleweringsdienste kan dan ook hervat. Dit sal reeds honderdduisende mense weer ekonomies aktief maak, onmiddellik die inkomste-nood verlig en terselfdertyd tot die beskikbaarheid van kos bydra.

Wat die voedseltekort al te meer skreiend maak, is dat verkose verteenwoordigers hierdie krisis as ’n geleentheid sien om onwettig geld te maak, of om politieke ondersteuners ten koste van die groter publiek te bevoordeel.

Plaaslike regering is die swakste skakel in ’n alreeds korrupsie-verswakte staat, so Ramaphosa se aankondiging vandeesweek van nóg R20 miljard aan munisipaliteite maak nie sin nie.

Christi van der Westhuizen

Gemeenskapsgebaseerde organisasies wys reeds daarop dat dit onduidelik is wie tot dusver die aangekondigde staatshulp ontvang het. Dit suggereer dat politiek-gekonnekteerde individue dikwels die geleenthede ten koste van werklik behoeftiges bekom.

Dit is ook dikwels onduidelik aan mense buite ANC-netwerke hóé kwalifiserende individue en klein ondernemings te werk moet gaan om die beloofde hulp te bekom. Ramaphosa het ’n aankondiging van R2 miljard in staatshulp vir klein- en middelslagondernemings en spazawinkels vandeesweek gemaak, maar gaan die inligting oor hoe dit bekom kan word wyd genoeg beskikbaar gestel word?

Die koskrisis stoot Suid-Afrika tot op die rand van ’n maatskaplike ontploffing. Hoewel Ramaphosa se aankondiging vandeesweek van koskoepons en ’n uitbreiding van maatskaplike toelae hopelik die situasie sal ontlont, hang dit weer eens daarvan af of die staat dit doeltreffend van stapel kan stuur.

Die tekens tot dusver is nie bemoedigend nie. Gekombineer met die bykomende ontplooiing van derduisende lede van die weermag, waarteen reeds verskeie klagte van geweldsmisbruik aanhangig gemaak is, loop ons as ’n land op dun ys.

* Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.