Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan Trump by dié leiers leer om waardig afskeid te neem?

Ondanks die duidelike uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing klou pres. Donald Trump soos ’n neet aan die mag. Leopold Scholtz kyk na voorbeelde van hoe ander wêreldleiers omgegaan het met die moontlikheid dat hulle hul mag kan verloor.

Aandenkings van pres. Donald Trump en die Sowjet-leiers Wladimir Lenin en Josef Stalin is nou in Moskou te koop. Foto: Getty Images

Geen politikus wat die hoogste sport in sy land bereik, kry dit sonder ’n monumentale ego reg nie. Vir enigeen wat dus gekonfronteer word met die verlies van daardie posisie, is dit emosioneel ’n buitengewoon traumatiese affêre.

Aan die een uiterste van die spektrum het jy totalitêre diktators wat in die tuig dood is omdat hulle nooit in der ewigheid wou “aftree” nie.

Adolf Hitler het in 1945 met sy wêreld letterlik in vlamme selfmoord gepleeg. Daar was slegs één keer sprake van ’n politieke mededinger vir hom in die Nazi-beweging, te wete Ernst Röhm (wat dus ook binne enkele maande ná Hitler se magsoorname – in 1934 – vermoor is).

Hitler het homself as onaantasbaar en onfeilbaar beskou. Sy greep op die mag was só totaal dat hy slegs deur die algehele vernietiging van sy diktatuur van sy troon gestoot kon word.

Niémand het dit ooit gewaag om in opstand teen hom te kom nie.

Agt jaar later, in 1953, het die Sowjet-diktator Josef Stalin in Hitler se voetstappe na die doderyk vertrek nadat hy aan ’n beroerte-aanval beswyk het. Weens sy genadelose, wreedaardige en willekeurige optrede (hy was aandadig aan die dood van tientalle miljoene mense) het geen enkele van sy luitenante ooit daarvan gedroom om sy heerskappy te betwis nie.

En in 1976 het die Chinese diktator Mao Zedong ná ’n reeks hartaanvalle die gees gegee. Ook hý was weens sy meedoënlose karakter (nes Stalin het hy geen oog geknip by die dood van miljoene van sy landgenote deur sy toedoen nie) volledig in beheer van die regering. Niémand het dit ooit gewaag om in opstand teen hom te kom nie.

Dís hoe dit in diktature gaan.

Wat van liberale demokrasieë?

Ook dáár is baie leiers geneig om verslaaf te raak aan die mag en die eer en eerbied wat daarmee gepaardgaan. Sommige het dit uiters moeilik gevind om daarvan afstand te doen.

’n Poppekas-pop wat van die ysterdame, Margaret Thatcher, gemaak is. Foto: Getty Images

Dalk die beste voorbeeld is Margaret Thatcher, Britse premier in die jare 1979-’90. Thatcher was ’n vrou met ’n besonder sterk persoonlikheid – in 1976 het die Sowjet-joernalis Joeri Gawrilof haar die bynaam “ysterdame” gegee, wat in die Engelse vertaling “iron lady” bly steek het.

In die laaste jare van haar bewind, in die laat jare tagtig, het sy haarself steeds meer begin verabsoluteer en geen teenspraak in eie geledere geduld nie. Haar gewildheid by die kiesers het dus ook afgeneem, wat die vrees in haar eie Konserwatiewe Party vir die verlies van die bewind aangewakker het.

Uiteindelik het een van haar luitenante, John Major, ’n paleisrevolusie gelei en haar arm só erg gedraai dat sy maar bedank het. Sy het dit bekend gemaak in ’n kort, nukkerige toesprakie waaruit haar frustrasie en teleurstelling tussen die reëls duidelik geblyk het.

In 1969 het pres. Charles de Gaulle – ’n man wat sterk onder die indruk van sy eie grootheid en sy rol in die geskiedenis was – ’n grondwet-wysiging aan die Franse kiesers voorgelê. As dit verwerp word, het hy beloof, sal hy aftree (hy was toe al 78 jaar oud).

Sy laaste toespraak voor die referendum was waardig: “Françaises, Français, ek het dikwels met julle oor Frankryk gepraat, dus weet julle dat jul antwoord Sondag my lot sal bepaal. Wat die uitslag ook al is, die passie en toewyding van diegene wat my steun en wat in elk geval die toekoms van die nasie in hul hande hou, my huidige taak as staatshoof sal uiteraard onmoontlik word en ek sal onmiddellik ophou om my pligte te vervul.”

Die uitslag was onomwonde: ’n “nee” van 53 teenoor 47%.

‘Ek sal gaan’

De Gaulle het geweet die einde van sy mag kan voor die deur lê. Tog het hy, luidens Jean Lacouture se biografie van hom, aan ’n vriend oor die moontlikheid van ’n nederlaag gesê: “In daardie geval sal ek wys ek is nie die bewaarder van antieke voorregte nie, die beskermer van dié wat bevrees is nie. Ek sal gaan.”

Die verklaring waarin hy sy bedanking aangekondig het, was ’n meesterstuk van soberheid: “Ek staak my funksionering as president van die Republiek. Die besluit word om twaalfuur die middag van krag.”

Dit sou nie korrek wees om te sê dat De Gaulle sonder bitterheid vertrek het nie. Wel dat hy met waardigheid afskeid geneem het.

Winston Churchill

In 1945 het Winston Churchill, Britse premier, rede gehad om ’n verkiesingsoorwinning te verwag. Hy het die Britse moreel in die donkerste dae van die oorlog hoog gehou en ’n sekere nederlaag teen Nazi-Duitsland afgeweer.

Tog het die Britte hom in dié jaar se verkiesing ten gunste van die Arbeidersparty verwerp. Toe koning George VI hom later met die Orde van die Kousband (“Order of the Garter”) wou vereer, het Churchill dit van die hand gewys met die argument dat die kiesers hom die “Order of the Boot” gegee het, bedoelende dat hulle hom uitgeskop het.

Churchill het dié verlies baie moeilik verwerk, maar nie vir ’n enkele sekonde daaraan gedink om aan die mag vas te klou nie. Wat hy wel gedoen het, was om binne die reëls van die demokrasie terug te veg en in 1950 ’n volgende verkiesing te wen. Hy het toe ’n tweede termyn as premier gedien, tot 1955, toe hy vrywillig afgetree het.

‘’n Mens moenie te veel praat nie’

Die grootste argitek van die ná-oorlogse Duitse demokrasie, bondskanselier Konrad Adenauer, was eweneens iemand wat baie oortuig van sy eie grootheid was. Hy was tewens ’n oortuigde Christen en demokraat wat nooit die knie voor Hitler gebuig het nie.

’n Standbeeld van Konrad Adenauer, argitek van die ná-oorlogse Duitse demokrasie, word in die St. Aposteln-katedraal in Keulen in Duitsland teruggeplaas. Foto: Getty Images

In sy jare as bondskanselier (1949-’63) het hy nie alleen die Duitse demokrasie herstel nie, maar ’n versoening met Duitsland se tradisionele aartsvyand, Frankryk, help bewerkstellig en Duitsland in Europa “ondergedompel”. Teen 1963 het sy koalisiegenote ’n opstand teen hom gelei, hy het sy parlementêre meerderheid verloor en het dus op 87-jarige ouderdom afgetree.

’n Mens moet net praat indien dit absoluut noodwendig is en wanneer jy glo dat jy dit móét doen.
Konrad Adenauer

In sy afskeidsrede voor die bondsdag het hy beloof om as gewone parlementslid verder te gaan en min te praat: “Dames en here, ’n mens moenie te veel praat nie. Wie áltyd praat, sy woord word weinig geag. ’n Mens moet net praat indien dit absoluut noodwendig is en wanneer jy glo dat jy dit móét doen.”

Dit was nie uit beskeidenheid nie, want Adenauer was allesbehalwe beskeie. Maar hy was bowenal ’n liberale demokraat.

Wyle sen. John McCain het in 2008 die presidensiële stryd teen pres. Barack Obama verloor. Foto: ABC Photo Archives

Ten slotte kan ’n mens kyk na een van die merkwaardigste toesprake ná ’n nederlaag in die Amerikaanse politiek, dié van wyle sen. John McCain toe dié in 2008 teen pres. Barack Obama verloor het. Nadat hy Obama geluk gewens het, het die senator voortgegaan:

“Sen. Obama en ek het ons verskille en ons het daaroor geargumenteer, en hy het oorwin. Ongetwyfeld blý baie van daardie verskille. Dis moeilike tye vir ons land en ek onderneem vanaand om alles in my vermoë te doen om hom te help om ons deur die talle uitdagings wat voor ons lê te lei.

“Ek moedig alle Amerikaners aan om hom saam met my nie slegs geluk toe te wens nie, maar om ons volgende president ons welwillendheid aan te bied, en ons ernstige poging om weë te vind om saam te kom, om die nodige kompromieë te vind en ons welvaart te help herstel, ons veiligheid in ’n gevaarlike wêreld te verdedig en ’n sterker, beter land as die een wat ons geërf het aan ons kinders en kleinkinders na te laat.”

Só kan dit ook.

*Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings in hierdie artikel is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Donald Trump  |  Leopold Scholtz  |  Mag  |  Afskeid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.