Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kan wysiging van Grondwet lei tot geregtigheid?

Die vraag is nie meer óf die Grondwet gewysig moet word nie – maar hóé. Elmien du Plessis verduidelik wat die pad vorentoe is vir die ad hoc-komitee vir die wysiging van artikel 25.

Hoe gaan onteiening sonder vergoeding landbougrond raak nadat artikel 25 in die Grondwet gewysig is? Wat is die verskillende scenario’s?Grafika: Grafika24

Om uitdruklik te maak wat implisiet is – dít is die beperkte mosie van die ad hoc-komitee vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet. Daar is nie eenstemmigheid oor wat presies in artikel 25 geïmpliseer word nie.

Maar waar staan ons nou in die proses, en wat is die pad vorentoe?

In November 2018 het die grondwetlike hersieningskomitee ná ’n proses van openbare deelname aanbeveel dat die Grondwet gewysig word. Sy finale verslag het die twee oogpunte oor die moontlike interpretasie van artikel 25 uiteengesit.

Die mandaat is nie om te besluit op nasionalisering al dan nie – en ook nie om wyer as grond te praat nie.

’n Ad hoc-komitee is in Desember 2018 gestig om met bewoording vorendag te kom. Dié komitee kon nie sy werk voor die einde van die vyfde parlementsitting afhandel nie. Dit is hoekom ’n tweede ad hoc-komitee in Julie in ’n mosie in die Nasionale Vergadering gestig is. Die mandaat van dié komitee is “om eksplisiet te maak wat implisiet in die Grondwet is met betrekking tot die onteiening van grond sonder vergoeding, as ’n legitieme opsie vir grondhervorming . . .”

Dié komitee moet wetgewing voorstel om die Grondwet te wysig. Die mandaat is nie om te besluit op nasionalisering al dan nie – en ook nie om wyer as grond te praat nie.

Die mandaat van die ad hoc-komitee vir die wysiging van artikel 25 is “om eksplisiet te maak wat implisiet is in die Grondwet, met betrekking tot onteiening van grond sonder vergoeding, as ’n legitieme opsie vir grondhervorming . . .” Foto: Nasief Manie

Artikel 25

Die vraag in die komitee is dus nie meer óf die Grondwet gewysig moet word nie – maar hóé. In dié konteks kan ’n mens argumenteer dat om uitdruklik te maak wat implisiet is, nie die regsposisie wysig nie. As sulks is dit dus eintlik nie ’n wysiging nie maar eerder ’n opheldering.

Om die werking van die komitee te verstaan moet ’n mens artikel 25 van die Grondwet verstaan. Artikel 25(2) gee die staat die magte om eiendom te onteien vir ’n openbare doel (soos die bou van openbare paaie) of in die openbare belang (soos grondhervorming), en plaas ’n verpligting op die staat om vergoeding te betaal indien grond onteien word.

Artikel 25(3) bepaal dat die bedrag regverdig en billik moet wees, met inagneming van die groter openbare belang, en die belange van diegene wat geraak word. Dit lys faktore wat in ag geneem moet word om te bepaal wat regverdig en billik is, waarvan markwaarde slegs een is.

Vergoeding word betaal omdat aanvaar word dat wanneer ’n individu se eiendom onteien word vir die aanwending van ’n openbare doel of in die openbare belang, die las vir dié openbare projek nie nét op die individu se skouers kan rus nie. Deur die eienaar te vergoed uit die fiskus word die kostes na die samelewing versprei.

Elmien du PlessisFoto: Murray Louw

Twee standpunte

So, wat is die twee standpunte oor die interpretasie van artikel 25? Die een standpunt wat in die finale dokument van die hersieningskomitee genoem word, is dat die opweeg van dié en ander faktore kan beteken dat daar reeds in sekere beperkte gevalle ’n vergoedingsbedrag van R0 betaal kan word.

’n Eienaar kan steeds argumenteer dat R0 nie regverdig en billik is nie.

Dít is reeds ’n moontlikheid in die Grondwet, maar vereis ’n kontekstuele benadering. In só ’n geval sal die staat moet aanvoer hoekom R0 regverdig en billik is. Dit is dan ook aan hersiening deur die howe onderhewig.

Dit verwyder egter nie die staat se plig om vergoeding te betaal nie. ’n Eienaar kan steeds argumenteer dat R0 nie regverdig en billik is nie.

Die ander standpunt wat die komitee noem, is dat geïmpliseer word dat grond sonder vergoeding onteien kan word – maar dat dit eksplisiet gemaak moet word.

Die probleem is dat dié twee standpunte nie dieselfde is nie. Dus, voor die komitee kan uitdruklik maak wat geïmpliseer word, moet eers ooreengekom word oor wat presies geïmpliseer word. Dit is myns insiens waarop die gesprek behoort te fokus.

Hoekom sê ek so? Die eerste standpunt behou die raamwerk van artikel 25, wat ’n opweeg van faktore en belange vereis, en die moontlikheid laat dat dit in sommige omstandighede tot R0 of nominale vergoeding kan aanleiding gee. Dié beperking kan altyd getoets word teen die algemene beperkingsklousule (artikel 36). Dit eerbiedig nog die vergoedingstandaard van “regverdig en billik” wat ons Grondwet vereis, en is ’n grondwetlike interpretasie van die bepaling.

Onteiening sonder vergoeding is reeds ’n moontlikheid in die Grondwet. In só ’n geval sal die staat moet aanvoer hoekom R0 regverdig en billik is, en dit is dan ook onderhewig aan hersiening deur die howe. Grafika: Grafika24

Geen vergoeding

“Geen vergoeding” verander nie alleen die regsaard van ’n onteiening na óf ’n ontneming óf ’n konfiskering nie (afhangende van die feite), maar dit neem die plig van die staat om vergoeding te betaal weg. ’n Eienaar het dus nie die opsie om te kan aanvoer dat daar wél vergoeding betaal moet word nie. Dit druis teen die meeste internasionale regstandaarde in wat billike vergoeding by ’n onteiening vereis, en as sulks kan geargumenteer word dat dit ongrondwetlik is.

Die komitee se mandaat is dus beperk. Argumente wat aanvoer dat die eerste interpretasie nie ’n moontlike interpretasie is nie, en dat dít die rede is hoekom die Grondwet verander moet word, sal buite die komitee se mandaat val, want dit doen méér as uitdruklik maak wat implisiet is. Dit wysig die betekenis. As die tweede interpretasie gevolg word, is daar moontlike grondwetlike probleme.

Tweederdemeerderheid

Hoe dit ook al sy, dié komitee moet nou binne dié mandaat met bewoording vorendag kom.

Sy mikpunt is om aan die begin van Desember ’n wetsontwerp aan die Nasionale Vergadering in terme van artikel 74 van die Grondwet voor te lê. Die publiek sal dan weer gedurende Januarie en Februarie die geleentheid kry om op die spesifieke bewoording kommentaar te lewer.

Die kommentaar sal oorweeg en ingewerk word, en die wetsontwerp sal dan teen einde Maart by die Speaker ingedien word sodat die Nasionale Vergadering daaroor kan stem.

Ek dink steeds dat wetgewing moet uitdruklik maak wat in die Grondwet geïmpliseer word.

Die wetsontwerp sal slegs aanvaar word met ’n tweederdemeerderheid, wat die ANC slegs met die hulp van die EFF sal hê. Of dié party sal instem, sal van die bewoording van die wysigingswetsontwerp en interne politieke besluite afhang.

Ek dink steeds dat wetgewing moet uitdruklik maak wat in die Grondwet geïmpliseer word. Dit moet ook die meganismes daarstel om seker te maak dat die Grondwet geïmplementeer word. Om ’n regstegniese gesprek te hê oor die wysiging is by tye frustrerend.

Maar daar is ook die besef dat die wysiging ’n politieke twis is, en in baie opsigte gaan oor ’n poging om artikel 25 weer legitiem te maak. Die uitkoms van dié proses vertel ons verhaal in die Grondwet van ’n spesifieke tyd in ons geskiedenis. En of dit gaan lei tot ’n herkalibrering van ’n mislukte grondhervormingsprogram, en of dit uiteindelik gaan lei tot geregtigheid, sal net die toekoms ons kan leer.

*Prof. Du Plessis is ’n medeprofessor in die regte aan die Noordwes-Universiteit. Die menings in hierdie artikel is haar eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.