Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kankerlyers kan dwelmduiwel help verjaag

Hoe kan pediatriese kankerpasiënte opiaatverslaafdes help om hul dwelmduiwels te oorwin? Carla Lewis het ’n paar virtuele werklikheidsbrille vasgegespe en uitgevind.

Grafika: iStock
Die dwelmmonster, soos hy in die VW-program lyk. Om hom te “oorwin” gebruik jy asemhalingstegnieke wat jy in ’n Oosterse tempel se binnehof geleer het.

Vra vir enige dwelmslaaf of alkoholis hoe hy sy verslawing sal uitbeeld en die kanse is goed dat hulle dit met ’n duiwel of monster sal vergelyk.

Dis daardie kreatuur wat stadig maar seker sy chemiese tentakels om jou brein vou en dit as’t ware kaap.

Maar hoe sal daardie dwelmmonster lyk as jy dit in lewende lywe, van aangesig tot aangesig, kan konfronteer? Hoe klink sy stem wanneer hy jou vertel hoe swak jy is, dat jy nooit gelukkig of selfs net tevrede daarsonder kan wees nie?

Dit is presies wat die ontwikkelaars van The Business Science Corporation (BSC) se Immersive Breath Brake Tool probeer visualiseer het nadat die nieregeringsorganisasie Kids Kicking Cancer hulle genader het om ’n virtuele-werklikheid-program te skryf wat verslaafdes help met hul stryd teen dwelms.

Die Breath Brake-program gebruik die tegnieke en oefeninge wat die nieregeringsorganisasie ontwikkel het om kankerlyers te help om hul pyn beter te bestuur.

Daar word tans ook kliniese studies gedoen om te bepaal of dit doeltreffend kan wees om mense te help in hul stryd teen verslawing.

Nuwe benadering tot verslawing

Jy kan amper die destydse TV-program Beyond 2000 se deuntjie hoor klingel in die BSC se kantore in die hartjie van Sandton.

Die maatskappy beskryf homself as ’n bemagtigingsmaatskappy vir die vierde nywerheidsomwenteling “wat ondernemings met behulp van baanbrekertegnologie en data-ontleding help om meer vooruitstrewend te wees”.

“Die moontlikhede van virtuele werklikheid (VW) word al hoe meer ingespan en nagevors in die mediese bedryf, veral in velde soos onkologie, psigiatrie, pynbehandeling en verslawing,” verduidelik Darren Cohen, projekhoof van die BSC se werklikheidswetenskapprogram.

Kids Kicking Cancer is destyds deur ’n Amerikaanse rabbi, Elimelech Goldberg, gestig nadat sy eie dogtertjie in 1999 dood is aan kanker.

In die VW-wêreld word jy vergesel deur ’n groep kinders wie se karakters op regte kankerlyertjies gegrond is.

Die pad wat hy saam met haar moes stap was moeilik en dikwels frustrerend. Met sy dogter se siekte het hy self die tekortkominge van pediatriese onkologie raakgesien en beleef: Die onvermoë om kinderkankerlyers se pyn en ongerief tydens chemoterapie te bestuur, die angs en depressie wat die pasiënte tydens hul behandeling ervaar het en tradisionele Westerse onkologie se onvermoë om die kwessies holisties te benader.

Goldberg – wat ook ’n swart gordel in Oosterse gevegskuns het – het Kids Kicking Cancer ná sy dogter se dood gestig.

Sy doel was om sy kennis van Oosterse gevegskuns in te span om asemhalingstegnieke en ontspanningsoefeninge te ontwikkel wat kinderkankerlyers ’n mate van beheer sou gee tydens ’n ongelooflik traumatiese en onsekere tydperk in hul lewe.

Hy wou hulle ook minder afhanklik maak van opiaatmedikasie en meer volhoubare pynbestuurtegnieke leer.

Tydens ’n Kids Kicking Cancer-sessie word kinders strek- en asemhalingsoefeninge en positiewe visualiseringstegnieke geleer deur ’n sensei of Oosterse-gevegskuns-instrukteur. Die pasiënte dra ook karate-uniforms, wat hulle meer soos krygers teen en oorwinnaars van hul siekte laat voel.

Stryd teen die dwelmduiwel

As jy nog nooit VW ervaar het nie (soos ek), kan jou eerste kennismaking daarmee so ietwat onrusbarend wees wanneer die bril vir die eerste keer op jou kop vasgegespe word.

In sielkundige terme staan dit bekend as “kognitiewe dissonansie” – die gevoel van ongemak wat jy ervaar wanneer jou oortuigings direk uitgedaag word deur nuwe inligting wat jou brein moet verwerk, maar daardie inligting strydig is met jou realiteit.

In my geval het een gedeelte van my brein “geweet” ek is veilig in ’n kantoorgebou in Sandton se middestad, terwyl my oë ’n toneel van ’n Oosterse tempel se binnehof voor my aanskou het.

In die VW-wêreld word jy vergesel deur ’n span kinders, regte kankerlyers op wie die avatars in die VW-program gegrond is.

“Die idee agter die VW-ervaring is juis dat kinders wat deel is van die Kids Kicking Cancer-program vir volwasse opiaatverslaafdes kan leer hoe om hul pyn, woede, angs en drange te beheer,” verduidelik Darren.

Hulle leer vir jou hoe jou brein en die limbiese stelsel – die area in jou brein wat met geheue, herinneringe, emosies, pyn en vrese werk – funksioneer en dat dit soms vir jou kan “jok”. Jy word ’n asemhalingstegniek geleer waar jy positiewe wit lig inasem en dan die negatiewe gevoelens en donker drange oor jouself uitasem.

Met die VW-tegnologie kan jy as’t ware sien hoe die omgewing rondom jou ligter word en wanneer jy uitasem, kom daar ’n donker aswolk (amper soos wanneer jy ’n skoorsteen skoonmaak) by jou mond uit.

Daarna word jy op ‘‘’n toer” deur jou brein geneem – ’n 3D-animasie van neurone, breinselle en breinanatomie. Dit is ook hier waar jy met ’n dwelmduiwel, in dié geval ’n draak op ’n hoop spuitnaalde en drankbottels, gekonfronteer word.

As dié soort tegnologie kinders met ernstige mediese toestande kan bemagtig om hul pyn meer effektief en met laer dosisse opiaatmedikasie te bestuur, bestaan daar ook die moontlikheid dat dit in die stryd teen dwelmverslawing ingespan kan word? Die span by BSC meen so.

Om die monster te “oorwin”, gebruik jy die asemhalingstegnieke wat jy in die tempel se binnehof geleer het.

Hoe meer hy jou tart en jou vertel hoe nutteloos jy is, hoe meer visualiseer jy positiewe gedagtes en asem as’t ware die “wit lig” in, wat die wêreld om jou virtuele realiteit verlig.

Daarna asem jy jou negatiewe gevoelens en gedagtes uit, wat dan as ’n bol swart rook voor jou uitborrel. En so word die demoon ook uiteindelik oorwin.

Die asemhalingsoefening was nie nuut vir my nie. Dis een van die doeltreffendste en eerste oefeninge wat jy in ’n jogaklas of tydens mindfulness en trauma-terapie geleer word om te ontspan en jou in die oomblik te anker. Nadat ek die bril afgehaal het, het ek ook ’n soortgelyke kalmte ervaar, amper soos ná ’n jogaklas.

Positiewe studies

Daar is reeds belowende studies en navorsing gedoen oor VW se rol in pynbestuur en -beheer in narkoseleer. Die studies maak ’n mens versigtig optimisties oor wat dit in die velde van onkologie en psigiatrie kan vermag.

’n Studie wat verlede jaar op die Amerikaanse raad van narkotiseurs se beraad voorgelê is, bied ’n alternatief vir opiate (medikasie soos morfien en kodeïen) en bensodiasepien (kalmeerpille), om kinders se pyn en angs voor en ná ’n operasie te bestuur.

Die navorsing – wat deur die University of Texas Southwestern Medical Center in Dallas gedoen is – het getoon dat wanneer jy ’n kind met behulp van VW-tegnologie onder hipnose plaas, jy sy angs en pyn ná ’n mediese prosedure verminder. (Sien kassie oor virtuele werklikheid teenoor opiate vir die volledige resultate.)

“Morfien het ’n bedwelmende effek wat pasiënte se eetlus demp en hul hersteltyd vertraag. As pasiënte laer dosisse morfien kan inneem, kan hulle ook gouer op die been kom,” beveel die studie aan.

As dié soort tegnologie kinders met ernstige mediese toestande kan bemagtig om hul pyn meer effektief en met laer dosisse opiaatmedikasie te bestuur, bestaan daar ook die moontlikheid dat dit in die stryd teen dwelmverslawing ingespan kan word? Die span by BSC meen so. “Die krag van VW lê juis in sy vermoë om jou limbiese stelsel ‘te kaap’,” verduidelik Darren.

Ons samel egter net ’n klein gedeelte van die inligting vir die studie in en natuurlik moet daar ook kwantitatiewe resultate wees.

“En om ’n amper realistiese, tasbare en geleefde ervaring van iets te beleef wat jy voorheen net moes gevisualiseer het, is ’n kragtige manier om die oefening doeltreffender en suksesvol toe te pas. Die program vorm deel van Kids Kicking Cancer se doelwit dat “kinders die wêreld moet leer”.

“Mense is nie net kognitiewe wesens nie. VW bied hulle ’n ervaring wat tegelyk emosioneel, tasbaar en kognitief is. Kennis en ervarings wat deur ’n VW-ervaring oorgedra word, word 80% beter onthou en verwerk as deur tradisionele opleidingsmetodes,” verduidelik hy.

Dit klink dalk alles baie eenvoudig, maar verslawing bly maar ’n gekompliseerde tameletjie wat dikwels ’n simptoom van onderliggende geestesiektes is.

Is asemhalingsoefeninge, maak nie saak hoe high-tech dit opgedis word nie, regtig so doeltreffend in die stryd teen verslawing?

Darren beklemtoon dat die VW-behandeling nie ’n enkele panasee is nie, maar net een van vele stukke gereedskap wat in die stryd teen verslawing ingespan kan word.

“Pasiënte moet steeds aanhou om hul medikasie te gebruik en hul dokters te raadpleeg.”

Alhoewel daar nog nie beduidende resultate is in Kids Kicking Cancer se kliniese toetse oor die doeltreffendheid van die VW-program nie, sê hul woordvoerder, Jamila Carrington-Smith, dat die respondente in die studie se reaksie op die program reeds bemoedigend is.

“Dis hoogs aktuele navorsing en die respondente se anekdotiese getuienis laat dit blyk asof daar reeds ’n groot impak gemaak is.

“Ons samel egter net ’n klein gedeelte van die inligting vir die studie in en natuurlik moet daar ook kwantitatiewe resultate wees.”

Hulle beplan om die resultate in September vanjaar te publiseer.

Opiate en jou reptielbrein

Opiate is ontwikkel om die pynstillende effekte van opium na te boots. Jy sal dit vind in wettige pynstillers (sommige wat selfs oor die toonbank gekoop kan word.) Die woord opiaat is van opium afgelei.

Dit sluit in middels soos kodeïen, tramadol, morfien, oksikodon en hidrokodon sowel as heroïen. Dit word dikwels misbruik, juis omdat dit ongelooflik verslawend is.

Hoe werk dit?

Opiaatmedikasie vermeerder die hoeveelheid dopamiene wat die brein se limbiese stelsel – die deel van jou brein waar pyn en plesier geprosesseer word – afskei. Dopamiene, ’n neuro-oordraer, staan ook bekend as ’n “goedvoel-hormoon” en wanneer jou brein dit afskei, veroorsaak dit gevoelens van vreugde en behae wat dit ook hoogs verslawend maak.

Gebruikers sal die gevoel oor en oor najaag, maar jou liggaam bou ook vinnig ’n weerstand teen opiate op wat veroorsaak dat verslaafdes hul dosisse die heel tyd moet verhoog. Uiteindelik lei dit tot ’n oordosis.

Dopamiene word natuurlik ook afgeskei wanneer jy oefen, ná ’n orgasme of met menslike aanraking.

Globale opiaatkrisis aangepak

Die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad het in 2018 ’n strategie begin om die globale opiaatkrisis in Noord-Amerika, dele van Afrika en die Midde-Ooste te pak. Pres. Donald Trump het dit in 2017 as ’n openbare Amerikaanse gesondheidskrisis verklaar.

The Journal of the American Medical Association het verlede jaar ’n studie gepubliseer wat bevind het dat sintetiese opiaatmedikasie soos fentaniel (’n pynstiller 50 keer sterker as morfien vir die bestuur van kankerleiers se pyn, maar wat nou as ’n ontspanningsdwelm misbruik word) in die VSA gelei het tot 46% van opiaatsterftes in 2016. Dit het verdriedubbel sedert die vorige studie in 2010 toe dit 14% was.

Dit wys sintetiese opiate is verantwoordelik vir meer dwelmoordosisse as die “tradisionele” opiate soos heroïen en opium.

Aanvullende bronne: CNN, www.unodc.org

Virtuele werklikheid vs. opiate

21 kinders wat ’n operasie vir skoliose (’n toestand wat sywaartse ruggraat(ver)kromming veroorsaak) moes ondergaan, is by die studie betrek.

Tien kinders het VW-behandeling ontvang, sowel as tradisionele pynbehandeling ná ’n operasie wat opiaat-pynmedikasie ingesluit het. Die kontrolegroep (wat uit 11 kinders bestaan het) het nie VW-behandeling ontvang nie, maar pynmedikasie.

“Daar is beduidende bewyse wat wys as jy ’n pasiënt se angs voor ’n operasie verminder, dit ook die pyn verminder ná die operasie,” het een van die studie se mede-outeurs en ’n professor in narkose en pynbestuur, Girish P. Joshi, op verlede jaar se konferensie gesê.

“Ons doel is nie net om die pasiënte se pyn te verminder nie, maar ook hul afhanklikheid van opiate om hul pyn te stil.”

Die studie wys dat die groep kinders wat VW-behandeling gekry het, aansienlik laer dosisse medikasie ná hul operasie benodig het. Slegs 20% van hulle is op ’n morfiendrup geplaas en 37,5 % het ’n kalmeermiddel nodig gehad.

Met die kontrolegroep het 62% ’n morfiendrup ná die tyd ontvang en 100% ’n kalmeermiddel. Die VW-groep se gebruik van morfien ná die operasie was ook byna die helfte minder as dié van die kontrolegroep: 1,18 mg/kg in vergelyking met 2,15 mg/kg.

Meer oor:  Gesondheid  |  Dwelms  |  Navorsing  |  Dwelmverslawing  |  Wetenskaplike Studie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.