Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kans op groei vir Mashaba se party is uiters skraal

Wat is die kans dat ’n nuwe kleiner party só sal groei dat hy ’n bedreiging vir die ANC inhou? vra Pieter Labuschagne.

Herman Mashaba, leier van Action SA. Foto: Felix Dlangamandla

Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg, se nuut gestigte politieke party, Action SA, het heelwat positiewe kommentaar ontlok.

Duidelik is daar ’n behoefte aan ’n nuwe party om die ANC se hegemonie af te takel en te slaag waar ander opposisiepartye misluk het.

Wat is nodig om die ANC se greep op gesag en mag te breek? Waarom het soveel vorige nuwe partye ná aanvanklike opgewondenheid en ’n kort wittebrood op die politieke ashoop beland?

Waarom ontstaan ’n nuwe politieke party?

Mosiuoa Lekota se Cope het nie aan die aanvanklike verwagtinge voldoen nie. Foto: Gallo IMages

Daar is verskeie redes waarom nuwe politieke partye gestig word, soos persoonlikheidsbotsings en opportunisme. Dié twee redes bied egter min potensiaal vir groei omdat ’n nuwe party heelwat meer substansie en dwingende redes nodig het om kiesers se steun te kry.

Een probleem met ’n nuwe politieke party is die ontevrede of ontnugterde politici wat hy aantrek. Patricia de Lille, leier van Good, het al opgemerk dat wanneer jy ’n nuwe kroeg in ’n woonbuurt oopmaak, trek jy al die mense wat by die ander kroeë uitgeskop is.

Een duur les wat politici met die stigting van ’n nuwe politieke party moet leer, is dat die party selde volhoubaar sal groei as dit rondom ’n enkele persoon of ’n klein groepie individue gebou word.

Vir ’n nuwe politieke party om te slaag, moet dit die golf ry van dwingende politieke en sosiaal-maatskaplike kwessies in die gemeenskap. Hy moet hom toespits op onopgeloste probleme wat kiesers se aandag trek en hulle kan saambind.

Mashaba se nuwe party gaan ook misluk, omdat dit probeer om net 'beter te wil regeer'. Dit is nie genoeg nie.

’n Politieke leier moet sulke kwessies kan manipuleer en uitbuit met die stigting van ’n nuwe party.

Die 88 nuwe politieke partye wat sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 gestig is het almal in dié opsig misluk.

Mashaba se nuwe party gaan ook misluk, omdat dit probeer om net “beter te wil regeer”. Dit is nie genoeg nie.

Dit verklaar waarom ’n enkeling soos Mamphele Ramphele se Agang en selfs voormalige ANC-swaargewigte, soos Mosiuoa Lekota (’n voormalige kabinetsminister) en Sam Shilowa (’n voormalige premier van Gauteng) se Cope misluk het.

Die maklike deel vir ontevrede leiers is om weg te breek. Die uitdaging is egter om dwingende vraagstukke te identifiseer wat mense werklik kan besiel en begeester, eerder as om ontevrede kiesers te probeer lok.

Mashaba verwys na die vakbonde wat vasgevat moet word, korrupsie wat bestry moet word en onwettige immigrante. Waar het ons dit ook al vantevore gehoor?

Nuwe party se wittebrood

Bantu Holomisa, leier van die UDM. Sy party het sedert 1999 nog nie ’n werklike bedreiging vir die ANC ingehou nie. Foto: Gallo Images

Die United Democratic Movement (UDM) met Bantu Holomisa en Roelf Meyer aan die spits het ná 1994 as ’n verbeeldingryke en nuwe “veelrassige” party groot belangstelling gaande gemaak.

Holomisa was ’n voormalige tuislandleier en was onder die toptien op die ANC se kandidatelys – dus ’n politieke swaargewig. Hy het ’n vennoot in Meyer gehad, self ’n politieke swaargewig en die Nasionale Party se hoofonderhandelaar.

Die UDM het met groot verwagting aan die verkiesing van 1999 deelgeneem en betreklik goed vir ’n nuwe party gevaar. Hy het meer as ’n halfmiljoen stemme, sowat 3,4% van die totaal, getrek met 14 verteenwoordigers in die parlement.

Sou hy van dié grondslag groei, kon hy ’n belangrike rolspeler geword het.

Die UDM het egter die kreeftegang in die volgende verkiesing van 2004 gegaan met die verlies van sowat 200 000 stemme en het net nege parlementslede oorgehou.

Daar is ’n duidelik waarneembare tendens dat nuwe partye aanvanklik taamlik steun kry en dan agteruitboer. Die meeste van hulle haal nie eens ’n tweede verkiesing nie.

Met die volgende verkiesing van 2009 het die UDM weer sowat 200 000 stemme verloor, net sowat 0,8% van die algehele steun gekry en het hy net vier parlementslede oorgehad.

Met die verkiesing van 2009 was die opgewondenheid groot oor die eerste werklike skeuring – en nie afsplintering nie – in die ANC toe Cope gestig is.

Benewens Lekota en Shilowa het dié party gespog met ander swaargewigte soos Mluleki George en Smuts Ngonyama.

Boonop het hy struggle-simboliek gehad in sy naam, Congress of the People.

Cope het baie goed gevaar en die derde meeste stemme verower, met 1,3 miljoen kiesers (7,42%) wat hul kruisies agter dié party se naam op die stembrief getrek het. Hy het 30 parlementslede gehad.

Soos die UDM het hy egter sy kruin in sy eerste verkiesing bestyg – in die verkiesing van 2014 het hy die steun van net meer as 120 000 kiesers getrek en het sy getal parlementslede tot ’n skrale drie gedaal.

Die telbord ná verlede jaar se verkiesings wys dat daar nie eintlik plek vir kleiner partye in Suid-Afrika is nie. Foto: Gallo Images

Daar is ’n duidelik waarneembare tendens dat nuwe partye aanvanklik taamlik steun kry en dan agteruitboer. Die meeste van hulle haal nie eens ’n tweede verkiesing nie.

In die verkiesing van 1994 was daar 19 politieke partye. Van hulle was 14 nuwe partye met geen historiese agtergrond nie.

Voor die verkiesing van 1999 het 11 verdwyn vir ’n “verdwynpersentasie” van 57%.

Daar was 16 partye wat aan die verkiesing van 1999 deelgeneem het. Onder hulle was nege partye wat vir die eerste keer aan die verkiesing deelgeneem het. Vyf van hulle het nie oorleef om aan die volgende verkiesing in 2004 deel te neem nie – ’n “verdwynpersentasie” van 31%.

Daar was 21 partye wat aan 2004 se verkiesing deelgeneem het. Onder hulle was nege nuwe partye. Teen 2009 se verkiesing het sewe al weer verdwyn, ’n “verdwynpersentasie” van 33%.

Die getal partye het egter aanhou toeneem en vir die verkiesing van 2009 het ’n rekordgetal van 28 geregistreer, waarvan 14 nuut was. Weer sou 13 voor die volgende verkiesing verdwyn vir ’n “verdwynpersentasie” van 46%.

Vir die verkiesing van 2014 het 29 partye geregistreer, waaronder vier nuwes. Maar 12 het verdwyn voor 2019 se verkiesing vir ’n “verdwynpersentasie” van 41%.

In die verkiesing van 2019 was daar ’n rekordgetal van 48 partye onder wie 28 nuwe partye.

As die historiese tendens voortduur, sal ten minste 22 van dié partye voor die verkiesing van 2024 verdwyn.

Maak kleiner partye werklik ? indruk?

Pieter Labuschagne

Die tendens in verkiesings sedert 1944 is dat die twee tot drie medium- en groot partye meer as 85% van die steun kry.

In 1994 het drie partye (die ANC, NP en IVP) 93,5% van die steun gekry en die 16 kleiner partye het die res van die steun (6,5%) gedeel.

In 1999 het die drie groot partye (die ANC, Demokratiese Party en die IVP) 84,6% van steun verwerf en die 16 kleiner partye het net 15,4% van die steun getrek.

Kleiner partye versplinter en fragmenteer die opposisie en verhinder dit die ontstaan van ’n groot opposisieparty met werklike groeipotensiaal.

In 2004 het dieselfde tendens voortgeduur met drie partye wat 88,8% van die steun gekry het, die 18 kleiner partye het 11,2% se steun gekry en tien van hulle het verdwyn.

In 2009 het die drie groot partye 89,9% van die stemme getrek en die kleiner 24 net 10,1%. Drie van die kleiner partye het geen verteenwoordiging in die parlement gekry en verdwyn.

In 2014 het die drie groot partye (die ANC, DA en EFF) weer oorheers en 91,1% van die stemme verower. Die 27 kleiner partye kon net 8,9% kry en 17 het verdwyn.

Dit is prysenswaardig dat die proporsionele stelsel kleiner en nuwe partye inspraak in die demokratiese proses gee, maar in der waarheid versplinter en fragmenteer dit die opposisie en verhinder dit die ontstaan van ’n groot opposisieparty met werklike groeipotensiaal.

Waarom oorheers die ANC?

Die ANC oorheers die politieke toneel in Suid-Afrika sedert 1994. Foto: Gallo Images

Die ANC oorheers die politieke toneel hoofsaaklik omdat dit in wese ’n nasionalistiese party is, ondanks sy aansprake van veelrassigheid.

Die ANC beheer ook die wese van politiek en hy alleen besluit wie wat wanneer en hoe kry – sowat 20% (18 miljoen) huishoudings is afhanklik van maatskaplike toelae onder beheer van die ANC.

Verder is die ANC se steun op tradisionele en charismatiese gronde geskoei.

Die DA se onlangse poging om van sy liberale grondslag meer sosialisties oor rasgrense heen (sosiaal-demokraties) steun te werf, het nie geslaag nie.

Die DA se uitdaging as opposisieparty is om steun oor rassegrense heen te verwerf. Sy onlangse poging om van sy liberale grondslag meer sosialisties oor rasgrense heen (sosiaal-demokraties) steun te werf, het nie geslaag nie.

Dit sal vir enige nuwe party soos dié van Mashaba bitter moeilik wees om ’n deurbraak te maak.

Die ANC met sy tradisionele steun se hegemoniese beheer oor patronaatskappe en maatskaplike fondse sal moeilik verbreek kan word.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cope  |  Da  |  Action Sa  |  Anc  |  Udm  |  Herman Mashaba  |  Bantu Holomisa  |  Roelf Meyer  |  Mosiuoa Lekota  |  Demokrasie  |  Verkiesings  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.