Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Keer dat korona massamoord pleeg’

Die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie is die absolute minimum van wat nou nodig is, het prof. Howard Phillips, ’n geskiedkundige en kenner van die 1918-griep waardeur 6% van die SA bevolking uitgewis is, aan Murray La Vita gesê.

Die Burger se spotprenttekenaar D.C. Boonzaier se uitbeelding van die dodelike griep van 1918.Foto: Argief

Indien jy inperking gaan toepas, soos die nasionale inperking wat ons nou het, moet dit báie streng toegepas word want as dit nié so gedoen word nie is die gevolge waarskynlik ’n weghol-pandemie, sê Phillips, ’n emeritus-hoogleraar in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad (UK).

“You must bite the bullet now if you don’t want to bite the dust in a month’s time.”

Die regering het reeds aangedui ’n nasionale noodtoestand kan ingestel word indien die inperking, wat tot middernag op 16 April geld, nie doeltreffend is nie.

“Dit mag inderdaad nodig wees. Maar die situasie is nie naastenby so erg soos tydens die Spaanse Griep nie. Die Spaanse Griep het dood gesaai op ’n wyse wat die koronavirus nie doen nie.

“Maar ons moet seker maak dat die koronavirus nie ook die massamoordenaar word wat die Spaanse Griep [soos wat die 1918-griep ook genoem word] was nie. Vir my is die belangrikste boodskap: Tree nou op. Tree ferm op. En maak seker dat dit nie net by woorde bly nie, maar dat die optrede daadkragtig is. Ons wil nie in die middel van April sê: O, wow, het ons maar op 23 Maart dít of dát gedoen, was ons nie in die bedenklike situasie waarin ons nou verkeer nie.”

‘Te wyte aan onkunde’

Prof. Howard Phillips

Die verskriklike omvang van die grieppandemie van 1918, waarin 300 000 Suid-Afrikaners binne ses weke gesterf het, is deels aan onkunde te wyte. En daar was baie min wat mense kon voorberei op wat voorlê.

“Dit verskil baie van die huidige toedrag van sake. Ons is nou al vir weke lank vasgenael deur die koronavirus. Maar in 1918 het die Eerste Wêreldoorlog nog gewoed en die aandag van die meeste deelnemers, insluitend Suid-Afrika, was daarop gerig.”

Die pandemie het wêreldwyd in drie vlae voorgekom.

“Die eerste vlaag, van Maart tot Julie 1918, was ’n taamlik aansteeklike griep, maar nie juis dodelik nie. So, mense kon maklik sê: ‘Ag wel, dis seker net gewone griep wat effens erger is.’

“Daardie eerste vlaag het Suid-Afrika nie werklik bereik nie. Toe dit wel hier aankom, was dit aan die stertkant van die vlaag. Wat mense nie verstaan het nie, is dat die virus aan die einde van die eerste vlaag begin muteer het.

“Die tweede vlaag het in Augustus en September van 1918 op dreef gekom. En dít was veel intenser want dit was nie net aansteeklik soos die eerste vlaag nie, dit was ook dodelik.

“Suid-Afrika is behoorlik deur hierdie tweede fase getref sonder dat dit ’n noemenswaardige blootstelling aan die eerste vlaag gehad het, wat aan mense wat dit opgedoen het ’n mate van immuniteit laat opbou het.”

Twee skepe

Die land was dus heel onvoorbereid daarop.

“Nie soseer omdat mense nie versigtig was nie, maar omdat niemand werklik verstaan het wat besig was om wêreldwyd te ontplof in hierdie tweede vlaag nie.

“In September 1918 het twee skepe vol soldate in Kaapstad aankom wat albei eers Freetown in Sierra Leone aangedoen het waar die tweede vlaag reeds gewoed het. Die soldate het die griep opgedoen, maar het gedink dis maar weer dieselfde griep: Aansteeklik maar nie juis dodelik nie.”

Die soldate by wie griepsimptome voorgekom het, is in Kaapstad in ’n militêre hospitaal opgeneem en die res is in ’n basis onder kwarantyn geplaas.

‘Beweeg soos kwik’

Veldhospitale soos dié het in 1918 oral ter wêreld opgeskiet om pasiënte tydens die Spaanse Griep-pandemie te behandel. Foto: Getty IMages

“Ek dink die kwarantyn is nie baie streng toegepas nie, want daar was berigte dat van die soldate in Distrik Ses opgemerk is waar hulle in die strate rondgedrentel het.

“Toe daar ná drie dae nie enige griepsimptome by die soldate, wat op die punt was om gedemobiliseer te word, voorgekom het nie, is hulle toegelaat om te vertrek.

“Ek dink die ingesteldheid was dat die soldate nou al lank in militêre diens was en hulle nou moes kon huis toe gaan; daar was druk dat dit moes gebeur.

“Iets daarvan eggo in die huidige situasie met die Suid-Afrikaners wat toegelaat is om uit Wuhan na die land terug te keer: ‘Ons mense was nou al lank daar en ons moet hulle toelaat om huis toe te kom.’

Dit was die tweede vlaag van die griep waarteen geen Suid-Afrikaners ’n weerstand ontwikkel het nie.

“So, die soldate het op treine geklim en is die binneland in. Dink aan kwik wat jy op papier laat uitdrup: Dit beweeg in alle rigtings. Wel, wat toe gebeur het, was só. Die griep is teen ’n geweldige spoed deur die soldate landwyd versprei. Baie van die soldate was van verafgeleë plekke in die Transkei, Ciskei, die Vrystaat.

“En toe was dit te laat om dit te stuit. Dit was die tweede vlaag van die griep waarteen geen Suid-Afrikaners ’n weerstand ontwikkel het nie.

“Dit was dus dodelik, en ek dink dit is deels waarom die dodetal in Suid-Afrika so hoog was in vergelyking met Europa en Noord-Amerika, waar die eerste vlaag aan die mense wat dit opgedoen het ’n mate van weerstand gebied het.”

Suid-Afrika was onder die topdrie lande ter wêreld waar die meeste mense weens die griep gesterf het.

‘Absolute minimum’

In die lig van wat in Italië en Duitsland en Iran en Irak gebeur het, is die nasionale inperking in Suid-Afrika die absolute minimum van wat nou nodig is.

“Ek dink nie daar bestaan al ’n goeie begrip – veral onder die publiek – van hoeveel mense al werklik deur die koronavirus besmet is nie. Die amptelike syfer is vandag [Dinsdag] 402 [teen Woensdagmiddag was dit 709], maar dít is slegs die mense wat getoets is. Ons is nou besig om hierdie getalle dop te hou soos wat ’n mens elke dag jou temperatuur meet – ons is gewéldig sensitief vir die kleinste verandering.

“Die vraag is: Hoeveel mense is daar in werklikheid wat al simptome openbaar óf nog nie simptome openbaar nie, maar reeds besmet is? So, gegee dié gebrekkige inligting, is dit baie moeilik om te weet of die wegholverspreiding reeds begin het. Ek weet nie of die getalle ’n akkurate aanduiding is van waar ons nou staan met betrekking tot die pandemie nie.

“En indien die koronavirus versprei onder die groot getalle Suid-Afrikaners wat MIV-positief is of aan tuberkulose ly, is ons probleme veel groter as wat ons gedink het dit is.”

Gevolge van globalisering

Die Amerikaanse bofbalspelers het in 1918 gedink ’n gesigmasker sal hulle teen die Spaanse Griep beskerm. Foto: Getty Images

Ons leef in ’n geglobaliseerde wêreld – dít is wat die koronavirus ook deeglik by ons tuisbring.

“Dit maak nie saak op watter vasteland jy woon nie . . . Ons is nou so onderling met mekaar verbind. Dít is iets wat in die koloniale era begin het.

“Een van die dinge wat so interessant is as jy terugkyk na die Spaanse Griep, is dat die griep versprei het in die tempo van wat destyds die jongste tegnologie was, naamlik die stoomskip en die stoomtrein.

“Die koronavirus het versprei in die tempo van wat vandag se modernste vervoertegnologie is, naamlik die straalvliegtuig. En dit is in ’n geweldige groter tempo. Dit is dan natuurlik een van die gevolge van die geglobaliseerde wêreld.

“Die digter John Donne het gesê: ‘No man is an island’ . . . wel, dít het nou só, só waar geword.”

‘Stad van die dood’

’n Werker in ’n telefoonsentrale tydens die Spaanse Griep-pandemie van 1918. Foto: Getty Images

Phillips het in 1984 ’n doktorsgraad aan die UK voltooi met die titel “Black October”: The Impact of the Spanish Influenza Epidemic of 1918 on South Africa.

Oor die omstandighede in Kaapstad skryf hy:

“In die strate het geskokte verbygangers gesien hoe mense voor hulle neerval en gesterf. ’n Jong seun wat per trein uit Maitland na die stad gereis het, kon lyke op ’n stuk veld sien lê.

“Meer as een mens is aan die Swart Dood of die Groot Plaag van Londen herinner deur wat hulle gesien het. ’n Man wat destyds ’n 21-jarige student van die Universiteit van Kaapstad was, het 60 jaar later in ’n onderhoud gesê: Kaapstad ‘was ’n ware stad van die dood’.”

Hope lyke

Wat veral grusaam was, was die waens waarop lyke hoog opgestapel was en soms nie eens deur ’n seil bedek is nie. “En al was hulle bedek, kon verbygangers op dié waens onderweg na begraafplase ‘bene sien uitsteek waaraan etikette met name op vasgemaak was’.”

Hy skryf munisipale waens het elke oggend deur die stad beweeg en lyke gaan oplaai by die huise waar sterftes aangemeld is. Tien gevangenes, aan wie ’n vermindering van vonnis beloof is, het hiermee gehelp.

“ ’n Geskokte toekyker het as volg hieroor geskryf: ‘Ek het die waens sien verbybeweeg. ’n Klok is gelui terwyl die drywers uitgeroep het: “Bring jul dooies uit!”. Dit was net soos wat ’n mens lees in beskrywings van die Swart Plaag en wat ’n mens so dikwels laat sidder het.’”

‘Lykshuise oorvol’

Die omvang van die Spaanse Griep-pandemie van 1918 het gesondheidsdienste oral in die wêreld onkant betrap. Foto: Getty Images

Naasbestaandes van slagoffers wat hul eie vervoer gehad het en ’n kis in die hande kon kry, het die dooies self na die stasie of na begraafplase geneem.

“Enige denkbare vorm van vervoer kon gesien word, is in ’n tydskrif van die tyd geskryf: ‘Hul vriende het hulle op draagbare of in kiste gedra; hulle is op kruiwaens gekarwei, ook op trollies – dikwels meer as een lyk. En in motors met treilers. Selfs in taxi’s.’”

Tydelike lykshuise moes ingerig word aangesien die bestaande een in Keeromstraat gou oorvol was. ’n Verslaggewer van De Burger, waarvan die kantore langs die lykshuis was, het beskryf hoe “die lijke reeds op die vloer naas mekaar moet lê om vir die buitengewone aantal plek te maak; dit word vertel dat hul later in ’n staande houding teen mekaar moes gepak word.”

‘Ons het oorleef’

Werkers van die Rooikruis staan in 1918 gereed met draagbare. Foto: Getty Images

Phillips sê dit is belangrik om te besef hoe skrikwekkend of sonder presedent die huidige pandemie ook al mag lyk, is dit nie iets wat mense nog nie voorheen moes trotseer nie.

“Nie op dieselfde wyse of in dieselfde konteks nie, maar dit is soms gerusstellend om te midde van al ons angs en onsekerheid ( daar mag dalk selfs ’n nuwe woord ontstaan: panicdemic) te onthou dat die mens al vir ’n báie lang tyd met aansteeklike siektes en pandemies te doen het. En ons het oorleef.

“Dit is nie asof ek sê: Moenie bekommerd wees nie; alles sal regkom nie. Maar ek wil tog hê mense moet onthou dit is nie die eerste keer nie en dit sal ook nie die laaste keer wees nie. Ons het aangepas; ons het gereageer en ons het tot aksie oorgegaan. En ons is nog hier.”

Meer oor:  Wuhan  |  Kaapstad  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Griep  |  Spaanse Griep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.