Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kenner oor vraag aan Jooste: Só ken jy ’n psigopaat uit

Nadat David Maynier van die DA vir Markus Jooste gevra het om kommentaar te lewer op ’n oudvriend se opmerking dat hy ’n “f****n psigopaat” is, het prof. Dap Louw by navraag geskryf oor die kenmerke van ’n psigopaat.

Ter illustrasie. Grafika: Grafika24 en iStock

Die term psigopatie is in die verlede by uitstek deur geestesgesondheidswerkers gebruik. Vandag is dit feitlik ’n huishoudelike konsep wat wyd en syd in verskeie ander kontekste (mis-) bruik word.

Dink maar aan die paartjie wat aan’t skei is wat mekaar (selfs in hofverslae) as psigopate uitkryt. Dalk het jy dit al selfs toegedig aan iemand wat jou benadeel het? Of bloot iemand van wie jy nie hou nie?

Psigopatie is egter ’n spesifieke persoonlikheidsteuring wat ’n aantal kenmerkende eienskappe het en wat slegs professioneel gediagnoseer kan word. Myns insiens staan ’n gebrekkige gewete op die voorgrond.

Patologiese leuenaars

Dit beteken nie dat psigopate nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Hulle kán – maar hulle wíl nie. Hiermee saam gaan selfgesentreerdheid, dit wil sê die enigste persoon van belang in sy of haar wêreld is hy- of syself. Bykomende eienskappe soos projeksie (om altyd ander die skuld te gee) en selfregverdiging maak die mengsel al hoe plofbaarder.

Omdat die psigopaat so suksesvol lieg, word dit byna tweede natuur.

Impulsiwiteit is ook deel van die psigopaat se mondering: Hy wil onmiddellik sy behoeftes bevredig sodat die gevolge van sy dade eenvoudig nie ’n rol in sy besluite speel nie. Manipulering (die vermoë om mense aanvanklik positief te beïndruk met die uitsluitlike doel om hulle uit te buit) is ’n ewe belangrike eienskap.

Voeg hierby ’n patologiese vermoë om leuens te vertel. Omdat die psigopaat so suksesvol lieg, word dit byna tweede natuur.

Verdere eienskappe sluit in: Die neem van risiko’s (ongeag hoe dit ander mag raak), arrogansie en onverantwoordelikheid.

Dít verklaar hoekom talle psigopate nie ’n goeie werkrekord het nie. Teen hierdie agtergrond is dit verstaanbaar dat psigopate dikwels seksueel promisku is en hulle nie laat “beperk” tot een bedmaat nie.

‘Snakes in suits’

Daar’s verskeie tipes psigopate. Sommige is byvoorbeeld meer gewelddadig, terwyl ander meer manipulerend is. Dan is daar ook ’n mengsel van die verskillende tipes.

Nie alle psigopate oortree die wet nie, hoewel hul gedrag gewoonlik antisosiaal is (onaanvaarbaar, maar nie noodwendig teen die wet nie).

Veral sekere beroepe, waar manipulering sukses kan verhoog, pas in hierdie psigopate se kraal. Sodanige psigopate is deur ’n wêreldkenner snakes in suits gedoop.

Dink maar aan die bekende boek Snakes in Suits: When Psychopaths Go to Work deur Paul Babiak en Robert Hare.

Prof. Dap LouwFoto: Theo Jeptha

Adam en Eva

Wat is die voorkomssyfer van psigopatie? Ongeveer 1% van die algemene bevolking en sowat 10% tot 20% van die gevangenisbevolking is psigopate. Psigopatie kom ook by vroue voor, maar in ’n mindere mate.

Volgens bestaande navorsing is die rehabilitasie van psigopatie nul tot gering.

Dink maar aan Adam wat die skuld op Eva pak en Eva wat op haar beurt die slang kwalik neem.

Aan die ander kant: Psigopatiese eienskappe kom by die meeste mense voor. Die meeste mense vertel leuens en manipuleer ander om hulself te bevoordeel. Talle voel nie eens skuldig as hulle belasting ontduik nie (maar hulle beskuldig amptenare wat dit doen). Hulle dink ook nie twee keer voor hulle klein kinders se gesondheid benadeel deur in hul teenwoordigheid te rook nie – of wanneer hulle ander mense se lewe in gevaar stel deur te SMS terwyl hulle bestuur nie.

Dié eienskappe kom sedert die vroegste tye voor. Dink maar aan Adam wat die skuld op Eva pak en Eva wat op haar beurt die slang kwalik neem.

Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat talle van hierdie (en soortgelyke) eienskappe eers in ’n ernstige graad moet voorkom voordat ’n volle professionele diagnose gemaak kan word.

* Prof. Dap Louw is ’n forensiese sielkundige en kriminoloog verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat as ’n buitengewone professor.

Meer oor:  Markus Jooste  |  David Maynier  |  Steinhoff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.